Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Dán word ons soos Zimbabwe, waarsku Agri SA-leier

Pierre Vercuiel (70), boer en president van Agri SA, vertel aan Murray La Vita hoe boere deur die Covid-19-pandemie geraak word. Hy sê as die landbou in Suid-Afrika in ’n situasie verval waar daar nie meer voedselsekerheid is nie, gaan ons beslis begin lyk soos Zimbabwe.

Pierre Vercuiel, president van Agri SA.

Al is landbou as noodsaaklike diens verklaar, het dit die bedryf nie ongeskaad gelaat nie, want die pryse van landbouprodukte word deur die verbruikers bepaal en as dit met die verbruiker nie goed gaan nie “dan werk dit heeltemal terug in die waardeketting tot weer by die boer”, sê Vercueil.

“Die prys van varkvleis het byvoorbeeld gedaal van waar die produsent so min of meer R27 per kg gekry het tot min of meer R16 per kilo. Aan die beeskant het dieselfde gebeur – dit het gedaal van min of meer R47 per kilo tot by R39.

“Dit het matig herstel noudat ons by vlak drie is, maar dit is nog baie ver van die vlakke af waar ons behoort te gewees het. Die éintlike groot probleem daarmee is groter boere en kommersiële boere kan dit hanteer, maar nou het jy die onbedoelde gevolge dat die nuwe boere wat ons nou groot moeite mee maak om te help vestig, die klein boere, kan hierdie soort van ding nie hanteer nie.

“Hulle vat so ’n groot hou uit hierdie nie-winsgewendheid uit dat hulle reserwes doodeenvoudig net nie daar is om dit te kan hanteer nie.

“Dan begin ons nou weer voor. Dit het vroeër in die jaar ook gebeur met die bek-en-klouseer-uitbreking. Jy sal vind dat nuwe boere en klein boere – ek hou nie van die woord opkomende boere nie, dit klink vir my vreeslik – is mense wat elke maand ’n klompie bees na ’n veeveiling toe vat om te verkoop om sy kontantvloei te diens en om sy huishouding aan die gang te hou.

Weens die inperkingstyd was restaurante mos toe; die kettingwinkels het minder bestel want hulle is bang oor die raklewe van produkte.

“En toe hou ons vir meer as twee maande glad nie veiling nie. Nou, die invloed daarvan was weer groot. Die landbouer is mos ’n prysnemer en wat nou met ons gebeur het, is dat veeboere aan onmededingende pryse uitgelewer is.

“Dit is deur die markte veroorsaak. Weens die inperkingstyd was restaurante mos toe; die kettingwinkels het minder bestel want hulle is bang oor die raklewe van produkte – netnou gaan die vars vleis nie meer vars wees nie. So, die vraag het net weggeraak.

“Tans is dit nog geweldig siklies. Ons het in die middel van die maand ’n groot probleem om vee verkoop te kry teen billike pryse en na die end van die maand toe wanneer dit nou betaaltyd word en mense darem hulle maatskaplike ondersteuning [toelae] kry, is daar weer ’n bietjie van ’n vraag.”

‘Polities bewus’

Vercuiel, wat in Desember by Dan Kriek oorgeneem het as president van Agri SA, sê hy was “besonder geseënd”, maar het ook “ ’n klompie goed reg gedoen” in sy loopbaan as boer. Hy boer op Setlagole by Stella in Noordwes.

“Ek het in hierdie wêreld grootgeword. My pa was ’n boer. Die Vercueils was Afrikaanse mense en my ma was Engels. Ek het in ’n besonderse huis grootgeword waar debat toegelaat is en ek was van kleins af polities bewus.”

Hy het aan die Hoër Seunskool Helpmekaar gematrikuleer, waarna hy ’n landbougraad aan die Universiteit van Pretoria behaal het.

Hy beskou homself as ’n “ewigdurende student” en het op 55 nagraads volhoubare landbou aan die Universiteit van die Vrystaat gaan studeer.

Ek glo daaraan om opleiding te doen en ons hele besigheid is ook betrokke by internskappe vir jong swart mense.

“Toe ek begin boer het, was dit maar vrek moeilik. My pa kon my eintlik nié op die plaas neem daai tyd nie. Maar, ek was gelukkig en het in ’n natter siklus einde ’72 begin boer. Ek het die geleentheid aangegryp en die meetsnoere het vir my reg geval.

“Vandag het ek ’n groot besigheid en verskaf werk aan baie mense. Maar dít is nie die norm van ’n familieboerdery nie. My besigheid het ’n bietjie meer korporatief geraak en ek het vennote in die besigheid.

“Dis ’n gemengde boerdery en ek het ook so agt jaar gelede ’n boerdery in Zambië begin.

“Ek glo daaraan om opleiding te doen en ons hele besigheid is ook betrokke by internskappe vir jong swart mense.”

Kosteknyptange

Hy sê die georganiseerde landbou meen grondhervorming moet ekonomies haalbaar wees.

“Indien dit op ’n verantwoordelike manier gedoen word, is ek natuurlik vol vertroue dat ons dit gaan regkry.

“Maar jy moet onthou politici is korttermyndenkers en boerdery is ’n langtermynbesigheid met ’n lang produksiesiklus; dit is deesdae ook ’n hoogs tegniese besigheid. En dit is ook so dat die winsgewendheid, die kosteknyptange, ’n groot invloed daarop het.

Regstelling moet gebeur, en daarvoor moet ons dan kyk na skemas waar ons vennootskappe met nuwe boere vestig.

“Eenhede word al hoe groter. Ons moet in die proses ook medeverantwoordelik wees en help dat ons land vorentoe gaan.

“Regstelling moet gebeur, en daarvoor moet ons dan kyk na skemas waar ons vennootskappe met nuwe boere vestig – dit gebeur reeds in die privaat sektor – en om te kyk of ons boere kan vestig omdat dit ons besigheid is.

“Daarom is dit vir ons geweldig belangrik om privaat eiendomsreg te behou. As dit nou moet gebeur dat ons onteiening sonder vergoeding gaan hê, gaan die kollaterale waarde van eiendom wegval en finansiering gaan net nie moontlik wees nie.”

‘Vele probleme’

Plaaswerkers van Bainsvlei naby Bloemfontein bewerk ’n spinasielandery. Foto: Charl Devenish

Hulle is mense wat met die staat praat “in goeie trou en ons glo dat ons saam ’n oplossing soek vir die vele probleme” wat ook insluit die vestiging van nuwe boere, sê Vercueil.

“Maar dit moet ekonomiese sin maak. Dit help nou nie ons probeer iets doen wat nie werk nie, en dit help ook nie ons dink ons gaan geweldige getalle mense in die landbou vestig en dan gaan die probleem opgelos wees nie. As dit nie ekonomies haalbaar is nie, gaan ál daardie mense van die staat afhanklik wees.

“So, ons is positief en sê: Gee ons as landbouers ’n geleentheid dat ons deel van die oplossing kan wees en ’n groot bydrae kan maak. Ons sê ook: Laat ons handel dryf in ’n vryemarkstelsel en nie deur korttermyn- politieke gewin sulke goed soos onteiening sonder vergoeding gaan doen nie, want dít sal ’n ramp veroorsaak. Nie net in landbou nie, maar vir die hele land – en dan sal daar ook géén voedselsekerheid wees nie.

“So, die oplossing van grondherverdeling lê nie in onteiening sonder vergoeding nie; die oplossing lê in ’n sterk, groeiende landbou. Die staat moet ons ’n kans gee om vir hulle die plan te gee van hoe dit gedoen kan word.”

Landbank

Hy praat oor die verknorsing waarin die Landbank hom sigself bevind – dat die staat nou ’n waarborg moet verskaf om dit ’n lopende saak te hou. Pas ná ons gesprek het minister Tito Mboweni in sy spesiale aanpassingsbegroting ’n reddingsboei van R3 miljard vir dié bank aangekondig.

“Die Landbank het ’n ontwikkelingsfunksie sowel as ’n kommersiële funksie. Hierdie twee goed pas glád nie bymekaar nie, want jy kan nie aan die een kant kommersieel dink en aan die ander kant aan die vestiging van boere met gesubsidieerde rentekoerse, ensovoorts, dink nie.

Jy het egter ’n bodemlose put as jy die verkeerde mense om die verkeerde rede tot die landbou laat toetree. Dit het mos nou al baie gebeur.

“Die Landbank gaan ’n keuse moet maak of hulle ’n ontwikkelingsbank of kommersiële bank gaan wees. Suid-Afrika hét ’n ontwikkelingsbank nodig en Agri SA meen as ons nie ontwikkelingsfinansiering kry nie, dan gaan ons ook nie grondhervorming sien nie.

“So, ontwikkelingsfinansiering wat sterk gesubsidieerd moet wees op lang termyn, is belangrik, en om die regte persoon uit te soek om te boer. Jy kan al hierdie goed reg hê, maar as jy nie die regte persoon in die landbou het nie, dan gaan dit in elk geval nie werk nie, want jy moet ook ’n sakeman wees.

“Dit is nie meer soos in die ou dae op die tradisionele manier toe enigiemand kon boer nie. Dis ’n hoogs tegniese, kapitaal-intensiewe besigheid.

“Ons gesprek met die staat gaan ook daaroor. Dit het ook te doen met vertroue wat daarmee gepaard gaan en dat die staat uit die aard van die saak wil sien dat die subsidie gaan na waar die subsidie behoort te wees. Jy het egter ’n bodemlose put as jy die verkeerde mense om die verkeerde rede tot die landbou laat toetree. Dit het mos nou al baie gebeur.”

‘Soos Zimbabwe’

Thoko Didiza, minister van landbou. Foto: Deon Raath

Vercueil dink boere kry te min erkenning.

“En as daar fout gaan, word dit as die reël beskou en nie die uitsondering nie. Dit is ’n situasie wat ons almal saam sal moet bestuur. As die landbou in Suid-Afrika in ’n situasie verval waar daar voedseltekorte is en nie meer voedselsekerheid nie, gaan ons beslis begin lyk soos Zimbabwe – onbekostigbare pryse, wegholinflasie, en als wat daarmee gepaard gaan. En ons wil tog nou nie daar wees nie.

“Maar ons boere is gereed om ons deel te doen. Ons het ’n klompie common sense goed wat absoluut belangrik is vir landbou en as ons verskil met die wetgewer beteken dit nie ons is nie in goeie trou nie.

“Ons weet wat werk en wat werk nié en ons is tans die ouens wat die produksie doen; ons is die voedselverskaffers van Suid-Afrika. Hulle moet ons darem net die geleentheid gee om dit te kan doen.”

Plaasveiligheid

Die “grootste bekommernis” op die oomblik is veiligheid op plase, sê Vercueil. Ook die feit dat boere “addisionele fondse moet belê” in hul eie veiligheid.

Hy verwys na die “geweldige goeie werk” wat Agri Securitas doen en die skenkings wat hulle ontvang om plase teen aanvalle te beveilig. Daar is ook noue samewerking met die polisie.

“Toe ons op vlak 4 en vlak 5 was waar mense nie in die nag kon rondry en allerhande goed doen nie, het daar eintlik ’n daling in misdadigheid in die breë gekom, maar sedert ons op vlak 3 is, is daar gewéldige diefstalprobleme – nie net van vee nie, van graan ook; en natuurlik ’n hele klompie plaasaanvalle ook waar mense sleg aangerand is.”

Wanneer mense honger is, neem misdaad toe, sê hy en vertel van die hulp wat boere aan honger en behoeftige mense lewer deur byvoorbeeld groot kosskenkings.

“Ek dink ons sien hoe Suid-Afrikaners oor die kleurgrens heen meer by mekaar staan. Jy sien onbaatsugtige diens, maar terselfdertyd het plaasaanvalle en algemene misdadigheid die laaste ruk toegeneem.”

Grond se waarde daal

“Ons weet wat werk en wat werk nié en ons is tans die ouens wat die produksie doen; ons is die voedselverskaffers van Suid-Afrika.”

Die gesprek keer terug na die uitwerking van die Covid-19-pandemie op veral kleiner boere.

“Daar word algemeen genoem daar is tans ongeveer 20 000 plase konstant in die mark. En die kollaterale waarde van grond het gedaal met ongeveer 30% as gevolg van die ooraanbod en kleiner vraag.

“Die vertroue ten opsigte van wat gaan gebeur . . . as die politici praat van onteiening sonder vergoeding, dan is ’n boer maar ’n bietjie senuweeagtig oor of hy sy eiendom gaan behou.

“Ons moet onthou 80% van die boerderye in Suid-Afrika is familiebesighede. Dit is met ander woorde relatief klein ondernemings.

Daar is tans klaar ’n ooraanbod van eiendom en ons verwag dit gaan nog groter word indien dinge nie vinnig verbeter nie.

“Die banke is op die oomblik betreklik geduldig, want hulle wil tog ook nie die plase hê nie. Met die gevolg is, almal het ’n sit-en-wag-tyd. Ons sê altyd einde Augustus is betaaltyd waar boere hulle lenings moet aflos en die nodige finansiële reëlings moet maak vir die volgende jaar.

“Dán sal ons nou sien wat is eintlik aan die gang. Daar is tans klaar ’n ooraanbod van eiendom en ons verwag dit gaan nog groter word indien dinge nie vinnig verbeter nie.

“Die feit van die saak is die mense wat in die stad woon, die verbruiker, kry ook finansieel swaar. Daar is ’n algehele insinking van vraag en dít het ongetwyfeld ’n uitwerking op die prys van ons produkte. So, die komende jaar gaan maar weer ’n moeilike een wees.

“As daar weer vertroue kom en al hierdie goeters ten opsigte van onteiening sonder vergoeding gaan weg en ons kan weer ons deel doen ten opsigte van die vestiging van nuwe boere en daar kom weer ’n bietjie vertroue in die stelsel, behoort daar ’n herstel te wees.”

Onsekerheid

Hy moet aanhou glo, sê Vercueil.

“Anders sal ’n mens weggaan . . . Om jou ’n voorbeeld te gee: Twee van mý vennote wat 15 jaar saam met my was, het geëmigreer Kanada toe. Ons sien dat jong mense wat moet oorneem in die landbou . . . geweldige getalle van hulle emigreer, want daar is onsekerheid.

“In ons wêreld is dit ’n algemene verskynsel. Ék het ook ’n seun oorsee. Een boer darem saam met my. Die ander een is ’n sakeman en hy is nie meer in Suid-Afrika nie.

Daar is ’n konstante daling in die getal kommersiële boere.

“So, dit is ’n algemene tendens vandag. En dis die gekwalifiseerde mense wat weggaan. Ons kan daardie invloed nog nie kwantifiseer nie; oor so twee jaar sal ons dit voel.”

Daar is ’n konstante daling in die getal kommersiële boere.

“Ons het baie spesifieke uitdagings op die oomblik . . . Maar ’n boer is ’n interessante wese. As dit eers reën, is daar ’n ander gees ten opsigte van hoe dinge bestuur gaan word.”

Meer oor:  Agri Sa  |  Landbank  |  Tito Mboweni  |  Pierre Vercuiel  |  Suid-Afrika  |  Zambië  |  Zimbabwe  |  Landbou  |  Grondhervorming  |  Covid-19-Pandemie  |  Staat Van Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.