Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
D.F. Malan: ‘Die skool waaroor ons droom’

Die naam D.F. Malan sit soos ’n politieke teiken op dié hoërskool se rug en dít is een van die redes dat ’n naamsverandering oorweeg word, sê André Roux aan Murray La Vita.

André Roux voor die ingang van die Hoërskool D.F. Malan. Foto: Jaco Marais

“Dié ding kom al van die vroeë 2000’s af aan, of dalk vroeër, maar ek dink nie die mense was voorheen eintlik reg om dit aan te pak nie,” sê Roux, voorsitter van beheerliggaam van dié skool in Bellville, noord van Kaapstad.

Roux (54) is ’n elektroniese ingenieur wat as IT-projekbestuurder werk. Hy het ’n seun wat verlede jaar aan die Hoërskool D.F. Malan gematrikuleer het en een wat vanjaar daar in gr. 9 is.

“Die vorige beheerliggaam, waarvan ek ook deel was, het vroeg in ons termyn navrae gekry van alumni wat wou weet wanneer ons die naam gaan verander. Ons het aanvanklik maar die standaardantwoord gegee: ‘Nee, die ouers en onderwysers het ’n ruk gelede aangedui dat hulle nie die naam wil verander nie.’ ”

Die beheerliggaam het egter geweet daar is ’n goeie kans dat daardie antwoord “uitgedien gaan raak en die ding net erger gaan raak”.

Net nadat die inperking begin het, het ’n groepie alumni die groep D.F. Malan Must Fall geskep.

“So teen einde 2019, weet ek, was ons weens die RhodesMustFall en al dié goeters op Die Burger se voorblad. D.F. Malan is toe ook daar pertinent uitgewys as ’n voorbeeld van ’n skool wat hul sake in orde moet kry.

“Net nadat die inperking begin het, het ’n groepie alumni die groep D.F. Malan Must Fall geskep. Dít het redelik baie geraas gemaak en toe het ons as beheerliggaam besluit die polarisering wat daardie gesprek op sosiale media veroorsaak, is nie iets wat ons net kan los en laat gebeur nie.

“Dit is nie produktief nie. Dit maak mense . . . ag, selfs mense binne gesinne het onderling begin baklei oor of die naam moet verander of nie.”

Die groot stil groep

Die gesprek was in daardie stadium nét oor die naamsverandering.

Die Hoërskool D.F. Malan. Foto: Verskaf

“Dit is ’n baie polariserende gesprek. Aan die een kant is daar dié wat sê: ‘Oor my dooie liggaam gaan die naam verander’ en aan die ander kant is daar dié wat sê: ‘Dit moes al lánkal gebeur het.’ Daar is ook hierdie groot stil groep in die middel.

“Maak nie saak watter kant jy kies nie, daar gaan wenners en verloorders wees; dit is soort van ’n onmoontlike gesprek. Toe het ons besluit dit is nodig dat ons ’n bietjie beheer oor die proses neem. Ons het almal ook gevra om ’n bietjie terug te hou met die uithang van wasgoed op sosiale media.”

Die beheerliggaam het onderneem om ’n proses te skep waardeur sinvolle gesprekke oor die kwessie gevoer kon word.

Spesifieke kwessies is elke keer getakel, goed soos wat is die politieke omgewing waarin die ding afspeel en wat is die geskiedenis van die skool.

“Ons het toe uitgekom by dr. Frederick Marais, ’n teoloog aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Kweekskool, wat baie ondervinding het om twispunte binne gemeentes te bemiddel, partye met mekaar te laat praat en die nodige transformasie te laat plaasvind.

“Hy het vir ons ’n proses ontwerp waardeur ons toe in die tweede helfte van verlede jaar gegaan het. Ons het begin met ’n groep van 16 mense – onderwysers, ouers, leerlinge en alumni – en ons het saam met hom deur ’n paar opleidingsessies gegaan. Spesifieke kwessies is elke keer getakel, goed soos wat is die politieke omgewing waarin die ding afspeel en wat is die geskiedenis van die skool.”

Punt van versadiging

Marais het dié 16 mense as fasiliteerders opgelei.

'Dit gaan nie weer ’n persoon se naam wees nie.' Foto: Jaco Marais

“Ons het die vier groepe – alumni, ouers, onderwysers en leerlinge – deurentyd op die hoogte gehou van waarmee ons besig was.

“Aan die einde van verlede kwartaal het ons uitnodigings na almal uitgestuur om aan gespreksessies te kom deelneem. Daar was 18 sessies waaraan omtrent 150 mense uit al vier die groeperinge deelgeneem het.”

Hy verduidelik dat ’n kwalitatiewe benadering gevolg is.

“Jy het nie rêrig ’n sekere persentasie bywoning nodig om die ding geloofwaardig te maak nie. Jy kom by ’n punt, wat Frederick ’n punt van versadiging noem, en dit maak nie saak hoeveel sessies jy daarna hou nie, jy gaan dieselfde goed begin hoor – jy’t gehoor wat jou groep op die hart het.”

Toekomsgesprek

Al die insette van die groepe is toe na die US se Instituut vir Innovasie en Transformasie gestuur, wat die data verwerk en ’n verslag opgestel het.

“In dié verslag het hulle aangedui wat dit is wat die mense sê: Hoe voel hulle oor die skool, waaroor is hulle hoopvol en waaroor angstig.

“Die ding is toe gedryf na ’n toekomsgesprek toe – in stede van bloot ’n gesprek oor of die naam moet verander of nie, het ons gepraat oor die skool waaroor ons droom.

“Daaruit sal die identiteit kom en dit waarvoor die skool staan en wat die mense wil hê die skool moet wees en wat hulle voel die skool bied, moet bied en kan bied.

“As jy dít weet, dan het al hierdie groepe iets waaroor hulle saamstem, en dít is die skool se identiteit en visie. Uit daardie gesprekke het ons dus die identiteit vasgemaak en dan raak dit maklik om te sê: Maar goed, kom ons kyk na van die aspekte van die simboliek en hoe die skool se naam as ’n simboliese item daardie identiteit en ideaal – daardie droom wat ons het van wie ons wil wees en waarvoor ons staan en wat ons is – onderskryf of ondersteun, of dit belemmer.”

Riskante naam

Daar is ’n risiko aan die behoud van die naam D.F. Malan verbonde.

’n Mens kan nou redeneer ons is bang en ons maak ’n berg van ’n molshoop, maar dít is nie die hoofrede nie.

“Dit sit ’n sekere politieke teiken op die skool se rug. Die voorbeeld kom kort-kort op van wat by Brackenfell gebeur het. Ons as beheerliggaam het ’n verantwoordelikheid om daardie risiko verantwoordelik te bestuur.

“’n Ou wil nie hê dit moet ook by ons gebeur nie, want dan het jy skielik ’n onveilige situasie vir die kinders en vir die ouers en die personeel, en skade en verlies en allerhande sulke dinge.

“’n Mens kan nou redeneer ons is bang en ons maak ’n berg van ’n molshoop, maar dít is nie die hoofrede nie. Die hoofrede is dat dit die regte ding is om te kyk na die naamsverandering. En eerder as om terug te kyk die hele tyd in die geskiedenis het ons as ’n gemeenskap besluit ons wil eintlik vorentoe kyk.”

In November verlede jaar was daar konflik by die Hoërskool Brackenfell tussen betogende EFF-ondersteuners en lede van die gemeenskap. Dít het plaasgevind nadat dit aan die lig gekom het dat ’n private matriekafskeid deur slegs wit leerlinge en twee onderwysers bygewoon is.

Drie kwessies

Die skool móét aanpas, sê Roux.

Roux by die skoolwapen. Foto: Jaco Marais

“Daar is ’n tempo waarteen jy aanpas; ’n mens moet maar bybly met die tye. En ek dink ons het iets reggekry wat die skool nog nooit voorheen gehad het nie. Daar was ook baie waardering van die ouers vir die geleentheid om hierdie gesprekke te hê. Dit gaan wyer as die skool se naam, daar het ses goed uitgekom.”

Die drie kwessies wat uitstaan, is:

“Ons skoolgemeenskap is dit eens dat ons ’n skool is wat Afrikaans en moedertaalonderrig hoog op prys stel op ’n manier wat alle Afrikaanssprekendes in die gemeenskap dien, terwyl dit ook die meertalige kapasiteit van ons leerlinge bevorder op ’n manier wat hulle in staat stel om in ’n multikulturele wêreld sukses te behaal.

“Ons wil deur die tradisionele grense van die Afrikaanse gemeenskap breek deur ’n insluitende skoolgemeenskap te wees waar alle Afrikaanssprekendes ewe welkom voel.

“Ons is ’n skool wat die Christelike etos van die gemeenskap erken en ondersteun, terwyl ons ook leerlinge en ouers met ander godsdienstige oortuigings respekteer en akkommodeer.

Die skool se wapen het oor die jare ’n paar keer verander. Foto: Jaco Marais

“Hierdie drie punte verteenwoordig wie ons is, waarvoor ons staan, waarom ons doen wat ons doen, en watter diens ons as ’n skool vir ons gemeenskap wil lewer,” het Roux vroeër in ’n verklaring gesê.

Kritiek

Ons praat oor die heftige kritiek op sosiale media op die naamsverandering.

“Verraaiers en hensoppers en sulke goed word ons toegesnou. Die meeste van die kommentaar word aanlyn gelewer deur mense wat nie saam met ons deur die proses is nie. Ek dink daar is baie ouers in DF wat miskien ook kommentaar lewer, maar ek dink die meeste van die DF-ouers, -alumni, -leerlinge en -onderwysers is nou al saam met ons deur die proses, so hulle het ’n bietjie meer konteks as iemand wat op die een of ander plek sit en net die opskrif van die berig sien.

“Ek dink baie mense kyk ook net na die opskrif sonder om die hele berig te lees. Dan skop dit ook net ’n sekere gedagtegang in wat tot dié kommentare lei.

“Dit wat ek nou aanlyn sien, is presies wat ek ’n jaar of anderhalf jaar gelede by ons sien gebeur het. Hierdie gesprek wat ons aan die gang gesit het, het juis ten doel gehad om die pole nader aan mekaar te bring en die stil middel ’n bietjie kans te gee om te praat sodat ons kon uitvind wat is die regte ding vir die skool om te doen.”

Vir die kinders

Wanneer ’n beheerliggaam moeilike besluite het om te neem, moet hy vra: Wat is in die beste belang van die kinders?

Hoe kon jy aan ’n skool gematrikuleer het wat aan apartheid gekoppel is?

“Dit was vir my insiggewend dat by DF het hierdie jongste inisiatief van die jong alumni af gekom. Dit is mense wat wanneer hulle universiteit toe gaan, kom hulle uit die D.F. Malan-bubble uit, en dan vra mense vir hulle: ‘Hoe kon jy aan ’n skool gematrikuleer het wat aan apartheid gekoppel is?’

“Dit is dan vir hulle ’n moeilike gesprek. Die ander ding wat hulle gesê het, is dat hulle bekommerd is dat ‘gematrikuleer aan die Hoërskool D.F. Malan’ op hul CV teen hulle gehou kan word wanneer hulle eendag werk soek.

“Hulle vra eintlik hulp. Hulle sê: ‘Dít is hoe hulle die lewe daar buite ervaar. Kyk of julle iets aan die probleem kan doen om die toekomstige leerlinge daarteen te beskerm.’

'Maak nie saak watter kant jy kies nie, daar gaan wenners en verloorders wees.' Foto: Jaco Marais

“Dit raak elke jaar net moeiliker om te regverdig waarom jy nog aan daardie naam vashou en nog nie aanbeweeg nie. Ek dink die rede waarom mense nie aanbeweeg nie, is nie omdat hulle vashou aan D.F. Malan nie, dis omdat hulle weet dis ’n blerrie moeilike ding om te doen en hulle het miskien nie kans gesien vir dit wat ons nou besluit het om te doen nie.”

Afrikaanse naam

Die beheerliggaam het nou met ’n proses begin om met alternatiewe name vorendag te kom.

“Ons sal nog besluit hoe dit gaan gebeur. Dit gaan nie weer ’n persoon se naam wees nie. Dit gaan iets wees wat die identiteit van die skool uitbeeld; ’n Afrikaanse naam.

“Daar is mense wat sê waarmee ons nou besig is, gaan ongelooflike druk op van die ander skole sit. Dís een manier om daarna te kyk. Maar ’n mens kan dit ook sien as ons wat vir ander skole [wat ook omstrede name het] wys hoe om ’n ding aan te pak en om konsensus te bereik in ’n gemeenskap wat aanvanklik diverse uitgangspunte het.

“As ons daardeur kan gaan en die pyne kan vat en heelhuids anderkant uitkom met ’n gemeenskap wat steeds trots en sterk staan, dan dink ek het ons goed gedoen.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.