Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Demokrasie, nie dividende
Dr. Kate Skinner, uittredende uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse redakteursforum. Foto: Carla Lewis

Dis een van die donkerste tye in die moderne media se geskiedenis, maar te midde van Covid-19 is daar ook groen lote te bespeur, het Kate Skinner aan Carla Lewis gesê.

‘Die mediawêreld het reeds voor die pandemie met groot probleme gesit,” sê dr. Kate Skinner, uittredende uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef­).

Daar was dalende sirkulasies by die drukmedia, nuuskantore het kleigetrap met beperkte hulpbronne, vryskutte moes raap en skraap vir werk.

“Die sektore binne die media wat myns insiens die meeste gesukkel het, was die vryskutkorps, drukmedia en gemeenskapsmedia. Dit het reeds hinkepink daar gegaan.”

Ons gesels in haar tuiskantoor in een van Johannesburg se boomryke noordelike voorstede. Buite is haar tuin bedek met ’n laag plataanboomblare en haar wollerige pokkelronde Siberiese woudkat kom soek elke nou en dan toenadering by sy nooi.

“Toe gebeur Covid-19 . . .” As jou nuuskantoor reeds onder druk was, het Covid-19 dit vererger of dit in ’n volskaalse krisis verander.

“Ek weet van vryskutte wat tot 80% van hul inkomste verloor het toe die tydskrifte een ná die ander begin vou het.

“Gemeenskapskoerante moes ook hul drukoplae staak en aanlyn beweeg. Ten tyde van die eerste deel van die inperking is sowat 700 mediawerkers hul werk kwyt. Dis nog voordat die Media24-groep en Primedia (wat onder meer 97.47, 702 en EWN besit) met afleggings begin het.”

Dit het soos ’n uitwissing gevoel, sê sy, maar uit hierdie smeulende puin van vernietiging was daar darem ook groen lote van hoop wat later begin kop uitsteek het.

Sy was aangenaam verras deur die private sektor se ondersteuning, en bereidwilligheid om van hul korporatiewe sosiale verantwoordelikheid-begroting aan Sanef se hulpfonds toe te ken.

Hulp van buite

Sanef het Julie verlede jaar ’n Covid-19-hulpfonds begin om joernaliste by te staan wat afgelê is.

“Ek was regtig aangenaam verras deur die private sektor se ondersteuning en bereidwilligheid om van hul korporatiewe sosiale verantwoordelikheid-begroting aan die hulpfonds toe te ken.”

Korporatiewe maatskappye bestee jaarliks ’n deel van hul begroting aan korporatiewe sosiale verantwoordelikheidsaktiwiteite – kortweg hul KSV. Dit is ’n vorm van korporatiewe filantropie waar ’n maatskappy terugploeg in die samelewing of gemeenskap.

“In die verlede het maatskappye ’n piepklein deel van die begrotings aan vryheid van spraak of mediavryheid bestee,” sê Skinner­.

“Die meeste daarvan word eerder aan onderwys en opvoedingsprojekte toegeken, wat natuurlik bitter belangrik in ’n land soos Suid-Afrika is. Sanef se Covid-19-hulpfonds het R5 miljoen van die private sektor ingesamel.

“Dis ’n teken dat die private en die korporatiewe sektor besef ’n stabiele, diverse media is noodsaaklik vir ’n land se demokrasie. Voor Covid-19 was ons nie werklik op die radar wanneer maatskappye hul KSV-begrotings uitgewerk het nie.

“Die groot bedrae skenkings bewys ook dat die sektor nie lippediens toon wanneer hulle praat oor ’n vrye media en gehaltejoernalistiek nie.”

Dawid teen Goliat

Sanef het reeds ’n deel van die R5 miljoen-hulpfonds gebruik om sukkelende joernaliste wat hul werk verloor het en vryskutte geldelik uit te help.

“Dis belangrik, maar dis net ’n korttermynoplossing. As die geld op is, is dit op. Sanef gebruik ook ’n deel daarvan om langtermyn- volhoubare mediamodelle te ondersoek wat ’n blywende impak op joernaliste se werksekerheid kan hê.”

Een daarvan is ’n strategie om internetreuse, soos Google en Facebook, aan te vat wat die leeueaandeel van elektroniese media se advertensie-inkomste ontvang.

Maar, beklemtoon sy, die Suid-Afrikaanse mediasektor kan dit nie alleen doen nie. Dis ’n Dawid-teen-Goliat-stryd en hy gaan ekstra hulp benodig.

“Die Suid-Afrikaanse mediasektor is te klein.

“Daar moet samewerking wees tussen die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG)-streek se media-instellings, selfs die hele Afrika-vasteland moet betrek word. Ons moet ook ondersteuning op nasionale regeringsvlak hê.”

Die onlangse magstryd tussen Australië en Facebook wys daar word ook vordering gemaak om die internetreuse se invloed in te perk, meen sy.

Australië en die internetreus was in Februarie in ’n twis gewikkel nadat die Australiese­ regering groot internetmaatskappye wou dwing om te betaal vir nuus wat op hul platforms versprei word.

Mark Zuckerberg en kie se reaksie­ daarop was om alle media-inhoud op die platform te weerhou. Dit het wêreldwyd kritiek ontlok.

Josh Frydenberg, Australiese tesourier, en Zuckerberg, Facebook se baas, het later ’n ooreenkoms beklink. “Australië moes ’n paar toegewings teenoor Facebook doen, maar daar was ook ’n hele paar oorwinnings.

“Dit skep ’n presedent vir ander mediamarkte omdat talle lande ook besig is om soortgelyke wetgewings te ondersoek vir volhoubare,­ toekomstige mediafinansiering,” sê Skinner.

Die pers moet op dieselfde manier as openbare gesondheidsorg en onderwys benader word – iets wat van openbare belang is en tot voordeel van almal strek, meen dr. Kate Skinner.

Dividende van demokrasie

Dis ’n stadige maar duidelike bewusmaking wat wêreldwyd deursuur na regerings, ondernemings en die publiek: ’n Vrye, regverdige en onafhanklike media is onontbeerlik vir die voortbestaan van demokrasie – maar dit kos geld.

As jy nie bereid is om die media te finansier nie, kan dit ernstige probleme vir demokrasie inhou, beklemtoon sy.

Die dae van groot mediamagnate, toe ’n mens ’n sakeryk kon bou op nuus se winste, is ook vir ewig verby.

“Die media moet op dieselfde manier as openbare gesondheidsorg en onderwys benader word – iets wat van openbare belang is en tot voordeel van almal strek.

“Gehalte-, onafhanklike joernalistiek kos geld, nes goeie gesondheidsorg en onderrig,” beklemtoon sy.

“Maar wanneer mediahuise suiwer wins as hul hoofbeleggingsopbrengste ten doel stel, gaan dit nie op lang termyn volhoubaar wees nie.

“As jy vryheid van spraak en die voortbestaan van ’n werkende demokrasie en wêreldorde as deel van jou dividende sien, gaan dit die moeite werd wees.

“Ek sê nie nuus en wins is onversoenbaar nie, daar kan sekere dele van jou onderneming wees wat op suiwer wins gemik is. Hoe meer divers jou inkomstemodel, hoe meer volhoubaar gaan jou onderneming ook wees.

“Maar ons het die laaste paar jaar gesien hoe vernietigend mediahuise kan wees wat sensasionele, eensydige beriggewing najaag en profyt en kyksyfers bo openbare belang en demokrasie stel.”

Mag en die waghond

Dis nie net die private sektor wat moet inspring en die media uithelp nie. Lande wat aan die bokant van die wêreldwye indeks is wat mediavryheid betref, word deur die staat gesubsidieer. Dis lande soos Noorweë, Finland en Denemarke.

“Dis almal lande met goeie, funksionerende demokratiese regerings. Só skep jy hierdie positiewe, deugsame kringloop. ’n Vrye media versterk die demokrasie van ’n land, wat dit ’n beter plek maak vir sy landsburgers omdat die media die mag verantwoordbaar hou.

“Die landsburgers is dan ook meer geneë om weer steun aan die media te bied.”

Hoewel die Suid-Afrikaanse regering en die Suid-Afrikaanse media nog altyd ’n gespanne en in die verlede selfs ’n vyandige verhouding gehad het, het Sanef ook ten tyde van die Covid-19-krisis gesien hoe die regering uitgereik het na die media, sê sy.

Jackson Mthembu, minister in die presidensie, het in die weke voordat hy dood is saam met Sanef­ gewerk om pres. Cyril Ramaphosa­ se verbintenis tot beter samewerking tussen die regering en die media te volbring.

Hy was ook besig om die eerste lekgotla in tien jaar tussen die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) en Sanef te reël. “Die feit dat die regering bereid is om die voortbestaan van ’n vrye media en volhoubare finansieringsmodelle daarvoor te ondersoek, is ’n groot stap in die regte rigting,” meen sy.

Nuuswoestyne

Ná haar uittrede vandeesmaand by Sanef beplan Skinner om haar toe te spits om gehalte-, gesaghebbende nuus meer toeganklik aan alle Suid-Afrikaners te maak.

“Ten tyde van die staat van inperking het ons gesien hoe nuusverbruik die hoogte ingeskiet het. Mense was desperaat vir profes­sionele, geverifieerde beriggewing.

“Ons het ook gesien hoe nuuswebwerwe en uitsaaidienste se metriese syfers toegeneem het. Maar Suid-Afrika sit met van die wêreld se duurste datakoste en sluit arm Suid-Afrikaners uit.

“Ten tyde van die inperking kon mense nie ingaan werk of kantoor toe nie waar hulle miskien gratis WiFi-internettoegang sou kry.”

Goeie, gesaghebbende beriggewing sit dikwels agter betaalmure en selfs al kan jy toegang verkry tot gratis nuus, gebruik dit data, sê sy.

“Een moontlikheid wat ek tans ondersoek, is hoe ons nuuswebwerwe datavry kan maak, soos talle opvoedkundige webwerwe tans is.”

Sy wil ook die sogenaamde “nuuswoestyn”-fenomeen ontrafel, iets wat sy as ’n krisis in die nuussektor en ’n fundamentele bedreiging vir demokrasie beskou.

’n Nuuswoestyn is ’n area of streek wat min of geen mediadekking ontvang.

“Mediahuise en die openbare uitsaaier sluit al hoe meer streekkantore as deel van kostebesparings. Plaaslike gemeenskapskoerante het met Covid-19 een ná die ander gevou of net aanlyn begin publiseer. Die probleem is dat daar nie dikwels genoeg kennis en opleiding is om ’n gehalte- aanlyn produk aan plaaslike lesers te bied nie.

“Dis nou belangriker as ooit om gemeenskapsjoernalistiek te versterk. Ek glo dit kan gedoen word, mits groter mediahuise bereid is om samewerkingsooreenkomste met die kleiner gemeenskapsnuusdienste aan te gaan.

“Hulle is belangrike nuusverskaffers en gewoonlik eerste om ’n plattelandse storie te breek omdat hulle kontakte in die gemeenskap het en op voetsoolvlak ingegrawe is. Só kan almal by dié soort verhouding baat vind.

“In die verlede het joernaliste ook eers by gemeenskapskoerante ervaring opgedoen voordat hulle na die groter, gesaghebbende publikasies beweeg het. Dit was ’n uitstekende leerskool. Soos die publikasies sluit, is dit ’n nekslag vir jong joernaliste se ontwikkeling en opleiding.”

Nuuswoestyne is ook ongelooflik gevaarlik, want daar is nie ’n media wat waghond speel en mag verantwoordelik hou nie, beklemtoon sy.

“Boonop sluit ons ’n groot deel van ons bevolking uit by die na­sionale diskoers. Hoe weet die media wat mense in landelike, verafgeleë gebiede dink en ervaar as hulle nie korrespondente daar het nie?”

As die trolle kom

Een ding waaroor sy wel spyt is, is dat sy nie in haar ampstermyn by Sanef meer vordering kon maak om vrouejoernaliste teen kuberboelies en aanlyn haat te beskerm nie.

Kampvegter

Media-aktivisme was nog altyd haar hoofdryfkrag, veral wanneer dit kom by gemarginaliseerde gemeenskappe.

Sedert 1994 was sy ’n kampvegter vir diversiteit en ontwikkeling en het ervaring by die vakverbond Cosatu, asook die Mvula Trust, ’n nieregeringsorganisasie in die watersektor, opgedoen.

Sy het al in die openbare én die private sektor gewerk. In 2000 was sy die media-en-kommunikasie-adviseur vir die departement van samewerkende regering.

Die SAUK bly vir haar ’n hartsaak. Sy is die stigter en koördineerder van die Support Public Broadcasting (SOS) Coalition, ’n drukgroep wat hom beywer vir die herstel van die openbare uitsaaier. Sy het aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer en het ’n doktorsgraad in die joernalistiek. Die tesis vir haar doktorsgraad handel oor beleidsveranderinge binne die SAUK en mediadiversiteit.

“Alle joernaliste loop die gevaar om aanlyn geteister en gedreig te word, maar internasionale navorsing en medianeigings wys aan ons vroue ontvang die leeueaandeel daarvan.

“Ek het gesien hoe dapper, sterk vrouejoernaliste wat ondersoekende werk doen en verslag lewer oor magtige regerings- en politieke figure en verregse organisasies, met die afskuwelikste vitrioel te doen kry.

“Ek het destyds, met die 2019-verkiesing, dreigemente wat wyle joernalis Karima Brown van EFF-ondersteuners ontvang het, onder oë gehad. Dis afgryslik, soos om in ’n rioolput van die mensdom se donkerste wese te swem.

“Jy sal nie die doodsdreigemente en die seksuele geweld waarmee sy gedreig is, glo nie. Iemand kan miskien die gehardste, mees ervare joernalis wees, maar niemand sal onaangeraak wees deur dié soort aanlyn geweld nie.”

Sy sê mense besef ook nie hoe traumaties en fel die aanlyn boeliegedrag kan wees totdat die toorn van die Twitter-trop op jou toesak nie. “Dis aanhoudend, dis genadeloos en dis ’n georkestreerde aanval. Hulle sal aanhou en aanhou en aanhou om jou te straf totdat jy ingee en bedank.”

Daar moet wetgewing wees om met dié soort kubermisdadigers af te reken, meen sy.

“Toe Sanef destyds die gelykheidshof genader het om die EFF aan te vat oor haatspraak teenoor joernaliste . . . dit was nie die regte roete om te volg nie,” gee sy toe.

“Ek besef dit nou, ter nabetragting. Ons het dit gedoen omdat ons gedink het daar sal ’n vinnige uitspraak oor die kwessie gelewer kan word voor die verkiesing.”

Die trolle het ook negatiewe nagevolge vir die joernalistieke beroep en diversiteit in nuuskantore.

Talle uitstekende, bekwame vrouejoernaliste verlaat die beroep omdat hulle nie veilig voel nie en dit hul geestesgesondheid affekteer.

“Boonop sien ons ook nou hoe joernaliste selfsensorskap toepas en nie die moeilike kwessies aanroer nie omdat hulle nie kans sien vir die aanlyn teistering, doodsdreigemente en skending van hul privaatheid nie.

“En hoe gevaarlik word dit wanneer mense nie meer kans sien om ongerymdhede bloot te lê nie en misdadige politici toelaat om skotvry weg te kom? Hierdie soort teistering is in sy kern ondemokraties.”

Nuuskantore, redakteurs en mediamaatskappye moet hul mediawerkers­ ook verseker dat hulle die nodige beskerming, ondersteuning en hulpbronne aan hulle sal bied, sou ’n trop internettrolle op een van hulle toesak, meen sy.

Hoe sal sy wou afreken met die kuberboelies?

“Maak voorbeelde van hulle,” verklaar sy.

“Kyk wie dreig joernaliste aanlyn en met seksuele geweld en moord. Spoor hulle op, vervolg hulle strafregtelik en laat hulle tronkstraf uitdien. ’n Aanlyn trol moet twee keer dink voordat hy ’n joernalis met verkragting dreig en wéét hy gaan ingevolge wet vir sy dade verantwoordbaar gehou word.”

  • Carla Lewis is ’n senior redaksielid van Beeld.
Meer oor:  Sanef  |  Kate Skinner  |  Sirkulasiesyfers  |  Joernalistiek  |  Media  |  Persvryheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.