Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die geheim van SA se 'beste boerewors'

Delano Jasper (18), wat onlangs as Suid-Afrika se Championship-boereworskampioen van Shoprite en Checkers aangewys is, verklap aan Murray La Vita die geheim van sy wenwors.

Delano Jasper is vanjaar se Championship-boereworswenner. Foto: Jaco Marais

In die braaikamer van ’n huis in Wellington is daar ’n vuur aan die knetter. Regs voor die braai is ’n ronde tafel wat met ’n swart tafeldoek bedek is en waarop neffens ’n rol rou boerewors en ’n plastiekhouer vol braai-instrumente ook twee goue medaljes met gekleurde linte lê. As agterdoek: die landsvlag teen die muur.

Delano Jasper sit langs my op ’n wit plastiekstoel. Voor ons is nog ’n tafel waarop broodrolletjies, tamatiesous, blatjang en brandrissiesous staan.

Delano lyk anders as op die foto’s wat van hom geneem is nadat hy ’n paar weke gelede as die nasionale Championship-boereworskampioen aangewys is.

Hy het nou klein vlegseltjies op sy kop wat sy ma, Yvonne, ’n paar dae gelede vir hom gemaak het. Ek trek sy been en sê hy lyk nou soos ’n regte celeb.

“Soort van,” sê Delano skamerig.

Gewoonlik is dit mos net my ma wat inskryf, maar nou met die lockdown het ek en my pa [Roland] ook ingeskryf.

“So vir ’n jaar,” lag Yvonne, wat 2018 se boereworskampioen was en in 2019 tweede gekom het. Dit is die twee van hulle se medaljes wat daar styf langs mekaar op die tafel lê.

“Gewoonlik is dit mos net my ma wat inskryf, maar nou met die lockdown het ek en my pa [Roland] ook ingeskryf.

“Die kompetisie het begin toe ons nog op vlak 5 van die lockdown was. So, terwyl my ma haar resep daardie tyd begin bou het, was ons as gesin maar baie in haar pad en onder haar voete. Toe daag ons in die huis maar mekaar uit om saam met haar in te skryf en te kyk wie vaar die beste,” het hy vroeër in ’n onderhoud gesê.

“Ek het my nie rêrig gesteur aan die inskrywings nie, want ek het nie gedink ek gaan so ver kom nie.”

Skok en blydskap

Maar voor hy sy oë kon uitvee, was hy in die toptien.

“Gewoonlik braai die toptien mos nou saam, maar omdat dit lockdown was, was dit anders. Die Wes-Kaapse finaliste – vyf van ons – was in Brackenfell en die ander was in hul provinsies.

“Ons het die kompetisie virtueel gekyk. En dan het hulle net die wenner aangekondig. So ons was net ’n klein groepie mense.

“Toe die name verskyn, was ek eers in skok gewees. Ek het net stilgestaan. Maar toe dit nou begin insink, het mense aan my gevat om te sê dat ek nou gewen het. So, ek het stilgestaan en toe het hulle aan my geruk. Toe dit insink toe was ek bly en hartseer, alles gelyk. Ek was rêrig vol emosies gewees.”

Om te dink dat ek die kompetisie gewen het op so ’n jong ouderdom en dat my ma ook in 2018 gewen het.

Hoekom was hy ook hartseer?

“Om te dink dat ek die kompetisie gewen het op so ’n jong ouderdom en dat my ma ook in 2018 gewen het.”

By die huis het hulle dit met ’n braai gevier.

“Een of twee vriende wat naby bly, het hiernatoe gekom. Ons het definitief wors gebraai,” lag hy. “En ons het ook vleis gebraai. Ek dink dit was vark; ek is nou nie seker nie.”

Asyn bo worcestersous

Delano Jasper aan die braai by sy ouerhuis in Wellington. Foto: Jaco Marais

Ons praat oor hoe hy sy wenresep geskep het.

“Met die inskrywings gee hulle ’n lys bestanddele wat in jou resep moet wees. Soos nou die vleis, nè, moet soos A-graad-vleis wees en dan jou speserye wat jy mag gebruik. Maar afhangende van jou af . . . Jy moet net eintlik rondspeel met die ratio’s van die speserye en die vleis wat jy gebruik. So jy kan nie jou eie kombinasie van verskillende goed bymekaar gooi en dan ’n boereworsresep maak nie.”

Wat dink hy het sy wors laat wen?

“Ek dink die ratio’s van my speserye is baie anders as die ander. En dan die vloeistowwe wat ek gebruik het. Soos, jy kan óf worcestersous óf bruinasyn gebruik en ek dink omdat ek asyn gebruik het, was myne beter.”

Het hy baie met die resep geëksperimenteer of was dit ’n vinnige proses?

“Ek sou nie sê dit was ’n vinnige proses nie . . . jy moet gaan op wat jy voel en dan jou gesin ook; hulle is ook mos nou beoordelaars, amper, om te proe of dit vir hulle ook miskien reg proe. En dan vra jy nou vir hulle raad. Soos, ek het definitief vir my ma gevra omdat sy mos nou in 2018 gewen het en sy weet hoe om met die ratio’s te werk; so sy het my net daarmee gehelp.”

Eerste keer

Delano Jasper en sy ouers, Yvonne en Roland, en broer, Xavier. Foto: Jaco Marais

Dit was die eerste keer dat Delano wors gemaak het.

“My ma maak gewoonlik wors want sy het mos nou al 16 keer vir die kompetisie ingeskryf. So, ons sal maar net wanneer sy resepte bymekaarsit dit proe en as gesin dit judge. Dan sal ons miskien vir haar raad gee: Dié proe bietjie snaaks, of so.

“So, dis nie rêrig dat ek self al ’n hele tydjie wors maak nie. Dit was nou my eerste keer gewees. En dan nou die braai . . . Ons braai gewoonlik twee tot drie keer per week as gesin en dan sal ek nou somtyds oorvat.”

Hy het op hoërskool in kosmaak begin belang stel.

Dis net ’n passie vir my; ek sien nie rêrig ’n loopbaan daarin nie.

“En my nuwe koers het ingekom toe ons in gr. 10 moes vakke kies, het ek verbruikers as ’n vak gekies. Dit was een van my opsies as ’n loopbaanrigting – sjef. So, dis waar my liefde vir kos en speserye ingekom het.”

Delano is ’n eerstejaaronderwysstudent aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) in Wellington. Het hy dit dalk oorweeg om, noudat hy as worskampioen aangewys is, van rigting te verander en tog ’n sjef te word?

“Nee, glad nie. Die drie opsies wat ek gehad het, was argitektuur, onderwys en dan kok. Ek het nie verwag dat ek die kompetisie gaan wen nie, so dit is nie rêrig in my toekoms in om na die sjefrigting toe te gaan nie. Dis net ’n passie vir my; ek sien nie rêrig ’n loopbaan daarin nie.”

Inspirasie vir kinders

Wat het hom laat besluit om onderwys te kies?

“Wel, ek sal graag die onderwysprobleem in onse land wil oplos want op die oomblik met die Covid kan onderwysers nie fisies by die skole wees al die tyd nie. So, ek sal graag ook ’n inhoudsontwikkelaar wil word sodat ons aanlyn studies ook kan doen. Dan skep ek programme en dan kan onderwysers, en ek self ook, aanlyn vir die kinders klasgee.

“Ek sal kinders graag wil inspireer. Soos met die kompetisie ook nou . . . Om te dink dat ’n tiener nou so ’n groot kompetisie gewen het. Ek dink dit sal kinders ook inspireer om nie op te gee nie. So, ek dink ek kan dít ook invat in die onderwys in om kinders te inspireer om nie op te gee nie en hulle nie deur mense laat afdruk nie.”

‘Toe loop traantjies’

Die kaart waarop Delano Jasper se naam as Championship-wenner aangekondig is, bestaan uit ’n stof wat hittebestand is. Nadat die oppervlak van die kaart verhit is, het sy naam te voorskyn gekom. Foto: Jaco Marais

Yvonne, wat oorkant ons sit, sê sy is baie trots op haar seun.

“Toe hulle sy naam uitgeroep het toe loop die traantjies maar . . . Ek het al vroeg begin om my reseppie bymekaar te kry en my goedjies te begin uitwerk. En toe kom ons nou met daai idee van ons al drie skryf sommer nou in.

“Ons het mekaar raad gegee en gesê: ‘Oukei, jy kan ’n bietjie daar weghaal en dan sit jy ’n bietjie daar by.’ Ek dink ek het ook ’n goeie kans gestaan.”

Delano: “Ek dink my ma s’n was beter omdat sy mos nou al reeds voorheen gewen het.”

Die finaliste kon vanjaar weens die inperking nie hul eie wors braai nie.

Roland kom van binne die huis af en stap na die vuur toe. Hy krap aan die kole. Delano staan op en gaan takseer die kole met ’n plathand bo die rooster. Wanneer hy weer kom sit, verduidelik hy die finaliste kon vanjaar weens die inperking nie hul eie wors braai nie.

“Dit was sjefs wat dit gebraai het en dan kon ons virtueel raad gegee het as ons wou. Sê nou jy wil hê hulle moet die wors omdraai, dan kan jy vir hulle vra om dit te doen.

“Ek het net gesê hulle moet kyk na die kleur en hoe die wors voel ook. Dit moet nog bouncy wees. Soos as jy hom druk dan moet hy weer terugskiet. Dit moenie as jy hom druk sommer ’n dent los nie.”

Xavier se worsplan

Delano Jasper en sy ma, Yvonne, se medaljes langs mekaar op die braaitafel. Foto: Jaco Marais

Die kole is nou reg en Delano begin braai. Binne ’n paar minute hang die wonderlike geur van braaiwors in die lug en sluit Xavier (13), Delano se broer, hom by ons aan. Hy gaan staan langs Delano by die vuur.

In ’n stadium sê hy dalk moet hy die braaiery oorneem. En sê dan hy gaan ook, wanneer hy ouer is, inskryf. Sy plan is om sy broer en sy ma se resepte te kombineer.

Delano se wenwors is sedert die afgelope Vrydag in alle Shoprite- en Checkers-winkels te koop. Hoe laat dit hom voel – dat mense landwyd sy wors gaan eet?

“Joh . . . Om te dink dat mense nou mý wors gaan proe, is nogals iets out of this world. En om te dink dat hulle ook nou kritiek daarop kan lewer.” Hy bly ’n oomblik stil, en sê dan: “Maar hulle gaan dit like.”

Meer oor:  Checkers  |  Wellington  |  Boerewors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.