Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Covid-19: ‘Leiers gewaarsku teen tsoenami’

Wetenskaplikes het gewaarsku ’n tsoenami van ’n pandemie soos Covid-19 is op pad, maar leiers het nie daarop ag geslaan nie, sê die biochemikus prof. Debra Meyer aan Murray La Vita.

Prof. Debra Meyer het van kleins af belang gestel in mikroörganismes.

“Ek het van kleins af baie belang gestel in mikroörganismes – die goed wat ’n mens nie met die blote oog kan sien nie, maar wat lande kan verander,” sê prof. Meyer in ’n Zoom-onderhoud uit haar huis in Northcliff.

Die vurige Meyer, wat haar standpunte met groot drif oordra, is dekaan van die Universiteit Johannesburg (UJ) se fakulteit wetenskap.

Hoewel die hooffokus van haar doktorsgraad, wat sy op 29 in Kalifornië behaal het, biochemie en molekulêre biologie was, was virologie en immunologie deel van haar opleiding en studie.

“Die Covid-19-pandemie is nie onverwags nie en tog is ons nie gereed hiervoor nie. Navorsers het al vir járe gesê hoe ons leef as mense en die dinge wat ons doen, maak dit báie maklik vir mikroörganismes om onder ons te versprei.

Daardie vorme van griep moes eintlik ’n waarskuwing gewees het vir wêreldleiers om na die wetenskaplikes te luister.

“Ons is tot ’n mate gelukkig omdat die laaste keer wat daar ’n groot pandemie was van ’n virus wat jy kan inasem, was dit in 1918 [die Groot Griep, ook bekend as die Spaanse Griep].

“En daarna het ons kleiner gevalle gehad van organismes wat jy kan inasem; dis nou MERS (Midde-Oosterse respiratoriese sindroom) en EARS (ernstige akute respiratoriese sindroom). Maar hierdie infeksies was nie pandemies nie en hulle was beperk tot kleiner gebiede, so mense het nie bang geword nie en ook nie beter voorberei nie.

“Daardie vorme van griep moes eintlik ’n waarskuwing gewees het vir wêreldleiers om na die wetenskaplikes te luister. Wat Nassim Taleb in sy boek Black Swan gesê het en wat vir my ’n eye opener was, is hierdie nuwe koronavirus is nie ’n swart swaan [’n uiters seldsame en onverwagte gebeurtenis met groot en ernstige gevolge] nie, want ons het geweet dit kom. Dit is een honderd persent waar – wetenskaplikes het gewéét hierdie ding kom.”

Leiers beïndruk nie

“Ons het gewaarsku, maar ons het nie onse stemme dik genoeg gemaak om die beleidmakers en die regeringsleiers te kry om hul besluite en beleide aan te pas vóórdat hierdie probleem gekom het nie.

“En ek moet nou vir jou sê, ek is nie vreeslik beïndruk met die meeste van die wêreldleiers nie; hulle het nie ’n idee wat hulle hier doen nie.

“In Suid-Afrika is die president se vroeë besluit oor gesigmaskers ’n positief, maar ons onvermoë om seker te maak álmal gebruik dit korrek is problematies, so ook die feit dat ons ’n agterstand met toetsuitslae het en dat al die nodige tydelike hospitale nog nie opgerig is nie. Ons het die advieskomitees en hul projeksies, maar die aksie is veels te stadig.”

Teenliggaampies

Sy is “ook nogal bietjie geïrriteerd” met mense wat hulself kundiges oor die koronavirus noem.

“Daar ís nie ’n koronavirus-kundige nie. Daar is viroloë wat op infektiewe siektes gewerk het; op sóórtgelyke virusse, maar hierdie nuwe SARS-CoV-2 is minder as agt maande oud – niemand ken hom goed genoeg om ’n kundige daaroor te wees nie.

“Maar die feit van die saak is – ons leer nog van die nuwe virus. Om jou ’n idee te gee: Een van die goed waarop ek my tyd bestee het, is teenliggaampies. Ek het op MIV gewerk en een van my projekte was om maniere te ontwikkel wat lei tot die induksie van teenliggaampies wat die virus onaktief kon maak. Die teenwoordigheid van dié soort teenliggaampies in MIV-positiewe mense het ’n goeie uitkoms beteken.”

Biografie

Prof. Debra Meyer is sedert 2009 ’n nie-uitvoerende direkteur van Naspers.

Sy was ook die eerste swart weervoorspeller op SABC2 en het op kyk-NET die program Debra deel gehad.

Sy was in 2007 een van tien benoemdes vir die pryse deur Rapport en City Press vir invloedryke vroue. Sy is aktief betrokke by maatskaplike sake, veral met betrekking tot MIV/vigs.

* Netwerk24 is ’n Media24-publikasie, ’n filiaal van Naspers.

Sy het die Jong Wetenskaplike Prys van die Academy of Sciences of the Developing World ontvang vir haar baanbrekerswerk in MIV-navorsing. Plaaslik is sy twee keer met die T.W. Kambule-prys vereer deur die nasionale wetenskap- en tegnologieforum.

“Maar die koronavirus doen iets vreemds – baie mense wat van die infeksie herstel, het min of geen van die belangrike teenliggaampies teenwoordig nie wat beteken iets anders, soos selle wat geïnfekteerde selle kan vernietig, speel dalk ’n groter rol.

“Die beginsel van immunologie sê teenliggaampies word altyd gemaak as daar ’n mikroörganisme die liggaam binnekom. Een van die vroeë groot deurbrake vir MIV was ’n toets om die teenliggaampies teen die virus te bepaal sodat jy nie vir die éintlike virus hoef te toets nie.

“Dit is nie dat dit moeilik is om die toets te berei nie – navorsers wéét hoe om dít te doen; die probleem is dat dit tans lyk asof nie almal wat getoets is die teenliggaampies maak teen die spoed wat ons verwag nie. So dít sê vir jou hierdie virus is nié ’n tipiese virus nie.”

‘Ons het herstel’

Daar is seker drie of vier soorte koronavirusse waaraan ons elke jaar blootgestel is, maar hulle het die gewone verkoue veroorsaak en ons het daarvan herstel, sê sy.

“Ouens wat hierdie nuwe koronavirus vergelyk met die voriges – asof dit identies is – maak ’n groot fout; dit is nie identies nie. Met die voriges het die liggaam teenliggaampies geskep soos waaraan ons gewoond is.

Dit lyk asof die virus sommige mense doodmaak voordat hulle teenliggame meetbare vlakke bereik het.

“Daar is ’n tydperk waar jy verwag spesifieke soort teenliggaampies moet daar wees en met hierdie koronavirus is iets anders aan die gang. Die liggaam maak wél teenliggame, maar dit blyk stadiger te wees en soms nie die regte soort teenliggaam nie en nie alle mense se liggame reageer dieselfde nie.

“Dit lyk asof die virus sommige mense doodmaak voordat hulle teenliggame meetbare vlakke bereik het. So, om teenliggaampies te meet as deel van diagnose vir hierdie virus is nog nie moontlik nie; dis hoekom RNS, die genetiese materiaal, tans gemeet word.”

‘Gebrekkige geheue’

Meyer was aanbieder van die televisieprogram Debra deel.

Sy het al van jongs af vir haarself gesê: “mikroörganismes is van die gevaarlikste goed wat die mensdom mee te make kry”.

“Hoe is dit dat ons so lekker lewe sonder om méér aandag aan hulle te skenk? En nou skielik is die hele wêreld gedwing om meer aandag te skenk.

“Ek dink hoekom wêreldleiers nie vroeër aandag gegee het nie, is weens ’n gebrekkige geheue. Dink aan die Boxing Day-tsoenami. Toe dié tsoenami in 2004 gebeur het, was die soort verskynsel taamlik onbekend aan die publiek.

Niémand van ons wat nou leef, het ’n geheue van die grootskaalse skade wat ’n virus wat jy kan inasem kan doen nie.

“Wat gewoonlik met ’n tsoenami gebeur, is die see trek eers in. So, toe die strand groter word, toe loop van die mense in die water in. Hulle het nie besef dat die water met ’n geweldige spoed en volume gaan terugkeer nie.

“Die laaste groot tsoenami voor 2004 waar tienduisende mense dood is, was in en 1883 en voor dit 1755; daar was dus niemand meer lewendig in 2004 wat dit persoonlik ervaar en oorleef het nie. Niemand wat onthou het wat kom nie.

“Dit is nou dieselfde – die ouens wat 1918 se groot griep ervaar het . . . daar is enkeles van hulle oor, maar hulle is baie oud en niemand luister na hulle nie. So niémand van ons wat nou leef, het ’n geheue van die grootskaalse skade wat ’n virus wat jy kan inasem kan doen nie. Suid-Afrika was in 1918 ook een van die vyf lande wat die slegste anderkant uitgekom het.”

‘Nie ons probleem’

“ ’n Mens kan eintlik sê die ouens in die DRK wat Ebola ervaar het, het dalk ’n beter ervaring gehad van hoe gevaarlik ’n virus kan wees. En as jy daaraan dink, almal van ons wat nié met Ebola te doen gekry het nie, is baie rustig daaroor.

“Dis net hier bo in Afrika en ons maak asof dit nie onse probleem is nie, solank dit net nie hiernatoe kom nie asof dit nooit hierna toe kan kom nie. Maar ons tref nie voorlopig maatreëls teen die moontlikheid nie.

Die Wuhan-uitbraak het in Desember gebeur; hoekom het niemand van ons tóé gereageer nie?

“So ons maak vreeslik staat op geloof . . . Baie min mense sal vir jou sê hulle is Christene, maar hulle funksioneer op geloof, want hoekom dink jy ’n virus gaan nie hiernatoe kom nie? Jy moet seker maar vertrou die Meester gaan jou beskerm . . . Ek verstaan dit nie.

“Die ander belangrike punt is met die virusse EARS en MERS . . . omdat hulle onlangse virusse was, maar gebly het waar hulle ontstaan het, was almal se idee, of dalk hoop, Covid-19 gaan bly waar dit begin het.

“Die Wuhan-uitbraak het in Desember gebeur; hoekom het niemand van ons tóé gereageer nie? Ons het aangegaan met onse lewes want ons was taamlik oortuig dit gaan bly waar dit was.”

‘Op die lug’

Waarom mense ook nie goed gereageer het nie, is omdat hulle verkeerdelik gedink het “hierdie ding word nie op die lug gedra nie”.

“Die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) het onlangs eers die moontlikheid dat die virus ingeasem kan word aanvaar, maar hulle doen dit maar baie tentatief.

Die WGO bestaan uit goeie wetenskaplikes, maar hulle is te versigtig en moes báie vroeër al stérk standpunt ingeneem het.

“Na mý mening is dit ’n feit. Daar is nie ’n manier waarop ’n virus só vinnig kan versprei soos hierdie ding versprei het as dit nie op die lug gedra word nie.

“Ek het báie vroeg al vir myself gesê hierdie ding is airborne. Die WGO het eers geluister toe meer as 200 wetenskaplikes dit in ’n brief aan hulle sê: ‘Ons vereis nou dat julle jul opinie verander.’

“Ek dink die WGO het ’n geleentheid gemis om te wys hoe belangrik hul bestaan vir almal van ons is. Die organisasie bestaan uit goeie wetenskaplikes, maar hulle is te versigtig en moes báie vroeër al stérk standpunt ingeneem het oor wat moet en wat moenie gedoen word nie.”

‘Jy weet waar jy staan’

“Ek het baie vroeg al agtergekom ek is baie meer intelligent as meeste van die seuns in my klasse.”

Meyer, wat in die gemeenskap bekend as Grand Bioscope in Kliptown gebore is en later saam met haar gesin na Eldorado Park verhuis het, wou eintlik na die Universiteit van die Wes-Kaapland (UWK) gaan, maar haar ouers het daarop aangedring dat sy nader aan die huis studeer.

“UWK was vir my beter omdat daar baie bruin mense daar was wat Afrikaans praat en ek het gevoel ek sal makliker daar inpas.

“Ek moes tussen RAU en Wits kies, maar Wits was te Engels vir iemand wat op daai stadium alles in Afrikaans gedoen het en die kampus was ook intimiderend.”

Ek het geweet by RAU gaan ek weet wie die rassiste is. En dis presies wat gebeur het.

Sy het dus in 1986 aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), voorloper van die UJ, begin studeer.

“Vir my was dit belangrik om te weet waar jy staan met iemand. Ek het geweet by RAU gaan ek weet wie die rassiste is. En dis presies wat gebeur het – die ouens het dit nie weggesteek vir jou nie. Jy was nie onseker oor wie is ’n redelike mens en wie is die rassiste nie.”

Sy het van haar beste vriende daar ontmoet.

“Want sommige mense is net mense. Hulle het nie gekom om te bewys wit mense is beter nie, hulle het gekom as studente en ons het onmiddellik studentwees gemeen gehad en ons het ons probleme met Suid-Afrika gemeen gehad. Hulle was nie die meerderheid nie, maar daar was genoeg van hulle dat jy op die ou end kon aanpas.”

‘Afrikaans se reg’

Meyer sê sy het wel “allerhande gemors” op die kampus deurgemaak.

“Daar was studente wat nie langs ons wou sit in die klas nie; daar was ouens wat ons probeer aanrand het as ons wou jool . . .

“So, dit was nie die maklikste tyd om aan die RAU te studeer nie, maar ek was uiteindelik tevrede met my keuse en met die soort opleiding wat ek daar gekry het, anders sou ek nie later daar gaan werk het nie.

Afrikaans is deel van Suid-Afrika en het ’n rég tot bestaan en die UJ kon genoeg daarvan oorgehou het.

“Ek het nie ’n probleem daarmee dat die universiteit nie meer Afrikaans is nie, want ongelukkig was dit aanvanklik eksklusief en as jy enige ding eksklusief maak, is dit problematies, want die grootste deel van die land word dan uitgesluit.”

Sy sou verkies het dat Afrikaans nie heeltemal afgeskaf word by die UJ nie, maar deel geword het van ’n inklusiewe universiteit.

“Maar ongelukkig het ek ’n tydperk gemis [sy was toe aan die Universiteit van Pretoria] waarin ek sou kon baklei teen hóé Afrikaans verwyder is, want hulle het met ’n gewéld ontslae geraak van álles wat Afrikaans is en ek dink dit was ’n fout. Afrikaans is deel van Suid-Afrika en het ’n rég tot bestaan en die UJ kon genoeg daarvan oorgehou het. Ongelukkig het al die mense wat soos ek voel oor Afrikaans, en ook ouens wat doodeenvoudig net nie wou transformeer nie, opgepak en geloop in 2006 en 2007.”

Die Grênd

Meyer was sewe jaar oud toe hulle van Grand Bioscope – sy noem dit die Grênd – af verhuis het Eldorado Park toe. Die gemeenskap is vernoem na die rolprentteater Grand Bioscope waaragter die huise geleë was.

“En so drie jaar later toe is die Grênd vernietig, so hy bestaan glad nie meer nie. Maar daai sewe jaar onthou ek asof dit gister gebeur het. Eldorado Park het nooit vir my soveel my huis geword as wat die Grênd was nie.

“Daar was net ’n interessante klomp mense daar. Daar was Chinese wat saam met ons gebly het; daar was Somaliërs; Indiërs, ouens van Zanzibar, Malawi en Mosambiek af, Cape Malay – ’n méngelmoes van mense.

Niemand het gedink vroue is minderwaardig nie; verskillende gelowe is dieselfde behandel.

“Ons het ’n kultuur gehad wat báie anders was. Toe ek Eldorado Park toe verhuis toe gaan alles baie meer oor brúin kultuur terwyl in die Grênd in was dit multicultural.

“My pa was Moslem, so my ma moes Moslem word om met hom te trou, maar sy het uiteindelik teruggeskuif na die geloof waarmee sy grootgemaak is. Maar uit respek vir hom het sy gesorg al ons kinders het Moslemname ook én het ons Madressa bygewoon in die week en Sondagskool op Sondae. Die meerderheid van ons het my ma se van – Meyer is my ma se nooiensvan – en my broers het my pa se van.

“So, hulle het ’n baie unieke uitkyk op die lewe gehad. Watter mense het in die sestigs en die sewentigs daaraan gedink dat ’n vrou haar kinders háár van kan gee. Ek skryf dit toe aan die omgewing – almal was gelyk in die Grênd. Niemand het gedink vroue is minderwaardig nie; verskillende gelowe is dieselfde behandel.”

’n Geliefde oupa

“Ek het báie vroeg al gesê hierdie ding is airborne.”

Toe sy 12 word, moes sy op aandrang van die imam tussen Islam en Christenskap kies.

“Ek het baie vroeg al agtergekom ek is baie meer intelligent as meeste van die seuns in my klasse. Hoe ek die geloof toe verstaan het, as ek ’n Moslemvrou word dan sou ek skielik onderdanig moes wees en ek is dan slimmer as hulle.

“As jy nou na Kliptown toe gaan . . . jy weet mos nou die regering het mos nou daar ’n monument en ’n hotel.”

Die Vryheidsmanifes is in Junie 1955 daar deur die Congress of the People aanvaar.

“Jy moet verder oos van daar af beweeg en dan suid; dán kom jy by die dele van Kliptown uit waar ék grootgeword het. Hulle het allerhande geld belowe om daai plek ook nou soort van te verbeter. Dit het absoluut nooit gebeur nie. Dis asof ons nooit daar was nie.”

Ek onthou dit asof dit gister gebeur het. Ek was vyf jaar oud. Hy is deur gangsters met ’n byl doodgekap.

Haar oupa aan haar pa se kant het ’n spesiale plek in haar lewe.

“Hy kon Arabies praat en Swahili. Ons is bietjie onseker oor presies waar hy vandaan was, sy papiere het gesê ‘other Asian’, maar dis moontlik dat hy óf van Somalië af gekom het óf Zanzibar óf Malawi. Hy is vermoor voordat ons uit die Grênd getrek het. Ek onthou dit asof dit gister gebeur het. Ek was vyf jaar oud. Hy is deur gangsters met ’n byl doodgekap.”

Sy is besig om ’n boek oor haar “familielewe” te skryf.

“Die een hoofstuk gaan oor hom en die groot invloed wat hy op my lewe gehad het. Ek dink hy was ’n vreeslike intelligente man. Hy is toevallig ook ‘Die Slim Man’ genoem deur die wie hom geken het in die “Grênd’. Hy het boeke in Arabies in sy huis gehad en baie chemikalieë en kon oplossings vir mense se probleme vind.

“Ek dink sy invloed is waarom ek uiteindelik in die wetenskap beland het, want ek was gefassineer deur die soort goed wat jy in sy huis kon kry.”

'n Gedig oor haar komvandaan

Meyer het dié aangrypende gedig oor die Grênd geskryf:

Die Grênd “Colours”

Boesmans agter “Grand Bioscope”

oorkant President Straat in Smithslane

een ou boerehuis verdeel.

Vanuit die venster

swart Somalies met wit kofias

Salaa-ma-leikom

Laat hom veby kom.

Rooi “polish” stoep.

Wit duiwe wat roep

jou “non-white”

jou tussen-in

vertaal die grys

ou toornael.

Een têp vir almal

vuil water wat lek.

Bloed voor die deur

iemand het seer

dooie man, jonk nog

en half kaal, in die vroeg oggend vog

op groen en rooi gras.

Maar jy moet gaan was

die Silverrand Boerka aanpas

Kroes kop water slams

Madressa, salaat

laat ons Kliptokaans praat.

Vaal rook en beige oë

van ’n swart kole vuur

vir vet koek

en jêm

koeksusters

en “coconut”

stryk kam

en “vaseline”.

Sondag skool ribbons

pienk, jaloers-geel

of blou soos die hemel

pas by die bloemer.

Volle Evangelie

waar die verlostes uithang

biduur en doopseël

om seënings te vang.

Siesie-Kouma vloek agter

jou Ma se gat.

Jou Pa se Pa

gedood met ’n “butterfly”

deur manne wat hom ken

want hulle’s nou Panga men.

Siesie-suster, ’n kind van die wind

ons sien haar nooit, maar

altyd rooilig ambulanse . . .

tie-dou-tie-dou

bloulig polisie

een van die twee,

of blou oog en coke

dik lip en choklits

vroedvrou en haarlemensies

babas wat huil.

Jou broers kry susters

met die hêlm gebôre

en die têp lek aanhoudend

grys water op bruin grond

vererger ’n ou wond

agter Grand Bioscope.

Kinners speel blikkie-blikkie en “china-rope”

vissie-vissie en denne

duskant San Soucci en Tamatievlei

nie ver van Varkejaart en Donkiejaart.

bokant Paravlei

anders is jy te ver verby

onse Kliptown

toe was dit “charter” dae

en ons was ook daa.

Tussen tokkelosies en kersvet

“Ever-ready batteries” en pêrrefien.

Waar Rabia met ’n modderkop

’n bok dood dans

en ’n wit hoener keel afsny

om dies wat reeds die ewigheid in is

te bevry.

Terwyl An Lalla baberton weg steek

as sy Zorro hoor aankom.

Timas stuur ons vir pers “spirits” by Pam-Pam

en kry “liquor flames” soos die tyd aangaan

Ons ruik die mawôwô

as ons die swart roet weg gooi.

Maandag oggend

Kiwi jou skoene

trek aan jou groen uniform

spring oor die poeltjie

loop om die modder

passop die bloed.

Vinnig af in die paadtjie

deur geroeste skool hekke.

Wit kryt op swart bord.

Rooi jêm op bruin brood.

Sien jy die “colours”

ken jy jou naam?

Dus hoe jy hier uit kom

of hoe jy hier om kom.

Bruin kind met tiekie se hare

pond se “ribbons”

en groot beige-bruin oë,

ken jy jou naam?


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.