Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die hart en brein van Lea Vivier

Die bekroonde aktrise Lea Vivier praat met Murray La Vita oor geheime, geraamtes in die kas, en waarom jy soms mense moet afsny.

Lea Vivier sê dit was ’n “absolute vreugde” om aan Duiwelspoort te werk. Foto: Leroux Botha

Lea Vivier (28) sit op ’n Sondagoggend in ’n hotel in die Oos-Kaapse dorp Bedford. Haar uitstraling is een van helderheid en varsheid – sowel fisiek as psigies.

Sy het pas gestort en skink nou en dan rooibostee uit ’n wit teepot. Soms neem sy ook ’n sluk water uit ’n lang glas. In ’n stadium trek sy een van haar slanke, atletiese bene (sy is ’n hardloper en was in ’n stadium ’n joga-instrukteur) op en rus haar voorarms op haar knie.

Sy is in die Oos-Kaap vir die verfilming van ’n Engelse sielkundige riller – ’n televisiereeks van Showmax wat volgende jaar vertoon word – waarin sy speel.

Ek dink deel van ons werk as akteurs is ook stories skryf en stories opmaak en dán dit uitleef.

Ons zoomgesprek vind plaas teen die agtergrond van die hoofrol wat sy tans in Netwerk24 se blitsreeks Duiwelspoort vertolk.

Maar eers praat ons oor haar rol as kelnerin op ’n bruilof in die rolprent Wonderlus (2017) waarvoor sy die Silwerskerm-prys as beste aktrise ontvang het.

“Dit was vir my heerlik. Ek het ’n hele agtergrondstorie vir haar geskryf en ek het vir haar ’n dagboek gehou. Ek dink 40% van die genot van aktrise wees, lê vir my in die voorbereiding, die kreatiewe werk wat jy doen en die rúimte wat jy het om letterlik ’n storie te skryf vir jou karakter. So, ek dink deel van ons werk as akteurs is ook stories skryf en stories opmaak en dán dit uitleef.”

Sielkunde

Lea as Alexia, Wynand Ferreira as haar man, Chris Deetlefs, en hul dogter Emma, wat afwisselend gespeel word deur die tweeling Sofie (hier op die foto) en Olivia Passerini. Foto: Leroux Botha

Dit is seker nie iets wat álle akteurs doen nie?

“Waarom ék dit doen, is tweeledig. Enersyds is ek ontsettend geïnteresseerd in die sielkunde. Ek het onlangs vir my ma gesê as ek nie ’n aktrise geword het nie, dink ek ek sou in sielkunde wou ingegaan het.

“Ek vind dit fassinerend om met mense te gesels oor hulle eie menswees en hoekom hulle doen wat hulle doen en van waar af hulle kom en hulle psiges en hoe hulle aanmekaar gesit is. Ek is self in terapie en ek is mal daaroor. Dit is vir my soos ’n geskenk aan myself.

Ék kán nie net van my hart af werk nie. Ek moet eers ’n breinbenadering hê en verstaan hoekom my karakter doen wat hulle doen.

"Hierdie hele menswees wat kompleks is en jy reageer op sekere ervarings en mense op sekere maniere – ek kan nie verstaan hoe mens nie geïnteresseerd kan wees in daardie keuses wat jy maak of daardie reaksies nie. Dít is waarom ek dan ook so baie navorsing doen oor my karakters en hul psiges.

“En die ander rede is . . . Ek het nou al twee soorte akteurs teëgekom. Die een soort het ’n meer akademiese benadering tot hul werk, of ’n meer kóp-benadering, so hulle gaan eers van hier af,” Sy raak aan haar kop en pas-gewaste ligbruin krulhare. “En dán gaan hulle in die hart in.” Haar hand talm vir ’n oomblik teen haar bors.

“So, dis eers ’n breinbenadering en dan ’n hartbenadering. En ander akteurs kan letterlik net van die hart af werk. Ék kán nie net van my hart af werk nie. Ek moet eers ’n breinbenadering hê en verstaan hoekom my karakter doen wat hulle doen; waarnatoe hulle gaan; waarvandaan hulle kom . . . Ek moet eers al daardie hierso [kop] verstaan en dan voel ek veilig genoeg om dan af te beweeg hiernatoe [hart].”

‘Daar is grense’

Wanneer ’n mens vir baie lank aan ’n karakter bou en haar verstaan en dan op stel kom en haar uitleef, kan jy nie help om vir daardie tydperk soos sy te voel nie.

“En soos sy op te tree nie, want jy klim in ’n ander persoon se vel in. Maar daar is grense en ek dink ’n mens moet altyd professioneel bly. Mý benadering is dat die oomblik wat die kameras nie meer rol nie, is dit ’n mental ding waar jy gaan: Oukei, nou is ek weer Lea; dít is waar ek is; dít is wie ek is, en nou stop ek.

“ ’n Mens móét dit doen, want jy doen soms hoogs emosionele tonele en jy kan nie as die kameras ophou rol nog aanhou húil en jou toys uit die cot uit gooi nie.”

Die gevoel op stel was een van ábsolute vreugde en ábsolute kameraderie van dag een af, want mense was net so vrek dankbaar om weer te kan werk.

Sy sê Duiwelspoort was die meeste akteurs en tegnici wat daaraan gewerk het, se eerste projek sedert die nasionale inperking begin het.

“So, die gevoel op stel was een van ábsolute vreugde en ábsolute kameraderie van dag een af, want mense was net so vrek dankbaar om weer te kan werk. Ek het báie hard gewerk, maar dit was ’n absolute fees omdat almal so in ekstase was.

“Wat ook wonderlik was, is dat almal aan die roer van sake vroue was – ons regisseur, ons kinematograaf en ons first assistant-director. Die regisseur was Nina Swart, die kinematograaf Faheema Hendricks en die first assistant-director was Mareli Olivier. Dit het ’n heeltemal ander gevoel op die stel geskep. Dit was héérlik.”

’n Ma en ’n dogter

Alexia en haar ma, Antoinette Aucamp, gespeel deur Jana Kruger. Foto: Leroux Botha

Lea het geweldige hoë agting vir Nina.

“Ek het vir die eerste keer saam met haar gewerk op die tweede seisoen van Fynskrif. [Sy het die rol van Lilani du Toit vertolk.] Sy het die regie van die tweede en derde seisoene gedoen.

“Ek het nog nooit iemand ontmoet wat so entoesiasties is oor élke liéwe persoon op die stel se funksie nie. Die entoesiasme en ondersteuning is net nimmereindigend. En sy lees net mense só goed . . . Ek dink sy ken my só goed, sonder dat ek al baie vir haar vertel het van my eie menswees.”

Dit was vir haar ook wonderlik om saam met akteurs te werk wat sy as “die room van ons Afrikaanse bedryf” beskou.

So, dit was ’n baie interessante dinamika om na te kyk, want báie wit gesinne word nog groot met die vrou wat vir die gesin werk en wat by hulle inwoon.

“My karakter is in ’n baie interessante ma-dogter-verhouding. Ek dink Alexia – net haar ma noem haar Alexia; sy noem haarself Alex – voel al vir ’n geruime tyd in haar lewe ’n ongelooflike groot mate van verwerping deur haar ma, Antoinette, wat deur Jana Kruger vertolk word. Haar ma aanvaar haar nie en is nie rêrig vir haar lief nie en sy het meer van ’n moederlike verhouding met Maggie, wat vertolk word deur June van Merch.

“So, dit was ’n baie interessante dinamika om na te kyk, want báie wit gesinne word nog groot met die vrou wat vir die gesin werk en wat by hulle inwoon en waar dan ’n baie nou band met die persoon gevorm word.

“Ek kan baie lank daaroor praat, want daar is baie problematiese nuanses aan daardie verhouding. Daardie persoon word dikwels net vergoed vir die werk wat hulle in die huis doen, maar nie om ’n tweede ma te wees nie.

“Ek probeer nog uitwerk hoe ek daaroor voel dat die vrou met wie ons grootgeword het, wat vir 18 jaar lank in ons huis gewerk het – Dinah Makgetla – so ’n paar jaar gelede terug is Kimberley toe. Sy het by ons ingebly en ek het baiekeer by haar in die bed gaan klim. Sy wás vir my soos ’n tweede mamma, en toe sy te oud is om nog te werk toe is sy net wég . . . Dis vréémd en dit maak my baie hartseer. Ons gesin was haar gesin.”

‘Ons almal ken dit’

Daar is ’n wedywering tussen Antoinette en Maggie, sê sy.

“Antoinette is baie bewus daarvan dat ek [Alexia] Maggie bo haar verkies as ’n ma-figuur. En dan is daar die verwerping; die gevoel van ek is nie goed of normaal genoeg nie . . . Ons almal ken maar daai gevoel. Of jy dit nou kry van jou ma of jou pa of uit ander aspekte van jou lewe.

“So, dit was lekker om daarmee te speel en dan om na Alexia te kyk en te sien wat dit is wat sy doen en hoe gaan sy uit haar pad uit om te bewys dat sy goed genoeg is. En wát jaag sy na om vir haar ma te bewys sy is goed genoeg, in stede daarvan om daardie vervulling binne haarself te realiseer.

“Dit is so half haar reis – dat sy op ’n punt kom, en dis ’n hartseer punt, waar sy besef: Ek gaan my ma moet afskryf, want ek gaan nooit dít wat ek soek by haar kry nie. Sy is lief vir haar ma, maar dit is haar reis om haar ma uit haar lewe te sny.”

Die waarheid

“Alexia is die een wat gaan krap en vra: ‘Wat gaan hier aan?’ ” Foto: Leroux Botha

Alexia het regdeur die verhaal ’n obsessie daarmee om die waarheid uit te vind.

“Sy wil só graag die waarheid uitvind oor haar ma en haar pa en wat op die plaas gebeur omdat sy binne haarself onseker is oor wie sy is en waar sy inpas en behoort.

“Haar strewe na die waarheid is eintlik ’n strewe na selfaktualisering. En sy soek konstant daardie waarheid van haar ma af, maar sy gaan dit nooit by haar ma kry nie want haar ma kan dit nie eens vir haarself gee nie."

Sy praat oor die res van die intrige.

“Familie – ma, dogter, seun . . . Iets gebeur in die eerste episode en vanuit daardie krisis bloei al die karakters se stories en lyne. Daar is ’n dorp en ’n plaas met ’n matriarg, Antoinette, en daar is ’n klomp geheime wat almal van mekaar probeer wegsteek. En elke karakter het ’n geraamte in die kas. Almal se geraamtes begin stelselmatig uit die kas val en almal probeer dit terugstoot.

“Alexia is die een wat gaan krap en vra: ‘Wat gaan hier aan? Hoekom het dít gebeur? Hoekom het dát gebeur? Wie is jy? Wat maak jy?’ Omdat sy obsessief is daaroor om die waarheid uit te vind. En omdat sy onvolmaak of gebroke voel en nie weet waar sy hoort nie.”

’n Omwenteling

Lea het vir 'n jaar in Chili gewoon waar sy Spaans vlot leer praat het.

Lea het ná skool – sy was hoofmeisie van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad – vir ’n jaar in Chili gaan woon waar sy Spaans vlot leer praat het.

“Ek was nie seker wat ek wou doen nie. Ek het nog altyd geweet ek hou van drama en ek hou van teater. Ek is my hele lewe lank daaraan blootgestel. Ek het net in dit ingeval toe ek klein was as gevolg van my ma en my suster.”

Haar ma, Adri Troskie Vivier, het dramaklasse gegee en haar ouer suster, Trix, is ook ’n aktrise.

“Maar ek was nie rêrig seker: Wil ek drama swot omdat Lea dit wil doen, of is dit maar net al wat ek ken nie. So, toe het ek vir myself gesê: Hoor hier, omdat ek altyd so voorbeeldig is en so hard werk, wil ek net eers ’n jaar lank in ’n ander land gaan deurbring waar niemand weet wie ek is nie en waar ék nie weet wie enigiemand is nie, net om myself heeltemal te verloor.

Toe vra ek myself eendag af: Jy swot nou tale, maar wat wil jy actually doen op ’n daaglikse basis ná universiteit?

“So, ek het letterlik ’n jaar lank Suid-Amerika toe gegaan en myself gaan verloor. En dit was héérlik. Ek het gedoen net wát ek wil. Toe kom ek terug en ek is baie deurmekaar oor wie ek is en wat ek wil doen.”

Sy het toe in tale gaan studeer aan die Universiteit van Kaapstad.

“Toe vra ek myself eendag af: Jy swot nou tale, maar wat wil jy actually doen op ’n daaglikse basis ná universiteit? Toe besef ek ek wil óf op die verhoog wees óf op stel. Toe gaan swot ek drama.”

Sy het die graad met lof aan Rhodes-Universiteit behaal.

“Dit was eintlik so voor die hand liggend; die waarheid het my eintlik altyd in die oë gestaar, maar ek moes eers ’n omwenteling beleef om te besef dis nou rêrig dít.”

• ’n Nuwe episode van Duiwelspoort, waarvan VIA die uitvoerende vervaardiger is, verskyn elke weeksdag om 08:00 op Netwerk24. Die blitsreeks duur tot middel-November.

Waaroor gaan Duiwelspoort?

Duiwelspoort is ’n familiedrama waarin een gesin se geheime blootgelê word. Ontmoet Antoinette Aucamp (Jana Kruger) van die plaas DeWaalspoort. Mans wil haar hê. Vroue wil soos sy wees. Selfs haar eie kinders, Alexia (Lea Vivier) en De Waal (Pascual Wakefield), word soms deur die glans van Antoinette se boere-adel verblind.

KLIK HIER OM EPISODE 1 TE KYK.

Op die oog af lyk hulle na ’n hegte gesin, saamgesnoer deur die tragiese dood van Ludwig (Jaco Spies), eggenoot en pa, sowat 25 jaar gelede. Wanneer ’n fratsongeluk egter onthul dat daar meer agter Ludwig se dood skuil as wat sy kinders gedink het, begin die krake in dié familie wys.

KYK DIE LOKPRENT VAN DIE REEKS

Hoe werk ’n aanlyn blitsreeks?

Ons reik elke weeksdag een episode om 08:00 op Netwerk24 uit. Moenie bekommerd wees as jy dit nie dadelik kan kyk nie, want al die episodes sal vir ’n onbeperkte tyd op Netwerk24 wees. As jy dus ’n episode misloop, kan jy maklik later die dag, die volgende dag of oor die naweek opvang. Aan die einde van die reeks kan jy ook al 45 episodes in die omnibus fuifkyk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.