Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Dawie Jacobs van Sterrewag: Kyk verlede nóú in die oë

Suid-Afrikaners kan nie vir altyd by die verlede stilstaan nie, maar hulle kan dit ook nie onder die mat invee en maak asof dit nooit gebeur het nie, het die oud-diplomaat en skrywer Dawie Jacobs aan Gert van der Westhuizen gesê.

Dawie Jacobs glo daar moet stukkie vir stukkie, brief vir brief, gebou word aan versoening in Suid-Afrika. Foto: Deaan Vivier

Wit mense in Suid-Afrika moet van morele restitusie ’n werklikheid maak, glo Jacobs. Soos baie van dié vermaarde openbare briefskrywer se menings, is dít is nie ’n siening waarmee almal sal saamstem nie – veral nie as hulle hoor wat hy daarmee bedoel nie.

“Dit is die erkenning dat apartheid ’n misdaad teen ons mede-landsburgers was,” sê hy. “Restitusie gaan nie net oor politieke of ekonomiese restitusie nie. Dit gaan ook oor die bou van verhoudings, iets wat hier vir geslagte lank afgebreek is.”

Dit is ’n sterk mening, veral in tye soos dié waarin rasse-polarisasie gereeld dreig om die oorhand te kry, maar Jacobs was nog nooit bang om hard en duidelik te sê wat hy dink nie.

Hy is immers dié Dawie Jacobs van Sterrewag, ’n bekende naam in die briewekolomme en op die middelblaaie van koerante. Hy het vir ’n dekade lank eers sy briewe as “Dawie Jacobs, Glenstantia” onderteken, maar die afgelope 20 jaar bly hy in ’n meenthuis in Sterrewag, Pretoria.

Hy is ook nie net as briefskrywer bekend nie. Jacobs was al staatsaanklaer en magistraat, staatsamptenaar, rugbyspeler en diplomaat wat sy land onder die vorige en huidige regering in Duitsland, Uruguay, Griekeland en die Balkan-state verteenwoordig het.

Dawie Jacobs (middel) in 1984 in aksie vir die Bonner-sportklub van Duitsland teen die Suid-Afrikaanse Barbarians.

Dié voormalige losvoorspeler, wat “altyd daarvan gehou het om naby die bal en naby die spel te wees”, het rugby ook probeer gebruik om brûe tussen gemeenskappe te bou. Hy het onder meer ’n toer van ’n Suid-Afrikaanse Barbarian-span in 1984 in Duitsland help fasiliteer.

Ná sy aftrede as diplomaat probeer Jacobs om ’n brugbouer tussen die verskillende groepe in die land te wees en hy is lid van die Groep van 10 en deel van die Defend our Democracy-beweging.

Jacobs, wat die kanker oorwin het wat vyf jaar gelede by hom gediagnoseer is, weet glad nie wat dit beteken om stil te sit nie. Hy stap gemiddeld sowat 30 km ’n week, het al die Camino-staproete kafgedraf (meer as 800 km), skilder, neem foto’s van veral die natuurlewe en besoek gereeld die Krugerwildtuin (soms vir tydperke van tot so lank as ses weke) en probeer om gereeld ’n draai in Clarens te maak, waar hy as gebore Oos-Vrystater tuis voel.

Nou het hy ook ’n boek – Diplomacy of Change: From Apartheid to Democracy – geskryf, waarin hy 73 jaar se lewenservaring met lesers deel.

Soweto en Jimmy Kruger

Dawie Jacobs het nou nog ’n sagte plekkie vir Griekeland, waar hy vier jaar lank Suid-Afrika se ambassadeur was. Dié muurskildery van Magda Cornelius op sy stoep herinner aan ’n tipiese Griekse straattoneel. Foto: Deaan Vivier

Ons gesels daaroor op die stoep van sy meenthuis teen die agtergrond van ’n muurskildery wat ’n tipiese straattoneel in Griekeland, waar Jacobs vier jaar lank Suid-Afrika se ambassadeur was, uitbeeld. Kunswerke wat hy in sy loopbaan in verskeie lande gekoop het, hang in die leefvertrek en ingangsportaal: onder meer dié van ’n brug in Sarajevo en ’n hawetoneel in Uruguay met twee mense wat die tango dans. Bo die kaggel hang ’n kleurvolle skildery van arbeiders in Uruguay wat suikerriet oes.

In die eetkamer staan een van sy eie werke op ’n esel. Dit beeld twee vissershuisies uit.

Die televisie is op CNN ingestel en op die koffietafel lê verskeie boeke, onder meer Bill Bryson se A Short History of Nearly Everything, Robin Sharma se The Monk Who Sold His Ferrari en Steven Pinker se Enlightenment Now: The Case for Reason Science, Humanism, and Progress.

Jacobs sit vir ons gevulde pannekoekies en frikkadelle saam met koffie voor. Hy sit ook ’n bakkie neute op die stoeptafel neer voordat ons op ’n ongewoon koue vroegwintersoggend oor sy boek begin gesels.

Dawie Jacobs by ’n kopie van sy boek, ‘Diplomacy of Change: From Apartheid to Democracy’. Dit word deur Malan Media uitgegee en kos R325. Foto: Deaan Vivier

Hy was nie juis van plan om ’n boek te skryf nie, maar van sy vriende het hom oortuig om dit wel te doen. Hy is egter bly dat hy dit uiteindelik gedoen het. “Ek was bevoorreg om daai lewe te gehad het en my gevoel is jy moet dit deel. Ervaring onder ’n maatemmer beteken niks.”

Wat hy in sy boek vertel, sal vir baie lesers van sy koerantbriewe nie net nuut wees nie, maar sal hulle ook baie beter insig gee in die ervarings wat Jacobs se denke help vorm het. Hulle sal onder meer lees dat hy sekretaris was van die Cillié-kommissie wat ondersoek ingestel het na die oorsake van die opstande van 1976 in Soweto. Hy skryf byvoorbeeld oral waar hy destyds gegaan het, was wit mense in die beskuldigdebank en die uitspraak was verdoemend: Skuldig, skuldig, skuldig . . .

Hy was daarna vir ’n rukkie Jimmy Kruger, destydse minister van justisie, se privaat sekretaris. Hy was nie juis baie gelukkig in dié pos nie en het besluit om ’n ander heenkome te soek ná Kruger se berugte woorde dat die moord op die swartbewussynsaktivis Steve Biko hom “koud” gelaat het.

Lesse as diplomaat

Dawie Jacobs in gesprek met Slobodan Milosovic, eertydse president van Joego-Slawië. Dit het gevoel asof hy die hand van Adolf Hitler skud, sê Jacobs oor dié ontmoeting.

Hy het toe ’n draai in Pik Botha, minister van buitelandse sake, se kantoor gemaak voordat hy met sy lang diplomatieke loopbaan begin het. Jacobs vertel dat hy in 1981 lid van die Progressiewe Federale Party geword het, ’n ongewone stap vir staatsamptenare in die era toe die Nasionale Party aan bewind was. Hy is in ’n stadium gevra om ’n parlementêre kandidaat vir dié party te wees, maar het dié versoek van die hand gewys omdat hy eerder dinge van binne die stelsel wou probeer verander.

Daaroor is hy nie spyt nie. Die lesse wat hy as diplomaat geleer het, kom hom deesdae nuttig te pas in sy rol as versoener.

“Ek het rassisme en diskriminasie gesien in elke land waar ek gedien het,” sê Jacobs. “In die Balkan-state het ek ook gesien hoe belangrik dit is om verhoudings wat oor geslagte lank afgebreek is, te probeer herstel. Dit is iets waaraan jy deurentyd moet werk.”

Wit Suid-Afrikaners kan ’n goeie begin in dié opsig maak deur om verskoning te vra vir apartheid, sê Jacobs.

Dawie Jacobs inspekteer ’n erewag in Sofia, Bulgarye.

“Mense sal vir my vra hoekom hulle nog om verskoning moet vra vir apartheid. Hulle sal sê: ‘Ons het al genoeg om verskoning gevra.’ En dan sê ek net: ‘Oukei, sê vir my waar het jy om verskoning gevra?’

“En dan verdwyn hulle. Daar’s niemand nie. Daar was een ou wat toe nou so half gesê het: Ja, hier in sy eie dampkring het hy nou ’n paar ouens om verskoning gevra. Maar daar was nog nooit . . . jy weet hulle was onmiddellik kwaad: ‘Hoekom moet ons jammer sê?’ ”

Volgens Jacobs is daar nooit by die Waarheid-en-versoeningskommissie werklik om verskoning gevra nie. Daarom het Suid-Afrikaners platforms nodig waar hulle met mekaar kan praat, waar hulle, soos hy dit stel, dinge kan uitpraat. Waar hulle sommer net lekker kan sit en gesels, want dit is ’n baie belangrike eerste stap op die pad na ware versoening.

Om versoening te leef

Skilder is een van die bedrywighede waarmee Dawie Jacobs homself besig hou. Foto: Deaan Vivier

Hulle moet egter nie probeer om die verlede onder die mat in te vee nie. Dit is wat oudpres. FW de Klerk probeer doen het toe hy nie wou erken dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was nie, sê Jacobs.

“Dit het woede veroorsaak, pyn en woede. Dit het my so aangegryp . . . ek het daai Vrydagnag gesit . . . ek was regtig ontsteld, ek was uiters ontsteld. Ek het deur die nag gewerk en net gevoel hierdie ding moet reggestel word.”

Die gevolg was die verklaring wat onder die naam van die Groep van 10 uitgestuur is en sedertdien al deur 1 000 mense onderteken is.

“So ek dink net ons moet regtig die ding in die oë kyk en besef wat ons gedoen het. Iets waaroor ek baie sterk voel, is dat ons as wit mense net weer moet besef dat ons beskeie moet wees. Jy moet kritiseer wat vandag verkeerd is, dit doen ek ook, maar jy moet net meer beskeie wees. Dit maak mense seer wat in die verlede gely het as daar steeds op hulle neergekyk word.”

Volgens Jacobs het die Groep van 10 se verklaring vir die eerste keer ’n landwye platform geskep waar mense wat deur apartheid bevoordeel was, kan sê hulle is jammer. Dit is alles deel van ’n deurlopende proses, want versoening is nie iets wat oornag tot stand gebring kan word nie.

dawie

“Versoening moet geleef word,” glo Jacobs.

Die briewe wat hy so gereeld vir koerante skryf en sy meningsartikels in veral die Sowetan, is een van die maniere waarop Jacobs versoening probeer leef.

“Ek is ’n diplomaat en nie regtig ’n vegter nie en ek hou nie van baklei nie. Maar ek het sterk standpunte.”

Dikwels krap van dié sterk standpunte lesers om en Jacobs loop gereeld onder kritiek deur.

Is dit dan nog die moeite werd om daarmee aan te hou?

“Baie mense het vir my gesê ek moenie daarmee ophou nie. Soms is ouens so negatief en krities dat ek ook partymaal gewonder het: Ag, hoekom doen jy dit aan jouself? Is dit nou nodig? Maar dan besef ek net daar is ook ouens wat dit geniet.

“As jy koppe kan draai en op daai manier ’n bydrae kan maak, dan doen jy dit. My hele doel is ook om uit te reik daarmee. Dit neem tyd. So jy moet maar aanhou en aanhou en aanhou . . .”

Meer oor:  Fw De Klerk  |  Pik Botha  |  Steve Biko  |  Dawie Jacobs  |  Suid-Afrika  |  Uruguay  |  Duitsland  |  Griekeland  |  Versoening  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.