Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Dans met die dood

Die mesmoord  op die danser en choreograaf Kirvan Fortuin het opnuut die fokus op die geweldkultuur op die Kaapse Vlakte laat val, skryf Heindrich Wyngaard.

Kirvan Fortuin

Om te dink dat hy op daardie oomblik nie ’n woord kon uitkry nie; Kirvan Fortuin was tog nie, soos hulle sê, “op sy mond geval nie”.

Hier was hy nou saam met Coenie de Villiers in die Kalahari om navorsing te doen vir hul Kunstekaap-verhoogproduksie Katrina: Die dansende taal (2018). Dit was toe dat oom Jan van die plaaslike gemeenskap hom vra: “Nou as jy nou seerkry?”

Die vraag was vir Fortuin ’n raaisel. Hy was tog ’n ervare, internasionale danser wat sy lyf heeltyd tot die uiterste beproef het; hy kon pyn vat.

Het hy dan nie juis ánder mense gereeld met sy dansvermoë stomgeslaan nie?

“Die benen gingen fantastisch de lucht in,” sê die choreograaf Krisztina de Châtel aan De Volkskrant in Nederland.

“Om hom te sien dans,” merk De Villiers teenoor Netwerk24 op, “was om iemand met die vlerkspan van ’n albatros oor die verhoog te sien tol.”

Die doel was om vir ander ook die kans te skep om deur dans te kan ‘vlieg’

Fortuin was oortuig dat dans die enigste manier was waarop hy homself behoorlik kon uitdruk: Dans was sy eerste taal; was liefde, was haat, was alles. En só was dit sedert hy smiddae ná skool saam met die ander kinders van Macassar, een taxirit van Somerset-Wes en die Strand geleë, in die straatkompetisie gedans het, voordat hy geweet het hy kán dans.

’n Draai in die Field Band-stigting het die weg voorberei. Hy was 12. Maar nadat hy al die seksies van instrumente onsuksesvol probeer het, het hy besef dit is nie sy ding nie. Los dit; just move along swiftly. Hy hoor toe stemme en mense wat skreeu: “And five . . . six . . . seven . . . eight . . . and a-a . . . and a-a-a!” Dit was 45 dansers, vertel hy in ’n Kwêla-insetsel aan Johnny Davids, wat “die mees fantabelse tyd van hul lewe (geniet) het”.

Dít was vir hom dít: ’n Danser wou – en sóú – hy word.

Studie aan die Universiteit van Kaapstad; reis oorsee; sluit by die Cod­arts-skool in Nederland aan – en keer terug om ’n eie dansgeselskap en die Kirvan Fortuin-stigting te begin. Die doel was om vir ander ook die geleentheid te skep om deur dans te kan “vlieg” – ín en úit die arm gemeenskap waar hy opgegroei het; waar hy nou weer by sy ouers gewoon het.

Dit is daar waar sy droom op 28-jarige ouderdom gesterf het toe hy twee naweke gelede in die nagtelike ure glo deur ’n 14-jarige meisie met ’n mes gesteek is en onderweg na die hospitaal beswyk het. Messe is naas vuurwapens die algemeenste Kaapse moordwapen, sy dit in aanvalle op plaasboere, argumente tussen paartjies of skoolkinders wat baklei. Seuns én meisies.

Huldeblyke volg op die hakke van die bekendmaking van die nuus. En steeds ’n velerlei vrae: Hoekom hý? Wat presies het gebeur? Was dit oor hy openlik gay was? Het die dwelm tik ’n rol gespeel? Wat maak ’n meisiekind van daai ouderdom daai tyd van die nag nog op straat?

Naweke is jare lank al ‘doodmaaktyd’, sal die statistieke jou wys.

Die presiese details van die voorval behoort in die hofsaak bekend te word, maar dit is nie gewaarborg dat die breër konteks van ’n moord in die vroeë oggendure oor ’n naweek deur ’n meisiekind van skoolgaande ouderdom noodwendig geskets sal word nie.

“Wanneer ons dus oorweging skenk aan ’n geregverdige straf vir jong oortreders – in hierdie geval ’n blote kind,” skryf Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap, “moet ons nadink oor wat hulle daartoe dryf om sulke skrikwekkende misdade te pleeg soos om ’n lewe te neem.”

Hier is een poging.

In Macassar, soos in die meeste gebiede wat geografies (soms onnadenkend) as die “Kaapse Vlakte” gegroepeer word, is die uitstaande kenmerk dikwels (byna voorspelbaar) die maatskaplik-ekonomiese omstandighede: armoede, werkloosheid, afhanklikheid van Sassa-toelaes, dwelm- en drankmisbruik, misdaad, bendes, wanfunksionele gesinstrukture, tienerswangerskap en skoolverlating.

En daar en in ander arm bruin gemeenskappe is naweke jare lank al “doodmaaktyd”, sal die polisiestatistieke jou wys. Ook dat die Wes-Kaap homself voortdurend onderskei deur middel van die hoogste moordsyfer in die land en Kaapstad as die gewelddadigste stad. Omtrent presies ’n jaar gelede het Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid, sy kommer uitgespreek nadat die Kaapse moordsyfer in die voorafgaande ses maande tot 2 302 gegroei het.

Bendebedrywighede is ’n groot bydraende faktor; tot 80% van alle bendeverwante moorde word in die Wes-Kaap gepleeg – en kinders, voorskools en skoolgaande, is klokslag op die slagofferlys (soms doodonskuldig vasgevang in die kruisvuur tussen bendes terwyl hulle in die straat speel of op pad skool toe is). Nie eens die teenwoordigheid van die weermag kon in die onlangse verlede as ’n behoorlike, volgehoue teenvoeter vir die moord en doodslag dien nie.

Die waarneming wat die skrywer James Baldwin in die laat 1950’s gemaak het op sy eerste besoek aan Atlanta, in die suide van Amerika, klink soos die “Vlakte van verdriet”. Dit was “of dit vir geweld ontwerp is; amper of dit aandring daarop”, skryf Baldwin in Nobody Knows My Name.

Llewellyn MacMaster sluit by Bald-win aan in sy M-verhandeling (Die trauma van geweldsmisdaad op die funksionering van geloofsgemeenskappe, 2001, Universiteit Stellenbosch): “Mense wat vasgevang is in ’n situasie van voortslepende geweld en min kans het om daaruit te kom vanweë historiese verontregting, kan so deur vrees, angs en moedeloosheid verlam word, dat die lewe sinloos en sonder hoop begin word. Hulle mag die situasie begin aanvaar as hul lot.”

Dit skep ’n beeld van iemand wat onsuksesvol by ’n afwaartse roltrap na bo probeer klim, die een generasie ná die ander. Uit Don Pinnock se Gang Town (Tafelberg, 2016): “Kaapstad is die tuiste van duisende jeugdiges op pad na nêrens nie ( . . .) en in baie gebiede is doodgaan voor 30 ’n sterk moontlikheid.”

Maar te midde van die grou uitsigloosheid hoor jy tog ook die opbeurende klanke en liedere van hoop dat dit môre beter sal gaan. Dié klanke word van tyd tot tyd, onvermydelik, deur die onafwendbare ritme van die dodemars of die stilte van ’n begrafnisstoet onderbreek; en dít lei gewoonlik tot ’n soort “skietstaking vir selfondersoek”.

Soos ook nou met Fortuin se heengaan sal die mediabelangstelling nuwe energie bring, gemeenskapswoordvoerders sal verklaar hoe moeg hulle is vir alles wat aangaan, politici sal beloftes van strenger optrede en ekonomiese opheffing maak.

Alkoholgebruik sal waarskynlik ook ’n deel van die blaam dra, want die waarheid is dat die getal moorde in die provinsie met tot 60% gedaal het toe die strenger Covid-19-inperking (soos die algehele verbod op drankverkope) nog gegeld het.

Maar soos die opvoedkundige sielkundige Quinton Adams benadruk, is die grootste uitdaging dat dit altyd makliker is “om die verval te beskryf as om verbetering teweeg te bring”.

Fortuin wou deur sy passie vir dans ’n verskil maak – en spesifiek ná sy besoek aan die Kalahari, waar die oom hom ’n tweede vraag gevra het, sonder om dit te verduidelik: “Nou (wat) as die gees jou nou bietjie knak, want jy’t overboard gegaan?”

Dié vraag het in die vroeë oggendure van Saterdag 13 Junie 2020 “onuitgelê” saam met Kirvan Fortuin die lewe verlaat.

Die “vlerkspan van die albatros” wat oor die verhoog tol, is nou net ’n mooie herinnering. Die albatros sal nie meer overboard kan gaan nie; sy gees is vir ewig geknak.

Maar in die Kaap word daar stééds, heeltyd, met die dood gedans.

  * Heindrich Wyngaard is ’n skrywer en aanbieder van die geselsprogram Klop! op kykNET & kie.

Meer oor:  Kirvan Fortuin  |  Kaapse Vlakte  |  Moord  |  Mesdood  |  Danser  |  Choreograaf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.