Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Covid-19: ‘’n Nuwe wêreld wink’

Die wêreld ná die Covid-19-pandemie gaan anders wees as die een wat ons nou ken, sê die toekomskundige dr. Morne Mostert aan Murray La Vita.

Dr. Morne Mostert meen een van die grootste invloede wat die korona-pandemie op ons daaglikse bestaan het en wat ons leefwyse straks blywend gaan beïnvloed, is ’n versnelde digitalisering.Foto: Sarel van der Walt

Die Covid-19-pandemie gaan ’n blywende uitwerking op ons lewens hê. Ons wêreld gaan herskep word en iets soos ’n renaissance wag op ons, sê Mostert.

Mostert is direkteur van die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch en is ook ’n lid van die Klub van Rome, ’n liggaam waarin leiers en meningsvormers van oor die wêreld heen besin oor die uitdagings wat die mensdom in die gesig staar.

Die eerste ding wat Mostert telefonies vanaf ’n skadukol in sy tuin in die Kaapse noordelike voorstad Durbanville wil duidelik maak, is dat hy nie ’n toekomsvoorspeller is nie.

“Ons werk is om te gaan kyk nie na voorspellings nie, maar eerder om na wat moontlik is en dan wat waarskynlik is.”

Die laaste vasbyters teen nuwe tegnologie, of selfs mense wat gesê het tegnologie verminder kontak tussen mense – kyk nou wat gebeur!

Dan praat hy oor een van die grootste invloede wat die pandemie op ons daaglikse bestaan het en wat ons leefwyse straks blywend gaan beïnvloed, naamlik ’n versnelde digitalisering.

“Die laaste vasbyters teen nuwe tegnologie, of selfs mense wat gesê het tegnologie verminder kontak tussen mense – kyk nou wat gebeur!

“Daar is ’n geleentheid vir ’n nuwe vorm van sosiale interaksie en nou word ons eintlik gedwing om daarmee te eksperimenteer. Dit speel ’n belangrike rol in verhoudinge, maar ook in handel. Mense wat voorheen vrééslik senuweeagtig was om hul kredietkaartbesonderhede aanlyn te gee sal dit nou dalk móét doen.”

Daarmee saam kom risiko’s.

“Mense wat nie vertroud is met die digitale omgewing nie, byvoorbeeld wanneer dit kom by die hantering van jou finansiële inligting of met die uitsprake wat jy dalk maak op sosiale media; of mense wat nie die kundigheid het om die tegnologie te gebruik nie – húlle word eintlik nou ’n bietjie blootgestel.”

‘Almal doen dit’

Digitalisering
Versnelde digitalisering is besig om oral plaas te vind. Foto: Getty Images

Die versnelde digitalisering vind orals plaas.

“In die kunste tot elke onderneming in die wêreld wat nou die volgende vraag probeer beantwoord: ‘Wat is die digitale weergawe van my onderneming?’

“En as jy dit tot nou toe nog nie gedoen het nie – wel, álmal is nou besig om dit te doen. Diegene wat dit nou reeds gedoen het, probeer dit nou verbeter en innoveer.

“So, dít is een van die dinge wat ek dink moeilik gaan wees om te ignoreer. Ek dink die moontlikheid is beslis daar vir ’n soort van come back van die wetenskap. Ons gaan sien ideologie gaan nie ’n virus aanpak nie; gaan wend jou maar eerder tot die wetenskap – dalk help dít jou.”

‘Groter spyskaart’

Ons gaan ook nuwe vorme van sosiale interaksie sien.

“Ons het byvoorbeeld nou die aand ’n glasie wyn gedrink saam met vriende wat in ’n ander land sit en dit is dalk nie iets wat jy sou doen as jy nou nie gedwing sou wees om dit te doen nie.”

‘Media en universiteite kan help’

Die media en universiteite kan ’n belangrike rol speel om gemoedere te kalmeer en dinge wetenskaplik en feitelik te bekyk, meen Mostert.

“Ons sien byvoorbeeld in die VSA amper ’n soort stille oorlog tussen die politiek en die wetenskap. Trump wil sê: ‘Man, ons gaan almal teen Paasfees terug werk toe.’ Die wetenskap sê: ‘Jy moet so ’n bietjie oordeelkundig wees; jy kán nie net sulke uitsprake maak nie.’

“So, universiteite en die media kan ’n baie goeie rol speel om ’n sobere reportage te gee van wat hier aangaan en hoe ’n mens hieroor kan dink en wat die opsies is.

“Daarenteen kan die sosiale media natuurlik allerhande paniek en fopnuus en negatiewe gedrag inspireer.”

Gaan die fisieke afstand wat mense nou noodgedwonge van mekaar moet handhaaf ’n blywende uitwerking hê op hoe mense ná die pandemie met mekaar omgaan?

“Ja. Ek dink soos wat ’n mens meer leer uit die digitalisering van kommunikasie, gaan daar beslis ’n plaasvervangende effek wees.

“Die opvatting wat jy gehad het dat jy nou Switserland toe moet vlieg vir hierdie vergadering . . . Nou vra ons: Hoe belangrik was dit nou rêrig? En in daardie opsig ís daar ’n geleentheid wat die Klub van Rome ‘a green reset’ noem.

“In terme van ander verhoudinge . . . Ons perspektief op die toekoms is dat die toekoms eintlik net ’n verbreding van geleenthede bied. Daar ís goed wat verval, maar wat eintlik gebeur, is dat die spyskaart net groter raak.

“Met ander woorde: Die gedagte is dat die digitale aspek van jou verhoudinge nou net groter raak. ’n Mens wil graag dink oor die toekoms as: Is dit sus of is dit nou só?

“Maar dit is eintlik albei. Toe ons nou die fiets uitgevind het, het ons gedink dit is nou die einde van loop, maar wat gebeur het, is dat jy eintlik nou die fiets het én jy het loop.

“So, ’n ontluikende toekoms is eintlik een waarin die opsies verryk is. En ek dink dít is ’n positiewe ding. Selfs al die oumas en oupas is nou op toepassings [apps] waarop hulle dalk nie voorheen was nie. Dít beteken nie die persoonlike aangesig-tot-aangesig-verhoudinge gaan verdwyn nie – hierdie is net aanvullend, en dit is nodig, want ons is in ’n globale wêreld.”

Menslikheid

“’n Krisistyd is júís wanneer jy kreatiwiteit en innovasie nodig het.”Foto: Verskaf

Terwyl dit so is dat ons tegnologie toenemend verken, gaan ons dalk ook nou die ménslikheidsaspek meer ondersoek.

“Kom ons dink só daaraan: Hoeveel keer in die verlede het ons nou al die vraag gevra: Wát presies is dit om iemand van aangesig tot aangesig te sien wat die kommunikasie so verryk? Wát is dit wat so aantreklik is, of dalk vir sommige mense so intimiderend is?

“Die paradoks is dat ons in ’n era van tegnologie dalk begin vars vrae vra oor menslikheid wat ons nie hoef te gevra het nie want ons het dit amper so half as vanselfsprekend aanvaar.”

Een van die ander moontlike uitkomste van die versnelde digitalisering is ’n soort van digitale elite.

Die hele beskouing oor “tele” of afstand gaan ongetwyfeld groei.

“Dit sluit byvoorbeeld in tele-medisyne, tele-diagnose, tele-sielkunde en tele- omtrent enigiets anders wat ge-tele kan word, byvoorbeeld digitale bediening deur kerke.”

Een van die ander moontlike uitkomste van die versnelde digitalisering is ’n soort van digitale elite.

“Dit is eintlik nié goed vir ongelykheid in die land nie. Met ander woorde: As jy nou 24 uur per dag hoëspoedinternet in jou huis het, dan is jy eintlik nou strate voor die meeste mense in die land. Jou kinders kan aanhou leer en jy kan aanhou handel dryf en mense wat dit nie het nie, raak nou ongelukkig al hoe verder agter.”

Krisis en kreatiwiteit

Mostert in September op die Wêreld- Ekonomiese Forum se Afrikaberaad in Kaapstad.Foto: Verskaf

Twee dinge gebeur wanneer mense onder druk is, soos nou met die Covid-19-pandemie.

“Die een is dat jy jou kreatiwiteit heeltemal verloor. Dit gebeur nou letterlik en fisiek: Jy sluit die deure. Dieselfde ding gebeur met jou kop – jy sluit jou af.

“Die tweede ding is jy dink aan teruggaan. Jy hoor nou dikwels mense sê: Dit is nou die tyd dat ons moet teruggaan na, en dan vul jy nou jou bias in in daai gapingtjie. Byvoorbeeld: Ons gaan nou terug na hoe die gesin was. Dis absolúte snert! Ons is besig om die gesin totáál te reinvent.

“Dit is ’n verstek-gedrag. Jy sluit toe, of dit nou fisiek is of sielkundig of intellektueel, en dít is báie sleg vir innovasie. En in ’n krisistyd het jy júís kreatiwiteit en innovasie nodig.

“Die sielkundige rede daarvoor is omdat die verlede makliker bewysbaar as die toekoms is. En wanneer jy in ’n krisis is, dan soek jy sekerheid. Mense kan gewoonlik nie sekerheid in die toekoms kry nie, hulle kan dit net in die verlede kry.

“Maar dink nou hoe gevaarlik dit is. As jy nou in watter veld ook al dink die antwoord is in die verlede terwyl hierdie eintlik vir ons ’n stimulus is wat sê: Gee aandag! Dinge is besig om te verander. Die antwoord kan net lê in die herontdekking, die herskepping, die hergeboorte, die renaissance, wat ons hopelik gaan ervaar as gevolg hiervan.”

Mag van die virus

Mostert het sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie gaan kyk na hoe die samelewing gaan optree in verhouding tot hoe die virus gaan optree.

Hy het veral gekyk na die waarskynlikheid van burgerlike gehoorsaamheid en gevra tot watter mate gaan ons samelewing die gedrag van ’n gehoorsame samelewing weerspieël.

“En dan het ek gaan kyk na die mag en invloed van die virus. Dít sluit in dinge soos sy aansteeklikheid, sy morbiditeit, sy dodelikheid en sy aanpasbaarheid. Met ander woorde, ek het gaan kyk na die virus as amper ’n aktiewe rolspeler in hierdie scenario.”

Dit is belangrik om te onthou dat ons nie slagoffers van die toekoms is nie, sê hy.

“Die groot waarde daarvan om in terme van scenarios te dink, is dus dat jy besef daar is ’n mate van besluitneming wat mense kan uitoefen.

“As ’n mens dus nou gaan kyk na die distopie-scenario, dan is dit een waarin ons totaal burgerlik ongehoorsaam is en die virus is gewéldig magtig.

‘Ongehoorsame SA’

“Maar wat is die waarskynlikste scenario? Wel, kom ons kyk na burgerlike gehoorsaamheid. Suid-Afrika is eintlik nié ’n baie gedissiplineerde samelewing nie. Wat is die waarskynlikste vooruitsig met betrekking tot die virus?

‘Weer hoof van die huis’

Mense openbaar selfs regressiewe gedrag in hierdie tyd.

“Dink byvoorbeeld aan professionele vroue wat nou kosmaak en terugval in ’n tradisionele rol. En mans . . . Die hoëpriester-rol van die man kan ek heeltemal sien terugkom; die rol van beskermer en hoof van die huis.

“Interessant is mense wat byvoorbeeld wél daardie rol het wanneer hulle by die werk is en in ’n moderne gesin dit nié by die huis uitoefen nie, verlóór nou daardie rol en dan bestaan die risiko dat jy so ’n bietjie van jou gesag by die huis wil kom rondswaai . . .

“Een van die dinge wat ons vir mense sê, is: Gebruik eerder die geleentheid. Wat is daardie ou spreekwoord in die politiek: Moenie ’n goeie krisis verspil nie.

“Gebruik hierdie krisis om ’n bietjie innoverend en kreatief te dink, te dink wát is jou eksperiment tydens hierdie krisis? Waarmee eksperimenteer jy? Sodat wanneer jy aan die ander kant van hierdie ding uitkom, jy méér mededingend, méér buigsaam, méér aanpasbaar, méér kreatief is. Eerder dít as die een of ander uitgediende teruggaan na wat ook al in die ou dae.”

“Wel, ons weet dit is meer kragtig en invloedryk as die gewone griep, maar ons weet ook dit is mínder kragtig en invloedryk as, sê nou maar, Ebola of die Spaanse Griep. Maar dit is redelik hoogs oordraagbaar.

“Ek het gekyk na twee verdere faktore: Implementering deur die regering – wat is die waarskynlikheid dat die regering goeie implementering gaan doen? En dan die buigsaamheid en reaksievermoë van die gesondheidstelsel.

“Ongelukkig het die Suid-Afrikaanse regering ’n baie sterk tradisie van uitstekende beleid, maar báie swak implementering. En ons het ongelukkig dit nou al reeds hier gesien.

“Toe ons vir Ramaphosa gesien het met sy eerste toespraak, dink ek was die meeste mense geweldig beïndruk – hy het goeie staatsmanskap weerspieël; hy het selfvertroue gehad, en ’n baie goeie beleidstandpunt ingeneem.

“Wat gebeur net ’n paar dae later? Skielik baklei ons oor mag jy met jou hond gaan stap of nie? En dít is die tipiese patroon van die regering – uitstekende beleid, maar ongelukkig nié baie doeltreffende implementering nie.

“Ons sien ook nou al klaar gevalle waar die weermag mense kleineer wat nie die reëls gehoorsaam nie omdat hulle nou mag en gesag het.”

‘Tekens van hoop’

“Kom ons kyk dan na die buigsaamheid en reaksievermoë van die gesondheidstelsel. Die gesondheidstelsel was reeds op sy knieë voordat ons korona gehad het. Ons het goeie navorsingsvermoë, ons het goeie epidemioloë, maar ons infrastruktuur is nie baie goed ontwikkel nie. So, wat is nou die waarskynlikheid dat ons skielik in ’n wêreldklas-gesondheidstelsel gaan ontpop? Dit is omtrent nul.

“Alles in ag genome is die waarskynlikste scenario – as jy na burgerlike gehoorsaamheid kyk – dat ons ’n lae tot gemiddelde gehoorsaamheid gaan toon.

“Wat betref die virale mag, gaan ons ’n sterk tot baie sterk virusgedrag sien. Die regeringsimplementering gaan ongelukkig ’n lae tot middelmatige implementering wees. En die gesondheidstelsel se buigsaamheid en reaksievermoë gaan eweneens ’n lae tot middelmatige reaksievermoë wees.

“As jy al hierdie goed bymekaarsit, is een van die implikasies dat die distopie-scenario, die slegste moontlike uitkoms, darem nié die waarskynlikste scenario is nie. Dus: Ons het hier nié te make met ’n onkeerbare virus; volslae ongehoorsaamheid; ’n nuttelose regering en geen gesondheidstelsel nie. Daar ís tekens van hoop.”


Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Toekoms  |  Covid-19  |  Kommunikasie  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.