Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Covid-nood maak ons kreatief’

Die wêreld het weens die Covid-19-pandemie onherroeplik verander en so ook hoër onderwys, sê prof. Mamokgethi Phakeng, vise-kanselier van die Universiteit van Kaapstad, wat onlangs aangewys is as een van die wêreld se tien “mense van die jaar” in hoër onderwys, aan Murray La Vita.

Prof. Mamokgethi Phakeng, vise-kanselier van die Universiteit van Kaapstad, in haar huis op die kampus van die UK. Foto: Lerato Maduna

“Nou, in 2021, terwyl ons ons op die nuwe akademiese jaar voorberei, dink ons anders as verlede jaar. Verlede jaar het ons uit nood opgetree. Nóú dink ons kreatief,” sê Phakeng.

Sy is in Desember deur die publikasie Times Higher Education (THE) aangewys as een van hul 10 “mense van die jaar” – die enigste mens uit Afrika op dié lys waarop die naam van Amerika se eerste vrou, dr. Jill Biden, ook verskyn.

Ek kan my nie voorstel dat ons weer sal terugkeer na ’n model wat nie gemengde onderrig insluit nie.

Hulle word beskryf as “die mense wat in 2020 saak gemaak het in hoër onderwys; hulle is die akademici en administrateurs wat die debat gevorm het”.

Volgens THE bestaan daar geen twyfel nie dat hoër onderwys sterk leierskap gaan nodig hê terwyl die wêreld van die Covid-19-pandemie herstel.

“En daar is min mense wat dít meer beliggaam as Phakeng. Sy is sedert 2018 vise-kanselier van die Universiteit van Kaapstad en sy het die afgelope jaar voortgegaan om haar op ’n kragtige wyse uit te spreek oor ongelykheid in die akademie in Suid-Afrika en die res van die wêreld,” aldus THE.

‘Goeie praktyk’

“Verlede jaar het ons uit nood opgetree. Nóú dink ons kreatief.” Foto: Lerato Maduna

Die onderhoud met Phakeng vind per Zoom plaas. Sy is in die studeerkamer van haar huis op die kampus van die Universiteit van Kaapstad (UK). Op ’n rak agter haar is ’n swart bordjie waarop staan: You are enough #selflove.

“Ek kan my nie voorstel dat ons weer sal terugkeer na ’n model wat nie gemengde onderrig insluit nie. Ons doen nou al ’n jaar lank aanlyn onderrig en kan die nadele daarvan sien, maar ook die voordele.

“Ons moet dus voortaan die voordele van aanlyn onderrig gebruik en dit kombineer met die waarde van onderrig in die lesingsaal. Eerstens moet ons ruimtes hê wat aan Covid-regulasies voldoen, maar ons moet ook ons onderrigbenadering aanpas.

“Ek sien hoe fakulteite innoverend optree in die wyse waarop hulle byvoorbeeld lesings reël. ’n Dekaan verduidelik van die planne aan my en ek sê: ‘Dit is goeie pedagogiese praktyk.’

Dit dwing ons om nuut te dink en te innoveer en praktyke te ontwikkel waarby studente baat vind, maar ook die vakgebiede as sulks.

“Maar ons dink nou eers daaraan omdat ons in hierdie situasie is waar ons probeer om minder studente op kampus te hê en oor dinge moet herbesin. Jy gebruik groot lesinglokale op ’n ander manier.

“In ’n sin verander dit jou pedagogiese aanslag: Wat kan studente aanlyn doen? Wat kan hulle doen in die beperkte tyd wanneer hulle op kampus onderrig ontvang?

“So, dit dwing ons om nuut te dink en te innoveer en praktyke te ontwikkel waarby studente baat vind, maar ook die vakgebiede as sulks. Ons sal post-Covid voortgaan met die nuwe praktyke omdat ons ’n beter manier van doen ontdek het.”

Akademiese loopbaan

Phakeng, ’n wiskundige, is sedert 2016 aan die UK verbonde en was onder andere adjunk-visekanselier vir navorsing en internasionalisering voordat sy in Julie 2018 die leisels van die universiteit oorgeneem het as vise-kanselier.

Sy het voorheen verskeie senior akademiese poste aan Unisa en die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) beklee. Haar akademiese loopbaan het sy in 1996 as navorsingsassistent by Wits begin.

Jy moet jou oë op die balansstate en kontantvloei hou en terselfdertyd empatie openbaar vir die swak en weerloses in ons midde.

Toe sy dié universiteit in Desember 2007 verlaat, was sy medeprofessor in wiskundige opvoeding en stigtersdirekteur van die Marang Sentrum vir Wiskunde- en Wetenskapopleiding.

Sy is ’n hoogaangeskrewe navorser met talle publikasies agter haar naam. Daarby was sy besoekende professor in talle lande in Afrika en die res van die wêreld.

Globale leier

“Terwyl ek grootgeword het, het my pa en my oupa ons laat glo dat ons slim is.” Foto: Lerato Maduna

Sy sê om deur THE aangewys te word as een hul 10 mense van die jaar, is vir haar ’n belangrike erkenning van haar rol as globale onderwysleier.

Hoe balanseer ’n mens as leier van ’n universiteit jou pogings om “ongelykheid in die akademie” te takel met die feit dat universiteite wêreldwyd toenemend as korporasies bestuur word?

“Ek dink die uitdaging is veral om die noodsaaklike fokus op die beskerming en bevordering van die werklike, materiële belange van die universiteit te balanseer met ’n gesonde dosis empatie en die noodsaak om verandering teweeg te bring. Dít is die uitdaging van enige leier wat transformasie teweeg wil bring.

“So, jy moet jou oë op die balansstate en kontantvloei hou en terselfdertyd empatie openbaar vir die swak en weerloses in ons midde. Wanneer jy dít doen, moet jy altyd die mense rondom jou daarvan oortuig dat jy die balans handhaaf, want terwyl jy daardie balans probeer handhaaf, is elkeen op hul eie belange gefokus.

As jy dink hoe goed ons as universiteit internasionaal vaar – ons in nommer 39 op die ranglys . . .

“Jy word dus deurentyd uitgedaag. Dit is nie maklik nie. Jy kan nie altyd staatmaak op die goedgesindheid van sowel diegene wat voorheen onderdruk was – hulle wat deur ongelykheid geraak word – as dié van die mense met mag en voorregte nie. Op enige gegewe tydstip is een van dié groepe nie gelukkig nie.

“Dit is dus nie ’n gewildheidskompetisie nie. Dit is ongemaklik. Jy is besig om nuwe terreine te betree en in baie opsigte is jy dalk besig om te misluk want jy loop die risiko dat albei groepe jou kan verwerp.

“Ja, die grootste risiko is dat jy as ’n mislukking beskou kan word omdat die winste van só ’n proses veel later manifesteer . . . Miskien word daar eendag van jou gesê jy was jou tyd vooruit.

“As jy dink hoe goed ons as universiteit internasionaal vaar – ons in nommer 39 op die ranglys . . . Dit is iets wat gevier word; die studente vier dit en is gelukkig daaroor. Hoekom? Omdat dit hulle in ’n beter posisie plaas met betrekking tot geleenthede. Nie baie mense vra: Hoe kry jy dit reg en wat is die prys wat jy daarvoor betaal nie?”

Die balans

Jy bereik daardie posisie deur talent – personeel en studente – van oor die wêreld heen te lok.

“Terselfdertyd kan iemand aan die ekstreme linkerkant sê: ‘Jy behoort daardie plekke wat jy aan internasionale studente gee aan plaaslike studente te gee.’ My reaksie is dan: Ons bou ’n internasionale universiteit waaruit juis ook die plaaslike studente wat hierheen kom, voordeel kan trek; dat hulle grade kan behaal wat nie net uitstekend is nie, maar ook vir hulle deure oral in die wêreld kan oopmaak.

“So, die balans . . .” Sy vorm met haar hande – palms na bo – ’n skaal. “Jy moet die balans behou en jouself afvra: Hoeveel van hierdie internasionale talent moet ons gaan soek? Jy kan nie mense verloën nie . . . Of dit nou in terme van geld of jou plek op ’n ranglys is – jy moet áltyd hierdie balans behou en jy kan maklik deur enige groep onteien word.”

Shakespeare kan bly

“Jy moet jou oë op die balansstate en kontantvloei hou en terselfdertyd empatie openbaar vir die swak en weerloses in ons midde.” Foto: Lerato Maduna

Watter soort transformasie moet in Suid-Afrikaanse universiteite plaasvind?

“Wat aan studente geleer word, hóé dit geleer word en deur wié dit geleer word. Die kennis wat oorgedra word, is nie onskuldig nie. Ons moet vrae vra oor waar dit vandaan kom.

“Waarom is ons kurrikula oorbevolk deur kennis uit sekere dele van die wêreld en nie ander nie? Is dit nie ’n tekortkoming dat ons studente nie veel kennis ontvang uit die Ooste en uit die suide nie?

“Dit is nie dat kennis uit die Weste nie belangrik is nie, dit is ’n geval van die universiteitsruimte is armer daaraan toe wanneer dit nie interaksie het met kennissisteme van elders in die wêreld nie.

My benadering is jy moet die kennisruimte verryk; ons verarm dit deur kennis van elders in die wêreld stil te maak.

“Vir my is dít die belangrikste transformasie wat moet plaasvind. Mense beskou dit dikwels as ’n geval van moet ons nou ophou om Shakespeare aan te bied? Nee, dit gaan daaroor om ’n ruimte te skep waar kennis van oral in die wêreld dieselfde status kan geniet en dat studente ook daaraan blootgestel kan word.

“Dít is waardevol – nie net vir die studente nie, maar ook vir die kennisonderneming as sulks, want dít is hoe daardie onderneming groei.

“So, ek is nie een van daardie mense wat sê: Hou op om dít te leer en vervang dit hiermee nie.

En dít is waarom die dekolonialiseringsprojek vir mý belangrik is.”

‘Jy moet chill!’

“Die grootste risiko is dat jy as ’n mislukking beskou kan word.” Foto: Lerato Maduna

Ons gee in Suid-Afrika nie genoeg erkenning aan dit wat ons al in hoër onderwys bereik het nie.

“Daar is vandag meer swart- en meer vrouestudente aan universiteite in Suid-Afrika as ooit tevore. Dít beteken nie die reis is voltooi nie. Maar wat is die sleutel? Wat moet ons vra? Wat se kultuur word geskep wanneer diverse studente en personeel na die kampus kom? Indien een kultuur bevoorreg is, wil ons almal hê wat hulle het; die mag wat daardie bevoorregting vergesel.

“Wat is dit om die universiteit se kultuur te transformeer? Dit is dat mense gemaklik is daarmee dat sommige mense anders praat as ander; anders ruik; anders dink. En sommige kanseliers anders praat as ander. So, as ek ’n brief aan die universiteitsgemeenskap skryf en ek eindig dit met Kgethi, nie ‘professor’ nie, moet jy chill!

“Ons moet gemaklik wees met ander maniere van wees, sien en doen, want as ons dit nié is nie, wil ons mense dwing om te assimileer en dít verarm die universiteitsruimte.

Ons werf ook al hierdie top-akademici en swart leiers, maar hoekom gebeur dit dat van hulle in ons omgewing ’n gebrek aan uitnemendheid en sukses openbaar?

“Ons werf al hierdie mense – studente en personeel – en ons het standaarde. Maar dit moet ons besorg maak as ons hul sukses op grond van ras beoordeel. Ek sê nie ons moet swart studente laat slaag omdat hulle swart is nie. Ons moet onsself afvra: Is daar iets aan die manier waarop ons onderrig . . . Waarom druip meer swart studente? Wat is dit wat ek doen? Is dit my aksent? Is dit die manier waarop ek praat? Is dit hoe ek verduidelik? Is dit omdat hulle bang is om vrae te vra? So, die prestasiegaping is iets om te ondersoek. Dit is nie iets wat kunsmatig reggedokter moet word nie.

Dit geld ook personeel.

“Ons werf ook al hierdie top-akademici en swart leiers, maar hoekom gebeur dit dat van hulle in ons omgewing ’n gebrek aan uitnemendheid en sukses openbaar? Wat gaan aan? Het dit te doen met die wyse waarop ons hulle beoordeel? Ons kan nie net aanvaar dat óns beoordeling beter is as al die mense wat die afgelope 30 of 40 jaar met hulle gewerk het nie. So, die universiteitsruimte is nie onskuldig nie.”

‘Wie sal ons wees?’

Die geesteswetenskappe bly belangrik en is om die waarheid te sê belangriker as ooit tevore.

“Ons kan nie enige probleem in die wêreld sonder die geesteswetenskappe oplos nie. Of dit nou met die ontwikkeling van nuwe tegnologie is en of dit nou die ontwikkeling van ’n entstof is – ons sal altyd die geesteswetenskappe nodig hê.

Die mag van sosiale media en hoe dit misbruik word – dít is ook iets waarmee die geesteswetenskappe ons kan help.

“Ek dink hierdie pandemie het dit ook duidelik gemaak. Jy kan nie net die virus ondersoek nie, jy moet ook kyk na hoe mense daarop reageer. Selfs die nuus en debatte oor die entstowwe – die maatskaplike en politieke aspekte van die entstof – staan sentraal.

“Met al hierdie wetenskaplike vooruitgang – soos kunsmatige inligting, genetiese manipulering – is daar die vraag: Wie sal ons wees? Wat sal dit beteken om ’n mens te wees? Kan ons hierdie tegnologie gebruik om die probleem van ongelykheid op te los? Dít is nie vrae wat deur rekenaar- of natuurwetenskaplikes beantwoord kan word nie.

“Die mag van sosiale media en hoe dit misbruik word – dít is ook iets waarmee die geesteswetenskappe ons kan help.”

‘Hulle kry ’n stem’

“Jy moet die balans behou.” Foto: Lerato Maduna

Ons praat oor die sogenaamde kanselleer-kultuur.

“Dit is natuurlik nie iets nuuts nie. Dit het net gegroei sedert die ontstaan van sosiale media. Toe ek grootgeword het, was daar al die gebruik om sekere handelsmerke of produkte of winkels te ‘kanselleer’ of boikot. Dit was baie prominent in die tagtigs. ’n Vakbond sou byvoorbeeld sê: ‘Moenie hierdie produk koop nie.’ Dan was daar ook groot verbruikersboikotte – ons sou vir weke lank nie dorp toe gaan om kruideniersware te koop nie.

“Selfs tóé was dit nie nuut nie. My ma vertel my van ’n tydperk toe swart mense aartappels geboikot het weens die feit dat boere byvoorbeeld van hul werkers verwag het om die aartappels met hul hande uit te grawe.

Sal daar maniere ontstaan waarop kanselleer-kultuur gereguleer kan word?

“Wat my betref, is kanselleer-kultuur nie nét goed of nét sleg nie. Dis ’n vorm van populêre geregtigheid. Weens sosiale media word mense deesdae elke dag ‘gekanselleer’ en dit kan inderdaad lei tot onverdraagsaamheid teenoor teenoorgestelde beskouings of standpunte.”

Dit kan sekere stemme uitdoof.

“Ek dink geen stem behoort in ’n universiteitsruimte stilgemaak te word nie, daar moet oor dinge gepraat word; menings moet uitgeruil word. Selfs as ons iets as swak navorsing of onwetenskaplik ervaar, gee dit ons nie die reg om te sê ons wil nie weer van daardie akademikus hoor nie.

“Die vraag bestaan hoe gaan dit in die toekoms ontvou. Sal daar maniere ontstaan waarop kanselleer-kultuur gereguleer kan word? Die feit bly staan mense wat nie ’n stem gehad het nie, het nou skielik deur sosiale media ’n stem. Dit het ’n ruimte gedemokratiseer, maar dit het ook mag gegee aan mense wat nie oor die nodige diskresie of oordeel beskik nie en dit kan baie skade aanrig.”

‘Ek het armoede gehaat’

Phakeng het haar kinderdae in die dorpie Marapyane in Ga-Rankuwa deurgebring.

“Ek het arm grootgeword. En om eerlik te wees, dít is waarom ek universiteitsopleiding nagejaag het. My pa het ons daarvan oortuig dat die enigste ontsnaproete opvoeding [education] is. Ek het armoede gehaat en daarom het ek hom ernstig opgeneem en geglo dit sal my bevry.

Terwyl ek grootgeword het, het my pa en my oupa ons laat glo dat ons slim is. Ek wás nie slim nie, maar hulle het ons so laat glo!

“Selfs nadat ek my eerste graad [’n BSc aan die destydse Universiteit van Bophuthatswana] behaal het, het ek vir myself gesê: Hou net aan!” Sy klap energiek met haar een hand op die palm van die ander wanneer sy dít sê. “As jy gemakliker wil lewe, moet jy aangaan; jy kan nie nou stop nie.

“Terwyl ek grootgeword het, het my pa en my oupa ons laat glo dat ons slim is. Ek wás nie slim nie, maar hulle het ons so laat glo!

“My pa het nie matriek gehad nie en my oupa was nie verder as laerskool op skool nie. My pa was die tweede van nege kinders en my oupa het gesê: ‘My kinders en kleinkinders gaan regoor die wêreld wees en wanneer die tien beste mense op ’n sekere gebied aangewys word, sal een van hulle daar wees.’

“Dít het vir my selfvertroue gegee,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.