Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Covid-19: ‘Só spot én troos ons’

Veral aan die begin van die pandemie, tydens die eerste inperking, was spotprente “deel van die vesel van vertroosting” waarop mense staatgemaak het, sê die spotprentkunstenaar Carlos Amato aan Murray La Vita.

Carlos Amato was van kleins af lief vir spotprente en animasie.

“Almal was in so ’n toestand van afsondering en om te probeer kontak maak en humor aan te bied en aanlyn-kommunikasie te bewerkstellig, was toe wérklik kosbaar . . . En dit is steeds so, want baie mense is steeds baie eensaam.

“Ek probeer ook vertroosting bied deur soms ’n spotprent te teken wat die boodskap oordra dat dinge op een of ander manier oukei gaan wees.”

Die onderhoud met Amato (44), ’n bekroonde joernalis en die afgelope jare spotprentkunstenaar vir die Mail & Guardian en die nuuswebwerf New Frame, vind via Zoom plaas.

Ek het my werk as spotprenttekenaar nog altyd in afsondering gedoen.

Amato is in sy ateljee in Linden, Johannesburg, wat hy met ’n ander kunstenaar deel. Dit is ’n leë, wit vertrek met agter hom ’n opgeslaande esel wat teen ’n ingeboude kas staan.

“Ek het my werk as spotprenttekenaar nog altyd in afsondering gedoen. Ek hou daarvan. Ek moet myself eerder dwing om met mense te praat as andersom.

“Dis amper asof die helfte van die wêreld alleen wil wees en die ander helfte nié. Mense soos ek is gelukkig dat ek nog kan werk.

“Ek ken musikante en akteurs en poppespelers wat ontséttend swaarkry – nie net finansieel nie, maar ook emosioneel omdat hul hele raison d’être, die belangrikste doel van hul bestaan, eenvoudig wég is. Hulle kan dikwels nie hul kunsvorm op Zoom bedryf nie omdat dit nie dieselfde is nie of nie werk nie.”

Oorlewingsmeganisme

Hy is van nature ’n taamlik optimistiese mens, sê Amato.

“My vrou en my familie terg my dikwels daaroor. Wanneer ons in ’n gesprek betrokke raak oor waarheen dinge op pad is, is ek die een wat sê: ‘Dit gaan oukei wees; ons sal die entstowwe kry en alles sal goed uitwerk. Oor ’n jaar of twee sal ons lewe na normaal terugkeer.’

“Ten diepste mag ek dit dalk nie regtig glo nie, maar dít is my impuls. Ek word altyd gedryf om optimisties te wees want ek het nog nie ’n manier gevind om gelukkig te wees as ek nié optimisties is nie. So, ek moet probeer om optimisme te fake,” sê hy en lag.

Dit bied aan my die geleentheid om al die nare dinge wat aan die gang is te verken, maar steeds betreklik normaal te bly.

“Party mense kan van nature realisties wees oor hoe sleg dinge is en steeds ’n gelukkige lewe lei. Ek is nié so nie; ek moet ’n bietjie onrealisties wees. Dis seker ’n oorlewingsmeganisme.

“Dis miskien hoekom om spotprentkunstenaar te wees die werk vir my is, want dit bied aan my die geleentheid om al die nare dinge wat aan die gang is te verken, maar steeds betreklik normaal te bly.

“Ek dink gedurende die inperking en pandemie kry baie joernaliste ook baie swaar, want hulle is nie deel van die wêreld soos wat hulle gewoonlik is nie. Vir joernaliste is dit nodig om met mense te praat en om op straat te wees, so daar is baie joernaliste wat baie eensaam en afgesonder voel. Hulle is gesig-tot-gesig mense en het kontak en solidariteit nodig.”

3 plae in ’n kroeg

Een van Amato se onlangse spotprente wat wêreldwyd aandag getrek het.

Dit is moeilik om te weet óf, en indien wel hóé, sy spotprente ’n indruk maak.

“Een van my spotprente wat onlangs na my mening goed gewerk het, was een oor die pandemie. Die drie plae figureer daarin: Die koronavirus, die Spaanse Griep en die Swart Dood. Hulle sit en drink in ’n kroeg. Die koronavirus sê: ‘My doel is nie om mense dood te maak nie, maar om bewustheid te kweek oor toegang tot openbare gesondheidsorg.’

“Hy dra ’n bofbalpet en brille en drink ’n Corona-bier. Die Spaanse Griep rol sy oë en kyk na die Swart Dood wat besig is om uit ’n drinkbeker bloed te drink. En dan sê die Swart Dood: ‘F****g millennials.’

Ek het toe daar ingespring en my 15 minute van Twitter-roem gehad.

“Dis ’n spotprent wat op ’n paar maniere werk, dink ek. Dit het gevlieg op Facebook . . . Ek het, om die waarheid te sê, vergeet om my naam daarby te sit en toe het dit binne ure viral gegaan en is deur miljoene mense gesien op Facebook en Twitter.

“Maar dit was sonder my handtekening. Stephen Fry het dit op Twitter gedeel en in sy twiet gesê hy weet nie vir wie hy krediet moet gee nie, maar dit is great werk. Ek het toe daar ingespring en my 15 minute van Twitter-roem gehad.”

Hy meen dit het die verbeelding van baie mense aangegryp.

“Millennials en nie-millennials. Ek dink dit was ’n grap oor millennials en die wêreld waarin ons ons bevind. Dit kan op verskillende maniere gelees word.”

Nuwe insigte

’n Spotprent waarin uitgebeeld word in welke mate Suid-Afrika deur die pandemie én ekonomiese probleme in die gesig gestaar word.

Die “groot politieke spotprente” kan mense help om die wêreld beter te verstaan; dit kan dinge laat uitkristalliseer.

“Dit kan nuwe insigte bring; hulle laat besef: ‘A! Dít is wat ek voel; dit is ook mý onderliggende begrip van die situasie en nou verstaan ek dit beter.’

“Dit is dikwels reduktief want daar is nie ’n ‘as’ of ’n ‘ja, maar’ aanwesig nie; dit is nie soos ’n hofsaak of ’n gebalanseerde artikel nie; dit het nie daardie gelaagdheid nie. Maar dit kán ’n soort elektrisiteit van besef of insig hê wat humor as sneller vir dieper begrip gebruik. En dít is wat ons almal probeer regkry.

Maar dit is onvermydelik dat ek soms spotprente skep wat met reg beskryf kan word as baie misleidend.

“Maar satire is deesdae oral. Álmal is deesdae satirici. Satire kom tot uiting in twiets en whatsapps wat mense aan mekaar en aan die buitewêreld stuur. Dít versterk én verswak die krag van satire . . . Ék as spotprentkunstenaar word in wese betaal om te doen wat miljoene ander mense vir hul plesier en op vinniger, doeltreffender wyses doen.

“Dis ’n vreemde scenario waarin die veelbesproke ondermyning van die waarheid deels die gevolg is van dié soort van satiriese klimaat. En spotprenttekenaars is by implikasie dalk aandadig hieraan, want ons spesialiseer in oppervlak-beskouings en vinnige perspektiewe en verdraaiings – dít is die aard van ons medium.

“Ons probeer dit op ’n verantwoordelike wyse gebruik, maar dit is onvermydelik dat ek soms spotprente skep wat met reg beskryf kan word as baie misleidend – deur iemand wat polities van my verskil, of selfs deur iemand wat nié polities van my verskil nie. Dit sál gebeur dat jy as satirikus soms een of ander grens van waarheid oorskry. Maar dit is baie belangrik en dit is wat ons móét doen; dit is deel van ons werk.”

‘Diep moeilikheid’

“Dit moet regtig erg wees as ons spotprentkunstenaars depressief raak . . .”

Die feit dat ons in Suid-Afrika nog die vryheid het om dit te doen is wonderlik.

“Sodra daardie vryheid verdwyn, is ons in diép moeilikheid . . . diepér moeilikheid. Ek beskou satire amper as ’n bewaring van daardie vryheid eerder as wat dit mag in toom kan hou, want ek dink nie die ANC gee ’n duit om oor wat spotprentkunstenaars sê nie. Daar is geen dialoog daar nie. Daar is nie ’n reaksie nie.

“Daar is ’n kloof van ’n aard tussen mag en satire en daardie soort joernalistiek. Maar die instandhouding van daardie vryheid is baie belangrik. En om dit lewendig te hou moet jy dit voortdurend gebruik.”

Later sê hy per e-pos:

“Ek het weer gedink oor die uitdagende, provokatiewe rol van satire en hoe die perke daarvan so betwisbaar is as die snaaksheid van enige gegewe grap.

Satire bestaan nie in ’n teoretiese vakuum nie. Dit is ’n gevaarlike kunsvorm in ’n gevaarlike wêreld.

“Vryheid van spraak word in die meeste lande gekwalifiseer deur wette teen haatspraak, maar die probleem is om daardie kategorie te definieer.

“Indien die Charlie Hebdo-spotprente oor Mohammed nie vir mý of vir baie Franse mense op haatspraak neerkom nie, maar wél deur baie Franse Moslems as sulks beleef word, is die vraag: Wie besluit dan daaroor?

“Satire bestaan nie in ’n teoretiese vakuum nie. Dit is ’n gevaarlike kunsvorm in ’n gevaarlike wêreld. Ja, ons moet dit teen mag beskerm, maar ons moet dit ook onder die vergrootglas plaas.”

‘Helder en toeganklik’

Amato kom uit ’n agtergrond waar kuns ingespan is om mense se lewe te verbeter.

“My pa was ’n joernalis, maar hy was ook in die sewentigs ’n teater-regisseur en hy was by verset-teater in Oos-Londen en in Kaapstad. So, hy was daaraan toegewy om kuns as ’n versetmiddel teen apartheid te gebruik.

“My ma ook. Sy was in die tagtigs ’n kunsonderwyser en het later ook onderwysers opgelei. Sy was ook toegewy aan die idee dat kuns van die land ’n beter plek kan maak. So, dít is die wêreldbeskouing waarmee ek grootgeword het.”

Hoewel hy ’n meestersgraad in animasie behaal het, het sy joernalistieke loopbaan as teksredakteur begin. Hy was later misdaad- en sportverslaggewer en ook vir ’n aantal jare kuns-en-leefstyl-redakteur van die Sunday Times.

Ek was van kleins af lief vir spotprente en animasie.

Hy het al vir talle internasionale publikasies sport- en kultuurverwante artikels geskryf en sy spotprente is ook al wêreldwyd gepubliseer. Sy mees onlangse joernalistieke prys is die Standard Bank Sikuvile-prys vir beste redaksionele spotprente wat verlede jaar aan hom toegeken is.

“Ek was van kleins af lief vir spotprente en animasie. Ek was mal oor byvoorbeeld Gary Larson en Tintin.”

Dit was altyd by hom ’n versugting om spotprente te teken.

“Nou het ek dit vervul. Dit voel baie goed. Ek het baie geleer oor hoe om ’n lyn te beheer en hoe om ’n rekenaar te gebruik . . . Om net hierdie kunsvorm te verstaan. Hierdie kunsvorm wat ook nié ’n kunsvorm is nie, want dit is ’n kommunikasiemedium, ’n baie funksionele ding . . . Daar is reëls en dit het ’n verpligting om hélder en toeganklik te wees.

“So dit is nie vrý in die sin waarin beeldende kuns is nie. Dít pas my want ek is gelukkig in daardie wêreld en ek hou daarvan dat ek digitaal met mense kan praat en baie mense kan bereik . . . indien ek die werk behoorlik doen.”

’n Doodloopstraat

Amato sê dit was vir hom heerlik om dié spotprent te skep.

Wat is die uitdagings waardeur ’n spotprenttekenaar in Suid-Afrika in die gesig gestaar word waar mense straks al so afgestomp mag wees deur byvoorbeeld enorme korrupsie, staatskaping en ander magsvergrype?

“In ’n sin is daardie verbysterende situasie waar politici so skaamteloos en onbevoeg is, natuurlik die materiaal waarmee ons werk. Daar was ’n tyd kort nadat Cyril Ramaphosa president geword het, toe daar ’n hoopvolheid was dat ons ons land weer op koers sal kry. Mettertyd was daar egter net storie ná storie oor die dooie punt in die ANC en korrupsie wat steeds voortduur . . . depressiewe goed.

“Ek het toe ’n bietjie van ’n impasse, ’n doodloopstraat, bereik; ek het nie geweet wat om te doen nie. Ek het gedink: Dit moet regtig erg wees as ons spotprentkunstenaars depressief raak . . . hierdie is ons brood en botter; hoe erg kán dit wees? Ek het dit toe te bowe gekom. want daar is altyd hier en daar vooruitgang; daar is altyd iets om aan vas te klou.”

Jy moet vir jouself sê: Ek kan nie al hierdie trauma en hartseer takel nie.

’n Mens moet emosioneel ’n streep trek.

“Jy moet vir jouself sê: Ek kan nie al hierdie trauma en hartseer takel nie. Soos enigiemand anders moet ek myself rantsoeneer; ek moet baie media-inligting inneem, maar ek moet ook sorg dat dit my nie oorweldig nie.”

Hy sorg dat daar afwisseling is.

“Ek doen byvoorbeeld spotprente oor Trump – dít is altyd ’n goeie uitlaatklep. Gelukkig het ek redakteurs wat my toelaat om oor die wêreld heen te kyk met my spotprente. Ek neem enigiemand van Xi Jinping tot Poetin tot Boris Johnson aan, en dít is great; dit is so ’n voorreg om dit te kan doen.”

Hy voel soms amper skuldig omdat sy werk enersyds so "ligsinnig" is.

“Hoewel, dit is ligsinnig én ernstig. Maar jy raak wel bekommerd oor die ligsinnigheid; jy dink jy wil iets ernstigs en égs vir mense doen in plaas van om die gek te skeer of ’n wysneus te wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.