Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die ‘bloedwerke’ van ’n speurhoof

Genl.maj. Jeremy Vearey, speurhoof in die Wes-Kaap, is nie net een van die helde van The President’s Keepers nie. Sy eie boek, Jeremy vannie Elsies, het pas die lig gesien oor ’n lewe waar jy altyd koes vir die dood.

Genl.maj. Jeremy Vearey, speurhoof in die Wes-Kaap, het pas sy eerste boek die lig laat sien, Jeremy vannie Elsies. Foto: Jaco Marais

“Kom, Jeremy, jy het niks hier verloor nie,” sê Jeremy Vearey se pa minagtend en stap voort asof niks ernstigs gebeur het nie.

Dit is die jong Jeremy se eerste kennismaking met bendegeweld. Hy en sy pa is in sy komvandaan, Elsiesrivier, op pad na sy ouma Vearey se huis in Tiervlei. Net voordat hulle by ’n sandveld kom, sien hulle ’n groep bendelede wat ’n huilende man omsingel.

“Up!” skree die leier en sy trawante lig hul blink pangas omhoog en begin kap. Ná ’n paar sekondes aanvaar die prooi sy lot en die gille bedaar.

“Halt, ndodas, die bloed het salute. Die nommer is vol,” beveel die leier.

Jeremy se pa loop houtgerus met hom verby die lyk met sy gapende wonde wat nog bloed lek en voete wat al hoe stadiger stuiptrek. Jeremy ploeter op ’n drafstap agterna terwyl hy sukkel om die sand en bloed van sy tone af te skud.

In die dood se skadu

Die eerste Sondagoggend, 10 Junie 1990, nadat Vearey en ander politieke gevangenes vrygelaat is uit die tronk op Robbeneiland. Van links is Vearey, Wayne Malgas, Ashraf Karriem en Dawie Fortuin, wat vir Vearey gewerf het vir MK. Foto: Verskaf

Vandag is dit 50 jaar later en Jeremy is genl.maj. Vearey, die speurhoof in die Wes-Kaap. Hy is ook in Jacques Pauw, skrywer van The President’s Keepers, se woorde “die Wes-Kaap se mees geesdriftige anti-bende-stryder”.

Die generaal het pas sy eerste boek, Jeremy vannie Elsies, geskryf waarin hy sy lewensverhaal vertel: Van laaitie tot politieke kryger, bandiet tot generaal-majoor. Van ondergrondse operateur tot Madiba se lyfwag . . .

Waar ons in sy eenvoudige huis in die voorstede van Kaapstad sit, is hy nonchalant oor sy eerste ervaring van bendegeweld. Sy sit-eetkamer is gestroop van fieterjasies, soos dié van ’n student. “Ek het by my pa en my oupa geleer mans moet mans wees. Dit was nie ongewoon vir ’n kind in die sestiger- en sewentigerjare in Elsies nie. Die mans veral het daardie goed beskou as: ‘Ag, hy verdien sy lot, klaar, ons gaan aan met die lewe’.”

Vearey by sy eenvoudige huis in die voorstede van Kaapstad. Sy adres is ’n geheim aangesien hy geteiken word deur misdadigers. Foto: Jaco Marais

Dit was maar net die begin van ’n lewe en ’n loopbaan waarin jy immer paraat moet wees, altyd in die dood se skaduwee. Selfs nóú nog, lank nadat hy sy tyd op Robbeneiland uitgedien het vir sy rol in MK as een van die Fighting Fifteen, is hy besig met “bloedwerke”.

Twee vingertoppe, van sy ringvinger en pinkie, aan sy regterhand is af. Die gerugte is dat dit die Sicilians-bende is wat dit afgekap het. Eers later vind ek uit dit was weens ’n jeugdige bakleiery met een van sy nefies in sy pa se Morris Minor.

Van kleins af in Elsiesrivier was daar ’n mate van paraatheid, sê hy. “Dis amper soos ’n oorlogsone en jy kyk na hoe jy hierdeur beweeg om by ’n veilige punt te kom.”

Hy sit voor ’n oorvol boekrak vol versamelaarsartikels, soos die eerste notules van ’n vergadering van die Genootskap van Regte Afrikaners. Daar is ook bundels soos Skietlood en Lojale Verset van N.P. van Wyk Louw, sy intellektuele stapelvoedsel destyds op die UWK. Hy praat oor sy tyd in MK en toe hy in sy klaskamer by die West End Primary School in Mitchells Plain in hegtenis geneem is.

Die deur na links is sel D1 in Robbeneiland se tronk, waarin Vearey en omtrent 34 ander mense aangehou is. Foto: Verskaf

“Een ding wat ek in my boek probeer sê het, is my lewe was ’n ondergrondse lewe in die ANC. Dis nie ’n rondloop met posters en protes-lewe nie. Baie van die onderwysers toe ek die dag gevang is, kon dit nie glo nie. Ek was hierdie konserwatiewe ou met ’n grys pak en die hoof se favourite.”

Hy was egter allesbehalwe ’n konserwatiewe vaalseun. Hy was ’n doelgerigte en dodelike MK-operateur, lid van ’n MK-sel wat die instruksie gehad het om bomme oor die provinsie heen te plant. Ander lede van die sel was onder andere Ashley Forbes, Anwa Dramat en Peter Jacobs.

“In die MK-wêreld is jy nie ’n persoon nie. Jy is ’n teiken. Jy objektiveer die persoon. En om te objektiveer moet dinge swart en wit wees. Daar is nie ’n middeweg nie.”

Die lede van die Fighteen Fifteen het baie meer gedoen as waaraan hulle skuldig bevind is tydens hul terreurverhoor. Lede van die organisasie het algemene amnestie gekry by die WVK en hulle praat steeds net oor wat in die hof uitgekom het. “Ek wil nie vir jou sê ons was onskuldige revolusionêre mense nie. Ek was ’n kliniese, teikengerigte persoon. Ek was so opgelei. Ek is nie opgelei in peacekeeping nie.”

Die natsak en ander marteltegnieke

Sy handgebare is ritmies en hipnoties, soos dié van ’n towenaar. Hy skryf in sy boek oor hoe hy vir drie maande gemartel is in ’n “kantoor” (eintlik ’n folterkamer) op die vierde vlak van die Veiligheidspolisie se doolhof in Loopstraat. “So pynlik soos die proses is, as soldaat in daai omgewing het jy aanvaarding vir dít is wat met jou gaan gebeur as jy gevang word. Jy’s óf dood óf jy’s tronk toe en jy het dit aanvaar.”

Sy gesig lyk soos dié van ’n 56-jarige kind, sy oë donker en intens. “Van die goed het ek verwag, maar die mense wat ek nou regtig gehaat het, was die ouens wat jy weet jy gaan nou te ver hierso. Daar was natuurlik die natsak, ek skryf nie daai nie, en die ding waar jy op ’n stoel sit en jy’s half so styf vasgemaak dat jy vorentoe lê en jou voete is ook vas. En dan die vrae . . .

“Daar is iemand voor jou, maar die onverwagte geslanery of geklappery of wat van agter af kom, maar jy kan nie draai nie. Dis amper soos ’n blindekol en dan moet jy konsentreer op die persoon hiervoor wat nou heel gemaklik soos ’n burokraat sit en skryf terwyl hierdie ouens onvoorspelbaar begin slaan of die sak oor jou kop trek of vir jou omskop of agtertoe trek dat jy agtertoe val.”

Madiba en die grysheid van die wêreld

Vearey (voor) in die jare toe hy lyfwag was vir oudpres. Nelson Mandela. Hy het hom “Tata” genoem. Foto: Verskaf

Hy het eers begin besef die wêreld bestaan uit baie skakerings van grys toe hy op 10 Junie 1990 vrygelaat is uit Robbeneiland. Hy was deel van ’n groep wat deur die Britse Weermag se Special Air Service-eenheid as persoonlike lyfwagte vir oudpres. Nelson Mandela opgelei is.

“Ek het nie verwag dat Madiba ’n gewone mens is nie. In die mitologie van die ANC was hy die soldaat, die ou wat MK begin het, die ou wat bloed gesweet het op Robbeneiland vir so lank. En dan kom jy en jy werk saam met die man en jy besef nee man, hy het ’n heel ander benadering. Hy hanteer konflik soos my ma my geleer het.”

Hy glimlag. “Hierdie man het die grys deel van die wêreld gewys. Hy het die mens in (F.W.) de Klerk gesien en ander mense met wie hy gepraat het.”

Baie meer as net lyke op ’n Saterdag

Vearey vertel van die dag toe hy besef het “hier gaan my loopbaan”. Foto: Jaco Marais

Op 1 April 1995 word Vearey lateraal vanaf die intelligensiediens na die polisie oorgeplaas waar hy mettertyd hoof word van die SAPD se koverte intelligensie-eenheid. Hy word ook hoof van die bende-ondersoekeenheid, Operasie Slasher.

Hy beskryf bendes as ’n “roofdierspesie wat teer op gewone mense in ons gebiede. In die apartheidsjare het ons mense klaar so swaargekry. Maar om nóú nog ’n groep mense te hê wat ons beheer. Ons kan nie in ons omgewing beweeg nie. Ons kan nie vrylik met mekaar verkeer nie omdat daar geweld is, omdat daar ’n organisasie is soos die 28’s of die Hard Livings wat nou besluit hy gaan hierdie gebied afbaken en vir homself toeëien.”

Hy frons. “Wie ís hierdie mense? Hulle is nie verkose leiers van die gemeenskap nie. Hulle is mense wat self aangestel is, hulle het ’n plek geroof basies, die grond aan hulself toegeëien en gesê hulle is die staatsgesag basies. Ek kan jou verseker, as jy aan dié kant van die Americans territory gebly het en jou meisie bly daar anderkant by die HL’s, gaan jy nooit daar uitkom nie. Dís die tipe van intieme vlak van kriminele regulering van mense se lewens. Dis baie groter as net ’n skietery op ’n Saterdag en die lyke wat rondlê.”

‘Ons werk met bloed’

Raak die “bloedwerke” wat ’n speurder moet aanskou nooit vir hom te veel nie?

Hy knik, skielik uitgeput. “Kyk, ons werk met bloed. Jy raak afgestomp en dis die gevaar. Maar ek sê altyd vir die jonger speurders daai is nie ’n lyk nie, dis ’n mens. Die dossier wat jy ondersoek, is ’n mens. Jy is die laaste stem in die hof van daai persoon. Fine as hy ’n skollie is, maar jy moet praat vir die man in die hof. Daar is nie iemand anders nie. N.P. van Wyk Louw gebruik dit in Die Dieper Reg. Jy is die voorspraak vir daai persoon.”

Of jy nou opgekap word met ’n byl en ’n panga en of jy nou geskiet word deur ’n dwaalkoeël, dit maak nie vir my saak nie.

Dalk is dít wat van hom so ’n unieke speurder maak. Dat hy die oorgang kon maak van ’n vyand wat ’n blote “teiken” is na selfs ’n bendelid vir wie hy moet voorspraak doen. “Ek sien mense van my milieu, mense van my agtergrond, wat ly onder dieselfde probleme waaraan ek gely het en hier lê hulle nou. Daar is nie vir my ’n verskil tussen wat ek vandag sien en wat ek destyds gesien het nie. Of jy nou opgekap word met ’n byl en ’n panga en of jy nou geskiet word deur ’n dwaalkoeël, dit maak nie vir my saak nie.”

‘Hier gaan my loopbaan’

Pauw skryf in The President’s Keepers “gehalte- en toegewyde polisiemanne soos Jeremy Vearey is yl gesaai in die diens en ’n mens sou aanneem dat die topbevel hulle sou koester. Helaas was dit nie die geval nie.”

Pauw skryf hoe Vearey, as hoof van Operasie Impi, naby daaraan gekom het om korrupsie in die polisie te ontbloot en geweersmokkelary te stop. Impi was ’n projek wat die sluikhandel van gesteelde vuurwapens wat in polisiebesit was, aan die kaak gestel het.

Zuma en sy gesante het egter ’n rol daarin gespeel dat hy in Junie 2016 skielik “geskuif” is as speurbaas in die Wes-Kaap na ’n mindere pos, as groepspolisiehoof in Kaapstad.

Dit was kort nadat die oud-ANC-LP Vytjie Mentor by die Durbanville-polisiekantoor ingestap het en gevra het vir Vearey. Sy wou ’n beëdigde verklaring aflê oor die dag toe die Guptas haar glo die pos as minister van openbare ondernemings wou aanbied. Die generaal het sy speurders na haar gestuur en toe weet hy “hier gaan my loopbaan”.

Lt.genl. Peter Jacobs en genl.maj. Jeremy Vearey verlaat die arbeidshof in Kaapstad. By hulle is hul regsverteenwoordiger Clive Jacobs. Hulle het hulle tot die hof gewend nadat hulle albei gedemoveer is. Foto: Adrian de Kock

Hy glimlag wrang. “Daar is (Berning) Ntlemeza (voormalige Valke-hoof) wat my gaan slaan, daar is (Khomotso) Phahlane (voormalige waarnemende polisiekommissaris) wat my gaan slaan en as dié president toe gaan, is daar die Guptas ook.

“Ek het tóé al besef dis ’n afgrondsaak dié, hier gaan ek af, maar dit het nie vir my gestop nie. Al wat vir my belangrik was, was om te verseker dat die mense wat saam met my gewerk het, veilig gehou word. Die woord staatskaping het toe nog nie bestaan nie, maar ons het begin met die proses en toe word ons mos geslag.”

Ons gaan hulle nou almal werk, maar hier verloor ons nie. Ons gaan die beste regshulp kry, die beste unie.

Zuma se gesante het uitgevind dat lt.genl. Peter Jacobs, voormalige intelligensiehoof in die provinsie en Vearey se groot vriend in MK, ook deel was van die proses. Hulle is in dieselfde week gedemoveer.

Vanaf dié oomblik was dit óórlog vir Vearey.

“Ek het gesê: ‘Ons gaan hulle nou almal werk, maar hier verloor ons nie. Ons gaan die beste regshulp kry, die beste unie.’ Ons het gesê watter advokaat ons wil hê en ons het gegaan na Michael Donen, die advokaat wat ons terreursaak gehanteer het. Ons het laat weet ons bring die manne in omdat wat met ons gedoen is hier ’n politieke spel is. So julle sit ons nou weer op dieselfde voet as wat ons was in ‘87 en ons wil vir julle sê ‘hier kom ons’.”

Vearey is blitsvinnig getroud met Bernice Roeland op Diazstrand in Mosselbaai. Enrico Parry was die priester. Hy sê dit is Bernice wat hom “teruggebring het op ’n tyd” toe hy naby psigiese breekpunt was. Hulle het twee kinders. Foto: Verskaf

Johannes Mowers

Sedert 4 April is hy ná ’n uitgerekte stryd in die arbeidshof weer terug in sy ou pos. Jacobs is intussen as nasionale misdaadintelligensiehoof aangestel en die nuwe kommissaris van polisie, genl. Khehla Sitole, het onvoorwaardelik vir hulle om verskoning gevra.

As iemand hom nader om te getuig oor staatskaping, sal hy getuig; hy het geen pyne daaroor nie, sê hy. “Maar wat altyd vir my die dryfveer was, is die hele bende-ding.”

Vearey voor sy uitgebreide versameling boeke – van die eerste notules van ’n vergadering van die Genootskap vir Regte Afrikaners tot Lojale Verset van N.P. van Wyk Louw. Foto: Jaco Marais

Dít en taxi-geweld en plaasmoorde: “Of die victim nou ’n plaaseienaar of ’n werker is . . . Ons in die stad het vele polisiekantore hier naby. Die mense daar in Ceres het niks. Hy kan nie eens ’n foon gebruik om by die polisie uit te kom nie daar diep in die Tankwa Karoo. Daar waar ons diens as die staat die swakste verteenwoordig word, daar is waar jy moet wees. By die kwesbaarste deel van ons gemeenskap.”

Ek vra weer: Het hy nog nooit breekpunt bereik nie? Die oggend het intussen middag geword.

Hy aarsel, vertel van die toneel waarop hy een fris Sondagoggend in Maart 2007 op die plaas Déjà vu in die Hemel-en-Aarde-Vallei afgekom het. Dit was die dag toe hy twee kinders moes gaan uithaal uit ’n dig oorgroeide gat in ’n rivierbank. Hulle was die reeksverkragter Johannes Mowers se jongste slagoffers en vanaf November 2005 die gevangenes wat die langste deur hom aangehou is.

Ek het nou al lyke gesien, lyke raak jy aan gewoond. Ek het bende-ondersoeke gedoen, daai is niks nie.

Sy stem is sag. “As hy (Mowers) ons nie gelei het daarnatoe nie, sou ons dit nooit gekry het nie. Maar toe die kinders uitkom – die een meisie was vier (sy was twee toe sy daar gaan bly het), die ander was 14 of so. . . Ons besef toe ons praat te hard met hulle. Die klein meisietjie het haar ore so vasgehou. Daai was net vir my baie senutergend. Ons het toe die maatskaplike werker gekry en hulle verwyder.”

Hy knyp sy oë toe. “Ek het nou al lyke gesien, lyke raak jy aan gewoond. Ek het bende-ondersoeke gedoen, daai is niks nie. Maar daai . . . Van die ouens het aan die huil gegaan.

Hy kyk vir ’n sekonde of twee weg. Jeremy vannie Elsies wat geleer het van bloed nog voordat hy kon lees. “Ek was al by skiettonele waar daar kinderlyke was, maar daar is iets aan ’n kind wat uit ’n gat uitkom . . .”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.