Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die geheime lewe van Schalk Burger sr.

Schalk Burger senior praat met Murray La Vita oor sy memoir, waarin hy dinge onthul wat min mense van hom weet.

Schalk Burger senior in sy opstal op die wynplaas Welbedacht. Foto: Jaco Marais

Die oorwegende indruk van Schalk Willem Petrus Burger (65) is dié van ’n man wat groter as lewensgroot is.

Hy dra ’n nr. 15-skoen; ons sit by ’n tafel waaraan 14 mense kan sit; Morné du Plessis beskryf hom as “die reus uit Afrika met die grootste hande in die wêreld”; en hy gaan haal sy storie by wat 520 miljoen jaar gelede gebeur het.

Waar Burger hier in die eetkamer van sy groot ou opstal op die wynplaas Welbedacht buite Wellington sit, herinner hy aan ’n veteraan-gladiator wat vele gevegte agter die rug het en die letsels het om dit te wys.

Du Plessis skryf in die voorwoord tot Burger se Just a Moment: A Memoir, hy is benewens Springbokrugbyspeler ’n vlieënier, seiljagvaarder, gholfspeler, krieketspeler, musikant, bergklimmer, bevorderaar van die kunste, sakeman, arbiter, raadgewer, aktivis, en veral ’n boer.

Burger sê toe Michael Vlismas hom nader met die voorstel om die storie van sy lewe te skryf, het hy besef “dit gaan ’n bietjie van ’n diep krappery verg om die storie uit te kry”.

Die voorplat van 'Just a Moment: A Memoir', wat pas by Jonathan Ball Uitgewers verskyn het.

“Die boek is ’n persoonlike versameling van stories soos ék dit sien. Neem nou die openingshoofstuk, waar ek praat oor die grond en die bewerking van die grond . . . My bynaam in die WP-span, wat Rob Louw aan my gegee het, was mos Yellow Pages. Die rede was as daar iets uit te vind was oor dinge wat hulle nie geweet het nie . . . Nick Mallett sê altyd dan sit hulle in die vliegtuig en wonder: ‘How the hell can this thing get in the air?’ en dan vertel ek hulle van die sleurkwosiënt van die onderkant en die bokant van die vlerk.”

‘Geluk én bad luck’

In Burger se fassinerende vertelling oor grond, oor die terroir van die streek waarin sy geliefde wynplaas lê, dui hy aan hoe grond ’n storie kan vertel. En hy deel met die leser hoe daardie storie 520 miljoen jaar gelede begin het.

“Maar dít is net hoe ek gelewe het. Nou, vir baie ouens, as ek hulle vertel hoe my lewe is en was, dan sal hulle sê dit kan nie eintlik wees nie. Ek was net gelukkig, maar ek het ook baie bad luck gehad in my lewe en dinge het verkeerd geloop.

“En die media, omdat ek nie baie praat met die media nie en goed vir myself hou, is ons as ’n familie redelik benadeel.

“Daar was ’n fase waarin ek rugbyspeler was, sakeman en toe ons kinders. Daar was nooit in my huise rugbyfoto’s en -goed op gewees nie. In ons proelokaal het ons ’n paar foto’s. Ek wou nie so van die muur af afgekyk het op ’n kind en sê ‘jy sal eendag rugby speel’ nie.

“Hy kon enigiets geword het – hy kon ’n balletdanser geword het. Solank hy geweet het wat hy wil doen en hy die reëls verstaan het en die beste wou word.”

Al drie sy kinders het wel in sport uitgeblink. Schalk junior en Tiaan, wat nou saam met hom boer, het in rugby, krieket en gholf uitgeblink, en René in onder meer tennis en netbal.

Burger en sy seun Schalk junior in 2007 tydens die Wêreldbekerrugbytoernooi in Frankryk. Foto: Verskaf

“Dít was maar basies die konteks van die ding. En dan, natuurlik, die moeilike goed was om te praat oor my dogter se verkragting en hoe my Schalk amper gesterf het.”

‘Arm maar gelukkig’

Burger het arm grootgeword. Hy en sy gesin was “die stereotipe van armblanke-Afrikaners” en het in die “bruin deel” van die Paarl gewoon. Sy pa se alkoholisme en uiteindelike onvermoë om na behore na die gesin se behoeftes om te sien het hul verhuising na dié buurt genoodsaak. Hy het later ook van hulle af weggetrek en in Kaapstad gaan woon.

“Dit was nou maar een van daai dinge. Ek was in Paarl Gimnasium op skool. My ma het nie eintlik gewerk in daardie stadium nie. My pa het ’n paar jobs gehad. Hy was ’n bekende ou in die Paarl. Sy naam was Tiny; hulle het hom Tiny Burger genoem, maar sy regte name was ook Schalk Willem Petrus.

Burger in 1965 geklee in sy Paarl Gimnasium-skooldrag. Foto: Verskaf

“As jy jonk is en jy het ’n liefdevolle ma en familie en vakansies is jy by my ma se suster en ons tannies in die Kaap . . . Ons [hy en sy twee broers] was maar ’n klomp outjies wat wou uitgaan en dinge doen; ons wou die lewe aanvat.

“Om in ’n goeie skool te kon wees en goeie vriende te kon hê, ontvlug jy van daardie omstandighede . . . Miskien het ek ’n deel van die swaarkry in my lewe uitgeblank, maar ek dink ek het op ’n jong ouderdom besef die dag van môre en oormôre is partykeer belangriker as die dag van vandag.

“Jy kan verknog raak aan die verlede, maar dit gaan nie vir jou ’n boomhuis bou nie, dit gaan nie jou fiets regmaak nie; dit gaan nie vir jou ’n kaskar bou nie; dit gaan nie vir jou geld laat kry om ander klere te koop nie.”

Hoewel hulle arm was, was daar nooit ’n tekort in die huis nie.

“Al my pelle het dikwels daar gekom en daar was altyd iéts – spaghetti met mince toe mense dit nog nie eintlik in Suid-Afrika geëet het nie. Of kerrievis. Daar kon altyd ’n ekstra persoon aan tafel sit.”

Sy ma het as “huishoudster” in ’n plaaslike hospitaal gaan werk en die jong Schalk het begin koerante aflewer om die inkomste aan te vul.

Afskeid en vertrek

Burger sê hy was nooit bang vir sy pa nie en kan nie onthou dat hy ooit “hard” teenoor hom of sy ma en sy twee broers en suster opgetree het nie.

“My pa was ’n tawwe man, maar in my oë was dit maar hoe mans destyds was. Die meeste van my vriende se pa’s het gedrink en gerook. Vir my was dit net wat ’n pa gedoen het. Ek het grootgeword met die gedagte dat die reuk van alkohol en tabak die reuk van ’n man is.”

'Ek was altyd aan die teken en ontwerp.' Foto: Jaco Marais

Een van die aangrypendste dele in Just a Moment is waar Burger beskryf hoe hy as seun op die stasie van sy pa gaan afskeid neem het toe hy na ’n rehabilitasiesentrum vir alkoholiste in Johannesburg vertrek het.

“Terwyl hulle [sy pa se vriende] my pa se tas in die motor gelaai het, het ek besluit om met my fiets na die stasie te ry sodat ek hom vir oulaas kon sien. Ek wou totsiens sê en ek het gehoop ek sou op die een of ander manier tussen die huis en die stasie die woorde vind wat ’n seun soms sukkel om in homself te vind . . .”

In die stil oomblikke op Welbedacht wanneer die son agter Groenberg begin sak, “onthou die groot man wat jy vandag is die dag toe daardie seun in die reën met sy fiets na die stasie gery het”.

‘’n Dom slot’

As kind het hy nie daaroor gedroom om ’n Springbokrugbyspeler te word nie – hy wou Formule Een-renmotors ontwerp.

Burger draf in 1986 op Nuweland vir die Springbokke in die eerste toets teen die Cavaliers uit. Foto: Verskaf

“Deel van ons ontvlugting was . . . Ek en my broer Johann het vir Nasa geskryf; toe hulle besig was met die ontwikkeling van die pendeltuig, het ons goed geteken en vir hulle geskryf,” sê hy laggend en noem op wat hy as kind byvoorbeeld alles met Scalextric-motors gedoen het – die meganiese aanpassings, verbeterings en ombouings.

“Toe ek my eerste 50cc-motorfiets kry, kon ek hom toe-oë oop- en toemaak. Ek was toe die mechanic in die Paarl; Vrydagaande het ek my pêlle se motorfietse oorgedoen.

“Ek het toe besef ek is te groot om ’n Formule Een-renjaer te word. Jody Scheckter was ons hero en ons het met ons fietse na die Killarney-renbaan gery om na die wedrenne te kyk. En toe besluit ek ek wil Formule Een-karre ontwerp.

“Ek was altyd aan die teken en ontwerp. Hierdie wynkelder van my het ek byvoorbeeld self ontwerp en gebou. Ek het geligte sement-fermenteerders ontwerp en gebou; iets wat nog nie in Suid-Afrika gedoen is nie. Ek het hier ingenieurs en goed gehad wat vir my kom sê het ‘maar jy is ’n rugbyspeler’, en dan het ek gesê: ‘Ja, ek is ’n dom slot; los my net; dis my geld, laat ek ’n fout maak.’ ”

‘Closet-musikant’

Ook die restourasie en herontwerp van die geskiedkundige opstal op Welbedacht, wat uit die vroeë 1800’s dateer, het hy hoofsaaklik self behartig.

Burger in die wynkelder wat hy self ontwerp het. Foto: Jaco Marais

“Die meeste van my pelle wat jare saam met my rugby gespeel het, het nie daardie deel van my geken nie. Hulle het ook nie geweet dat ek maar ’n closet-musikant [hy het homself leer kitaar speel] is nie en dat ek bevoorreg was om met ’n klomp ouens oor die wêreld heen op ’n verhoog te staan nie.”

In Just a Moment vertel Burger van die interessante en soms omstrede gebeurtenisse wat afgespeel het in die sowat 11 jaar wat hy in die direksie van die KKNK was. Hy deel ook met die leser hoe hy ’n deurslaggewende rol in die totstandkoming van die Breytenbach-kultuursentrum in Wellington gespeel het.

En hoe sy goeie vriend Johann Rupert by ’n heerlike middagete in ’n steakhouse – waar ’n ander vriend, Chris Faure, en Ampie Coetzee en die broers Breyten en Cloete Breytenbach aanwesig was – aangebied het om die sentrum te befonds.

’n Rebel

Dok Danie Craven het ’n groot rol in Burger se lewe gespeel. Dit was ’n oproep van hóm terwyl Burger besig was om diensplig te doen wat daartoe gelei het dat hy in Stellenbosch gaan studeer het en sy rugbyloopbaan in alle erns op dreef gekom het.

Burger sê hy was altyd van nature geneig om teen die stelsel te rebelleer. Gedurende sy tyd in Stellenbosch het hy die politieke bestel in Suid-Afrika begin haat.

'Die boek is ’n persoonlike versameling van stories soos ék dit sien.' Foto: Jaco Marais

Hy het dit beleef as ’n bestel wat selfs in rugby ’n invloed gehad het, byvoorbeeld wanneer die Springbokspan gekies is. In die Ruiterwag en die Broederbond het hy geen sin gehad nie.

Ironies genoeg het hy nou, dekades later, “die Afrikanerbond ingetrek in hierdie Afrikaner-Afrika-inisiatief”, ’n wisselwerking tussen die Mbeki-stigting en Afrikaner-belangegroepe.

OP en WP

Sy eerste groot uitval met Craven was toe hy, nadat hy sy B.Ekon-graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal het, besluit het om ’n werkaanbod in Port Elizabeth te aanvaar en vir die Oostelike Provinsie (OP) te gaan rugby speel. Dok het vir hom gesê hy sal nie ’n Springbok word as hy vir die OP gaan speel nie.

Burger vertel in Just a Moment die boeiende verhaal van hoe hy wel later na die WP teruggekeer het, maar die span kort daarna die rug toegekeer het omdat hy van die veld af gestuur is ná ’n bakleiery wat tydens ’n oefening ontstaan het nadat hy Nick Mallett hard gelak het. Hy het toe vir die bruin Westelike Provinsie Liga gaan speel en die eerste wit Springbok geword wat uit ’n bruin span gekies is.

“So, ek is eintlik nie ’n Westelike Provinsie-Springbok nie. Ek is ’n Westelike Provinsie Liga-Springbok. Westelike Provinsie mag my as een van sy Springbokke beskou omdat die liga-span een van sy substrukture was, maar in my hart sal ek altyd ’n Westelike Provinsie Liga-Springbok wees. Daarop is ek ontsettend trots.”

Die woelinge van sy loopbaan as Springbok en daarna – die stryd om in die vroeë jare negentig rugby-eenheid te bewerkstellig en sy verhouding met ’n moeilike dr. Louis Luyt en Steve Tshwete – met wie hy baie goed bevriend geword het – word ook aangrypend in sy memoir belig.

‘Soos ’n pa’

Tussen Burger en wyle oudpres. Nelson Mandela het oor die jare ’n baie spesiale band ontwikkel.

Burger is ’n ywerige leser en het ’n groot versameling boeke oor onder meer die Anglo-Boereoorlog. Foto: Jaco Marais

“My seun [Schalk junior] was een van sy heroes gewees. En toe Schalkie nou sy nek gebreek het en ’n operasie moes ondergaan, toe bel hy my en sê hy het die beste spesialiste in Amerika en ons moet hom daarheen stuur. Hy het my omtrent elke oggend gebel.”

Ook later, toe Schalk junior by die dood omgedraai het weens ’n gewas op sy ruggraat, het hy Burger en sy vrou, Myra, ondersteun.

“En toe met René se storie – toe dit nou rugbaar raak – toe bel hy my een oggend. Hy het vir my gesê: ‘Schalkie, Schalkie, ek is so jammer. Ek wil jou net vasdruk . . .’ Jis, maar ons twee het lekker gehuil . . .

“Hy was vir my soos die pa wat ek nooit gehad het nie,” sê die reus wat homself beskryf as “’n arm outjie van die Paarl wat op ’n reis is”.

Meer oor:  Schalk Burger  |  Danie Craven  |  Springbokrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.