Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Dawie: Boklegende en politieke skrumskakel

Die “Renaissancemens” Dawie de Villiers praat oor die dag toe hy soos 'n kind gehuil het en vertel Murray La Vita van sy lewensreis as Springbok, dominee, politikus en diplomaat.

Dr. Dawie de Villiers in ’n onlangse onderhoud in sy huis in Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

Dit is prof. Willie Esterhuyse wat in die voorwoord van sy ou vriend dr. Dawie de Villiers se memoires Dawie de Villiers My lewensreis: Springbok, politikus, diplomaat na hom as ’n Renaissancemens verwys.

Waarvan die titel nie melding maak nie, is dat De Villiers buiten minister, Sprinbokkaptein en ambassadeur in Londen, ook filosofiedosent en dominee was. En adjunk-sekretaris-generaal van die World Tourism Organization, die VN se toerisme-agentskap. Dié pos het vereis dat hy en sy vrou, Suzaan, van 1997 tot 2005 in Madrid gewoon en die wêreld vol gereis het.

Die onderhoud vind plaas in die De Villierse se huis op Stellenbosch langs die Eersterivier en vlakby Coetzenburg, die platform van waar De Villiers se glorieryke rugbyloopbaan geloods is. Die ligdeurstraalde huis met groot vensters wat op ’n agtertuin uitkyk, is met boeke en skilderye gevul. De Villiers noem in sy memoires hoe lief hy vir lees en kuns is, en in die loop van die oggend kom dit ook ter sprake.

Ek het net ’n groot belangstelling gehad en ontwikkel in die dinge rondom my; die dinge wat my nuuskierig gemaak het. Ek wou verken.

Die egpaar het albei in die onlangse verlede behandeling vir kanker ontvang, maar het intussen herstel en lyk goed – twee aantreklike, vietse en goed versorgde mense. Dawie se kenmerkende blonde kuif is nou grys, maar sy uitstraling is steeds een van lewenskragtigheid; ’n mens ervaar hom nie as ’n “ou” man nie.

Die gesprek begin by Esterhuyse se beskrywing van hom as Renaissancemens. Waaraan skryf hy hierdie veelsydigheid toe? Hoe het dit gekom dat hy op soveel terreine uitgeblink het?

“Ek het net ’n groot belangstelling gehad en ontwikkel in die dinge rondom my; die dinge wat my nuuskierig gemaak het. Ek wou verken. Ek het net gedink jy moet jou wêreld om jou leer ken. Ek het van skool af my goeie maats gehad en ons het baie goed saam gedoen.

“En soos my wêreld begin ontvou het, het die landskap groter geword. Sommige dinge het onverwags op my pad gekom, soos die politiek. Ek het rugby gespeel – dáármee was ek gelukkig; daarmee was ek gelukkig as kind op hoërskool en op Stellenbosch, en toe die rugby op ’n punt kom, toe ons terugkom van ons betogertoer en ek sê dis my laaste toer, toe kom die politieke geleentheid wat ek geneem het. Ons was baie huiwerig daaroor, maar ek het dit geneem . . .”

Nie menssku nie

’n Plakkaatfoto van ’n jong Dawie de Villiers in Huisgenoot. Foto: Argief

De Villiers skryf hy was nie juis ’n sosiale seun nie. Ek pols hom daaroor.

“Ek het van laerskooldae af ’n beperkte hoeveelheid vriende gehad. Op universiteit het ek vriendskappe gesluit met mense soos Willie Esterhuyse en ’n hele paar ander wat saam met my in Dagbreek was, maar ek het nooit ’n gróót, uitgebreide vriendekring gehad nie. Dis nie dat ek menssku was of so nie, ons was maar net in ons kring gelukkig gewees.”

Suzaan stuur die gesprek terug na rugby.

“Toe jy besluit het dit is nou die einde van jou rugbypad was jou woorde: Jy wil nie net met die rugby-etiket die lewe ingaan nie. Op daai stadium was dit amateurrugby en jy moes jou sente omdraai. Dit word ook in die boek genoem hoe min rookgeld hulle in Nieu-Seeland gekry het en toe hulle huis toe kom met nuwe handdoeke en ligte reisdekens, het ons vroutjies gedink dis wónderlik! En daai handdoeke het ons nog enduit gebruik tot by die seeplekkie [hul vakansiehuis aan die Kaapse Weskus] waar as hulle begin stukkend gaan het, het ons hulle omgesoom.

“So jy wou nie die rugby-etiket hê nie en gelukkig het jy dit nie gekry nie.”

Hy het ’n rugby-ikoon geword en was (is?) volksbesit.

Die geld het destyds vir hulle, die spelers, nie saak gemaak nie, sê Dawie.

“Maar professionele sport het met verloop van tyd ’n beroep geword. Ek het niks daarteen nie; dit is die verloop van die lewe.”

Ek is nie seker of ek heeltemal met Suzaan saamstem nie. De Villiers hét in ’n sin ’n rugby-etiket gekry, meer nog: Hy het ’n rugby-ikoon geword en was (is?) volksbesit. Ek kan byvoorbeeld nou nog nie die woorde waarmee The Bats se liedjie “Groen & Goud” begin uit my kop uit kry nie: “Vat hom Dawie! Vat hom laag! Vat hom Dawie! Laat die Boere slaag!”

Ook was hy in Kinders van die wêreld. Dít is waar ek as kind van hom bewus geword het. In die hoofstuk “Die kinders van Suid-Afrika” het ek gelees hoe opgewonde die seuntjie Ludolph was om vir “oom Dawie” te ontmoet. Dit was vir Ludolph “’n baie groot ding toe hy eendag op Stellenbosch kom en oom Dawie de Villiers, die kaptein van die Springbokke, speel met hom daar op Stellenbosch se veld en wys hom hoe ’n mens ’n bal moet skop.”

Woeker met ’n talent

Hoe het hy dit beleef om ’n rugbyheld te wees?

“Ek weet nie . . . Ek het nie daarop geteer nie, laat ek dit só stel. Dit wás daar; jy kon nie jou rug daarop draai nie. Ek het baie ingesit in my rugby toe ek nou eers aan die rol is ná skool op Stellenbosch. In alle beskeidenheid: Ek het besef ek het ’n talent en ek moet daarmee woeker. En Dok [Danie Craven] was natuurlik ’n belangrike aandrywer. Ek wou ’n paar keer weens beserings uittree, maar hy het my op die pad gehou. Tot jy later in ’n situasie kom waar dit jou trots is om te speel. En veral toe ek later aangewys is as Springbokkaptein, het ek nog ’n groter verantwoordelikheid gevoel.”

Ek bedoel toe Dok Craven my die baadjie omhang die eerste keer, het ek werklik klein gevoel. En dan is jy naderhand tróts op die baadjie en jy’s trots op die rol wat jy kon speel.

En die roem?

“Jy was trots daarop; die ouens het jou herken as jy in jou Bolandbaadjie of WP-baadjie geloop het en so. Maar om trots te wees is iets . . . Ek is dankbaar-trots, maar daar is ’n trotsigheid wat half oorskry, nè, want jy stoot jou bors uit en sê: Kyk na my. Dít was nooit by my nie; ek dink in ons spanne ook nie. Frik du Preez, groot ouens . . . ons het deur die strate gestap en baie wil jou kom groet. Jy is trots daarop.

“Ek bedoel toe Dok Craven my die baadjie omhang die eerste keer, het ek werklik klein gevoel. En dan is jy naderhand tróts op die baadjie en jy’s trots op die rol wat jy kon speel. Maar nie ’n trots wat meer vra nie.”

Trane die rol

Suzaan en Dawie de Villiers in hul studeerkamer. Foto: Jaco Marais

Suzaan sê haar man is ’n beskeie mens.

“Amper tot jou nadeel, want jy bemark jouself nie. Nou, hier op Stellenbosch, ná al die jare wat ons terug is, is dit tog vir jou lekker as jy êrens deur iemand . . . Daar is natuurlik veral mense wat meer jou ouderdom is [hy word in Julie 78] wat jou herken en dan sal hulle nou kom en jou hand gee – dít beteken vir jou darem baie. Maar toe jy op die kruin was, het jy nie gedink jy is ’n ikoon nie.”

De Villiers beskryf in die boek hoe hy tydens die betogertoer van 1969-70 na die Britse Eilande aan die einde van die wedstryd teen die Barbarians op Twickenham gehuil het.

Dit was een van die moeilikste toere waarop ek was. Dit was ’n betogertoer; jy is agtervolg waarheen jy ook al gegaan het. Dit was ’n onsmaaklike rugby-ervaring en baie spanningsvol.

“Jy kan dit nie op die foto [waar Gareth Edwards en Mike Gibson hom op hul skouers van die veld dra] sien nie. Ek het gehuil soos ’n kind. Dit was nou daardie baie emosionele einde van daardie toer, en ons moes daai wedstryd wen om eintlik te kon terugkom Suid-Afrika toe met die gevoel dat ons ons land eer aangedoen het,” sê hy.

“Dit was een van die moeilikste toere waarop ek was. Dit was ’n betogertoer; jy is agtervolg waarheen jy ook al gegaan het. Dit was ’n onsmaaklike rugby-ervaring en baie spanningsvol.

“En om toe nog te wen . . . Ek dink dit was half ’n verligting, ’n [emosionele] ontploffing. En ons het by mekaar gestaan. Dis ’n ander ding wat in my lewe vir my waardevol was – ek was kaptein van hierdie klomp ouens wat met my maats was, maar ek moes hulle ook inbring en dis groot manne wat vir hulleself dink, jy kan nie vir Frik en Tiny [Neethling] en wie ook al sê: ‘Man, ons gaan dit só doen en klaar,’ nie. Jy moes hulle vertroue wen en deur húlle vertroue te wen, wen jy later die vertroue van die span en hulle glo later in jou. Dít is motivering; jy praat nie so wonderlik nie, maar hulle glo in jou en hulle wil doen soos jy wil hê hulle moet doen.”

Nuwe rol

De Villiers by een van sy gunsteling-Claerhout-skilderye. Foto: Jaco Marais

Oor De Villiers se toetrede tot die politiek skryf Esterhuyse: “Dawie neem in die 1970’s ’n nuwe rol oor: dié van politieke skrumskakel wat, op die lange duur, die oorgang na ’n onderhandelde skikking van die konflik in Suid-Afrika moes help bemiddel. Hy was in dié verband net so vaardig as agter ’n Springbokspan se skrum.”

De Villiers sê hy is vroeg in sy politieke loopbaan deur Nasionale Party-parlementslede as “verlig” geïdentifiseer.

“Ek en ’n paar ander ouens. En ek dink ek het stadigaan, nadat ek gevoel het daar word ’n ónreg teen mense in Suid-Afrika gepleeg, besef ons het ’n morele gewete, maar daai morele gewete het aan die slaap geraak. Ons moet verder dink as net ons eie goedheid of ons eie voorregte of ons eie sukses; ons moet dink aan die lánd, aan ál die mense van die land.

En ek dink dit het sterker gegroei toe daar op ’n vroeë stadium reeds in die politiek mense was wat dúidelik van ons verskil het, wat ’n meer regse, Afrikaner-kom-eerste-houding ingeneem het en minder omgegee het vir ander.

“En toe ek maats gekry het soos Leon [Wessels] en FW [de Klerk] en so, het ons groepie sogenaamde verligtes meer geword – Roelf Meyer en ander. En dít het weer ’n nuwe bevrediging meegebring dat jy kon sien jy kan hierdie skaakspel speel en jy het die regte skuiwe gemaak.”

Die ontwaking van die morele gewete was dus ’n geleidelike proses; daar was nie sprake van ’n Damaskus-ervaring nie?

“Dit het soos ’n klein plantjie gegroei. Nadat hy sy kop uitgesteek het, het hy stadig groter en sterker geword. En ek was nie alleen nie; my maats wat ek gehad het, reeds in daai vroeë tyd van die politieke verloop, het saam met my gegaan. Leon en ek en Willie Esterhuyse en ’n paar van my maats uit Dagbreek het hierdie, wat later bestempel is as ’n verligte siening, gehad om te sê ons is nie die enigste mense in hierdie land nie; daar is ander en ons moet teenoor almal ewe vriendelik wees en voorspoed en wat ook al ontwikkel vir almal.

“So dit het gegroei. En ek dink dit het sterker gegroei toe daar op ’n vroeë stadium reeds in die politiek mense was wat dúidelik van ons verskil het, wat ’n meer regse, Afrikaner-kom-eerste-houding ingeneem het en minder omgegee het vir ander. En ek dink dit is dáárdie momentum wat dit verder bevorder het.”

Op ’n eiland

De Villiers se memoires wat hy met die hulp van Chris Schoeman geskryf het. Dit het onlangs by Zebra Press verskyn. Foto: Argief

Voordat ons vertrek, vra ek Dawie uit oor sy liefde vir lees. Hy het vroeër in die gesprek na Karel Schoeman verwys.

“Ek het die meeste van sy boeke en ek het die meeste gelees. Ek lees nie juis fiksie nie. Ek lees histories gebaseerde boeke soos Tolstoi se War and Peace en Anna Karenina. Dalrymple se werk het ek ook baie geniet – iets soos From the Holy Mountain. Dan lees ek graag biografieë, soos dié oor Lenin en Stalin.”

Hy het onlangs Schoeman se Slot van die dag gelees.

“Ek put baie bevrediging uit die manier waarop hy sy onderwerp opstel; hoe hy dit beskryf, en so aan. Ja, Slot van die dag . . . Maar Op ’n eiland is die eerste boek van hom wat ek gelees het. Dit het my aan die gang gesit met Schoeman; ’n fenomenale werk,” sê hy en vra dan, mymerend, asof aan homself: “Is ons nie almal op eilande nie?”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Dawie De Villiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.