Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Marizanne Kok gesels met Bianca Buitendag
Covid steel amper Bianca se silwer medalje

Bianca Buitendag skrik nie vir branders nie. Vandat sy kan onthou, het sy en haar familie van waterbabas die oseaan se nukke en grille op hul branderplanke aangedurf.

Bianca Buitendag pronk die afgelope week in die Tokio-Speledorp met haar Olimpiese silwermedalje. Foto: Raymond Herbst

Maar in die week voor sy in George op die eerste van die drie vliegtuie geklim het wat haar na die Olimpiese Spele in Tokio sou neem, het die lewe haar geklap met branders van ’n ander aard.

Net twee dae voor daardie vlug moes die 27-jarige Victoriabaaier hoor sy is positief getoets vir Covid-19. Voor sy nog haar tasse klaar gepak het, het ’n droom waaraan sy vir vier jaar onverpoos gebou het, skielik aan die dunste van draadjies gehang.

Sonder twee negatiewe uitslae sou die Japanse owerhede haar nie eens toelaat om die lughawe te verlaat nie, wat nog te sê hul branders aandurf.

Buitendag moes kies: Sink of swem. Maar dié golf, het sy besluit, sou nie haar ambisies verswelg nie.

“Ons moes twee keer binne die 72 uur voor ons vlugte toets vir Covid, en my eerste een was negatief. Maar toe toets ek die volgende dag positief en was alles waarvoor ek gewerk het skielik in die weegskaal. Jy weet nie of daar ’n manier is om die situasie te beredder nie,” vertel Buitendag die afgelope week.

As jy eers so lank uit SA was, besef jy hoeveel hierdie land het om te bied.

“Omdat ons geweet het vals positiewes is nie baie algemeen nie, is ek na ’n dokter in Mosselbaai toe wat ’n EKG en bloedtoetse gedoen het om te kyk of ek regtig Covid het. Jy wil tog nie kanse vat nie, jy wil seker wees jy is regtig gesond. Dit het gelukkig niks snaaks gewys nie, so toe toets ons weer, en toe is dit darem negatief.

“Dit was ’n verskriklike situasie. Ek was so gestres, want ek het verskriklik hard gewerk en toe kom daar hierdie ding wat dreig om my droom te verpletter, en heeltemal buite my beheer was.”

Ná 48 wilde ure het die branderryer uiteindelik op 16 Julie met haar lang rit Tokio toe begin – maar sonder haar Span Suid-Afrika-klere. Dié moes uit ’n pakhuis in die brandende KwaZulu-Natal gered word, en op ’n ander vlug Japan toe gaan.

“Ek het eintlik sleg gevoel om op daai vliegtuig te klim,” erken Buitendag. “Durban brand, die land is deurmekaar en mense is desperaat, maar jy is op die punt om na ’n ander land toe te gaan. Ek het daar gesit en wonder, kan een mens regtig ’n verskil maak in hoe dit gaan in Suid-Afrika; wat is daar wat ek kan doen?

“Toe besef ek: Ek is op pad om my land te gaan verteenwoordig, en dis die een manier wat ek het om ’n klein verskil te maak. Ek kan dalk ’n bietjie goeie nuus huis toe stuur, en mense vir ’n rukkie laat dink aan iets anders as hul wrede werklikhede. Dis die ideaal waarmee ek uiteindelik hier weg is,” sê sy.

Bianca Buitendag die afgelope week op die branders van Japan, waar sy Olimpiese silwer gewen het. Foto: Getty Images

Daardie gedagtes het duidelik die heelal se goedkeuring weggedra. Want in Tokio het Buitendag haar landgenote die afgelope week iets gegee om oor te glimlag toe sy op die woeste waters aan die Japanse kus ’n silwermedalje in die heel eerste branderplankry-kompetisie in die Olimpiese geskiedenis losgery het.

’n Land vol underdogs kon toekyk hoe iemand van dieselfde lap aarde as hulle haar afvee aan haar eie buiteperd-status, om verby ’n rits van die wêreld se heel beste branderryers na die Olimpiese podium te seil.

Buitendag was net die 17de gekeurde uit 20 vroue, maar het steeds die koppe geëis van die sewemalige wêreldkampioen Stephanie Gilmore, die belowende Portugees Yolanda Hopkins en die tweede gekeurde Caroline Marks om haarself van ’n medalje te verseker.

Hoewel sy in die eindronde teen die eerste gekeurde, Amerika se Carissa Moore, vasgeval het, kon niks die glimlag van haar gesig vee nie.

Haar laaste draai op haar sport se internasionale verhoog het haar veel meer in die sak gebring as wat sy ooit kon droom.

Buitendag het die wêreldreeks in 2017 verlaat, maar weens borgskappe en ooreenkomste steeds ’n paar keer internasionaal gaan deelneem. Vir leef tussen lughawens en uit tasse was sy egter sat, en sy is in 2019 net ná die Internasionale Branderplankry-vereniging se Wêreldspele in Japan omdat sy daar vir die Spele wou kwalifiseer. ’n Bronsmedalje het daardie ideaal bewaarheid, en Buitendag was tevrede dat sy deel van haar sport se geskiedkundige Spele-buiging sou wees.

Voor die Olimpiese ringe, en met ’n Olimpiese silwermedalje, ná ’n week wat Bianca Buitendag nooit sal vergeet nie. Foto: Anton Geyser/SASPA/SASI

“Ek is nie Tokio toe met drome van ’n Olimpiese medalje nie, ek was maar net te bly ek kon kwalifiseer,” sê sy. “Maar toe klop ek op die tweede dag iemand wat al sewe keer die wêreldkampioen was, en ek dink, oukei, hier is nou iets aan die gebeur.

“Ek het gedink ek gaan van daar af net my hartjie uit surf en kyk waar dit my kry. Enigiemand wil tog belonings sien vir hul harde werk, en ek het geweet daar’s nie druk op my nie – ek was net 17de gekeur. Ek sou die buiteperd wees, maak nie saak wie ek volgende pak nie.”

Maar asof Buitendag nie genoeg teenspoed vóór die Spele gehad het nie, is sy ook in Japan getreiter deur die noodlot.

In die eerste uitdun het sy haar enkel gerol, maar gelukkig kon Span Suid-Afrika se “ongelooflike mediese span” verhoed dat dit haar veldtog verongeluk.

En toe spoel ’n koffie-lus op die laaste oggend – en die onbetroubaarheid van die Spele-busrooster – so byna al haar goeie werk weg.

Buitendag het op die laaste oggend van haar kompetisie 03:30 opgestaan om die 04:00-bus van die Speledorp na die Tsoerigasaki-strand (amper 100 km weg) te haal, maar gou gaan koffie kry – en die bus gemis.

Die volgende gereelde bus het nie opgedaag nie, en sy het besef sy kan dalk laat wees vir haar kwarteindstryd. Toe ’n derde bus opdaag, was sy teen die spoed van wit lig daarop.

“Daar was maar ’n klompie stresvolle oomblikke,” sê Buitendag. “Die Covid-maatreëls het ook in ’n mens se agterkop gaan sit. In die Speledorp moet jy elke dag in ’n botteltjie spoeg sodat hulle kan toets vir Covid, en elke keer wat ek ’n boodskap gekry het om viriemand te gaan sien, het ek die ergste gevrees.

“As jy daaraan dink, is dit eintlik amper ’n wonderwerk dat die virus nie alles vir my beduiwel het nie. Ek was op drie vliegtuie, ek het my groot skrik voor die tyd gehad. Ek was gelukkig dat alles uitgewerk het.”

Buitendag sê sy is nou tevrede om die boek toe te maak op haar branderry-loopbaan.

“Ek het closure,” sê sy. “Ek hoef nie meer enigiets te bewys nie, en ek wil in elk geval net hier in Suid-Afrika wees, en my energie daaraan bestee om ons land ’n beter plek te maak.

“Ek sal nooit kan wegbly van die branders nie, ek sal branders ry tot ek die dag nie meer kan nie. Maar ek sal dit in Suid-Afrika doen, vir terapie en plesier.

“Ek was genoeg buite die land – ek het begin toer as ’n tiener en vir vyf jaar in Frankryk gebly. Ek kan dit vir jou sê: As jy eers so lank uit Suid-Afrika was, besef jy hoeveel hierdie land het om te bied. Mense lag as ek dit sê, want Europa is dan nou hierdie mekka, alles is veronderstel om te werk en goed te wees. Maar daar is hope meer geleenthede hier by ons.

“Ek moes myself verwyder uit die situasie om te sien hoeveel goeie dinge ons het, maar ek is baie patrioties, juis omdat ek die probleme in soveel ander plekke gesien het.”

Buitendag is nie blind vir Suid-Afrika se probleme nie, maar probeer op haar eie manier die klein jakkalsies uit die wingerd verjaag.

“Ek is betrokke by ’n niewinsgewende organisasie, Life Community Services in George, wat kinders in moeilike situasies probeer help, en toe Covid verlede jaar tref, het dit net beklemtoon hoeveel nood daar is.

“Ek kon my in die huis afsonder en medisyne bekostig, maar daar is kindertjies daarbuite met níks – wat op die vloer moet slaap en absoluut geen kans het om dinge vir hulself beter te maak nie. Dis toe ek besef het dis hier waar ek moet wees – nie aan die rondreis nie, maar hier waar ek ’n verskil kan maak.”

Marizanne Kok

Een van Life Community Services se projekte wat haar na aan die hart lê, is hul betrokkenheid by die Life Christian Academy, ’n laerskool in George vir kinders uit minder gegoede gebiede.

Haar ma, Yvette, ’n argitek, het gehelp om planne op te stel vir die uitbreiding van dié skool, en Buitendag is betrokke by die pogings om geld daarvoor in te samel.

Dis juis aan Yvette, en aan “almal wat veg vir die daaglikse oorwinnings wat niemand sien nie”, wat Buitendag haar medalje Woensdag in ’n Facebook-plasing opgedra het.

“Hierdie medalje is vir my ma, wat twee kankers in een jaar geklop het . . . Jy verdien silwer en goud, nie ek nie,” het sy geskryf.

Dat sy gister met Olimpiese silwer kon terugkeer huis toe, is natuurlik vir Buitendag waardevol – maar selfs daarsonder het sy ’n droomweek gehad, sê sy.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring om in die Speledorp te bly. In ’n 500 meter-radius van jou is van die beste atlete in die wêreld. En as jy terugkom by die span se ‘huis’ klap almal vir jou hande. Ons het ’n regte spandinamika gehad.

“Dit was een van die beste weke van my lewe – iets wat ek nooit sal vergeet nie.”

* Besoek www.lifecommunity.co.za om ’n bydrae te maak tot die uitbreiding van die Life Christian Academy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.