Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Covid-19: Op soek na ‘’n goeie dood’

Dr. David Cameron vertel aan Murray La Vita van die plan om in die Covid-19-pandemie gesondheidswerkers, hul sterwende pasiënte en dié se geliefdes by te staan.

Poolse mediese personeel by ’n pasiënt in die hoësorgeenheid vir Covid-19-pasiënte, in Krakau se universiteitshospitaal.Foto: Omar Marques/Getty Images

Baie van die mense wat ernstig siek word weens die koronavirus en aan ventilators gekoppel word, sal sterf, sê Cameron.

“Dít skep reuse-probleme, deels omdat dit ’n aansteeklike siekte is en niemand met die pasiënte in aanraking kan kom sonder beskermende drag nie; en ook weens die getalle – dit plaas ’n groot druk op die gesondheidstelsel.

“Ons voel dit is belangrik dat ons in daardie omstandighede van die probleme versag deur kommunikasie tussen die familie van pasiënte en die dokters en ook tussen die pasiënte en dokters in ’n situasie waar hulle wél kan kommunikeer.”

Riglyne

Dr. David Cameron: “Miskien worstel ons, as dokters, met die tipiese reaksies wat Kübler-Ross in haar sterwende pasiënte geëien het.”

Die onderhoud met Cameron, ’n palliatiewesorg-dokter en voorsitter van PalPrac, die Vereniging van Palliatiewesorg-praktisyns van Suid-Afrika, vind per Skype plaas.

Cameron woon in Melkbosstrand van waar hy ’n palliatiewesorg-praktyk bedryf. Hy maak verskoning omdat die onderhoud later as afgespreek plaasvind – hy moes dringend ’n pasiënt besoek wat aan longkanker ly.

“Daar is verskeie dinge wat ons [PalPrac] gedoen het. Ons het onder meer riglyne opgestel wat na alle aspekte van die situasie kyk, vir sowel hulle wat in die hospitaal beland – in ’n saal of in die hoësorgeenheid – en vir hulle wat besig is om die einde van hul lewe te nader en nie genees kan word nie.

“In súlke gevalle moet dokters daardie mense so gemaklik moontlik maak en hulle toelaat om te sterf. Dit is ’n taamlik dramatiese situasie wat vir almal baie stresvol is omdat die pasiënt besig is om te sterf, maar ook omdat die dokters en verpleërs en ander gesondheidswerkers blootgestel is aan moontlike besmetting met die virus.

“Ons voel egter daar is baie wat gedoen kan word om die situasie makliker te maak. Mense moet daarop voorbereid wees wanneer hulle in ’n hospitaal of hoësorgeenheid opgeneem word dat daar ’n moontlikheid is dat dít die uitkoms gaan wees.

“Hulle moet ook bemoedig word deur die inligting dat die meeste mense wat opgeneem word, sal herstel. Maar indien pasiënte ernstig siek word, moet sowel hulle as hul families ten volle ingelig word oor wat aangaan en oor die besluit wat in een of ander stadium geneem sal moet word indien hul toestand nie verbeter nie.

“Dit is belangrik dat pasiënte dan verstaan hulle sal op ’n humane en waardige wyse behandel word en toegelaat word om rustig te sterf.”

Digitale afskeid

Die riglyne is daarop ingestel om goeie kommunikasie met die familie te verseker aangesien die pasiënt self dikwels in daardie stadium nie meer by sy of haar bewussyn sal wees nie.

“Sommige hospitale bied ook nou die geleentheid aan familielede om deur ’n videoskakel op byvoorbeeld ’n selfoon van die sterwende geliefde afskeid te neem, al is die persoon aan ’n ventilator gekoppel.

Wat meer algemeen is, is die virtuele, digitale afskeid.

“Wat óók oorweeg word, is dat die naasbestaandes ’n kort nota skryf waarin hulle die dokter van hul geliefde vertel sodat hy of sy ’n meer persoonlike kontak met die pasiënt kan hê. Indien die persoon die dokter kan hoor, kan hy of sy met die pasiënt praat en ’n boodskap van die familie oordra.

“In sommige gevalle word die familielid, geklee in beskermende drag, by die pasiënt toegelaat. Maar dít is die uitsondering.”

Wat meer algemeen is, is die virtuele, digitale afskeid.

‘Emosionele ontsteltenis’

Begrafnisondernemers in Innsbruck in Oostenryk laat sak die kis van ’n vrou in ’n graf.Foto: Jan Hetfleisch/Getty Images

“Ons het ook gekyk na dokters wat in ’n gemeenskap of in ’n kliniek werk en in die beginstadiums mense teëkom met simptome wat lyk na Covid-19 – hoe om die mense van raad te bedien en by hulle aan te beveel dat hulle hul moet laat toets.

“Ook om hulle te help om te reageer op die emosionele ontsteltenis van mense en hoe om aan hulle te verduidelik wat hul kan verwag.

“So vir elke fase het ons riglyne geskep vir ons kollegas wat in hospitale werk.

“Daar is ook riglyne vir pasiënte wat nie so ernstig geraak is nie en gaan tuisbly. Die meeste van my kollegas wat palliatiewe sorg doen, werk reeds met baie siek mense van wie die meeste in die hoërisikogroep is met betrekking tot Covid-19 – hulle is bo 65 en baie van hulle ly aan siektes soos kanker, longsiektes of demensie. So, dit is pasiënte wat sekerlik die gevaar loop om nié ’n Covid-19-infeksie te oorleef nie.

“Wat ek in my eie praktyk begin doen het, is om met elke pasiënt te praat en uit te vind wat hulle sou wou doen indien hulle deur die virus besmet word. Ek verduidelik aan hulle die risiko’s en die opsies sodat hulle vooraf al ’n besluit kan neem en voorbereid is.

‘Hulle wil tuisbly’

Die meeste van sy pasiënte is al reeds daarmee gekonfronteer dat hulle gaan sterf

“So, vir hulle is dit niks nuuts nie. Elkeen van dié met wie ek al gepraat het, het gesê hulle sal verkies om tuis te bly indien hulle siek word [weens infeksie met die koronavirus].

‘Verligting vir álmal’

Cameron sê dit is belangrik om te verstaan die term palliatiewe sorg verwys nie nét na die versorging van mense wat terminaal en sterwend is nie.

“Dit is die verligting van simptome en lyding vir álmal, ongeag hul Covid-19-status of uiteindelike gesondheidstatus. Die doelstelling van palliatiewe sorg is om die sterfproses nie te versnel nie, maar ook om dit nie uit te rek nie, en dit moet naas standaard mediese sorg aangebied word.”

“Ek het aan hulle verduidelik wat ons kan doen om hulle tuis gemaklik te hou. Indien hulle suurstof nodig het, kan ons dit reël; indien hulle benoud raak en dit lyk asof hulle nie gaan oorleef nie, kan hulle steeds besluit om dan in die hospitaal opgeneem te word.

“Maar wat hulle moet verstaan, is indien dit te midde van ’n ernstige krisis is waar die hospitale oorval is deur pasiënte, gaan daar kriteria wees wat gebruik word om te besluit wie toegang tot ’n ventilator gaan kry. (Lees hier.) 

“Dit is baie ingewikkeld en daar is talle omstrede kwessies daaromtrent. ’n Mens moet baie versigtig wees om nie teen iemand te diskrimineer net op grond van byvoorbeeld ’n gebrek of ’n ander siekte nie.

“Wanneer daar ’n beperkte getal ventilators is, gaan dit uiteindelik daarop neerkom dat diegene wat die beste kans op oorlewing het, voorkeur sal geniet.”

Die riglyne wat PalPrac opgestel het, en wat aan hospitale en gesondheidswerkers beskikbaar gestel is, sluit ook in riglyne en raad oor die uiters moeilike situasie waarin diegene gaan verkeer wat moet besluit wie toegang tot ventilators gaan kry. Daarby is ’n inbeldiens beskikbaar waar palliatiewesorg-praktisyns aan ander medici raad kan gee.

‘Hul eie sterflikheid’

Poolse dokters wag vir hul skof om te begin in die hoësorgeenheid van Krakau se universiteitshospitaal.Foto: Omar Marques/Getty Images

Gesondheidsorgwerkers word in die Covid-19-pandemie aan geweldige stres en spanning blootgestel, sê Cameron.

“Hulle word ook met hul eie sterflikheid gekonfronteer. Die siekte het al baie gesondheidswerkers wêreldwyd geëis.

“Ek is daarvan bewus dat gesondheidswerkers en versorgers in plekke soos ouetehuise en versorgingsoorde ook oor hul eie gesondheid besorg is omdat hulle nie die nodige beskermingstoerusting het nie.

Ek dink dit isbelangrik dat gesondheidswerkers van hul eie weerloosheid bewus is.

“Ons het in Suid-Afrika nog nie baie pasiënte gehad nie, maar wanneer ons by die stadium kom wat Brittanje, Spanje en Italië beleef het, gaan dit nog moeiliker wees om voor te bly met die verskaffing van toerusting.”

Die verwagte groot getalle Covid-19-pasiënte gaan van gesondheidswerkers vereis om vir lang ure onder stresvolle omstandighede te werk.

“Jy gaan burnout onder hulle sien. Mense is daarvan bewus en daar is berading beskikbaar. Ek dink dit isbelangrik dat gesondheidswerkers van hul eie weerloosheid bewus is en hulp soek wanneer hulle oormoeg raak, sukkel om besluite te neem, of waar hulle voel hulle is besig om daardie vermoë te verloor om die pasiënt as ’n mens te sien eerder as net ’n probleem.”

‘Baie weerloos’

Oud en alleen

Dr. Allan Donkin, ’n algemene praktisyn van Somerset-Wes wat in palliatiewe sorg spesialiseer, sê ’n mens kan weens die Covid-19-pandemie verwag dat meer mense “aan selfdood gaan dink”.

“Miskien weens hul eensaamheid tydens inperking asook weens angs en katastrofiese denke. Ek is onlangs deur ’n ouetehuis gevra om ’n tweede opinie te gee oor een van hul inwoners.

“Sy het vir drie dae ná mekaar die verpleegpersoneel om hulp genader vir klein dingetjies soos ’n loopmaag. En toe het sy probeer om haar eie lewe te neem deur haar pols te probeer sny.

“Sy het nie ’n geskiedenis van depressie gehad nie, so dit is nie seker of dit ’n opregte selfdoodpoging was en of dit meer net ’n hulpkreet was nie.

“Ek dink dié soort ding kan toeneem. Jy kan jou voorstel: ’n Ou dame wat nie baie familielede het nie; dalk is sy ’n bietjie van haar kinders vervreem. Nou is sy alleen tydens inperking en sy hoor al hierdie nuus oor ’n dreigende katastrofe.”

Al werk palliatiewesorg-praktisyns deurentyd met baie siek en sterwende mense, sal ook húlle hul moet staal vir wat op pad is.

“As ek terugkyk op die epidemies wat hierdie land oor die jare getref het . . . Dit is moeilik om vir die eerste keer met so iets te doen te kry. Ek het na tuberkulose-pasiënte omgesien, toe middelweerstandige TB-pasiënte, en toe die MIV-epidemie . . . cholera; al daardie dinge.

“Wanneer die nuwe ding gebeur, is ’n mens baie weerloos vir angs en stres, so jy moet sorg dat jy dit op die regte manier hanteer: Erken die probleem; praat met kollegas en kry hulp en bystand; en probeer positiewe maniere vind om te ontspan eerder as byvoorbeeld alkohol.”

Cameron sê hy is gemaklik met sy eie sterflikheid.

“Op 71 het jy die meeste dinge gedoen wat jy wou . . . Kyk, dis maklik vir my om te praat want ek is nie besig om te sterf nie, maar ek het al die kwessies deurdink.

“Ek het my eie wêreldbeskouing en ek is gemaklik daarmee. En ek is gemaklik daarmee om mense te help vanuit watter beskouing hulle ook al het, om daardie kwessies te verken. Dit is belangrik om sulke gesprekke vroegtydig te hê en nie te wag totdat iemand in ’n krisis [sterwend is] verkeer nie.”

Is dit nie so dat die meeste mense die dood vrees nie?

“Ja . . . Ek sou dink dat hulle bekommerd is oor die prosés van doodgaan. Die mense wat hul eie filosofiese of eksistensiële lewensbeskouing het, het klarigheid oor daardie aspekte. Ek sou sê die meeste mense is baie vaag oor wat hulle daaroor dink om te sterf en enige idees oor wat ná die dood wag. Dit is interessant om te sien hoe ons dit vermy om oor die dood te dink.”

Kommunikasie en deernis

In ’n artikel wat Cameron in 2008 geskryf het, neem hy die werk van Cicely Saunders en Elizabeth Kübler-Ross in oënskou. Hulle was in die jare sestig die grondleggers van palliatiewe sorg en die fokus van hul werk was daarop gerig om mense “ ’n goeie dood” te laat ervaar.

Vir Kübler-Ross was “oop kommunikasie” ’n voorvereiste vir ’n “goeie dood” en vir Saunders het dit deernis en die doeltreffende verligting van erge simptome behels.

Ons worstel met ons eie ontkenning en woede.

Hy besin in die artikel ook oor die MIV/vigs-pandemie wat in Suid-Afrika die lewe van honderdduisende mense geëis het omdat pres. Thabo Mbeki en sy kollega Manto Tshabala-Msimang, minister van gesondheid, nie geglo het die siekte word deur ’n virus veroorsaak nie en hulle dus nie antiretrovirale middele aan Suid-Afrikaners beskikbaar gemaak het nie.

Wat hy oor die MIV/vigs-pandemie skryf, is nou, te midde van die Covid-19-pandemie, weer van toepassing.

“Miskien worstel ons, as dokters, met die tipiese reaksies wat Kübler-Ross in haar sterwende pasiënte geëien het. Ons worstel met ons eie ontkenning en woede. Ons probeer onderhandel, maar verval dikwels in ’n staat van wanhoop en depressie.

“Miskien moet ons, soos haar pasiënte, praat oor ons vrese, ons frustrasie en hoe ons oorweldig voel deur die dood in Suid-Afrika.”

* Om nader besonderhede kan PalPrac se webwerf by palprac.org besoek word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.