Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Covid-19: ‘Kinders se verskriklike lot’

Christina Nomdo, wat pas as die land se eerste kinderkommissaris aangestel is, vertel aan Murray La Vita waarom die nasionale inperking ’n gevaarlike tyd vir kinders is, en sê sy is uiters bekommerd oor nóg ’n pandemie, buiten Covid-19, wat in Suid-Afrika woed.

Christina Nomdo

Kinders is in die inperkingstyd van hul ondersteuningsnetwerke afgesny en kan dit nie aanmeld indien hulle mishandel word nie. Dít is waaroor mense in die kinderbeskermingsektor veral besorg is, sê Nomdo.

“Kinderlyn het in hierdie tyd wel oproepe van kinders ontvang. Volgens Bheki Cele, die minister van polisie, het die polisiediens in die eerste week van die inperking ook talle oproepe ontvang oor gendergebaseerde geweld.

“Dít is kommerwekkend. Buiten die trauma wat kinders beleef wanneer sulke geweldpleging in hul teenwoordigheid plaasvind, kan hulle self ook die slagoffers wees van geweld in hul huise. Die feit dat hulle dit nie kan aanmeld nie, beteken hulle is nou besig om in afsondering te ly.”

Nomdo is met ingang van 1 Junie die Wes-Kaap se kinderkommissaris – ’n nuwe pos in die provinsie en die land. As kinderkommissaris sal sy die provinsiale regering bystaan in die beskerming en bevordering van kinders se belange ten opsigte van gesondheid, onderwys, maatskaplike dienste, sport en ontspanning.

Dié pos is ’n vereiste in die Wes-Kaap se grondwet. Ingevolge die grondwet het die kinderkommissaris die mag om kwessies wat kinders raak te monitor, te ondersoek, na te vors en verslag daaroor te doen.

Sy is nog tot die einde van Mei ’n kommissaris vir kinderregte in die regering se nasionale beplanningskommissie (NBK).

‘Tevrede met inperking’

Volgens haar het die NBK tydens die inperking na kinders uitgereik.

“Ons het dit deur kinderbeskermingsnetwerke gedoen. Die doel was om hulle te vra hoe hulle oor die pandemie en die inperking voel.

“Wat goed was, is dat al die boodskappe – die gesondheidsboodskappe en veral die boodskappe van die president – ’n groot invloed op hulle gehad het. Hulle het amper deur die bank gedink die inperking is ’n goeie ding en die virus is ’n slegte ding.

Die weerloses is daardie kinders by wie niemand nog in al hierdie dae van inperking kon uitkom nie

“Die doel was ook om hulle oor hul gevoelens te pols. Die kinders waartoe ons toegang gehad het, was egter nie die weerloosste kinders nie. Die weerloses is daardie kinders by wie niemand nog in al hierdie dae van inperking kon uitkom nie.

“Hulle kan in verskriklike omstandighede vasgevang wees. Ons sal eers daarvan te hore kom aan die einde van die inperking wanneer hulle weer kan uitkom en skool toe gaan en dalk aan onderwysers of ander volwassenes wat hulle vertrou, vertel wat met hulle gebeur het.

“Ek dink daar is baie kinderbeskermingsmense wat slaaplose nagte oor hierdie kwessie het.”

Vrae aan kinders

Nomdo (links) voor die Uniegebou in Pretoria by ’n geleentheid van die Nasionale Beplanningskommissie (NBK) se verslag oor kinders. Regs van haar is kommissarisse Poppie Mocumi en Tessa Dooms. Agter (links) is Xoliswa Dilata van die NBK se sekretariaat en dr. Pulana Molokwane, ’n kommissaris.

Daar is deur WhatsApp na die kinders uitgereik.

“Ons het ’n toestemmingsvorm geskep waarin ouers ingelig word oor die vrae wat aan hul kinders gestel sou word en waarheen die inligting sou gaan.

“Nadat die ouers ingestem het, het hulle self vyf vrae aan die kinders gestel. Dit is hoofsaaklik bemiddel deur organisasies wat met kinderbeskerming of -regte gemoeid is en met kinders kontak het deur WhatsApp, of regstreeks, in die geval van sekere noodsaaklike dienste soos kosverskaffing.

“Hulle het met die ouers geskakel en dan het die ouers die vrae aan die kind gestel en aan ons die stemopname met die kind se antwoorde aangestuur.

Ek hou nie daarvan as mense sê hulle gaan namens kinders praat nie.

“Ek het daarvan gehou, want een van my passies is kinderdeelname. Daardie outentiéke stem, die kind se eie stem . . . Dit is só seldsaam om te beleef; dit is gewoonlik ’n interpretasie of ’n gemedieerde weergawe.

“Ek hou nie daarvan as mense sê hulle gaan namens kinders praat nie. Ek sal nooit namens kinders praat nie. Ek sal ’n vegter vir kinderregte wees, maar ek glo kinders moet vir hulself praat. Hulle moet daartoe in staat wees om in hul éie stem te sê wat hulle beleef, voel of wil hê.

“En ons as volwassenes moet hulle kan antwoord. Volwassenes het die sosiale struktuur in die wêreld geskep, so ons moet kan reageer op waaroor hulle besorg is of wat hulle versoek.”

Ongemaklik oor kinderregte

Dit is vir Nomdo belangrik om dit onder mense se aandag te bring dat kinders daartoe in staat is om menings te vorm, met komplekse kwessies om te gaan en vooruitdenkend is.

“En dat dit ons plig is om na hulle te luister en om ag te slaan op hul menings. Baie mense dink kinders is nie landsburgers nie, hulle het nie agentskap nie en hulle is nie bekwaam nie. Ek doen moeite om daardie beskouing te verander.”

Volwassenes beleef kinderregte as ’n bedreiging vir die regte van ouers; daar is ’n spanning tussen ouerregte en kinderregte

Volgens haar is volwassenes dikwels “ongemaklik” oor kinderregte.

“Dit is welbekend en gedokumenteer. Volwassenes beleef kinderregte as ’n bedreiging vir die regte van ouers; daar is ’n spanning tussen ouerregte en kinderregte.

“Wat vir my die fundamentele kwessie van kinderregte is, is om ’n kultuur van respek te skep vir elke individu in ’n gemeenskap. Daardie respek is die hoeksteen van menseregte. Indien ek jou as mens respekteer en ek word as mens gerespekteer, sal ons almal voel asof ons deel is van dieselfde samelewing. Regte gee aan ons daardie mag om te sê: ‘Ek verdien gelyke respek bloot omdat ek ’n mens is.’ ”

Lyfstraf

’n Voorbeeld van die spanning tussen die regte van ouers en kinders is waar ouers meen dit is hul reg om hul kinders te tug deur lyfstraf.

“Dit gaan ook oor mag en wie mag oor wie het. Ouers voel dus dalk bedreig omdat hulle dink hul mag word ondermyn. ’n Volkome kopskuif is nodig oor ons denke met betrekking tot mag óór iemand. Ek dink nie enige mag óór iemand anders het positiewe gevolge nie.

“Dit is hoekom ons sê ons wil ’n kultuur van regte in ons land vestig. Nuwe narratiewe oor en begrip van hoe almal van ons as gelyk beskou kan word. Beskou kan word as waardig, net omdat jy ’n mens is, om géén ander rede nie en sonder enige ander kwalifikasies soos ras, geslag of ouderdom.”

Geweld in hul lewe

’n Optog teen geweld teen vroue en kinders in Despatch in die Oos-Kaap. Foto: Ewald Stander

Suid-Afrika, en veral die Wes-Kaap, se pandemie van mishandeling, verkragting en moord van kinders, is uiters kommerwekkend.

“In ’n studie in 2016 is bevind een uit drie kinders beleef seksuele of ander fisieke geweld voor die ouderdom van 18.

“Ek het hierdie land al male sonder tal deurkruis en met baie kinders gepraat oor hul belewenisse, die geweld in hul lewe.

Hoeveel kinders is besmet?

Nomdo sê sy waardeer die wyse waarop die Wes-Kaapse regering sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie inligtingstelsels ingespan het om die koers en ligging van infeksies te bepaal en te verstaan.

“Dit is ewe belangrik om te bepaal hoeveel kinders met die virus besmet is, hoe hulle besmet is, en hoe hul gesondheid deur die infeksie beïnvloed word.

“Ons moet bekend maak hoe kinders deur hierdie pandemie geraak word en maatreëls tref om hulle te beskerm.

“Die regering gee aandag aan verspreiding van kos en verwante diensleweringskwessies, maar ons moet ook byvoorbeeld verseker dat kinders veilig is wanneer hulle na en van voedingskemas beweeg.”

“Enigiemand wat passievol is hieroor word ontroer daardeur. Jy kan nie anders as om emosioneel te wees wanneer jy na daardie stories luister nie; wanneer jy hoor wat kinders deurmaak. Jy wéns dit was nie nodig dat hulle dit deurmaak nie.

“So, jy hang dan daardie mantel van verantwoordelikheid oor jou skouers en besluit jy gáán ’n verskil maak in die lewe van kinders in Suid-Afrika. Dit is wat my regtig aandryf, want ek het al na so baie kinders geluister wat vir my dieselfde ding vertel.

“Ek wonder dan: Hoe gaan ek ’n verskil maak? Ek kan nie in elke liewe kind se lewe ’n verskil maak nie, maar as ek dalk sekere dinge doen – saam met sekere organisasies werk, sekere poste aanvaar, sal ek die soort lewe wat ons kinders in die toekoms gaan hê, positief kan beïnvloed.

“Jy kan luister en oorweldig word deur wat jy hoor, of jy kan daardeur aangedryf word. Ons wat aktiviste is, dóén iets in reaksie op wat ons sien en wat ons hoor, deur die lewe van die kinders rondom ons.

“Ons is nie immuun of emosieloos in die aangesig van al hierdie dinge nie. Om die waarheid te sê ons het so baie intense emosies, maar ons kies om dit te kanaliseer sodat ons ’n positiewe verskil kan maak.”

Kinders in die biblioteek

“Ons moet bekend maak hoe kinders deur hierdie pandemie geraak word en maatreëls tref om hulle te beskerm.”

Nomdo het in die Kaapse voorstad Belhar grootgeword en as 20-jarige daar as kinderbibliotekaresse begin werk.

“Dit was in Belhar se Hugenot Square-biblioteek. Daardie biblioteek was spesiaal, want dit was die eerste een in die meer agtergeblewe deel van die gemeenskap en biblioteke was vir mense – kinders veral – ’n redelike nuutjie.

“Ek dink ons het ’n taamlike indruk daar gemaak, want kinders het toe begin verstaan en ’n liefde vir lees begin ontwikkel. Ons kon selfs ’n speelgoedbiblioteek met opvoedkundige speelgoed in daardie biblioteek begin. Dít was vir my ’n hoogtepunt; ek het dit werklik geniet om direk met kinders te werk.”

Dit het gelei tot ’n loopbaan gemoeid met kinders wat oor 30 jaar strek.

“Ek het daarna jeugontwikkeling in daardie selfde gemeenskap gedoen vir ’n NRO. Ek is formeel aan die teorie en praktyk van kinderregte bekend gestel deur die kinderbegrotingseenheid by Idasa (Instituut vir Demokrasie in Suid-Afrika).

Wat ek na dié pos bring, is tegniese kundigheid rondom die wetenskap van kinders en kinderregte.

“Daarna was ek agt jaar lank direkteur van Rapcan (Resources Aimed at the Prevention of Child Abuse and Neglect), ’n organisasie wat bekend geword het vir sy vindingryke modelle om geweld teen kinders te stuit.”

Sy is hierna deur die Leadership Innovation Network for Collaboration in the Children’s Sector (Linc) genomineer om deel te word van die nasionale beplanningskommissie as kommissaris.

“Hier het ek ’n inisiatief gelei – ’n wêreldwye eerste – vir kinders om aktief deel te wees in die hersiening van die regering se nasionale ontwikkelingsplan. Hierdie projek het voortgegroei uit die inisiatief Children Participating in Governance, wat 15 jaar gelede tot stand gekom het.”

Persoonlike lewe

Nomdo is tans besig met haar doktorsgraad in publiekreg aan die Universiteit van Kaapstad.

“Die onderwerp van my studie is die saak in die konstitusionele hof waarin Rapcan ’n applikant was. Die saak het gegaan oor Wet op Seksuele Misdrywe en hoe dit normale gedrag van adolessente kriminaliseer. Die hof het bevind die wet is ongrondwetlik en daardie dele wat die gedrag van adolessente kriminaliseer, is verwyder.”

Buiten hierdie mededeling oor haar studie wil Nomdo niks verder oor haar persoonlike lewe sê nie. Dit is vir haar belangrik om haar persoonlike lewe van haar werk te skei, sê sy.

“Dit is ’n professionele pos, so wat ek na dié pos bring, is tegniese kundigheid rondom die wetenskap van kinders en kinderregte. En dít is my mandaat.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.