Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die liefdeslesse van Minki

Dit is ’n groot verantwoordelikheid om cupido te speel, sê Minki van der Westhuizen aan Murray La Vita.

Minki van der Westhuizen verlede week in ’n onderhoud in Stellenbosch.Foto: Lulama Zenzile

Liefde, verliefdheid en verwerping. Dít is waaroor die gesprek vanoggend veral gaan.

Die woord “hart” kom ’n hele paar keer uit die mond van die sprankelende cupido Minki van der Westhuizen, aanbieder van kykNET se gewilde romantiese werklikheidsprogram Boer soek ’n vrou.

Ons ontmoet mekaar in die Basic Bistro in Stellenbosch, die dorp waar Minki en haar gesin die afgelope sowat ’n jaar woon sedert hul terugkeer uit St. Albans in Engeland, waar haar man, Ernst Joubert, vir die klub Saracens rugby gespeel het.

Minki dra Marc Jacobs se parfuum Decadence en drink tamatiesap. Op die agtergrond speel wat klink na Tanita Tikaram se “Twist in My Sobriety”.

Ek dink een van my sterk punte is om mense gemaklik te laat voel en dis vir my belangrik dat die boere voel hulle kan met my gesels soos ’n buddy.

Ek pols haar oor die skrale oes wat Boer soek ’n vrou in die afgelope seisoen aan verhoudings opgelewer het.

“Dit hang af waaraan jy sukses meet as jy sê hierdie jaar was die liefde nie suksesvol nie . . . Maar as jy vir die boere vra . . . In Desember het Leon Fritz (die boer van Roedtan) in Stilbaai by ons ’n draai kom maak. En toe sê hy ook vir my dít wat hy van homself geleer het deur hierdie hele proses – hy is só dankbaar daarvoor en dit verander hoe hy na goed kyk en dalk hy is nou meer oop vir verhoudings. So, ja, hy het dalk nie nou iemand ontmoet nie, maar dit het hom as ’n mens nog steeds so verryk en hy het soveel van homself geleer.”

Almal wat verlief was

Waaraan skryf sy die gewildheid van die reeks toe?

“Ek dink dis tog so lekker om te sien mense vind geluk. So ek dink daar is ’n ongelooflike positiwiteit in die program, want die hele ding gaan daaroor om geluk en liefde te vind, want ek dink ons almal wat al verlief wás en lief ís, weet verliefdheid gaan verby, en daai gevoel wat jou muisneste gee, gaan verby en wat dan óórbly, is die liefde . . . Dit is altyd lekker om te sien dat jong mense, of selfs die ouer mense wat op Boer is, glo daar is nog hoop vir liefde.”

Die indruk bestaan dat van die deelnemers (boere) so te sê op die pragtige, sprankelende Minki verlief geraak het.

“Ek is tog daar om inligting uit die boere te kry. Nou, ek dink een van my sterk punte is om mense gemaklik te laat voel en dis vir my belangrik dat die boere voel hulle kan met my gesels soos ’n buddy, nie ’n vriendin nie, net ’n buddy, eerder as wat ek daar sit en ek peper hulle met ’n klomp vrae, want dit maak ook die show natuurlik, en dít is wat ons wil hê . . . sodat dit voel asof jý met die boer chat. Baie mense het vir my gesê: ‘Ons love dit, want jy vra vir die boere wat ons wil vra en jy sê vir hulle wat ons gedink het, maar te bang sou wees om vir hulle te sê.’

Minki en Leon Fritz, ’n boer van Roedtan in Limpopo. Foto: ‘Boer soek ’n vrou’ se Facebook-blad

“Ek dink ’n mens moet versigtig wees om . . . Daar’s ’n fyn lyn tussen om charming te wees en om te flirt met iemand. En ek wil graag glo dat ek dit reggekry het om hulle rêrig . . . Ek moet vir jou sê, ek dink die boere is ook ’n bietjie slimmer as dit en hulle weet tog ek is net die presenter en ek is báie gelukkig getroud en ek love my kinders (Katerien is drie en ’n half en Elise is twee en ’n half).

“So, ek moet eerlikwaar vir jou sê ék het nooit iets gevoel nie en gló met my hele hart die boere het niks gevoel nie. Ek dink hulle het ingeskryf vir die regte redes. Ek dink dit het dalk nou net nie gewerk nie omdat daar nie aangetrokkenheid was tussen die boere en die meisies nie.”

Dit is ’n groot verantwoordelikheid om ’n soort cupido te wees.

“Dit ís ja, maar ek kan nog steeds nie maak dat daar ’n aantrekkingskrag is tussen jóú en mý nie. As dit nie daar ís nie, dan ís dit nie daar nie. So ekke kan so hard ál my pyltjies opskiet, but if it’s not there it’s not there; dan’s daar niks wat enigiemand daaraan kan doen nie . . . Jy weet dit, ek weet dit, jy is net aangetrokke tot ’n sekere tipe iemand. Jy dínk dalk as jy ’n foto sien: Ja, dit gaan vir my werk, maar dalk werk die persoonlikhede nie of ’n mens is net te verskillend of dalk net te veel dieselfde. So, daar is . . . wát maak dat ’n mens aangetrokke is tot iemand? Jy wéét nie.”

Ek het net weer besef ’n mens kan nie met jou kop ’n besluit neem nie. Dit is ’n hartsbesluit.

Dis eintlik iets misterieus.

“Ja, en daar is mense wat dink op papier . . . hulle is perfek vir mekaar op papier, maar dan werk dit net nie.”

Gelukkig getroud

Wat het sy persoonlik uit die reeks oor die liefde en die lewe geleer?

“Ek het net weer besef ’n mens kan nie met jou kop ’n besluit neem nie. Dit is ’n hartsbesluit; dis iets wat jy in jou hart voel, jy kán nie in jou kop besluit: Oukei, hierdie gaan nou vir my werk nie, en dan kan jy alles gee, maar as daai gevoel of daai chemistry nie daar is nie, dan . . .

“Ek het op ’n persoonlike vlak meer geleer as wat ek geleer het uit ’n liefdesoogpunt omdat ek klaar getroud is en ek is gelukkig getroud, so ek kan vir hulle probeer daai raad gee, maar ek is nie daar regtig om vir die ouens rêrig raad te gee nie. Ek kan hulle net so half ’n bietjie guide. Maar op die ou einde is dit hulle besluite; hulle moet hul eie besluite neem . . .

“Die eerste ontmoetings en die briewe-aflewering is báie spontaan en baie gemaklik en baie meer lekker lig as wat jy nou by die plase kom waar die mense (vroue) nou huis toe gestuur word, is dit nou baie somber en . . . verstaan jy? Jy speel nou met mense se . . . dis hul harte en hul lewens. So ek moet nou ook myself inleef in dít.”

Minki sien baie uit na vanjaar se reeks van Boer soek ’n vrou.

Hul verwerping?

“Ja, jy kan sê wat jy wil, maar hulle is nie gekies nie; hulle moet nou huis toe gaan. So ek probeer ook nou maar net met húlle gesels . . . Ek moet vir jou sê ek dink baie van die meisies en die dames het dit rêrig ongelooflik goed gehanteer en ek dink hulle het ingeskryf en hulle het dalk meer geweet wat om te verwag as ek. Ek het nou maar net met hulle probeer chat van die kamera af en maar net ook vir hulle gesê: ‘Jy weet obviously daar is iemand daar buite vir jou en al het dit nie nóú gewerk nie en ek weet jy het jou hart daarop gesit nou, maar daar is iets vir jou, iets beters beskore.’ ”

Sy vind die werk soms uitdagend en spanningsvol.

Ek dink ek is gelukkig genoeg om ’n goeie selfbeeld te hê en te weet almal gaan nie van my hou nie, but that’s fine.

“Saam met dit verlang ek nog na my kinders by die huis ook, so dan het ek daai emosies om mee te deal en daai goeters wat ek nou op my hart dra en ek moet nou nog in hierdie onderhoude ernstige hartsgesprekke met die boere en die meisies doen.

“Nee, kyk, dit is vrek moeilik. My keel trek toe as ek dink ek gaan nou amper wéér weg. Ons hele produksie is 13 weke lank in 52 weke van ’n jaar, so ek móét dit doen. Ja, dis moeilik, maar as ek nie by die huis is nie, is my ma daar of my skoonma is daar . . . my man is daar; ek het iemand ongelooflik wat vir ons werk en sy is só goed met die kinders en die kinders is mal oor haar – Lisa. Ek sou dit nie kon doen sonder daai ondersteuningsraamwerk nie.

“In my bedryf moes ek nog altyd opofferings maak. Ek bedoel, ek het laasjaar Clare Wiese se troue misgeloop omdat ek Boer soek ’n vrou geskiet het. Dit was die troue van die eeu en ek het dit gemis, want ek moes werk, so jy móét opofferings maak.

Minki oor Boer soek vrou: “Ek het op ’n persoonlike vlak meer geleer as wat ek geleer het uit ’n liefdesoogpunt omdat ek kláár getroud is.”Foto: Lulama Zenzile

“Ek het die aand in Heidelberg gesit en ek het rooiwyn gedrink uit ’n bolglasie terwyl my vriendinne vir my foto’s stuur van hoe hulle uit sjampanjeglase Dom Pérignon on tap drink.

“En ek sit daar en ek dink: Hier is ek in Heidelberg om ’n tafeltjie en ek eet my lasagne en hulle eet krewe en oesters. En ek sit daar en ek dink: Jis, ek wens ek was daar! My man was alleen daar . . . Ek het net vir hom gesê: ‘Liefie, jy gaan en jy gaan vir my elke liewe detail kom vertel.’ ”

Sy was die aand soos Aspoestertjie?

Ek het nie eens Botox gehad nie!

“Presies, maar dis klein opofferings wat ek moet maak om . . . daar is mammas wat elke dag werk van agt tot vyf, ekke hoef 13 weke lank dit te doen en dan is ek klaar en dan is ek by my kinders en dan is ek voluit ’n mamma. So elke persoon het sy uitdagings en sy opofferings . . .

“My vervaardiger (Elmarie Botha) is fantasties daarmee . . . Sy verstaan my hart en dat ek ’n mamma is en dat ek ’n man het . . . Ek het ’n huishouding . . . My tenkie moet ook vol wees vir my om alles vir haar en die produksie te kan gee.”

n Bitter pil

Ek vra Minki, wat al sedert pas ná skool as onder meer ’n internasionale model in die kollig was, uit oor die uitdagings van roem.

“Ek het nie oornag bekend geword nie; dis ’n proses. En soos ek jou vroeër gesê het: Ek is 32 jaar oud en ek leer nog steeds hoe om die media te hanteer. Maar ek dink omdat dit so lank al saam met my kom, dat mense weet wie ek is en waar ek vandaan kom en wat ek doen, is die bekendheid nie vir my snaaks nie, maar die feit dat mense goed oor jou skryf wat nie waar is nie – dít bly ’n bitter pil om te sluk, maar ek verstaan daar is mense daar buite wat beter voel oor hulself as hulle mense slegsê en ek dink ek weet wie en wat ek in my hart is.”

Sy het vroeër ook verwys na ’n leser wat in reaksie op ’n berig oor haar geskryf het hoeveel keer sy al “onder die mes was”.

“Ek wil uitgíl op die ou: ‘Wie de hel dink jy is jy?! Ek swéér op my lewe ek het nog nooit, nog nooit . . . Ek het nie eens Botox gehad nie!’ ”

Sy het haar egter daarvan weerhou om te reageer.

“Ek wéét wie ek is; ek wéét my man is vir my lief; my kinders is vir my lief, en ek is lief vir húlle; my ouers is vir my lief . . . Ek het ’n baie veilige ondersteuningsnetwerk. En ek dink ek is gelukkig genoeg om ’n goeie selfbeeld te hê en te weet almal gaan nie van my hou nie, but that’s fine. Dis honestly fine . . . En as jy nie van my hou nie, is daar gelukkig baie ander wat van my hou. En as niemand van my hou nie, dan weet ek my ma en my pa en my man en my kinders is mal oor my. En dít is dan wat ek aan vasklou. Dis wat my deurdra.”

Meer oor:  Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.