Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die ‘evolusie van fotografie’

Jerard van der Walt van die Paarl is heeltemal betotteld oor kameras. Ou kameras, filmkameras, nie digitale kontrepsies nie. Ilse Zietsman het by hom gaan inloer.

Jerard van der Walt erken ruiterlik sy lewe is ’n warboel van kameras.Foto: ILSE ZIETSMAN

In sy kamera-arsenaal is 140 kameras. Sy brood en botter verdien hy by ’n koeriermaatskappy, maar Van der Walt leef vir foto’s neem.

Verkieslik swart-en-wit, wat hy dan ook self ontwikkel. Sy belangstelling in fotografie het eintlik toevallig begin. In 2006 het hy ses maande lank aan die kus van KwaZulu-Natal en in Mosambiek gewerk en hy wou graag dít wat hy daar beleef, vasvang. Dus het hy ’n digitale mik-en-druk-Canon gekoop en agtergekom dat hy dit werklik geniet om foto’s te neem.

’n Paar jaar daarna het hy ’n Canon DSLR (’n meer gevorderde kamera) en ’n paar lense gekoop, en toe het die fotogogga hom behoorlik gebyt. Tot en met 2015 het Van der Walt geëksperimenteer met verskillende fotografiestyle soos landskappe, portretstudies en astrofotografie (foto’s van sterre en ander hemelliggame sowel as dele van die nag­hemel).

Jerard van der Walt soek grondpaaie uit waar hy rustig foto’s kan neem sonder dat iemand hom steur. Foto’s: Jerard van der Walt

Aan die einde van 2015 het sy skoonpa vir hom ’n klein Minolta AL-F 35 mm-filmkameratjie (dié kamera se eerste bekendstelling was in 1967) present gegee. Skoonpa’s het hul voordele, lyk dit my. Dit was makliker om kamerafilm in die hande te kry as wat Van der Walt gedink het.

Nadat die eerste rolletjie film wat hy geneem het, ontwikkel is, was daar geen keer nie. Al wat Van der Walt hierna wou doen, was om foto’s met ’n filmkamera te neem. Tot vandag toe het dit nog nie verander nie. ’n Mens kom dit sommer agter wanneer jy hoor hoe sagkens hy praat van die kameras wat hy besit.

Sommige was geskenke, ander is sommer na hom toe aangedra wanneer iemand hoor hy is gek oor en gebruik nog filmkameras, en nog ander koop hy aan wanneer hy dit geadverteer sien. Van der Walt kan nooit genoeg kameras hê nie. Altans, dís hoe dit klink wanneer hy begin opnoem: “Ek het iets van alles – van veldkameras uit die laat 19de eeu tot ’n Nikon F90X wat met sy vrystelling bekend vir sy vinnige outofokusspoed was.”

As hy ‘n afdraaipaadjie sien, gaan soek Jerard ‘n foto.

Die kameras wat hy gereeld gebruik, is ’n 1934-Leica III, 1950-Voigtländer Prominent, 1953-Rolleiflex, 1966-Horseman 760 en 1970-Asahi Pentax Spotmatic.

Dit klink amper asof hy die name van sy kinders, of troeteldiere, opsê, dink ek by myselwers toe ek na die lys luister. Net soos ’n mens nie ’n witbroodjie onder jou kinders, of katte, kan of mag kies nie, sukkel Van der Walt om sy gunstelingkamera te kies. Op die ou end noem hy twee: die Rolleiflex, wat hy graag vir medium­formaat-foto’s gebruik, en die Spotmatic vir 35 mm.

Jerard van der Walt is passievol oor filmkameras en spandeer elke Saterdagoggend deur van vroegdag af foto’s te neem.

Waar word almal gebêre? Net mooi óral, antwoord Van der Walt gemoedelik en gee toe: “My lewe is ’n warboel van kameras.”

Sedert die einde van 2018 doen hy gereeld maandelikse foto-uitstappies in en om Kaapstad saam met die klub Analogue Cape Town, waarvan hy ’n stigterslid is. Analogue Cape Town het sy eie Facebook-blad, waarop van die lede se foto’s te sien is. ’n Ander voordeel van die klub is dat die lede foto-idees uitruil en mekaar bystaan wanneer iemand ’n probleem met ’n kamera of ontwikkeling ondervind.

Jerard van der Walt verkies om swart-wit foto’s te neem wat hy dan ook self ontwikkel.

In Oktober 2019 het Analogue Cape Town sy eerste groepuitstalling gehou; dit was ’n klinkklare sukses. ’n Opvolguitstalling word beplan (hou die Facebook-blad dop).

Van der Walt neem nie net saam met die klublede foto’s nie. Elke Saterdagoggend is hy douvoordag uit die vere omdat hy verkies om voor sonsopkoms foto’s te neem. Soms besluit hy vooraf waar hy wil foto’s neem, maar gewoonlik ry hy in die een of ander rigting en gaan soek die grondpaaie in die omgewing. Hy verkies om op sy eie op vroegoggend-ekskursies te gaan sodat hy soveel tyd kan gebruik as wat hy wil om rustig foto’s uit verskillende hoeke te neem. Hy vertel dat hy tans meer met kleurfilmfotografie eksperimenteer.

Vir hom is die pluspunt van swart-en-wit fotografie dat hy in die oggend die foto’s kan neem en dit dan kan ontwikkel sodra hy by die huis kom. Hy is bloot te ongeduldig om te wag om te sien hoe sy foto’s uitgekom het, erken hy self.

Een van sy voornemens vir 2020 is om sy eie donkerkamer by die huis in te rig sodat hy sy foto’s kan druk. Hy is nie gekant teen digitale fotografie nie, beklemtoon hy. Toe hy nog digitale foto’s geneem het, het hy al die basiese beginsels van fotografie geleer. Deur sy voorliefde vir ou kameras, ervaar hy die “evolusie van fotografie”.

Solank kamerafilms beskikbaar is, sal hy aanhou om dit te gebruik. Hy wil nog die oop ruimtes van die Karoo gaan afneem; hopelik kom hy op die ruïnes van ’n paar ou plaashuise af, sê hy. Namibië is ook op sy radar vir foto’s neem, en wie weet, dalk ook nog Skotland en Noord-Europa.

“Maar, weet jy, baiekeer kry ’n mens die beste foto’s op plekke waar jy nooit oorweeg het om te gaan foto’s neem nie.”

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Paarl  |  Fotografie  |  Evolusie  |  Versameling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.