Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Deur die oë van Antie Minnie van die Bo-Kaap

Van haar balkon in die Bo-Kaap af kan Jasmina Marcus (90) die graf sien van een van die eerste mense wat Afrikaans geskryf het, maar die see is nie meer sigbaar nie, skryf Murray La Vita.

Jasmina Marcus in haar woonstel in die Bo-Kaap. Sy woon al 66 jaar lank in dié geskiedkundige Kaapse buurt.Foto: Jane Solomon

Jasmina Marcus is ’n skraal, regop vrou met lewendige bruin oë wat al 66 jaar in die Bo-Kaap woon.

Ons sit reg teenoor mekaar op eetkamerstoele in die leefvertrek van die woonstel teen die hange van Vlaeberg wat sy met haar dogter, Marcia Marcus, deel.

“Ek is op 18 August 1929 in District Six in Russelstraat gebore. Ons het op die hoek van Russelstraat en Pontacstraat gewoon – ’n double story naby die Avalon bioscope,” sê Jasmina, wat alom bekend staan as Antie Minnie.

“Dit was baie lekker. Ons het mooi gewoon daarso. Daar was ’n butcher op die hoek van Russelstraat en Aspelingstraat. Ons was arm gewees, maar ons was baie skoon.

“Ons het altyd Woensdae en Saterdae-aande bioscope toe gegaan. Hulle het mooi stukke gespeel. Dan kom die boyfriend my haal by die huis. Dan koop hy samoosas en hy koop ’n chocolate vir my om saam bioscope toe te neem.

“Nou, as die bioscope uit is something past ten, dan bring hy my weer huis toe. Dan vang hy die bus in Hanoverstraat. Hy het gewoon in Van der Meulenstraat hier in die Bo-Kaap.”

Sy was in die Holy Cross School en het Katoliek grootgeword. Op 15 het sy die skool verlaat.

Jasmina Marcus as 17-jarige meisie.Foto: Verskaf

“Toe het ek gaan werk om my ma te help. Ek het in ’n fabriek gewerk waar hulle vir babas kos gemaak het. Daar het ek die botteltjies skoongemaak. Die fabriek was in Sir Lowry Road [in Woodstock].”

Ná ’n jaar het die fabriek gesluit.

“Agter daai is ek toe weer by die huis. Toe kry iemand, wat by Bonworth’s gewerk het, vir my ook ’n werk daar. Ek het 34 years by Bonworth’s gewerk. Rex Trueform was aan die oorkant en daar het my man gewerk.

“Ek was ’n machinist. Ons het broeke gemaak en tops en almal daai. Ek was ’n shearing machinist; nie ’n plain machinist nie. Ek was die enigste een wat vinnig op daai machine kon werk.

“Ek het altyd by die venster gesit. Dan sê ek vir hulle ek wil nie in die middel sit waar die meisies sit nie; ek wil sit by die venster sodat ek wind kan kry.”

Na die Bo-Kaap

Toe Antie Minnie 26 was, het sy getrou en na die Bo-Kaap getrek en by haar man, Ibrahim Marcus, en sy familie in Van der Meulenstraat gaan woon. Hy is 29 jaar gelede dood.

“Hy het altyd daar by ons huis gekom, maar my pa het eers nie geweet hy is Slams nie. My pa het nie van hom gehou nie want hy wil nie gehet het ek moet Moesliem draai nie. Maar op die ou end toe stuur hy sy oudste broer en sy pa om te kom vra om te trou met my.

“Toe kom my ma se suster daai Sondag en toe sê sy hulle moet maar aanvaar ek moet maar trou met hom because hulle kan niks meer doen nie.”

Ingevolge die Groepsgebiedewet het die gedwonge verskuiwing van mense uit Distrik Ses plaasgevind en is ook haar ouerhuis gesloop. Sy het toe reeds in die Bo-Kaap gewoon. Haar ma – haar pa was toe al dood – en haar suster en dié se familie het toe in die Bloemhof-woonstelle aan die rand van Distrik Ses gaan woon.

“Hulle moes almal uít want die buildings is afgegooi [gesloop]. Daar het ordintlike mense gewoon in District Six. Dit was hartseer. Ons het lank gewoon in Russelstraat . . . Ons het altyd buitekant op die banke gesit en dan kyk ons hoe kom die Klopse af.”

Sy praat oor die “skollies” van daardie jare.

“Ek maak nog altyd kos!”Foto: Jane Solomon

“Hulle het altyd ou mense gehelp. Hulle het baklei, maar nie soos hulle vandag baklei nie; hulle het net met fists en stokke baklei.

“Hulle het respék gehad. In die aande kan jy nog loep dan happen daar níks. Jy kan safe loep tot past twelve. Niemand worry met jou nie; hulle maak nie vir jou seer nie.”

‘Almal is dood’

Antie Minnie beskryf haar bruilof in die Bo-Kaap as volg:

“My skoonma se familie het vir my ’n klein tafeltjie [onthaal] gegee in Chiapinnistraat.”

Hoe was dit vir haar as Katoliek om die Moslemgeloof aan te neem?

“Ek het tussen Moesliemmense grootgeword. Hulle het om die draai van ons gewoon. My skoonpa was ’n haliefa [’n Moslem leermeester]. Hy het Slamse skool gehou vir kinders en hy het vir my ook geleer. Hulle het toe vir my geneem na die vroue se haliefa in Buitenkantstraat om my skoon te maak.

“Maar my pa was ontevrede en toe wil hy nie praat met my nie. En toe wil hy nie hê ek moet kom by die huis [in Distrik Ses] nie . . . Hy accept my nie. Ek moenie kom nie. Ek moet wegbly daar.

“En die dag wat ek trou . . . ’n Week daarna toe kom my pa toe klop hy aan die deur en toe vra hy om vergiefnis.” Terwyl Antie Minnie dit vertel, rol die trane oor haar wange. “Toe huil hy . . .”

Sy bly ’n rukkie stil. Buite krys seemeeue.

Die Kaapse Maleiers, van wie baie nog in die Bo-Kaap in Kaapstad woon, beoefen reeds sedert die laat 1600’s Islam in Suid-Afrika. Die Jamia-moskee, wat in 1850 gevestig is, is op die agtergrond sigbaar. Foto: Gallo Images/ Alamy

“Almal my families is dood; dis nou net ek en my suster. Sy woon in Athlone en sy is 92. Sy het ook Slams geword. Haar naam is Fauzi Philander. Haar naam was gewees Doris en my naam was gewees Jean. Ek was die jongste van my ma se kinders.”

In Groote Schuur

Haar pa se naam was Thomas Phillips.

“Hy het gewerk by Stuttafords; dit was hier onder in Breestraat. Toe kom daar eendag twee tourists en toe vra hulle vir my pa waar is ’n hotel waar hulle kan gaan eet. Toe gaan wys my pa vir hulle onder in die Breestraat oorkant waar die busse se terminus is. En die next dag toe my pa die aand huis toe gaan toe kry twee gangsters hom en neem hom in ’n gangetjie in en slaat hom. Hulle was nou kwaad omdat my pa vir die tourists gewys het waarheen om te gaan.

“Die néxt dag toe kry hulle eers my pa daar in daai gangetjie en toe vat hulle hom hospitaal toe, Groote Schuur toe.

“Ons het nie geweet waar hy is nie. Ons het gaan hoor by die morgue en toe kry ons hom by Groote Schuur. Nou my pa se families is almal lig van kleur want hulle en sy ma was European; hy kon pass vir European – hy was spierwit en het blou oë gehad. Toe lê hy in die European ward.

“Kyk hier, toe gaan my broer en my skoonsuster en toe gaan hulle Groote Schuur toe en toe sê die suster hulle kan nie daar inkom nie because hulle is coloured en my pa is European. Toe sê hulle hulle moet úit, hulle kan nie daar bly nie. Toe hulle uitvind my pa is ook coloured toe remove hulle hom na die coloured saal toe.”

Die see is ‘toegebou’

Sy praat oor die lewe in die Bo-Kaap.

“Ek sal gegaan het [na Mekka], maar toe gaan meninggal [Indonesiese woord wat beteken om op te hou leef] my man mos.”Foto: Jane Solomon

“My man het duiwe gehad in Van der Meulenstraat. Hy het ’n duiwehok gehad by die huis. Die duiwe moet vlié – ’n distance – en as hulle terugkom dan vat hulle die ding wat hy aan het en dan druk hulle dit in die machine en dan kry hulle pryse. My man het altyd gekry bowls [sy beduie met haar hande] en almal daai as die duiwe wen.

“Dis stil gewees hier. Daar was niks gangsters nie; dis net die Klopse wat geloep het en almal daai. Sondag het ek na my ma en my pa toe gegaan. Dan vat ek die Hanoverstraat se bus en dan dra my pa vir Marcia; sy was nog klein gewees.

“My pa het toe verander; hy was toe anderster; hy het verbeter, dan kom hy my ook altyd visit. My ma ook. Later het sy van Bloemhof Flats af geloep en dan help die mense en bring haar na daar waar ek woon in Van der Meulenstraat.

“Dan sê ek: ‘Wáár gaan mammie?’ Dan sê sy: ‘Nei, ek verlang darem om vir jou te sien.’”

Die Bo-Kaap het oor die jare verander.

“Jáá! Kyk hoe bou hulle almal daai geboue!” Sy wys na die oop balkondeur waardeur ’n mens die stadskom kan sien. “Nou kan jy niks sien nie . . . Die water, die see is almal tóé, tóégebou; jy kan niks sien nie.

“Ek like dit nie só nie, maar jy kan niks sê nie because dis mos die geboue wat hulle koep en dan maak hulle restaurants en almal daai. Hier onder in Roosstraat, op die hoek van Roosstraat en Strandstraat, het hulle gebou ’n Pick n Pay.

“Jy kan amper nie loop hier af nie so kom die tourists op met hulle karre. Daar is nie eers plek om te sit nie, so park hulle. Hulle wil nie betaal om te park nie en dan kom hulle hiér park.” Sy wys na die straat voor die woonstelgebou.

Die character van die Bo-Kaap is baie gechange. Is nie meer Bo-Kaap nie; is nie meer Malay Quarters nie . . .

“En die mense verkoop hulle flatse aan wit mense because die wit mense het mos die geld. En hulle het nog nooit karre hier gesteel nie, maar nou word daar gesteel. Dis terrible.

“Die character van die Bo-Kaap is baie gechange. Is nie meer Bo-Kaap nie; is nie meer Malay Quarters nie . . . Dit was mos eers Malay Quarters en toe’s dit Upper Town en toe’s dit Schotse Kloof en nou’s dit Bo-Kaap.

“Die gangsters kom almal daar buite vandaan en dan kom hulle hiér steel en by die mense se huise inbreek. Dis die drugs, die drúgs. Hier’s baie kinders wat ook op drugs is.”

Mekka

Bo die deur agter Antie Minnie se kop is ’n geraamde afbeelding van ’n oop Koran. Ek vra haar of sy al ’n pelgrimstog na Mekka onderneem het.

“Ek sal gegaan het, maar toe gaan meninggal [Indonesiese woord wat beteken om op te hou leef] my man mos. Ons twee sal gegaan het, maar toe . . . My klonkie, hy was June maand, die 2de June, was hy ’n jaar dood . . . Die 25ste June was hy 50; hy was in ’n wheelchair. Ek het agter hom gekyk; hy het altyd gesit op die stoep. As dit reën, dan bring ons hom ín, dan sê ek vir hom: ‘Dit reën; jy kan nie sit op die stoep nie; sit maar hier op die vloer.’” Sy wys na die mat. “Hy kan nie geloop het nie; hy het gekruip.”

Sy kon dus ná haar man se dood nie die pelgrimstog onderneem nie omdat sy na haar gestremde seun, Shamil, omgesien het.

‘Ek praat Afrikaans’

Antie Minnie sê sy praat haar hele lewe lank al Afrikaans.

Dis nie suiwer Afrikaans nie; dis soos ons dit noem ‘kombuistaal’. Maar dit kom mos van hier af, van die slawe af.

“Baie mense praat nou Ingels. Sometimes kan ek nie verstaan nie en dan sê ek: ‘Alright, ek praat Afrikaans.’”

Marcia sê sy dink Afrikaans sal nog lank in die Bo-Kaap oorleef.

“Dis nie suiwer Afrikaans nie; dis soos ons dit noem ‘kombuistaal’. Maar dit kom mos van hier af, van die slawe af.”

Hulle stam aan moederskant af van slawe en bannelinge uit Java.

“Kyk, daar by die heuwel op is die kramat van Tuan Guru,” sê Antie Minnie.

Die kramat (graf) van Imam Abdullah Kadi Abdus Salaam, algemeen bekend as Tuan Guru, is van die woonstel se balkon af sigbaar.

Hy was ’n banneling-prins van Tidore en het reeds teen die einde van die 18de eeu leerboeke in Afrikaans geskryf vir die gebruik in die Moslemgeloofskole.

Die ‘queen’

Skielik onthou Antie Minnie die dag toe sy “die queen” gesien het.

“Ek was opgeskoot en toe staan ons skoolkinders daar almal in ’n ry in Sir Lowry Road met die vlaggies. Dit was exciting toe hulle verbyry.”

Waarna sy verwys, is die besoek in 1947 van koning George VI en koningin Elizabeth en hul dogters, prinses Elizabeth en prinses Margaret aan Suid-Afrika.

Antie Minnie sê sy kook graag nog.

Ek het by my skoonma geleer kosmaak – ek het gekyk wát gooi sy als in die kos; só het ek geleer.

Wanneer Marcia vir ons van die dhaltjies en samoosas voorsit wat sy pas berei het, sê antie Minnie laggend:

“Ek maak nog altyd kos! Ek is in ’n boek van die Bo-Kaap [Bo-Kaap Kitchen]. Hulle het vir my gevra wat se soorte kos maak ek. Toe sê ek ek maak baked beans kerrie en ek maak slaaie . . . Ek maak al die soorte kos . . . uiwe-sambal, atjar, bobotie, oumens-onder-die-kombers [frikadelle in koolblare].

“Ek het by my skoonma geleer kosmaak – ek het gekyk wát gooi sy als in die kos; só het ek geleer. Toe sy doodgaan, toe weet ek nou hóé om kos te maak.”

Ons kyk na die hoofstuk oor Antie Minnie in Bo-Kaap Kitchen waarby ’n lieflike foto van haar as meisie verskyn.

“Daar was ek 17 . . . My oë is nog dieselfde,” sê sy en glimlag.

Meer oor:  Erfenis  |  Distrik Ses  |  Bo-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.