Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Derde vlaag: ‘Jy vóél die vrees en benoudheid in die sale’

Prof. Graeme Meintjes is ’n veteraan van die vigsstryd, maar die angs en die eensaamheid van die huidige pandemie kry hom steeds onder. Hy het vir Willemien Brümmer gesê die Groote Schuur-hospitaal is nog ver van sy draaipunt tydens die derde vlaag.

Die infeksiesiektes-spesialis prof. Graeme Meintjes in sy kantoor in die Groote Schuur-hospitaal in Observatory, waar meer as ’n derde van die pasiënte tans vir Covid-19 behandel word. Foto: Jaco Marais

Die verpleegsters staan in ’n lang erewag en hulle sing, klap hande en ululeer toe die haas onmoontlike gebeur en ’n pasiënt wat weke lank aan ’n ventilator gekoppel was, uiteindelik huis toe gaan.

Vir die infeksiesiektes-spesialis prof. Graeme Meintjes is dít van die roerendste oomblikke by die Groote Schuur-hospitaal en dis dit wat hom staande hou sedert die begin van die pandemie. Dié adjunkhoof en tweede voorsitter van die departement van medisyne by die Universiteit van Kaapstad en Groote Schuur-hospitaal bly ’n oomblik stil daar waar hy in sy kantoor in die ou hoofgebou sit met sy panoramiese uitsig oor Kaapstad.

As ’n veteraan van die vigsstryd en een van die wêreld se top infeksiesiektes-spesialiste, het hy al vroeg in sy loopbaan geleer hoe om pasiënte te help om met waardigheid te sterf.

Tydens die Mbeki-era het hy gewoond geraak aan die chroniese stigma en die jong vigspasiënte wat met die een opportunistiese infeksie ná die ander inkom en uiteindelik sterf omdat hulle nie toegang het tot lewensreddende medisyne nie.

Mense wat ’n paar dae gelede perdfris was, is skielik kritiek en daar is nie noodwendig tyd om dit te verwerk en dit met hulle te bespreek nie; jy probeer net om hul lewens te red.

Nou, byna 20 jaar later, is hierdie tweede pandemie egter geensins makliker nie. “Die sterftes weens Covid-19 is net soveel vinniger,” sê hy, waar hy agter ’n ronde tafel in sy kantoor sit.

“Mense wat ’n paar dae gelede perdfris was, is skielik kritiek en daar is nie noodwendig tyd om dit te verwerk en dit met hulle te bespreek nie; jy probeer net om hul lewens te red.”

Hy sug byna ongemerk: Dié voorsitter van die leerstoel in armoedeverwante siektes is nie een vir klagtes of grootdoenerige emosie nie. “Covid-19 is net soveel meer katastrofaal en jy vóél die vrees en die benoudheid in die sale. Jy besef hoe eensaam en geïsoleer die pasiënte is en in sommige opsigte is dit aansienlik moeiliker as met MIV.”

Dis dáárom dat die verpleegsters se erewag tydens die pandemie vir hom so roerend is. “Dis geen geringe prestasie nie. Net die kennis van al die werk en inspanning en opoffering en toewyding wat dit gekos het om daardie persoon se lewe te red sodat ons hulle nou aan hul familie kan terugbesorg . . .”

Tussen bendes en dwaalkoeëls

Hier by die Groote Schuur-hospitaal in Observatory is die einde van die derde vlaag nog net ’n koorsdroom. Dié Maandagoggend is meer as ’n derde van die pasiënte in die hospitaal Covid-19-pasiënte en die hospitaal is net so besig soos tydens die tweede vlaag. “Ons het die piek waarskynlik op dieselfde tyd as tydens die tweede vlaag bereik, maar die piek duur hierdie keer langer as vantevore,” sê hy.

In die Groote Schuur-hospitaal, waar die piek van die epidemie nog nie ’n draaipunt bereik het nie.

“Ons sal later die data ontleed, maar die gevoel wat ons kry in die Covid-19-sale, is dat dit net so intens is as tydens die tweede vlaag. Dit is net meer uitgerek.”

Hy trek die blou chirurgiese masker hoër oor sy neus. Agter hom op sy boekrak is talle pryse en ’n skermgreep van eNCA waar hy op 17 Februarie skuins agter pres. Cyril Ramaphosa gestaan het toe laasgenoemde sy Johnson & Johnson-inenting kry. “Ons is báie vol op die oomblik. Namate die getalle styg tydens elke vlaag, maak ons die ander sale toe en maak dit Covid-19-sale, maar jy kom op die punt waar jy jou moet afvra watter saal kan jy volgende sluit en het jy nog personeel? Ons is nou daar. Gelukkig het ons nog nooit pasiënte weggewys nie en indien hulle suurstof benodig, dan kry hulle dit.”

Die dilemma is wel dikwels wie word geëskaleer vanaf die standaard-gesigmasker met suurstof na meer intensiewe terapieë, soos die hoëvloei-nasale suurstof in die hoësorg-eenheid of die ventilators in die Covid-19-waaksaal.

Hy aarsel, kies sy woorde versigtig. “Daar wás al situasies waar die stelsel so oorweldig is dat ons nie die ideale behandeling kon aanbied nie, maar ek dink die stelsels werk.”

Meintjes het internasionaal bekendheid verwerf vir sy navorsing oor pasiënte met gevorderde MIV wie se immuunstelsel só uitgeput is dat hulle ernstige komplikasies ontwikkel. Foto: Jaco Marais

Dié pa van drie en veteraan van 21 marathons lei saam met die kardioloog prof. Ntobeko Ntusi die medisyne-departement se beplanning en reaksie op die pandemie. Gelukkig is hy op ’n manier voorberei op die huidige pandemie tydens die jare toe hy by die destydse G.F. Jooste-hospitaal in Manenberg gewerk het – ’n slagveld tussen bendes en dwaalkoeëls wat party dae soos ’n oorlogsone gevoel het.

“Ek dink Jooste was ’n baie goeie voorbereiding, nie net vir my nie, maar vir baie dokters wat daar gewerk het. Ek het die MIV/vigs-kliniek saam met dr. Kevin Rebe bestuur, maar soms het ek ook by ander departemente soos in die noodeenheid gewerk. Daar was altyd meer om te doen as wat menslik moontlik was op enige gegewe dag en op enige gegewe tydstip. Jy moes besluit hoe jy sou prioritiseer met die hulpbronne tot jou beskikking – nie net wat medisyne of befondsing betref nie. Daar was ook ’n beperkte getal ure in ’n dag en jy moes dit aanwend vir diegene wat die meeste daarby sou baat vind en jy moes jou energie bestee aan diegene wat die beste uitkoms sou hê.

Sedert die begin van die pandemie het 18 personeellede by die Groote Schuur-hospitaal al gesterf.

“Partykeer sou jy voel die omstandighede is heeltemal oorweldigend en jy sou jouself afvra wat jy nou eintlik regkry en of jy werklik ’n verskil maak? Maar dan moes jy tog ’n entjie terugstaan en na die groter prentjie kyk en besef die diens red wél lewens en ons maak wél ’n verskil, al sien ons baie sterftes.”

Sedert die begin van die pandemie het 18 personeellede by die Groote Schuur-hospitaal al gesterf. Daar was egter veral een sterfte wat hom sou bybly. “Dit was ’n pasiënt in sy 50’s wat ingekom het gedurende die eerste vlaag en hy was ’n fantastiese gemeenskapsaktivis en gesondheidsaktivis. Hy het bloedklonte ontwikkel as ’n komplikasie weens Covid-19 en hy het as gevolg daarvan gesterf. Dit was die eerste keer dat ons só iets gesien het. Iemand wat só baie van gesondheid geweet het en só baie gedoen het. Hy het só baie mense se lewens aangeraak en daar was net so baie emosie ná sy dood . . .”

Hy bly ’n oomblik stil. “Elke liewe pasiënt het sy eie storie en agtergrond, maar jy sien dit nie altyd nie. Dít was die een wat vir my uitgestaan het.”

’n Variant-bestande entstof?

Meintjes het internasionaal bekendheid verwerf vir sy navorsing oor gevorderde MIV, maar die afgelope maande was hy veral plaaslik in die nuus vanweë ’n vernuwende kandidaat-entstof teen Covid-19. As leier van die kliniese platform van die Wellcome-sentrum vir Infeksiesiektesnavorsing in Afrika (CIDRI-Africa) help toets hy dié tweedegenerasie-entstof van ImmunityBio, wat hopelik nuwe variante van Ears-CoV-2 sal kan takel.

Prof. Graeme Meintjes staan skuins agter pres. Cyril Ramaphosa by die Khayelitsha-hospitaal toe hy op 17 Februarie vanjaar sy inenting kry as deel van die Sisonke-proewe. Meintjes was betrokke by die studies om dié entstof (Johnson & Johnson) te toets. Foto: Getty Images

Die entstowwe wat tans toegedien word, is ontwerp om slegs weerstand teen die virus se stekel-proteïen te bied, maar die probleem is dis juis hier waar die meeste mutasies voorkom.

ImmunityBio se hAd5 T-sel entstof teiken ook die nukleokapsied, ’n proteïen wat minder geneig is om te muteer en só die entstof se doeltreffendheid te belemmer. Dié kandidaat-entstof sal hopelik ook veroorsaak dat die immuunstelsel nie net teenliggame vervaardig nie, maar ook hoë vlakke van T-selle, wat vir langtermyn-immuniteit kan sorg.

Dit word binnekort hier getoets as onder meer ’n neussproei onder mense wat reeds Covid-19 gehad het om te sien of dit hulle kan beskerm daarteen om enigsins met die virus besmet te word.

Boonop is dit ontwikkel as onder meer ’n inspuiting, ’n neussproei en selfs ’n pil wat gebruikers onder hul tong kan sit.

Volgens Meintjes is dié T-sel-entstof nog in fase 1 van die kliniese proewe, en die toetse onder 30 mense wat hier gedoen is, het bewys dis veilig. Dit word binnekort hier getoets as onder meer ’n neussproei onder mense wat reeds Covid-19 gehad het om te sien of dit hulle kan beskerm daarteen om enigsins met die virus besmet te word. (Die huidige entstowwe verhoed nie noodwendig infeksie nie, maar dit is beduidend doeltreffend om mense teen ernstige siekte en die dood te beskerm.)

Die ImmunitiBio-entstof gaan ook onder gesondheidswerkers getoets word wat as deel van die Sisonke-proewe reeds met die Johnson & Johnson-entstof (J&J) ingeënt is om onder meer te sien of dit sogenaamde deurbraakinfeksies kan verhoed.

Meintjes: 'Wanneer jy kies om medies te studeer, dan weet jy jy gaan sterftes sien. Dit gaan daaroor dat jy dit moet kan behartig, dat jy ander moet help om dit ook te doen en dat jy versorging en waardigheid in hierdie proses moet help verskaf.' Foto: Jaco Marais

“Ons hoop hierdie entstof sal daardie ligte tot matige infeksies kan verhoed, wat steeds algemeen is, en dat die risiko vir asimptomatiese infeksie verlaag kan word,” sê hy. “Alle entstowwe verlaag die risiko vir infeksie en geringe siekte, maar hierdie een sal hopelik beter werk.”

Samesweringsteorieë en disinformasie

Dit beteken egter nie dat die huidige entstowwe nie lewens – en selfs ’n hele land – kan red nie, beklemtoon hy. Hy is uiters gefrustreerd oor al die disinformasie wat in gemeenskappe en op sosiale media oor hierdie entstowwe versprei word. “Ek weet nie wat mense se oogmerk daarmee is om die wetenskap te ondermyn nie, maar die entstowwe is op ’n baie nougesette manier ontwikkel en getoets. Ek was betrokke by van daardie studies en ek kan getuig daarvan dat dit uitstekend gedoen en gemoniteer is en die wetenskaplike getuienis is dat die voordele verreweg die potensiële newe-effekte oortref.”

Meintjes was die afgelope maande veral plaaslik in die nuus omdat hy help om ’n vernuwende kandidaat-entstof teen Covid-19 te toets wat hopelik nuwe variante kan help teiken. Foto: Jaco Marais

Hy sug. “Maar jy weet, om die een of ander rede is daar hierdie teen-wetenskaplike samesweringsteorieë wat enorme implikasies het vir ons vermoë om die virus te troef en om eendag anderkant uit te kom. Oor ’n paar maande gaan ons ’n vierde vlaag hê en die effek op sterftes en op ons hospitale gaan totaal daarvan afhang of die volwasse bevolking reeds in groot getalle ingeënt is met die entstowwe wat ons het.

“Indien 90% en meer volwassenes bo 35 teen daardie tyd ingeënt is, sal dit slegs ’n geringe invloed op ons hospitale hê en dit sal lei tot weinig sterftes.

“Indien slegs 50% van mense bo 35 ingeënt is, sal ’n reuse-getal mense steeds vatbaar wees vir ernstige siekte en ons gaan iets sien wat naby is aan wat ons nou sien.”

Eers in Mei vanjaar was daar werklik toegang vir mense bo 60 en dit was te laat vir ’n beduidende effek op die derde vlaag in hospitale.

Is hy gefrustreerd oor die aanvanklike slakkepas van Suid-Afrika se inentingsprogram?

Hy knik heftig. “Diegene met die hoogste risiko vir sterfte is mense oor 50 en diegene met onderliggende siektes. Eers in Mei vanjaar was daar werklik toegang vir mense bo 60 en dit was te laat vir ’n beduidende effek op die derde vlaag in hospitale. Ek dink daar was moontlik reeds ’n invloed op die bejaarde bevolking, maar as ons dit aan ’n groter getal van mense bo 50 kon gegee het, sou dit die trajek verander het.”

’n Sonsopkoms

Wens hy ooit alles kon net na normaal terugkeer?

Sy oë is vol hunkering.

Prof. Meintjes voor hierdie landskap deur die kunstenaar Hermann Niebuhr, sy vriend vir wie hy verlede jaar een naweek gaan kuier het op De Rust terwyl hy in die Covid-19-hoësorgeenheid gewerk het. Foto: Jaco Marais

“As ons net weer ons land en ons gesondheidstelsel kon begin herbou . . .”

Hy kies sy woorde versigtig. “Vir die mediese gemeenskap, net soos vir elke ander Suid-Afrikaner, was die pandemie ontsettend ontwrigtend omdat dit enorme gevolge gehad het vir die ander siektes en ander kliniese dienste en die opleiding van dokters.

“Daar is ander siektes wat nét so belangrik is, maar ongelukkig is Covid-19 meer onmiddellik. Jy moet probeer om anderkant uit te kom tydens elkeen van die vlae en dan moet jy tussenin probeer opvang met alles anders. Mense doen steeds TB en MIV op, maar pasiënte is geneig om eers later hospitaal toe te kom wanneer die vlae eers verby is, en dit sluit hartsiektes, kanker en allerlei ander toestande in.

“Vir my is die groot ding egter om op die positiewe uitkomste te fokus en op die verskil wat ons wel kan maak. Selfs tydens die beginjare met MIV/vigs onthou ek eerder wat ons kón doen, die goeie stories, en die mense wat na ons kliniek gekom het, aan die dood se deur geklop het en danksy antiretrovirale middels kon herstel.”

Jy weet, my sesjarige dogtertjie, Margaux, wil net by my weet wanneer dit alles verby gaan wees en wanneer ons eendag kan ophou om maskers te dra.

Hy aarsel. “Wanneer jy kies om medies te studeer, dan weet jy jy gaan sterftes sien. Dit gaan daaroor dat jy dit moet kan behartig, dat jy ander moet help om dit ook te doen en dat jy versorging en waardigheid in hierdie proses moet help verskaf.”

Hy kyk vinnig op na ’n landskap teen die oorkantste muur deur sy vriend die kunstenaar Hermann Niebuhr, vir wie hy verlede jaar een naweek op De Rust gaan kuier het terwyl hy in die Covid-19-hoësorgeenheid gewerk het. Die kleure is warm en bemoedigend en dit lyk byna soos ’n Karoo-sonsopkoms.

“Jy weet, my sesjarige dogtertjie, Margaux, wil net by my weet wanneer dit alles verby gaan wees en wanneer ons eendag kan ophou om maskers te dra.”

Hy lag, maar nie sonder erns nie. “Ek antwoord haar dan maar net dat ek nie weet nie.”

Hiérvoor is Meintjes bekend

Meintjes het internasionaal bekendheid verwerf vir sy navorsing oor pasiënte met gevorderde MIV wie se immuunstelsel só uitgeput is dat hulle ernstige komplikasies ontwikkel. Heelwat van hierdie internasionaal bekroonde werk was gefokus op die behandeling van TB-IRIS – ’n relatief gereelde komplikasie van antiretrovirale terapie (ART) in armer omgewings wanneer vigspasiënte begin met dié middels terwyl hulle nog behandel word vir aktiewe TB. Namate hul immuunstelsel versterk, ontwikkel hulle ’n oormatige immuunreaksie op die TB en hulle gaan vinnig agteruit.

Meintjes was onder meer die hoofondersoeker in die eerste kliniese proewe vir ’n behandeling vir hierdie toestand wat gewys het die middel prednisoon verminder simptome sonder ernstige newe-effekte.

Tans fokus hy veral op nuwe ingrypings vir vigspasiënte met TB wat vir die eerste keer hiervoor gehospitaliseer word in ’n poging om die hoë sterftekoers te verlaag. Hy en sy kollegas doen ook navorsing oor ’n nuwe en beter behandeling vir kriptokokkale meningitis – ’n swaminfeksie wat veral onder vigspasiënte voorkom en naas TB die meeste sterftes onder vigspasiënte in Afrika veroorsaak.


Meer oor:  Derde Vlaag  |  Groote Schuur-Hospitaal  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.