Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Die boere kan ons red’

Niémand gaan in Suid-Afrika oorleef as ons nie sekere probleme oplos nie, sê Chris Burgess aan Murray La Vita in ’n wydlopende onderhoud oor onder meer grondonteiening.

Chris Burgess se wyle oupa Harold Burgess kon nooit gewoond raak nie aan die agteruitgang van die plase se infrastruktuur wat oor die jare met groot moeite en geesdrif opgebou is. Foto: Anneliese Burgess

Elke jaar oor Kersfees besoek Chris Burgess (45) en sy gesin ’n plaas by Indwe in die Noordoos-Kaap.

“Dan hou ons ’n braai daar in die rivierloop. Ek doen dit maar ook om vir my seuns te gaan wys waar ek grootgeword het. Jy gaan daarheen en die ou plaashuis is bouvallig en in die kamer waarin ons as seuns geslaap het, groei daar nou ’n groot bloekomboom. Dit is net tragies dat daar niks aangaan nie. Maar tyd heel alle wonde.”

Die plaas waarna hy verwys, is een van hul familieplase wat in 1983 deur die NP-regering onteien is as deel van die “konsolidering” van die ou Transkei se grense.

Chris, wat hoofredakteur is van Media24 se landboupublikasies, het vroeër in ’n rubriek die onteiening só beskryf:

“Die jaar 1983 was ’n moeilike een. Benewens ’n fel droogte was dit ook die jaar toe ons plase in die Oos-Kaap onteien is. Ná die besoek van die omies laat een middag in hul swart pakke en beskeie wit staatsmotor het ons ses maande gehad om pad te gee. Want, sien, ons het deur ’n totale arbitrêre sameloop van omstandighede in ’n inham van die Transkeise grens geboer en die een of ander burokraat in Pretoria het besluit dat ’n egalige grens makliker sou wees om te bestuur. Daarvoor moes die boere van Guba hul soetveldplase prysgee.

“Die vrye mark is besig om meer grond aan swart eienaars te herverdeel as wat die staat in al sy programme kon regkry.”Foto: Jaco Marais

“Binne ses maande was ’n hele gemeenskap daarmee heen. Die Bekkers, wat sulke koring-sukses met hul drukwiel-planters behaal het, oom Jan de Lange, teen wie se berghange ons gereeld tarentale gaan jag het, en die enkellopende Milns-broers, wat in ’n koel, donker bloekombos gewoon het. Almal weg. Dit was traumaties, en jare later verlang ek nog terug na die kloof van my kinderjare. Maar ten minste is almal ordentlike pryse vir hul plase betaal, met die opsie om elders weer oor te begin. ‘Tranegeld’, soos hulle dit destyds genoem het.”

‘Dis ’n groot ding om te skuif’

Ons sit in Chris se kantoor in die Media24-sentrum in Kaapstad. Chris is van Ierse afkoms en sy moedertaal is Engels, maar danksy sy een ouma praat hy vlot Afrikaans en is ook Xhosa magtig. Hoewel hy al jare ’n joernalis is, kon die sterk hande waarmee hy beduie terwyl hy praat, ook dié van ’n boer gewees het. Daarby het hy ’n baard en dra jeans. Ek beleef hom as ’n reguit, plat-op-die-aarde-mens wat nugter is en helder insigte het.

Chris Burgess in die onderhoud in sy kantoor in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Ondanks sy ontroerende beskrywing van die verlore plase van sy kinderjare, is hy nie sentimenteel nie; sy uitstraling is eerder een van kragtigheid. Hy raak in die loop van die onderhoud heftig, amper woedend, wanneer hy oor die huidige stand van onder meer grondhervorming in Suid-Afrika praat.

Die onderhoud begin waar ek hom vra om meer van sy ervarings van en herinneringe aan grondonteiening te vertel.

“Dis ’n baie groot ding vir ’n boer om te skuif. As jy op 20 begin boer en jy tree af op 60, kry jy 40 kanse, 40 shots at it, want jy is deur seisoenale siklusse ingeperk. En elke distrik het sy eienaardighede in terme van produksie en so aan,” sê hy.

“Die enigste ou wat weer ’n plaas in die distrik kon koop, was Jan de Lange. My pa het toe weer daardie plaas [Banockburn] by hom gekoop. Hy [De Lange] het kort daarna sy eie lewe geneem. My pa en my broer boer sedertdien daar.

“Die plase was drie generasies in ons familie. My oupagrootjie was eintlik ’n skoenverkoper vir Cuthbert’s van Ierland. Hy het uitgekom Suid-Afrika toe en het toe ’n winkel begin in Indwe wat nogal ’n instelling geword het: W.H. Burgess and Son. Hy was ook die burgemeester en ’n man met redelike groot aansien. Hy het toe grond bekom en my oupa het die winkel oorgeneem en ook begin boer, en toe het my pa die plase oorgeneem.”

Die opstal op die familieplaas Vergenoeg waar Chris Burgess sy vroeë kinderjare deurgebring het, is heeltemal vervalle. Foto: Anneliese Burgess

Chris was in standerd drie toe hul plase onteien is.

“Dit is nogal ’n groot ding vir ’n kind . . . Dit is nou nie dat dit ’n gedwonge verskuiwing was nie; dit is nie in die liga van wat ander mense deurgemaak het nie, maar dit het nogal ’n impak. Dit was verskriklik ontwrigtend.

“Ons is aangesê om die huise en alles daar te los soos wat dit is want die nuwe eienaar sou boer. Vandag is dit heeltemal bouvallig; niemand boer meer daar nie.

“Ek en my broer het ’n jaar gelede met motorfietse opgery na die plaas toe en ek het eintlik die veld nog nooit so goed gesien nie want niemand boer daar nie; dit lê net braak, wat nogal bisar is.”

Boere ‘is ’n nasionale bate’

Wanneer ek hom uitvra oor die huidige politieke aandrang op grondonteiening sonder vergoeding, begin hy deur te sê hy dink nie mense besef watter groot nasionale bate Suid-Afrika se boere is nie.

“En ek dink daar is ’n diep misverstand oor wat boere doen; oor die bydrae wat hulle lewer, nie net in terme van voedsel- en veselproduksie nie, maar ook in terme van werkskepping. Daar werk nou meer mense op plase as op die myne. En ek dink die verhouding tussen boere en hul plaaswerkers word nie altyd verstaan nie. Dis ’n maklike stok om boere mee te slaan.

“Maar as ek praat met ’n ou soos Ivor Price, wat ons TV-program Landbouweekliks aanbied . . . Dis nou die eerste keer dat hy redelik gereeld op plase kom en hy is rêrig beïndruk deur wat hy sien.

Die boere is van die min mense wat eintlik ’n verskil kan maak, maar dit lyk asof dit om die een of ander rede nie polities aanvaarbaar is om saam met hulle te werk nie.

“’n Boer werk saam met sy werkers. Hy sien hul kinders word gebore en die kinders word groot voor sy oë. Dis ’n heeltemal ander dinamika as byvoorbeeld die korporatiewe wêreld.

“Ek dink mense besef ook nie hoe groot landbou se ekonomiese bydrae is nie en hoe landbou die ekonomie verlede jaar uit ’n resessie uitgetrek het nie. En dan is daar die bestuurskundigheid wat jy onder boere aantref. As jy kyk na die vaardigheidskrisis wat jy in Suid-Afrika het, is boere as bestuurders en die tipe veranderlikes wat hulle moet hanteer om ook nog ’n wins te maak eintlik besonders in terme van Suid-Afrika as ’n land en die probleme wat ons in die gesig staar en die probleme wat ons op die platteland het.

“Die breintrusts wat jy daar het, is maar die boere; die munisipaliteite is ’n disfunksionele skande, dít weet ons almal. Die boere is van die min mense wat eintlik ’n verskil kan maak, maar dit lyk asof dit om die een of ander rede nie polities aanvaarbaar is om saam met hulle te werk nie.”

Gevolge van grondonteiening

Hy dink nie grondonteiening sonder vergoeding gaan plaasvind nie.

“Ek dink pres. Cyril Ramaphosa besef wat op die spel is. Ek dink ook dat . . . Wanneer ek met boere praat, is daar van hulle wat sê hulle sal eers hul plase afbrand voordat hulle dit weggee.

“So ek dink nie jy gaan net grond afvat sonder ernstige gevolge vir die ekonomie nie, maar ook in terme van maatskaplike kohesie en so aan. Ek dink die prys sal eenvoudig net te hoog wees, en ek dink Cyril-hulle besef dit.

“Die boere is die enigste mense wat eintlik ’n verskil kan maak . . .” Foto: Jaco Marais

“As ’n mens nou na die praatjies luister dan sê hulle hulle gaan eers onbenutte en staatsgrond onteien, hulle gaan nie aan produktiewe landbougrond raak nie . . .

“Ons [Landbouweekblad en Agri SA] het mos daardie grondoudit gedoen. En daarin is bevind dat die vrye mark besig is om meer grond aan swart eienaars te herverdeel as wat die staat in al sy programme kon regkry. Nou dít is nie ’n onderskrywing van die vrye mark nie, dis dalk eerder ’n aanduiding van hoe treurig die staat is.

“Ons het 23 jaar gehad; die planne is almal op die tafel; die boere sal hélp . . . As ek ’n politikus was, sou ek verskriklik dankbaar vir ons boere gewees het. Veral as jy kyk wat gebeur met verstedeliking, byvoorbeeld hierdie groot invloei van mense uit die Oos-Kaap na die Wes-Kaap. Ek bedoel, wie gaan ons mense kos gee?

“Daar is hierdie vereenvoudigings wat die politici vir politieke gewin verkwansel. Soos byvoorbeeld dat die [ou] tuislande armsalige, agtergeblewe gebiede is en dat dit onvrugbare grond is. Waar val jou meeste reën? Aan die oostekant van die land en dít is waar al jou ou tuislande is; dit is van die vrugbaarste grond. Ek is allermins ’n apologeet vir apartheid. My punt is dat ons as Suid-Afrikaners moet begin besin oor watter bates ons het en hoe ons daardie bates tot voordeel van die nasie gaan bestuur.

Later verwys hy na nog landbouprojekte wat reuse-suksesverhale is en spreek van buitengewone vindingrykheid en deursettingsvermoë ondanks die feit dat die belanghebbendes geen staatshulp ontvang nie

“Hoekom kan ’n mens nie in die ou Transkei die ekonomiese lándbougeleenthede skep wat die mense daar sal hou nie? Die ironie is, daar is mense wat al klaar daardie geleenthede skep.”

As voorbeelde noem hy die “merkwaardige” projekte van mense soos Jeff Every van Amadlelo Agri en Gloria Serobe van Wiphold.

Later verwys hy na nog landbouprojekte wat reuse-suksesverhale is en spreek van buitengewone vindingrykheid en deursettingsvermoë ondanks die feit dat die belanghebbendes geen staatshulp ontvang nie en eerder deur burokratiese argeloosheid, of selfs vyandigheid, belemmer word.

“Byvoorbeeld die Witzenberg-PALS-raamwerk (Partnership in Agri Land Solutions) daar in Ceres in die Witzenbergvallei. Dit is seker een van die winsgewendste boerderygebiede in Suid-Afrika. Daar is ’n prokureur op die dorp wat hierdie stelsel ontwikkel het waar die boere grond sou identifiseer en nuwe boorde in produksie sou inbring en in vennootskap met bruin boere boer.

“As ek ’n politikus was, sou ek verskriklik dankbaar vir ons boere gewees het.” Foto: Jaco Marais

“Dis ’n ongelooflike projek waar die boere self letterlik, soos ek dit verstaan, miljarde rande sou inploeg. En al wat hulle nodig het van die staat is om vir hulle waterregte goed te keur – nét ’n administratiewe bydrae te maak – en dit kom nie van die grond af nie.

“En hoekom gebeur dit nie? Want die amptenary kan nie handtekeninge op ’n stuk papier sit nie! Ek bedoel, dit is mos verraderlik, is dit nie? Of is ek verkeerd? Ongelykhede en armoede is die ekwivalent van ’n oorlog, ons is in ’n oorlog gewikkel as ons nie hierdie probleme oplos nie. So as jy nie jou kant bring om die vyand te verslaan nie, dan is jy ’n landsverraaier.”

Hy beklemtoon sy woorde deur met sy hand op die tafel voor hom te slaan.

‘Niemand gaan oorleef nie’

“En dít is hoe ek dit sien . . . Hierdie absolute traak-my-nie-agtige houding . . . Ek weet nie of dit dít is en of hulle dit opsetlik doen nie, wie weet? Mense weet nie daarvan nie; mense praat nie daaroor nie; dit word nie aan die groot klok gehang nie.

“Ek bedoel, as ék dit sê dan is ek wat? Maar net nog ’n wit rassis of ek is oningelig, ek is nie polities woke nie, of whatever. Maar ek verstaan nie hoekom dit nie gebeur nie . . . Niémand gaan oorleef in hierdie land as ons nie hierdie goed oplos nie.

“Hierdie ding byvoorbeeld met Witzenberg kom al járre aan; teen hierdie tyd moes ons dit al uitgesorteer het. Dit is nie ’n klomp wit boere wat ’n geldmaakgeleentheid soek nie, dit is mense wat eintlik ’n verskil wil maak aan hulle gemeenskap, wat eintlik die probleem in Suid-Afrika wil oplos. Boere, meer as enigiemand anders, besef wat die maatskaplike impak is van armoede want hulle word uitgemoor op die plase; hulle verstaan die probleme.”

* Vanaf 10 Julie sal episodes van Landbouweekliks ’n uur lank wees. Nuwe episodes word Dinsdae om 19:30 en heruitsendings op Sondae om 17:30 uitgesaai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.