Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Dapper harte sê boelies die stryd aan

3 Mei sal van nou af vir Maiveen Boehme (47) ’n baie spesiale dag wees – dit is nasionale Brave Heart-dag wat sy in die lewe geroep het om mense bewus te maak van boelie. Sy het aan Murray La Vita vertel hoe die veldtog ontstaan het nadat sy én haar dogters erg geboelie is.

Maiveen Boehme vertel hoekom sy Brave Heart tot stand gebring het. Foto: Jaco Marais

Brave Heart is gebore toe dinge in Boehme en haar jongste dogter, Clarice, se lewe breekpunt bereik het.

“Die dag nadat ons gepraat het met die outjie wat my dogter geboelie het, het ek hom by die skool raakgeloop. Hy het my gegroet en ek het geweier om hom te groet. Toe het hy aan my geraak en gesê: ‘Tannie, ek groet jou.’

“En toe draai ek om en ek sê vir hom: ‘Weet jy wat? Ek skuld jou níks!’

En toe ek daar wegstap toe weet ek ek skuld daai kind die wêreld, want as ek daar kan wees vir mý kind kan ek net sowel daar wees vir ’n ander kind – dit blý ’n kind; dit bly ’n kind wat in ’n slegte situasie is.

“So, dís waar Brave Heart ontstaan het en vir ses jaar het die ding nou aan my gekarring en op die ou end is my kind toe laasjaar in matriek en toe besluit ek dit is nou hoe dit moet wees. Ek het toe my besigheid [sy het etikette – van klere tot wynbottels – ontwerp en daarin handel gedryf] verkoop en spits my nou heeltyds hierop toe.”

Later toe my dogters ook daardeur is toe besef ek hoe ernstig dit eintlik was,

Boehme sit oorkant my in ’n Kaapse restaurant – ’n “mens-mens” wat sê die geboelie wat sy beleef het, het haar “karakter gebou”.

“Ek is op hoërskool [in Florida aan die Wes-Rand] baie erg geboelie. Daai jare was dit mos nou nie ’n buzz-woord nie en dit was nou nie ’n groot ding gewees nie, so jy het gedink dis normaal as jy nie inpas nie of jy is heeltemal uit.

“So, vir my was dit grin and bear it; jy lewe daarmee. Maar later toe my dogters ook daardeur is toe besef ek hoe ernstig dit eintlik was, maar dit het my help karakter bou; dit is nie dat dit bepaal het wie ek is nie . . . Dit het my sterker gemaak. Maar die boelies van vandag is op ’n heeltemal ander vlak.”

Hoe is sy geboelie?

“Isolasie en verbale boelie, sulke tipe goed. En deur verskillende kinders; dit was nie net een spesifieke persoon nie. Ek dink ek is geboelie omdat ek net anders was as ander kinders. Ek het baie sterk morele waardes gehad; ek was nie van die partytjie-kinders wat uitgegaan het en partytjie gehou het nie.

“Ek het ook anders gepraat as hulle, want my ma was ’n enkelouer en ek was ook die enigste kind . . . ek het baie met volwassenes gemeng. So dit was nie dat ek hulle taal gepraat het nie; ek was emosioneel heeltemal op ’n ander vlak as hulle. En ek dink dít het die groot probleem veroorsaak.”

Geboelie ‘oor andersheid’

“Ons gaan die boelies help net soos wat ons die geteikende persone gaan help.” Foto: Jaco Marais

Kinders word volgens haar dus veral weens hul andersheid geboelie.

“Jou uniekheid . . . En dis wat ons vir die mense daarbuite wil sê: Jy’s uniek vir ’n rede. En Brave Heart wil daardie uniekheid van mense ook ontwikkel deur verskillende programme. Die nasionale dag is maar ’n klein deeltjie van wat ons doen.

“Ons kry geweldig baie navrae van veral skole af. Ons weet dit is nie iets wat oornag gaan gebeur nie, maar oor die volgende twee of drie jaar wil ons regtig ten volle aan boord wees. Ons aanlyn kursus behoort teen begin Junie klaar te wees en dan kan ons begin om mense op te lei.

Ons het so drie, vier weke terug vier kinders in Suid-Afrika verloor.

“Mense weet nie dit is ’n misdaad om te boelie nie, so ons wil daardie inligting ook vir mense deurgee. Jy mag dit nie doen nie; dis nie net ’n klein sosiale probleem nie.”

Sy bly ’n paar oomblikke stil en sê dan:

“Ons het so drie, vier weke terug vier kinders in Suid-Afrika verloor. Dit was ’n baie rowwe week. Een was ’n selfdood-geval in Potchefstroom en een kind is reg voor die skool doodgesteek vir sy selfoon. ’n Ander kind is van ’n heuwel af gerol en daar was nog ’n kind wat in ’n skoolbadkamer gevind is met ’n meswond.”

‘ ’n Verskriklike mens-mens’

Die Brave Heart-kenteken simboliseer die nuwe hart wat jy op jou bors dra en dat jy daar is om almal te help. In skole gaan komitees gestig word en die lede hiervan sal goue harte dra om hulle te identifiseer as mense wat kan help. Foto: Jaco Marais

Boehme se dogter Simoné (21) is ook op skool geboelie, maar dit is veral die 18-jarige Clarice wat deurgeloop het.

Sy is genoem na die FBI-agent Clarice Starling (gespeel deur Jodie Foster) in die rolprent Silence of the Lambs.

“Ek het van die rolprent gehou . . . Ek hou daarvan om in te klim in ’n ou se psige en dis hoekom dit vir my ook maklik is om Brave Heart te doen. Ek is ’n verskriklike mens-mens, so ek wil wéét hoekom doen mense sekere goed; hoekom neem hulle sekere besluite.”

Boehme vertel meer oor hoe Clarice geboelie is.

“En toe ses jaar terug word die kleintjie báie erg geboelie toe sy in die laerskool was . . . Sy is eintlik haar hele lewe lank geboelie. Die rede daarvoor is sy was ook anders; sy was ook ’n mens-mens; sy het verskriklik vir kinders omgegee. Sy was vriende met kinders wat nie ander maats gehad het nie en dan is sy dáároor geboelie. Weer eens: not the in-crowd.

Sy sê: ‘Kry my net by die huis, ek kan nie meer nie.’

“En toe in gr. 5 en 6 het hierdie outjie haar begin tackle. Hy het haar sleggemaak voor die klas; toe het haar punte bietjie begin val. Toe het hy haar punte genoem as die juffrou uit die klas uit stap. Hy het ook van die ander kinders gekry om haar te boelie, om haar te isoleer. Sy het pouses in badkamers weggekruip vir hom.

“Die skool het vir my gesê hulle vermoed Clarice dra ’n masker want by die skool lyk dit asof alles reg is. Maar hulle sien nie die kind in die kar klim in die middae en absoluut verkrummel. Sy sák af dat die kinders haar nie kan sien nie sodat ons net kan uitry. Sy sê: ‘Kry my net by die huis, ek kan nie meer nie.’

“Sy het vir výf jaar nie vriende huis toe gebring nie. En dan vra ons vir haar: ‘Het jy nie vriende nie?’ En dan sê sy: ‘Nee, ek hét, maar ek vertrou nie mense nie.’ So dit het baie lank vir haar gevat om weer mense te vertrou. En tot vandag toe sukkel sy maar om mense te vertrou . . .

“Sy het die heeltyd twyfel in haarself. Ék is self so. Ek sukkel om toesprake te doen; ek sukkel om onderhoude te doen, want jy dink nooit jy is goed genoeg nie.”

’n Wet teen boelies

Dit was moeilik om die boelie se ouers by ’n vergadering te betrek.

“Hulle was net nie beskikbaar nie. Hulle was baie weg met besigheid en dan het sy ouer broers na hom omgesien.

“ ’n Vriendin van my het regsagtergrond en haar dogter is op dieselfde tyd geboelie – dit was in 2013 – en op daai stadium het die Wet op Beskerming teen Teistering ingekom. Toe sê sy vir my sy kan dit ook nou nie langer los nie, ek moet kyk of ons nie ’n interdik kan laat uitreik nie.

Die boelieprobleem is 'verskriklik wyd'.

“Maar ek kon dit net nie oor my hart kry nie . . . die ander kind was ook vir my belangrik; wat word van hom? Dis dikwels hoekom ouers nie die goed rapporteer nie.

“So toe het ek gevoel laat ons liewer met die ouers en die kind praat en hulle laat bewus maak van die probleem en hulle waarsku dat as dit nie gaan ophou nie, ons verdere regstappe gaan doen. Op die ou end was dit al wat nodig was, want toe het die kind geskrik en so aan.”

Boelies by die werk

Die boelieprobleem is “verskriklik wyd”.

“Die redes is ook baie uiteenlopend: probleme by die huis, trauma, persoonlikheidseienskappe. En daarom het ons toe besluit om die hele siklus van boelie te doen. So ons doen nie net die kinders nie; ons doen boelie in die werkplek, want dit is ook ’n groot deel – as die ouer by die werkplek geboelie word dan syfer dit deur na die kind toe.

Ék voel dinge het verskriklik verander in die korporatiewe wêreld.

“As ons dít minstens kan oplos en vir maatskappye daarvan bewus maak hoe ernstig dit is en hoe personeel hanteer moet word, gaan ons baie van die probleme hokslaan.”

Volgens Boehme word 55% van werknemers in die werkplek geboelie.

“Deur direkte hoofde en dan natuurlik ook kollegas wat die korporatiewe leer wil klim, ensovoorts. Ék voel dinge het verskriklik verander in die korporatiewe wêreld. Dis ’n vreeslike gejaag na winsgrense, maar daar word nie meer na die personeel en hulle mense omgesien nie. Dit is nou maar net hoe dit is; daar is nie meer tyd vir daardie mense nie.”

‘Jy is net ’n teiken’

Brave Heart praat nie meer van die slagoffer nie, maar eerder van “die geteikende persoon”.

“Jy is net ’n teiken; die boelie sal enige verskoning gebruik om jou te teiken. Dit maak dit vir die persoon makliker om te verstaan, want dan dink hulle nie dit is hulle persoonlikheid of húlle wat die probleem is nie.

“ ’n Verdere aspek tot boelie is natuurlik ook gades wat mekaar boelie. Dít is verskríklik, verskríklik belangrik en het ook ’n groot invloed op die kind. So, hulle sien die pa boelie die ma, of die ma boelie die pa – dít gebeur ook baie – en hulle weet nie hoe om die konflik te hanteer nie. so dan word hulle weer boelies weens daardie aggressie wat binne hulle is.”

Ons het onderwysers wat deur hoofde geboelie word; ons het onderwysers wat deur kínders geboelie word; ons het kinders wat deur hulle éie ouers geboelie word.

Brave Heart het sedert Oktober, toe hulle op dreef begin kom het, talle individue en gesinne bygestaan.

“Nie een van die gevalle was dieselfde nie. Ons het onderwysers wat deur hoofde geboelie word; ons het onderwysers wat deur kínders geboelie word; ons het kinders wat deur hulle éie ouers geboelie word. Ons het selfs ’n geval gekry waar die boeties mekáár boelie en die ouers doen niks daaromtrent nie.”

Dit is soms die mense baie na aan jou wat die boelies is.

“Want hulle ken jou baie goed, so hulle weet waar jou swakheid lê en dan is jy ’n makliker teiken vir hulle.”

Boeliegedrag word dikwels deur wreedheid en sadisme gekenmerk.

“Maar onthou net – ’n kind word nie gebore om te boelie nie. So, daardie gedrag moes iewers aangeleer gewees het of ’n absolute desperate poging wees om enige aandag van watter aard ook al te kry. Hulle sal enigiets in hul vermoë doen om daai aandag te kry.”

’n Dapper hart

“Jy moet ’n dapper hart hê om te kan praat vir jouself.” Foto: Jaco Marais

Boehme sê hulle beoog om ’n databasis vir Suid-Afrika op te stel waarop inligting van kundiges soos terapeute en regsgeleerdes beskikbaar sal wees. Ook aanlynkursusse waar kundiges hul beter kan toerus om boeliegedrag te hanteer.

“Die mense daar buite is só bang om te praat. Dís hoe ons by die naam Brave Heart uitgekom het – jy moet ’n dapper hart hê om te kan praat vir jouself; vir ander mense wat nie kan nie; vir jou kinders dalk . . . vir mense om jou. Ons wil ’n dapper gemeenskap stig sodat mense weet dat hulle veilig is en met vertroue in daardie gemeenskap kan kom praat.

“En hoe meer mense jy bymekaar het – deskundiges, die mens op straat; hoe meer gaan dit nie meer vir die ou die moeite werd wees om te boelie nie. Op ’n positiewe manier is dit dan ’n geval van it’s not cool-tipe van ding.”

Dis terrible wat daar buite aangaan, régtig . . . Dis baíe, báie erg.

Hulle wil nie die nasionale dag ’n teenboelie-dag noem nie.

“Ons gaan die boelies help net soos wat ons die geteikende persone gaan help. Dis hoekom ons dit Brave Heart Day noem. Dit gaan vir ons ook oor wat ons as gesin deurgemaak het. Dit het rêrig begin uit liefde en geesdrif vir ander mense.

“En ons is rêrig daar om te help. Ons wil weer vir mense hoop gee, want uit die terugvoering wat ons gekry het van ouers en ander mense het ons agtergekom daar word net níks daaromtrent gedoen nie.”

Die plan is om saam met ander organisasies te werk.

“Die eerste een wat aan boord gekom het, is SaveTNet met ’n dame met die naam Rianette Leibovitz. Sy spits haar toe op kuberboelie, so sy is die kenner op daai gebied en ons ruil onderling inligting en kundigheid uit.

“Clarice is ook só geboelie. Sy sou ’n foto plaas op Instagram en dan sal die seuns [op Instagram] onder mekaar sê: ‘Hier’s vir jou ’n meisie.’ En dan sal ’n ander een op skryf: ‘Jig! Is jy mal? Sy’s nie vir my nie!’

“Dis terrible wat daar buite aangaan, régtig . . . Dis baíe, báie erg.

En ’n ou wat dan jou storie hoor, sê dan: 'Weet jy wat, ék is nie alleen nie. Ek is maar net ’n teiken.'

Cyber bullying is groot, want hulle dink hulle kan agter ’n skerm wegkruip en hulle weet nie dat alles wat in die kuberruim gebeur bly daar nie; jy kan dit nie wegvat nie.

“Ons het as kinders nooit sulke goed gehad waardeur mense geaffekteer is nie . . . Jy weet nooit wat viral kan gaan nie.

“Jy kan niks eintlik meer sê nie. Die eerste wenk wat ons vir ouers gee, is never name and shame a bully on social media; moenie die persoon slegmaak nie, want jy ken nie daai kind wat jou boelie se storie nie.

“En dis hoekom ons nog ’n veldtog begin het en dit is die Tell us your story campaign. Toe ons die stories begin inkry op ons Facebookblad was daar baie mense wat gesê het dit is half asof dit help met die gesondwordproses om hul stories te vertel.

“En ’n ou wat dan jou storie hoor, sê dan: ‘Weet jy wat, ék is nie alleen nie. Ek is maar net ’n teiken. Dit gebeur met so baie mense daar buite.’”

* Brave Heart se grootste viering van nasionale Brave Heart-dag is vandag in die Tygervallei-winkelsentrum. Besoek projectbraveheart.co.za of stuur 'n e-pos aan info@projectbraveheart.co.za vir meer beseonderhede. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.