Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Covid-19: ‘Dít het met vroue gebeur’

Haar verjaardagkoek was in die vorm van die koronavirus en hase het haar voorportaal oorgeneem, sê prof. Amanda Gouws. Sy het met Murray La Vita gepraat oor ’n boek waarin vroue hul eie stories oor die pandemie vertel.

Prof. Amanda Gouws, mederedakteur van ‘Covid Diaries: Women’s Experience of the Pandemic’, in haar kantoor op Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

Die gesprek met Gouws, ’n skrywer, politieke ontleder en professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US), vind plaas ’n dag nadat ’n streng inperking weer in Suid-Afrika van krag geword het te midde van ’n derde vlaag van die Covid-19-pandemie.

’n E-pos van Olivia Ezeobi, ’n dosent in die departement ekonomie aan die US, was die vonk wat gelei het tot Covid Diaries: Women’s Experience of the Pandemic, waarin 35 verhale vervat is en waarvan Gouws en Ezeobi die redakteurs is.

Ezeobi wou in die e-pos weet waarom ’n manlike kollega aan die US besig was om navorsing te doen oor vroue in die akademie se ervaring van Covid-19.

“Toe ek daardie e-pos kry, toe dink ek: Miskien moet vroue hul eie stories vertel. Vir my is hierdie ’n argief; dis ’n argief van stemme uit ’n situasie wat ons nooit vantevore beleef het nie. En hierdie goed word só maklik uitgewis as jy dit nie opteken nie. Jy weet, ons praat daaroor en naderhand word dit deel van wat normaal is en niemand dink dis vreemd nie, maar dit moet gedokumenteer word vir die toekoms. Op ’n manier dokumenteer ons spesifiek wat met vroue gebeur in hierdie omstandighede.”

Impak op vroue

Gouws praat oor wat telkens ter sprake gekom het in haar korrespondensie met vroue – “kollegas, my vriende wat emosioneel só móég was, só uitgeput” – en wat ook figureer in talle van die bydraes in Covid Diaries.

Olivia Ezeobi se e-pos aan Gouws was die vonk vir ‘Covid Diaries’. Foto: Jaco Marais

“Die verskriklike toename in tyd wat mense moes insit om aanlyn klas te gee . . . Dit is ’n nuwe tegnologie; jy moet alles aanpas, en niemand sê vir jou as jy 20 uur per dag werk dit is te veel nie. Almal sê net: Doen dit; of jy nou tyd het en of jy nou nie tyd het nie – dit móét gedoen word.

“Tóé kom die tuisonderrig. So, vroue met kinders wat nog op skool was, het verskriklik swaargekry. Vroue in die akademie, byvoorbeeld – jy moes klasgee; jy moet jou kinders home school; jy moet die emosionele werk doen . . . Ons het nog nooit so ’n situasie beleef nie, so jy moet jou gesin bymekaar hou; jy moet ondersteuning bied.

“En die idee bestaan dat versorging, care, elasties is – dit kan maar net aan en aan gaan. En niemand maak voorsiening vir die impak wat dit op vroue het nie.”

Taktiele mens

In haar bydrae “Things We Lost in the Pandemic” skryf Gouws:

“How has the privacy of the mouth become so dangerous, so deadly that we have to cover it with cloth? We cover the smile, the beauty of fine lines at the corners of mouths, the unspoken joys we have to lip-read from the eyes now.”

‘Covid Diaries’ is deur Imbali Academic Publishers uitgegee. ’n Tweede oplaag van die boek is onlangs gedruk.

Sy sê: “Die titel speel in op daardie rolprent Things We Lost in the Fire, waar dit nie gaan oor die materiële wat verlore is nie, maar oor die geestelike, die emosionele.

“Ek is ’n baie taktiele mens en dit was vir my ’n verlies. Maar daardie eerste paar weke van vlak 5 was ook vir my ’n geleentheid tot introspeksie oor ’n hele klomp goed en oor wat dit is wat betekenis aan ons lewe gee.

“En dis baie keer hierdie goed waaroor jy nie dink nie totdat dit van ons weggevat word. Dit is waarom ek daaroor gedink het dat jy nie meer iemand kan sien glimlag nie; dat jy nie aan goed kan vat nie; dat jy nie mense kan hug nie . . .

“En hoe dit vir my gevoel het dat die lewe net soveel kléiner geword het sonder daardie taktiele, sensuele goed . . . Dis ewe skielik net wég.”

Dié sentimente resoneer met wat die digter, skrywer en akademikus prof. Joan Hambidge in “Love in the Time of Corona” skryf: Afstandonderrig en -leer, en sosiale afstand sal ook ’n impak op digters en op poësie hê.

In haar gedig “Liefde in die tyd van korona”, skryf sy:

Vanselfsprekend ’n masker

vir beide liefhebbendes,

geen aanraking of soen nie, selfs

in verskillende tydsones, vreemde

vastelande nes ’n kinderlegkaart

verkeerdom of onderstebo afgedruk.

Jou plek én myne (terselfdertyd);

net ’n gedeelde skerm: min of meer.

Die surreële

Iets wat Gouws pla, en waaroor sy ook skryf, is die feit dat ons ons onafhanklikheid verloor het; dit aan “masjiene” afgestaan het.

“Die cyborg- [kuborg, bioniese mens] ding pla my, want ek dink ons wórd geforseer in hierdie digitale wêreld in. Ek kan nie my werk doen daarsonder nie; ek kan nie my vriende sien nie. Hulle is pixels op ’n skerm.

“Maar dan die surreële . . . Die surreële was my verjaardag met daardie koek in die vorm van die koronavirus wat my een dogter vir my gebak het. Ons het daar buite gesit en die vriende kan nie kom kuier nie en hier sit jy nou met ’n koek wat soos ’n koronavirus lyk.”

Die verjaardagkoek in die vorm van die koronavirus wat een van Gouws se dogters vir haar gebak het. Foto: Verskaf

Nog ’n surreële aspek is die hase wat sedert die inperking verlede jaar in haar huis woon. Albei haar dogters het tydens die inperking by die ouerhuis kom woon en een het vier klein hasies en ’n kat saamgebring. Die ingangsportaal is toe in ’n haashok omgeskep.

Sy skryf soos wat die hase groter geword het, was sy bang sy gaan een oggend die deur oopmaak en vind hulle is besig om op hul agterpote rond te loop.

Alles is koek

Die akademikus en skrywer Azille Coetzee se verbeeldingryke en fassinerende essay, “Everything is Cake: Reflections on Natality and a New World Order”, het ’n soortgelyk aweregse allure as Gouws se mededelings oor die koronakoek en die hase.

Uit die titel kan die leser aflei welke ongewone verbande sy lê tussen groot, ernstige konsepte en die absurde verskynsel van objekte uit die alledaagse lewe wat in koekvorm nageboots word.

Sy skryf: “In the middle of July, after months of lockdown and several global cycles of collective online outrage and despair, my social media timelines start filling up with cake. Video after video of big knives cutting into ordinary objects like a Croc shoe, a pack of Doritos chips, a roll of toilet paper, a plate of salad, an arm, a leg – just to reveal that it is made of cake [ . . .] Everything is cake, the internet exclaims.”

Geweld en armoede

Een van die temas in Covid Diaries is hoe vroue weens die inperking nie aan gesinsgeweld kan ontsnap nie.

Aan die leë gange van universiteitsgeboue is daar ook iets surrealisties, sê Gouws. Foto: Jaco Marais

“In die verlede kon jy ten minste probeer om na ’n skuiling toe te gaan of jou vriende kon tussenbeide tree. Nou is daar net geen skans teen jou aggressor nie, so dít is baie erg.”

In “Behind the Walls” skryf Soamalala Randrianjafiharison:

“Imagine what it looks like when you have to stay home for several months and that place is not a safe place to be, physically and emotionally. There you are beaten. There you are raped. There you are enslaved, in your own home.”

Volgens Gouws is iets wat ook “baie erg” is, die weerloosheid van arm mense.

“Nou kan jy nie jou kinders kosgee nie. Mense wat in baie klein ruimtes woon, moet nou daar blý; hulle kan nie uitgaan nie.

“Ja, die verskriklikheid van armoede word ook in daardie storie ‘Behind the Walls’ uitgebeeld, nè? Die ma wat water met sout en peper kook vir sop, want daar is niks anders nie.”

‘Totaal uitgestres’

Die eise wat die pandemie en die inperkings aan ma’s stel, word aangrypend belig in Ezeobi, die ma van ’n kleuterseun, se “A Room of My Own”. Sy skryf die spanning tussen van die huis af werk en om ’n ma te wees was vir haar die stresvolste aspek van die inperking.

Die spanning tussen van die huis af werk en om ’n ma te wees, was vir Ezeobi die stresvolste aspek van die inperking. Foto: Jaco Marais

Hoewel haar man ook tuis was en bereid was om na hul seuntjie om te sien, wou die kind háár aandag hê. Sy skryf sy het soms in haar motor gaan sit en nasienwerk doen, aangesien sy dit nie in die huis kon doen nie en ook nie in restaurante of koffiewinkels nie omdat hulle gesluit was.

“Ja, ek voel vir Olivia, want teen die tyd dat ons met hierdie boek begin het, was sy totáál uitgestres. Ek is bly haar stem is daar. Dit praat spesifiek oor daardie situasie: You’ve got nowhere to go. Jy moet werk; jy moet antwoordstelle nasien en jy het ’n kind.”

En wat baie van die vroue sê wat mans het, is dat daar net hierdie verwagting is dat die mans in hul studeerkamer ingaan en die deur toemaak en werk.

Die enorme hoeveelheid bykomende werk wat dit verg om aanlyn klas te gee, word ook deur mense soos Ezeobi beskryf.

“En wat baie van die vroue sê wat mans het, is dat daar net hierdie verwagting is dat die mans in hul studeerkamer ingaan en die deur toemaak en werk.

“En die vrou moet maar die kinders hanteer en sy moet haar eie werk hanteer en sy moet die kos hanteer en al sulke goed. So, dit is daardie verskriklike growth of the care burden.”

Pa se laaste woorde

Ons praat oor die impak van die pandemie op mense se geestesgesondheid.

“Daar is in die boek die stories van mense wat net eenvoudig in depressie verval weens die alleenheid en afsondering. Lou-Marié [Kruger, sielkundige, professor in sielkunde aan die US en skrywer] se stuk is veral aangrypend.”

Die titel van Kruger se briljante stuk is Of Love and Violence: Snow White and the Seven Mirrors. Daarin vertel sy wat tydens die inperking tussen een van haar pasiënte en dié se ontsaglik destruktiewe, narsistiese ma – ’n vrou wat op haar dag soos Elizabeth Taylor gelyk het en in wie se aftreewoonstel sewe spieëls was – gebeur.

'Op ’n manier dokumenteer ons spesifiek wat met vroue gebeur in hierdie omstandighede.' Foto: Jaco Marais

’n Storie wat haar laat huil het, is dié van die navorser en skrywer Joy Watson, sê Gouws.

’n Mens se hart wil inderdaad breek wanneer Watson in “Love and Loss in Lockdown” beskryf hoe sy ’n strokie vir R25 se vrugte wat haar pa by Food Lover’s Market in Tokai gekoop het, onder sy motor se sitplek vind. En met die leser sy laaste woorde aan haar deel.

“Die rede waarom ek gehuil het, is omdat dit ook my pa se laaste woorde aan mý was. Ek weet nie . . . daai generasie mans was weird mans. My pa . . . Ek dink dit was die eerste keer in sy lewe wat hy vir my gesê het hy bewonder my – en dit was ook die laaste woorde.

“My pa was ’n ernstige introvert en hy was ook ’n patriarg. Ek het net baie beter presteer as wat hy verwag het van ’n vrou.”

Opbeurende verhale

Dit is vir Gouws belangrik om te beklemtoon dat daar onder die “eiesoortige, outentieke stemme” in Covid Diaries ook “baie opbeurende” verhale is.

“Ek het gedink Sandra Swart [professor in geskiedenis aan die US] se stuk, ‘Love in the Time of Corona: A Historian Lives through a Plague’, was vir my net só opbeurend waar sy skryf oor die diere. Sý het ook ’n besondere stem en is ’n ongelooflike historikus. Al haar werk as geskiedkundige gaan oor diere.”

Wat die inperking draaglik gemaak het, wás vriendskappe. Ek skryf in my stuk hoe ons vier was wat elke Sondag gaan stap het. Dít was eintlik die enigste menslike kontak in daardie stadium.

Sy skryf onder meer die pandemie herinner ons aan ons verwantskap aan diere en dat ons moet ag slaan op ander lewende wesens; ons gedeelde verlede en toekoms in heroënskou moet neem.

“Vasti Roodt [medeprofessor in filosofie aan die US] se stuk oor vriendskap was vir my ook pragtig. Wat die inperking draaglik gemaak het, wás vriendskappe. Ek skryf in my stuk hoe ons vier was wat elke Sondag gaan stap het. Dít was eintlik die enigste menslike kontak in daardie stadium.”

Die jong skrywers Ashanti Kunene en Simone Thandiwe de Lange bied ook aan die leser ’n oplugting deur hul skrywes oor die goeie dinge wat in die pandemie in hul lewe gebeur het.

Supervroue

Die Stellenbosse teoloog prof. Juliana Claassens skryf in “Her Lamp Does not Go Out at Night’ (Prov 31:18): Confessions of a Very Tired Superwoman” sy het tot die gevolgtrekking gekom dat sy eintlik nié ’n supervrou is nie, “ . . . but a very human human, with the capacity to think, to act, to hope, to imagine a future for myself, my family, and my community in all of its fragility and complexity”.

Gouws: “Jy glo dat jy alles kan doen, want jy is as ’n feminis ’n sterk vrou. Ons word almal in ’n stadium superwomen en in daardie wording begin ons onsself baie dinge ontsê of ontken wat ons ménslik maak en nié supermenslik nie.

“Ek het vir baie lank aan myself as superwoman gedink en ek wás superwoman, maar ten kóste van myself. Ek dink ons het as feministe ook ’n verpligting om vir jonger vroue te sê: ‘Jy hóéf nie superwoman te wees nie.’ ”

Meer oor:  Vroue  |  Amanda Gouws  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.