Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Dié kankers ‘nie meer ’n doodsvonnis’

Kankers wat voorheen ’n doodsvonnis sou wees, word deesdae genees, sê die onkoloog dr. Sarah Fairhead aan Murray La Vita.

Dr. Sarah Fairhead: “Ek dink as onkoloog het jy ’n ongelooflike geleentheid om wérklik ’n verskil in mense se lewe te maak.”Foto: Jaco Marais

Fairhead se kantoor ruik soos die groot ou Galeries Lafayette in Parys, waar ’n infusie van parfuum deur die lugversorgers soms die lug in en rondom dié pronkwinkelkompleks geur.

Sy wys na ’n buisie handeroom en na ’n vierkantige glasbotteltjie op haar lessenaar.

“Dit is my handeroom van Aesop – ek is baie lief daarvoor. En hierdie reukverspreider . . . Om die waarheid te sê ek het ’n nuwe een wat ek moet uitsit want wanneer my pasiënte met hul behandeling klaar is, gee hulle vir my ’n nuwe een want hul assosiasie met my kantoor is hierdie geur. Dit maak ’n onaangename ervaring redelik aangenaam.”

Die volgende ding wat ’n mens van haar ligdeurstraalde kantoor in die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in die Kaapstadse strandgebied opval, is die twee afdrukke teen die muur agter haar: Natuurtonele van Monet. Teen die muur oorkant haar is ’n groter werk, ’n afdruk van ’n Gustav Klimt-skildery – ook ’n sagte groen natuurtoneel.

En dan is daar Fairhead, ’n lenige 37-jarige blonde vrou met intense blou oë, skitterwit tande, goed versorgde hande waarvan die naels kort geknip is, en ’n glimlag wat dikwels in die loop van die onderhoud van bloot warm na klaarblyklik meelewend verander (vergesel van ’n sagte “mm, mm”) en ’n mens dan ’n indruk kan kry van die uitstraling wat haar pasiënte beleef.

“Daar is baie min dinge wat my kan onderkry want ek is gesond, en my kind en my familie is gesond.”Foto: Jaco Marais

Waarom onkologie?

Die onderhoud met Fairhead vind plaas teen die agtergrond van Februarie as kankerbewustheidsmaand. Die eerste vraag aan haar is: Waarom het sy onkologie as ’n spesialiteitsrigting gekies?

“Ek weet nie, ek dink onkologie het mý soort van gekies. Dit het amper net met my gebeur. Toe ek as ’n mediese dokter gewerk het, is ek altyd deur kankerpasiënte aangetrek. Ek het altyd my interaksie met hulle en hul geliefdes geniet.

“Daar was toe ’n pos beskikbaar en dit het reg gevoel . . . Dit was onmoontlik om in te kom maar op een of ander manier het ek wel die pos gekry en toe ek weer sien is ek ’n onkoloog. En nou kan ek my nie voorstel dat ek iets anders wil doen nie.

“Dit klink vreemd, want die meeste mense dink dit is ’n depressing werk, maar dit is regtig nié; dit is glad nie depressing nie.”

Waarom nie?

Ek dink nie baie mense het die geleentheid om op ’n daaglikse grondslag só ’n soort interaksie met mense te beleef nie.

“Ek dink as onkoloog het jy ’n ongelooflike geleentheid om wérklik ’n verskil in mense se lewe te maak . . . Nie noodwendig hul kanker te genees nie, maar om net ’n goeie dokter en goeie mens te wees: Dinge behoorlik te verduidelik en geliefdes betrokke te kry. Ook om mense toe te laat om by die besluite betrokke te raak en hulle meer bemagtig te laat voel in ’n situasie waarin mense gewoonlik redelik óntmagtig en bang voel.

“Jy leer ken mense baie goed, wat wonderlik is. Jy vorm sterk bande met hulle; jy loop ’n flippen moeilike paadjie saam met hulle. Ek dink nie baie mense het die geleentheid om op ’n daaglikse grondslag só ’n soort interaksie met mense te beleef nie.”

Werkbevrediging

Dit gee dus ook baie sin aan háár lewe?

“Ja. So, dis eintlik redelik selfsugtig. Dit ís, natuurlik.” Ons praat oor die intense werkbevrediging wat sy ervaar. “Ek dink die aard van my werk herinner my deurentyd aan hoe dankbaar ek behoort te wees en dat ek my nie oor klein dingetjies moet verknies nie. Daar is baie min dinge wat my kan onderkry want ek is gesond, en my kind en my familie is gesond.

Die lewe is eintlik werklik nogal wonderlik.

“So, ek waardeer die lewe en ek waardeer élke dag. ’n Paar pasiënte – natuurlik dié wat genees is – het vir my gesê die kankerdiagnose en die kankerreis is die beste ding wat met hulle gebeur het, want nou waardeer hulle hul lewe en die mense in hul lewe . . . Hulle het ’n hele nuwe . . . Jy weet ons beland in hierdie gejaagde lewe waar jy net elke dag dieselfde ding doen en gefrustreerd voel in die verkeer of gefrustreerd voel wanneer die kelner vir jou die verkeerde maaltyd bring of omdat jou kinders ondankbaar is of jou man nie heeltemal optree soos hy moet nie; terwyl daar eintlik so baie is om voor dankbaar te wees. Die lewe is eintlik werklik nogal wonderlik.”

“Jy moet gemaklik wees met jou emosies; om hartseer te wees is oukei . . .” Foto: Jaco Marais

‘Dan huil ons’

Sy waardeer dus ook die lewe so baie omdat sy so dikwels met die dood gekonfronteer word?

“Mm . . . mm . . . Kyk, dit is nie maklik nie; dit is nie maklik nie,” sê Fairhead, wat buiten haar ander mediese kwalifikasies ook ’n diploma in palliatiewe sorg – die versorging van mense wat terminaal siek is – het.

Jy moet gemaklik wees met jou emosies; om hartseer te wees is oukei . . .

“En daar is sommige pasiënte wat ons baie meer raak as ander. En soms sal ek uit ’n konsultasie met ’n pasiënt kom en dan sal Sam [Sylvester, die praktykbestuurder] en ek huil . . . Jy moet gemaklik wees met jou emosies; om hartseer te wees is oukei . . . En as ek klaar hartseer was, dan gaan ek weer voort met die lewe: Ek gaan hardloop of ek klim berg. Ek geniet my kind – ek het ’n vierjarige dogtertjie wat my daaraan herinner dat dit alles net ’n siklus is.”

Nuwe behandelings

Nóg ’n rede waarom sy so lief vir haar werk is, is die feit dat kankerbehandeling so ’n vinnig ontwikkelende terrein is.

Ek dink ek het iewers gelees dat die genesingskoers vir kanker in Suid-Afrika oor die afgelope 40 jaar verdubbel het.

“Ons leer die hele tyd nuwe dinge. Nuwe behandelings is ook heel tyd beskikbaar. ’n Fase-vier-melanoom was ’n doodsvonnis en nou kan jy met immunoterapie daarvan genees word. Dieselfde geld longkanker – met sekere soorte longkanker kan jy van ’n fase-vier-kanker genees word.

“So, daar is in sekere gevalle die baie sterk vooruitsig op genesing en dit is vir ’n onkoloog baie opwindend. Ek dink ek het iewers gelees dat die genesingskoers vir kanker in Suid-Afrika oor die afgelope 40 jaar verdubbel het.

“Dit is indrukwekkend. Wetenskap het merkwaardig gevorder.”

Pampoenpitte?

Hoe hanteer sy dit wanneer mense aandring op behandeling waarvoor daar geen wetenskaplike bewyse is dat dit kanker kan genees nie?

“Gewoonlik sê ek: ‘Kom ons doen wat ons weet daar bewyse voor bestaan dat dit kan werk, maar probeer gerus ook ander dinge wat moontlik kan help.’

“Ons kan nie met sekerheid sê of dit gaan help nie, want daar gaan nooit ’n kliniese toets wees wat byvoorbeeld na pampoenpitte kyk nie. Maar ek dink die plasebo-effek is eg. En mense wil ook net voel hulle neem van die besluite en neem deel aan die proses, eerder as om hulle net oor te gee aan hierdie drastiese chemiese behandelingsplan.”

“Ek waardeer die lewe en ek waardeer élke dag.”Foto: Jaco Marais

Fairhead is ’n bestralingsonkoloog wie se spesialiteit buiten bestraling ook chemoterapie is.

“So, ek moedig mense aan om hul dieet dop te hou, te oefen, ’n bietjie joga te doen, te mediteer – om baie holisties te wees; ek glo dit maak wel ’n verskil.

“Maar wanneer hulle kom met dinge wat ek dink skadelik kan wees, raak dit natuurlik ’n bietjie meer ingewikkeld.”

‘Pasiënte is weerloos’

En dan is daar wat sy “geldelike toksisiteit” noem.

“Dit kan ’n groot probleem wees. Die behandeling wat ons aanbied, gaan deur jou mediese fonds gedek word, maar as jy na ander soort dokters toe gaan wat jou byvoorbeeld vitamieninfusies gee . . . Dit kan werk of dit kan nie en miskien werk dit vir iets, maar as jy ’n bykomende R30 000 by jou uitgawes voeg . . . So ’n mens moet ook aan mense hieroor berading gee.”

En ons pasiënte word soms die prooi van mense wat met al hierdie beloftes van kitsoplossings na hulle kom.

Kankerpasiënte is weerloos.

“En ons pasiënte word soms die prooi van mense wat met al hierdie beloftes van kitsoplossings na hulle kom. Ek meen wél daar is praktisyns wat glo in wat hulle verkoop en dat hulle goeie bedoelings het, maar daar is ook ander mense oor wie ek my liewer nie verder sal uitlaat nie.”

Newe-effekte

Ek pols haar oor die verwoestende newe-effekte wat chemoterapie en bestraling op pasiënte kan hê – dat dit selfs ander kankers kan veroorsaak.

“Palliatiewe behandeling en behandeling wat op genesing gemik is, verskil natuurlik báie van mekaar. So, as jy ’n behandeling aanbied wat ’n baie goeie kans het om die kanker te genees, sal ons eerstens hard probeer om pasiënte te oortuig om die behandeling te aanvaar. En dan sal ons hulle inlig oor al die moontlike newe-effekte en ander kwessies, soos: ‘Luister, hierdie behandeling gaan jou kanse op oorlewing vergroot van soveel tot soveel persent.’

“Dit is natuurlik hul besluit, maar ek gee vir hulle al daardie inligting in ’n poging om hulle te laat verstaan waarom ek dink dit ’n goeie plan is.

“Jy moet jou pasiënt ken; jy moet weet wat hulle van die behandeling verwag.” Foto: Jaco Marais

“Betreffende die palliatiewe sorg van ’n pasiënt wat ’n kanker het wat ek weet nie genees gaan word nie en dat die pasiënt heel waarskynlik binne die afsienbare toekoms gaan sterf, moet ek baie reguit wees.

“Ek sê dan: ‘Luister, die doel van dié behandeling is om jou lewe te verleng, maar dit is ook om jou lewensgehalte te verbeter. So, laat weet my indien jy in enige stadium voel die behandeling verbeter nié jou lewensgehalte nie, dan sal ek nie daarmee voortgaan nie. Dis iets wat ons probeer en indien dit jou beter laat voel omdat dit die gewas laat krimp, en die newe-effekte draaglik is, dan doen ons dit. Maar hoekom voortgaan indien dit vir jou werklik moeilik is.’

“Dís hoe ek sou opgetree het as dit my ma of my tante of my suster was. Daardie soort behandeling [chemoterapie of bestraling] is nie altyd werklik nodig nie. So, jy moet jou pasiënt ken; jy moet weet wat hulle van die behandeling verwag.”

Verskil van mens tot mens

Sy noem ’n voorbeeld.

“Ek het aan die begin van die jaar ’n pasiënt gehad wat aan pankreaskanker gely het en vir my gesê het haar dogter se gradeplegtigheid is in Maart en sy wil net tot by Maart kom met die behandeling; sy gee nie om wat die newe-effekte is of wat gebeur nie. Dít was haar doelstelling.

Maar ons het nog nie eens daarmee begin nie, toe sterf sy.

"Ek het toe vir haar gesê: ‘Oukei, kom ons probeer die chemoterapie; ons probeer iets wat die beste kans het om jou daar te kry.’ Maar ons het nog nie eens daarmee begin nie, toe sterf sy.

“Dan is daar pasiënte wat vir my sal sê: ‘Luister, ek is 80 jaar oud en ek het ’n merkwaardige lewe gehad en ek het alles gedoen wat ek wou – ek het my kinders sien trou, ek het kleinkinders, my man is al dood; ek gee nie om om binne die volgende paar maande te sterf nie, maar ek wil nie ly nie en ek wil nie die heeltyd in die hospitaal wees nie.’

“Dan sal ek sê: ‘Goed, perfek, kom ons verwys jou na St. Lukes-hospies; kom ons kry palliatiewesorg-dokters betrokke by jou behandelingsplan en dan is dit nie vir jou nodig om die heeltyd hospitaal toe te kom nie.’

“So, vir elke mens is dit anders.”

“Ons leer die hele tyd nuwe dinge. Nuwe behandelings is ook die heel tyd beskikbaar.”Foto: Jaco Marais

Omvang van kanker

Dit is moeilik om ’n aanduiding van die omvang van kanker in Suid-Afrika te gee.

“Die aanmelding daarvan is baie agter. Ek dink die laaste keer dat die Suid-Afrikaanse kankerregister bygehou is, was in 2014 of 2015. En die statistiek is in elk geval nie korrek nie want dit berus op aanmeldings in sterfregisters en algemene verslae oor pasiënte wat in hospitale behandel word. Daar bestaan nie werklik stelsels wat goed werk nie.”

’n Mens kry wel die indruk dat kanker aan die toeneem is?

“Ja, dis moeilik om te sê hoe groot die toename is. Voorheen is gesê dat 1 uit elke 5 mense teen die ouderdom van 75 aan kanker sal ly; nou hoor jy dit is 1 uit 3, en soms hoor jy selfs 1 uit elke 2.

“So, dit kom beslis al meer dikwels voor en dit word meer dikwels en vroeër gediagnoseer, so ons weet van meer gevalle as voorheen. Daar is so baie kwessies: Mense leef langer en kanker is wesenlik ’n siekte van die gene – dit word veroorsaak deur die wanfunksionering van gene – en hoe ouer jy word, hoe meer is jou gene geneig om te muteer en indien daardie mutasies verband hou met die faktore wat die groei van gewasse inhibeer, gaan jy moontlik ’n kanker ontwikkel. Hoe ouer jy word, hoe meer geneig is jy dus om kanker te kry.

“Dan is daar die kwessie van skade aan die gene wat veroorsaak word deur die hedendaagse lewenstyl: Mense rook, hulle drink, hulle eet ongesond . . . te veel rooivleis, te veel geprosesseerde vleis, te veel geprosesseerde kos in die algemeen . . . Daar is insekdoders op ons vrugte en groente; daar is groeihormone in ons vleis, antibiotika . . . Ál hierdie dinge speel ’n rol.”

Sy sluk, asof haar mond droog is.

“Ek dink die konsensus is dat ál hierdie dinge ’n rol speel: Mense word ouer, ons word aan te veel karsinogene blootgestel, en mense word deesdae vroeër gediagnoseer met kankers soos prostaatkanker waarmee hulle in die verlede sou gesterf het sonder om eens daarvan bewus te wees dat hulle dit het.”

’n Tydbom

Het enigiemand na aan haar al aan kanker gesterf?

Soms voel dit of jy ’n tikkende tydbom is vir die mense wat jy liefhet . . . Dís amper hoe dit soms voel.

“Nee . . . Om die waarheid te sê dit het nog nie gebeur nie. Geen van my familielede of vriende nie. Daar is vriende van vriende, en natuurlik pasiënte, maar nog nie iemand na aan my nie.

“Ek wag daarvoor. Dit is nogal skrikwekkend om ’n onkoloog te wees. Soms voel dit of jy ’n tikkende tydbom is vir die mense wat jy liefhet . . . Dís amper hoe dit soms voel.

“Maar jy moet jouself baie vinnig uit daardie gemoedstoestand kry, want mý konsep van wat normaal is, is steeds nie normaal nie . . . Die hoeveelheid kanker waarmee ek te doen kry . . .”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Onkologie  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.