Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Gifmoorde en ‘die koudste van alle koue monsters’

Die stories wat Jacob Zuma vertel oor sy gesondheid of dat hy vergiftig is, is al dekades lank van sleutelbelang in sy loopbaan en speel nou weer ’n rol in sy vrylating, sê Imraan Coovadia, skrywer van The Poisoners: On South Africa’s Toxic Past, aan Murray La Vita.

Prof. Imraan Coovadia in sy tuin in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Hy wou ’n begrip kry van die aard van boosheid in ons land en probeer verstaan waarom ons nie daaraan kan ontsnap nie, sê Coovadia.

In sy boek Revolution and Non-Violence in Tolstoy, Gandhi, and Mandela (2020) het hy besin oor hoe dit moontlik is om ’n goeie mens te wees, veral in Suid-Afrika.

“Nadat ek daardie boek voltooi het, het ek gedink ek besin nou al drie of vier jaar oor goedheid, so dis heel natuurlik om nou te wonder waar boosheid vandaan kom en hoe ons daaroor praat. Soos enige ander Suid-Afrikaner het ek ook gewonder wat het in ons land skeefgeloop.”

‘The Poisoners’ het pas by Umuzi verskyn.

Toe onthou hy iets wat sy pa, dr. Hoosen Coovadia, ’n pediater, ’n aantal jare gelede beleef het toe hy in Durban ’n dinee ter viering van die opening van ’n nuwe kinderkliniek bygewoon het.

Peggy Nkonyeni, toenmalige direkteur van die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid, was ook ’n gas. Sy was baie ontevrede omdat daar nie ’n gifproeër was om seker te maak dat daar nie gif in haar kos is nie.

Wat dán gebeur en wie dan wél ingespan word om haar kos te toets, is een van die mededelings in Coovadia se geweldig boeiende en insiggewende boek wat die leser verbyster.

“Dit was vir my so kenmerkend van die wantroue wat Suid-Afrikaners jeens mekaar het. Dit was in daardie tyd dat Jacob Zuma se probleme met gif baie belangrik in Suid-Afrika geword het.

“Die eerste keer toe regter Dhaya Pillay ’n lasbrief vir Zuma se inhegtenisneming uitgereik het, was toe hy beweer het dat hy vergiftig is.

“Stories oor vergifting was besig om oral op te duik – veral in die ANC. Ek dink ek wou probeer vasstel waaroor dit gaan en waar dit vandaan kom. Dit is ongelooflik wat toe aan die lig gekom het en wat nog nooit saamgegroepeer is as ’n reeks probleme wat met mekaar verband hou nie.”

Vreemder as fiksie

Die gesprek met Coovadia – ’n man met groot bruin oë en ’n sagte stem – vind plaas in ’n leefvertrek van die Victoriaanse huis in die Kaapse buurt Nuweland waar hy en sy vrou, dr. Britta Rennkamp, ’n navorser oor klimaat, en hul seuns, Jasper (7) en Daniyal (5), woon.

"Dit spreek van ongelooflike kilheid waartoe Suid-Afrikaners in staat is." Foto: Jaco Marais

Die vertrek is gevul met speelgoed – veral Lego-konstruksies – en teen die mure is foto’s en die seuns se kunswerke. Die kontras tussen die heilsaamheid van hierdie ruimte en die onderwerp van ons gesprek is dus baie groot.

Coovadia is ’n bekroonde romansier en hoogleraar aan die Universiteit van Kaapstad waar hy aan die hoof van die program vir kreatiewe skryfwerk staan. Hy sê dit waarop hy in sy navorsing vir The Poisoners afgekom het, sou ’n mens nie in fiksie kon gebruik nie.

“Dit sou eenvoudig te ongelooflik wees en as kunsmatig, onnodig en oordrewe oorkom.”

Die grootste tol

Gemeet aan die standaarde van moderne oorlogvoering is die aantal mense wat in suidelike Afrika met gif vermoor is, dalk nie so groot nie.

Hy skryf: “Maar die paranoia wat gesaai is onder die teikens van mense soos Wouter Basson en Robert Symington het tot uiting gekom in die samesweringskultuur van die partye wat Zimbabwe en Suid-Afrika vandag regeer. Dít is dalk die grootste tol.

“Die reeds amper vergete slagoffers van hierdie partye sluit in die tienduisende wat tussen 1983 en 1987 in Matabeleland doodgemaak is, die honderdduisende wat tot infeksie en die dood verdoem is, tesame met hul afhanklikes wat tussen 2000 en 2005 deur die regering van Thabo Mbeki [onder meer omdat hy nie geglo het vigs word deur ’n virus veroorsaak of aan die behandeling van vigspasiënte met toksiese middels soos Virodene geglo het nie] tot armoede en ouerloosheid gevonnis is, en die miljoene wat gely het en nog dekades lank gaan ly weens die doelbewuste verwoesting van Suid-Afrika se ekonomiese en politieke instellings onder Jacob Zuma, wat deurgaans deur die ANC tot in die finale maande van sy tweede ampstermyn beskerm is.”

Wit mans en gif

Die moderne geskiedenis van Zimbabwe en Suid-Afrika is gevorm deur ’n haas onsigbare broederskap van wit mans wat ’n groot belangstelling in die gebruik van gif gehad het, aldus Coovadia.

Dr. Wouter Basson
Dr. Wouter Basson Foto: Lisa Hnatowicz

Hierdie mans het gewerk in onder meer die Rhodesian Central Intelligence Organisation, die Buro vir Staatsveiligheid (Boss), die Burgerlike Samewerkingsburo, Project Coast, Suid-Afrika se chemiese en biologiese oorlogvoeringsprogram onder beheer van dr. Wouter Basson; en die forensiese eenheid van die destydse Suid-Afrikaanse Polisie, waar lt.genl. Lothar Neethling in bevel was.

“Wat wit mans betref: Net sommige mense het die tegniese kennis gehad om gif te gebruik. Jy sien dit byvoorbeeld in die ANC – een van sy swakplekke was dat hy nie ’n tegniese kapasiteit gehad het nie; so te sê al sy tegniese kapasiteit is deur die Kubane, en tot ’n mindere mate die Russe, voorsien.

“So dít verklaar die rol van wit mans; hulle het relatief gesofistikeerde kennis gehad van gif en hoe om dit te gebruik.”

‘Koue monsters’

Volgens Coovadia het die “paramilitêre” gebruik van gif in Suider-Afrika – Angola, Botswana, Lesotho, Mosambiek, Namibië, Zimbabwe, Suid-Afrika, Swaziland en Zambië – moraliteit en vertroue “erg ontwrig”.

Die wit regimes van Suider-Afrika was dalk nie altyd groot en sterk nie, maar hulle het opgetree op ’n wyse wat die filosoof Friedrich Nietzsche verstaan het toe hy die staat as “die koudste van alle koue monsters” beskryf het.

“Die Rhodesiërs was die pioniers van hierdie grootskaalse gebruik van gif deur die staat. Daar was waarskynlik nie meer as 20 of 30 mense betrokke by sy program nie. So, ’n handjievol mense het ’n enorme hoeveelheid skade aangerig. Hulle het dit gebruik in medisynes, in kos . . . klere is ook vergiftig."

Lede van die British South Africa Police op patrol
Lede van die British South Africa Police (BSAP), in 1973 op patrollie in Rhodesië. Foto: Getty Images

Symington het ’n sentrale rol gespeel in dié chemiese en biologiese oorlogvoering. Toe Rhodesië onafhanklik word, het hy na Suid-Afrika uitgewyk waar hy by die Universiteit van Kaapstad as hoof van die anatomie-departement aangestel is.

“Hulle was baie suksesvol. Hulle het duisende guerrillas én gewone burgers vermoor. Daarby het hulle terreur, wantroue en ’n chaos in al die guerrillabewegings gesaai.

“Dit spreek duidelik uit byvoorbeeld Mugabe se vrees dat hy deur een van sy kollegas vergiftig gaan word en hierdie algemene vrees vir vergiftiging.”

‘Vrese is uitgebuit’

Coovadia meen die interne kultuur van die ANC is gevorm deur wat in ballingskap gebeur het. Weer eens speel gif, vergifting, vrese vir vergifting, en die wantroue wat daaruit spruit, ’n groot rol.

“Dit was nog nooit vir my heeltemal duidelik wat die verband is tussen wat in die ANC se kampe in plekke soos Angola [waar MK-soldate gehuisves en opgelei is] gebeur het, en hoe die ANC se hedendaagse kultuur daaruitsien nie.

“Maar die sleutelfiguur wat uit hierdie wêreld verrys het, is baie duidelik Jacob Zuma . . . Kyk, ek neem aan elke guerrillabeweging is paranoïes; hul vyande ís besig om hulle te probeer infiltreer; hulle móét onder moeilike omstandighede ondergronds wees.

Jacob Zuma.
Jacob Zuma. Foto: Gallo Images

“Wat is dus ongewoon van die ANC? Eerstens was daar ’n tussenspel tussen sy eie vrese en die Suid-Afrikaanse regering van destyds. Die regering het ingespeel op die vrese van die ANC en hoe die ANC dan daarop reageer. Dit lyk na ’n buitengewone of uitsonderlike reaksie, maar in ’n sin is dit die storie van Suid-Afrika as sulks – hoe opponerende gemeenskappe mekaar se grootste vrese uitbuit. En die gevolge daarvan.

“Daar wás beperkte gebruik van gif teen daardie kampe deur die staat se veiligheidsagentskappe en daar wás klaarblyklik ’n aantal dubbelagente, maar die ANC het nie daarin geslaag om op ’n organisatoriese en sielkundige wyse sy infiltrering die hoof te bied nie.

“Dít het sy hele guerrilla-infrastruktuur geruïneer; die wyse waarop hulle aanhoudend na infiltreerders gesoek het en met ondersoeke besig was. Hulle het so te sê geen greep gehad op die teeninligtingsaspek van hul eie beskerming nie.

“Die kwessie van hoe jy ’n organisasie bestuur en dit teen bedreigings beskerm en gedissiplineerd bly . . . Dít is iets wat die ANC gewys het hy, sedert die tyd in ballingskap, geheel en al nié in staat is om te doen nie – buiten nou vir die tyd toe Mandela aan die bewind was en tot ’n kleiner mate Mbeki.”

Zuma vind baat

Op een vlak het ons hier te doen met stories oor moord, sameswering en wantroue, en Zuma is nie net ’n oorlewende hiervan nie, maar gedy klaarblyklik ook in sulke omstandighede – hy kom sterker daaruit, sê Coovadia.

“Die Rhodesiërs was die pioniers van hierdie grootskaalse gebruik van gif deur die staat.” Foto: Jaco Marais

“Hy is een van die min mense wat sy posisie konsolideer – hy word ’n leier van Mbokodo [die afdeling in beheer van die kampe] en gaan allerhande vreemde alliansies aan. Hy baat ooglopend geweldig baie by hierdie wêreld van vergifting en vrese van vergifting terwyl talle mense besig is om rondom hom te sterf.

“Daar is sterk sprake dat Zuma reeds in dié tydperk by slegte dade – báie, báie slegte dade – betrokke was. Ek dink dit is duidelik dat sy manier van storievertel; die wyse waarop hy mense mobiliseer; sy gebruik van agterdog, deurlopend van destyds tot nou voortgaan.

“Die konkrete voorbeeld daarvan is hierdie lys van name van spioene in die ANC wat hy glo 30 jaar gelede gekry het by ’n man en wat klaarblyklik weens vergifting gesterf het, en wat hy aanhou beloof om bekend te maak.”

‘Bisarre stories’

’n Mens sien dikwels in die algemene Suid-Afrikaanse samelewing hoe mense iets kwytraak wat nie waar is nie, maar dan baie sterk in daardie onwaarheid begin glo en daaraan verknog raak omdat dit vir hulle nuttig is.

“Ek dink daardie enorme dodetal pla hom tot vandag toe nie.” Foto: Jaco Marais

“Ek dink dít is vir Zuma van sleutelbelang. Hy het leuens gevind wat net dikwels genoeg werk en hy sal dit vir so lank as moontlik herhaal. Dít is wat van hom so ’n uitstaande figuur maak.

“Jy vind hom in die middel van die ANC se gewapende stryd; jy vind hom in die middel van die Suid-Afrikaanse staat in sy presidensie en ook ná sy presidentskap. Hy is baie duidelik die soort uitstaande figuur van die moderne Suid-Afrikaanse figuur – meer as Mandela of Mbeki of De Klerk.

“Sy bisarre vorm van storievertelling en intrige, wat duidelik nou verbind is met hierdie kwessie van gif of om vergif te word . . . Daardie korrupte vorm van storie vertel, is een van sy groot politieke bates.

“Dit is ook interessant dat hy vandag uit die tronk vrygelaat is [op mediese parool]. Weer eens is die stories wat vertel word oor sy persoonlike gesondheid van sleutelbelang in sy loopbaan. Soms is dit oor die feit dat hy vergif is, soms is dit oor sy gesondheid.”

Kil land

Ons praat oor wantroue.

“Wantroue is soms geregverdig, maar wanneer dit oorweldigend raak en nie rasioneel opgetree word nie . . . Mbeki het baie doeltreffende Westerse medisyne [soos Nevirapien], wat tienduisende kinders sou gered het, geïnterpreteer as doelbewuste pogings tot vergiftiging . . . Baie nuttige medikasie soos AZT is van mense weerhou en wat ironies genoeg toe gebeur het – nadat hulle ook ons medisynebeheerraad afgetakel het – is dat hulle die deur vir allerlei báie skadelike middele oopgemaak het.

“Dit is ’n ingesteldheid wat onder meer gevorm is deur hierdie koue-oorlog-folklore, waarin hy én Zuma geglo het, naamlik dat die CIA die ANC deurentyd probeer ondermyn en dat Westerse farmaseutiese maatskappye ten koste van die mense van Afrika probeer wins maak . . .”

Thabo Mbeki
Thabo Mbeki Foto: Gallo Images/Darren Stewart

Ons staat en ons samelewing is so swak dat een persoon se verbeelding en denke beleid kan bepaal.

“Wanneer lede van Mbeki se binnekring begin sterf en die stories wat dan vertel word, soos dat sy woordvoerder Parks Mankahlana vergiftig is deur antiretrovirale medisyne . . . Dit spreek van ’n ongelooflike kilheid waartoe Suid-Afrikaners in staat is – mense sterf langs hulle en al wat hulle wil doen, is om hul ideologiese punt te bewys.

“Ja, Suid-Afrika is ’n verbysterend kille land, waar reuse- getalle sterftes ons nie dinge in heroorweging laat neem nie maar eerder ons vooroordele net versterk. Dít is beslis met Mbeki die geval. Ek dink daardie enorme dodetal pla hom tot vandag toe nie.”

Stories wat vervreem

Daar is maniere waarop gemeenskappe heel en gesond kan bly.

“Byvoorbeeld deur die verhale wat ons aan mekaar vertel, die maaltye wat ons deel, die vriendskappe wat ons het – dít is maniere waarop ons lewens gesosialiseer word.

“Maar die interessante ding van vergifting is dat dit ál daardie dinge korrupteer. Om saam te eet is een van die basiese aktiwiteite van vriendskaplikheid en buurmanskap, en hierdie stories van vergifting kan dít infiltreer en dit in iets baie skrikwekkends omskep.

“Jy kan sien hoe mense soos Zuma of Emmerson Mnangagwa [president van Zimbabwe] of Robert Mugabe [voormalige president van Zimbabwe] vreesbevange is en was om saam met ander mense te eet.

“Waarna ek ook in hierdie boek kyk, is hoe die stories wat mense aan mekaar vertel – binne die ANC; binne die hof tydens Wouter Basson se verhoor; oor MIV en medikasie; oor linkse samesweringsteorieë, regse samesweringsteorieë – die vermoë het om mense van mekaar te vervreem.

“’n Venster word deur sulke stories oopgemaak sodat hierdie bose dade kan binnekom . . . en heeltemal redelik lyk.”

Meer oor:  Gif  |  Wouter Basson  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.