Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Dan Kriek: ‘Ek glo nie ons word ’n 2de Zim nie’

Hy is in die episentrum van die debat oor grond, ras en plaasaanvalle, maar Dan Kriek, president van AgriSA, glo die landbou het ’n blink toekoms. Willemien Brümmer het met hom gesels.

Dan Kriek, president van AgriSA, die man in een van die warmste stoele in die land. Foto: Willem Law

“Ons gaan nog lank boer,” sê Dan Kriek, die man in die warm stoel by AgriSA en dalk (in die huidige klimaat) een van die warmste stoele in ons wye en droewe land.

Maar dié rots van ’n man uit die Riemland is immer kalm, immer rasioneel, al erken hy dat hy sleg geslaap het ná pres. Cyril Ramaphosa se “polities opportunistiese besluit” dat die ANC die Grondwet gaan verander.

“Ek het gister vir die ouens op Agri Wes-Kaap se kongres gesê ons gaan nog lank boer, want wie gaan vir die mense kosmaak? Daar is nie iemand wat in hierdie groep wêreldklasboere se skoene kan staan en onmiddellik kos vir hierdie land kan produseer nie. Ons moet hulle oplei, ons moet hulle bou, ons moet hulle inbring.”

Hy beklemtoon elke woord, dié president van AgriSA met sy rugbyspelerlyf en stip kyk.

“Ons gaan anders boer, ons gaan sáám met ander mense boer, maar boer gaan ons boer.”

Hy stuur weg van emosie en spring soms oor vrae soos ’n wafferse hekkiesatleet.

Of hy nou wil of nie, bevind dié stoetboer van die plaas Quarta naby die dorpie Tweeling in die Vrystaat hom nou in die episentrum van ’n debat oor grond, ras en plaasaanvalle.

Waar hy oorkant ons sit in ’n raadsaal van AgriSA se kantore op Stellenbosch kies hy sy woorde versigtig. Hy stuur weg van emosie en spring soms oor vrae soos ’n wafferse hekkiesatleet.

Die landbou en die politiek is deel van sy DNS. Sy pa, emeritus-professor Dan Kriek, ’n hoogleraar in politieke wetenskap, het op ’n plaas naby Ermelo grootgeword. Sy driftige ouma aan moederskant, Anna King, het op haar eie met ’n span osse geboer, gebrei deur die ryp en die sneeu van die Noordoos-Vrystaat.

Daarna het sy ma, Annette King, dit by haar oorgeneem. “Sy het ’n M in musiek gehad. Sy’t Sondae orrel in die kerk gespeel en dan het sy in die week deeltyds geboer.”

Hy glimlag en vertel van sy eerste skooltaak in st. 4 aan die Laerskool Menlopark in Pretoria, waarin hy moes skryf wat hy eendag wil word.

“Ek het geskryf ek wil ’n boer word, en toe skryf ek daar so ’n paar wyshede van ‘geen vaste werkure nie, geen vaste betaling nie en moet erge terugslae kan verwerk’.”

Reeds tóé was daar ’n foto van een van sy geliefde Suid-Devon-beeste op sy ouma se plaas.

Dan Kriek by Bellary Cody, sy Suid-Devon-bul wat vanjaar in die Vleissentraal Elite Bulgroeitoets op die Bloemskou onder die topvyf was. Kriek het dié bul geteel wat nou in die besit van John Miller van Winston South Devons is. Foto: Verskaf

Vir daardie dae het hy in ’n relatief liberale Afrikanerhuis grootgeword.

“As jy in die ou dae ’n bietjie left of centre was, is jy mos nou pienk en rooi geverf. Ek het van vroeg af die invloed van apartheid op mense se lewens gesien. My pa was ’n bietjie in die politiek betrokke, hy was ’n stigterslid van die DP. Dit voel vir my of ek in sy voetspore volg, want al wat ek doen deesdae is maar politiek.”

Maar nee, sê hy byna bruusk. Hy voel allermins eensaam in sy boerderygemeenskap. “Een van die stereotipes oor boere waarmee ek nie gemaklik is nie, is dat hulle aartskonserwatief is. Wat politiek en verandering betref, is boere eintlik baie progressief en dit kom nie altyd so deur nie.”

Selfs heftiger: Hy’t nog nóóit gedink aan ophou boer nie. Dít, al is hy self in die afgelope jare op sy plaas deur die droogte geknel; al is drie of vier mense binne ’n radius van 20 km van hom af vermoor en al het hy twee stelle paniekknoppiesin sy huis. Al verstaan hy die implikasies van onteiening sonder vergoeding en die onheilige getimmer aan die Grondwet. . .

Ek dink ons gaan hierdie onteiening sonder vergoeding regtrek.

“Ek dink daaraan om grond by te koop en iets saam met my plaaswerkers te doen. Al is ek ’n middelslag-boer het ek ’n aandeleskema vir my plaaswerkers. Almal het ’n aandeel in die boerdery. En ek is optimisties oor die toekoms van landbou.

“Ek dink ons gaan hierdie onteiening sonder vergoeding regtrek. Ek ontken nie dat baie druk en stres hiermee gepaardgaan nie, maar ek sien die groter balans in die samelewing. Suid-Afrikaners kom altyd tot op die randjie van die afgrond en dan het ons die vermoë om terug te bons.”

Sy hande, wat graag saampraat, is netjies gevou voor sy vlootblou AgriSA windjekker. “Ek besef boere in die algemeen is nou die onsekerste wat ek hulle nóg gesien het. Hier trek ons nou net uit die ergste droogte in 100 jaar. Die plaasmoorde in terme van die prominensie wat dit in die media het, is aanmekaar, aanmekaar. . . Dit het in die psige van baie ouens ingeklim. En ek dink dan soos ons aangegaan het, het die politieke onsekerheid ál meer geword.

“Maar ek dink baie keer kry ouens soos ons, wat elke dag met die goeters werk, so ’n bietjie van ’n immuniteit omdat jy met baie politieke figure en so aan praat. Die ou op die plaas lees Landbouweekblad, hy hoor die goed, hy sien die goed op sosiale mediaen hy’s onmiddellik kwaad en voel bedreig, en ek verstáán dit.”

Hy knik. “Daar’s baie druk, maar ek dink partykeer jy moet maar so ’n on the outside looking in-ding hê. Jy kan nie elke dag opstaan en die hele land en die landbou se probleme op jou skouers dra nie.”

AfriForum en plaasmoorde

Dan Kriek op die proefplaas van die Universiteit Stellenbosch net buite AgriSA se kantore. Foto: Willem Law

Hy lag ietwat senuagtig. “Dit voel soms vir my of al die moeilikheid begin het toe ek verlede jaar president geword het. Ons het begin met AgriSA se grondoudit. Net voor dit het ons die staat by die openbare beskermer en die ouditeur-generaal oor die droogtehulp en moontlike korrupsie aangegee. Toe het ons Swart Maandag gehad, en daarna was dit die ANC se konferensie in Desember toe almal van ons gedink het ons kan vakansie hou. Sedertdien is dit onteiening sonder vergoeding en die minimum loon.”

Gelukkig, skerts hy, het hy nog nie agtergekom hy sit in die warm stoel nie, want hy het nog nie tyd gehad om te gaan sit nie. “Ek dink maar net daar is niks beters vir die stres as om in die veld tussen ’n trop mooi beeste te gaan sit om ’n bietjie innerlike vrede en balans te kry nie.”

Hy lag vir die eerste keer hardop uit sy maag. “Jy mág maar iets skryf oor my Suid-Devons, hoor!”

Hierdie land se toekoms sal bepaal word deur gematigde Suid-Afrikaners, nie randfigure, randorganisasies en mense wat links en regs van die tafel afval nie.

Hy ontwyk die vraag oor Afrikanerregte-organisasies soos AfriForum en hul veldtog teen plaasmoorde en sogenaamd “rassistiese diefstal”.

“Ons kom uit ’n verlede waar ’n sekere groep bevoordeel is en homself bo ’n ander groep bevoordeel het en op die uiteinde homself geïsoleer het. Mense in Suid-Afrika moet dink of ons dit weer wil doen en in die landbou besef ons baie duidelik jy kan dit nie weer doen nie en jy gáán dit nie weer doen nie. Dit is hoekom ons so sterk voel oor transformasie en grondhervorming, hoekom ons vir die regering sê ‘vertrou ons, ons kan die bedryf oopmaak’.

“Hierdie land se toekoms sal bepaal word deur gematigde Suid-Afrikaners, nie randfigure, randorganisasies en mense wat links en regs van die tafel afval nie. Ons toekoms sal bepaal word deur organisasies soos AgriSA wat in die hoofstroom van die samelewing is.”

Hy kyk my in die oë. “Daar is één ding wat vir my verskriklik belangrik is. Ek verteenwoordig nie Afrikaners as ’n groep nie. Ek verteenwoordig ook nie ’n kultuur of taal nie. Ek verteenwoordig mense van alle rasse binne die landbou. Ons het ’n blink toekoms, die ouens is progressief, ons is georganiseerd in ons bedrywe en in ons provinsies en in AgriSA.”

Onteiening sonder vergoeding

Hy draai egter nie doekies om dat hy oor die beoogde verandering aan die Grondwet bekommerd is nie. Bítter bekommerd.

“Suid-Afrika het meer swart boere en swart plase nodig. Aanpassing aan die Grondwet – en op sy ergste onteiening sonder vergoeding – sorg dalk vir goeie verkiesingspraatjies maar dit sorg nie vir meer swart boere nie.”

Die probleem met enige ideologie is dat dit ’n utopiese element bevat, sê hy. “Ek dink weer eens dit is randorganisasies wat ’n ideologie opstel en sê as ons A, B en C doen, is ons in die hemel. Ek dink jy sien nou ’n element daarvan en apartheid was net so ’n ideologie, and it all came crashing down.

“Jy kan die Grondwet 100 keer verander, maar dit bring jou nie nader aan die suksesvolle implementering van grondhervorming nie. Eiendomsreg is ’n fundamentele mensereg, die hoeksteen van ons ekonomie. Die onsekerheid van beleggers het nou verdiep.

“Die ouens het nou ’n bietjie van ’n wag-en-kyk-houding hier. Hulle val nie oor hul voete om die volgende plaas te koop nie. Landbou is ’n langtermynbelegging. Grond en die tegnologie wat ons gebruik, is duur. Om ’n vrugteboord te plant moet jy weet wat jy oor ’n tydperk van 20 jaar en langer met daai vrugteboord gaan maak.”

Om weg te kom van die stres van die politiek neem Dan Kriek sy Suid-Devon-beeste af op sy plaas Quarta naby die dorpie Tweeling in die Vrystaat. Foto: Dan Kriek

Hy aarsel. “Maar dink ook ’n bietjie aan pres. Ramaphosa. Hy moet vyf balle in die lug hou. Hy moet ’n verkiesing gaan wen met ’n party wat vir ons lyk of dit in twee kampe is. Hy moet die ekonomie laat groei, hy moet vir die buiteland sê kom belê en hy moet die debat oor grondhervorming aan die gang hou. Ons is baie keer geneig om te sê die grondhervormingsdebat is ’n emosionele debat. Vir swart mense is dit nié ’n emosionele debat nie. Dis genuine en hy besef daar is ’n morele verpligting op ons almal om hierdie dinge oor tyd reg te stel.”

Een van die grootste probleme met grondhervorming is dat die hoeveelheid grond wat deur die regering oorgedra is en die geld wat hiervoor beskikbaar gestel is, tydens die Jacob Zuma-era ’n afwaartse trajek begin toon het.

“Ekonome sê die effek van die Zuma-era op ons ekonomie is baie groter as wat ons gedink het en dat hy nog jare lank met ons gaan bly. Ons argument is dat daar hoog opgegee word oor grondhervorming op die nasionale agenda, maar die begroting praat nie daarmee saam nie.”

Die planne vir hoe grondhervorming kan werk is dáár, sê hy. “Dis nie rocket science nie. As jy na die afgelope klompie jare kyk, sal jy sien die probleem is ons onvermoë om saam te werk en mekaar te vertrou. Ons het ook die Nasionale Ontwikkelingsplan (Nop) wat die grondslag lê vir hoe ’n winsgewende, getransformeerde landbousektor lyk.”

‘Ramaphosa is ’n slim man’

Dan Kriek: “Ek verteenwoordig nie Afrikaners as ’n groep nie. Ek verteenwoordig ook nie ’n kultuur of taal nie. Ek verteenwoordig mense van alle rasse binne die landbou.” Foto: Willem Law

Behoort ons in die lig van Ramaphosa se aankondiging ’n tweede Zimbabwe te vrees?

Buite die groot glasvensters sif die reën sag op die proefplaas van die Universiteit Stellenbosch neer.

“Die meeste boerderye in Suid-Afrika is familieboerderye en op hierdie familieboerderye is ’n massiewe waardeketting gebou. Syfers wissel van 10% tot 12% van die ekonomie. Dink net hoeveel werkgeleenthede is op hierdie familieboerderye gebou. Ek dink dis die les uit Zimbabwe. Jy vernietig nie net die plaas nie, jy vernietig die hele waardeketting. En as jy nou lees wat in Zimbabwe aan die gang is, begin hulle nou al die regte dinge doen. Ons is nou besig met ’n debat oor onteiening sonder vergoeding terwyl ons eintlik lynreg in die ander rigting behoort te gaan. Ons behoort te kyk na hoe versterk ons eiendomsreg, hoe gee ons eiendomsreg aan swart boere, hoe gee ons ’n vorm van regte aan die kommunale boere, want dít is wat die Grondwet van ons vra.”

Hy skud sy kop. “Maar ons gaan nié die Zimbabwe-roete volg nie. Ek glo dit in my hart. Ons het ál die voorbeelde daar van hoe om dit nié te doen nie en ons president, Cyril Ramaphosa, is ’n slim man en daar is baie mense in die ANC wat net soos ek en jy dink.”

Ek is nou meer van ’n deeltydse boer en ’n basterpolitikus.

Hy kyk ’n oomblik by die venster uit na die Kaap in sy nat miskombers.

Waar sien hy homself oor tien jaar?

Hy glimlag. “Miskien is ek dan klaar met AgriSA. Demokrasie is ’n goeie ding en ons is almal daar op ’n demokratiese ticket. Ek sal dalk oor vyf of tien jaar net die boer wil wees wat ek aanvanklik gedink het ek sou wees. Ek is nou meer van ’n deeltydse boer en ’n basterpolitikus.”

Hy loop saam kar toe en groet. “Ek sal jou eiendomsreg beskerm,” sê hy. Dié rots in die hart van die storm.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Dan Kriek  |  Grondonteiening  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.