Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die man agter die goggas en Harvard
06 September 2018

In Beeld se nuwe artikel-reeks, My wêreld: Lesers vertel, gee lesers ons ’n blik op hul wel en wee. Vir die eerste aflewering het Retha Fick gister by Johan en Georgene Ayres van Hazelpark, Germiston, gaan koffie drink.

Georgene en Johan Ayres.

“Nee, hier gee ons drukkies,” sê die skraal, kunstig geklede vrou en trek my nader toe ek my hand uitsteek.

“Johan is nóú hier, hy het net gou gaan koeksisters koop,” sê Georgene Ayres (60), leraarsvrou, gemeentemoeder en kunstenaar, terwyl ons die huis binnestap.

Dit is juis Johan (59), vir 14 jaar leraar by die Hervormde kerk se Germiston-gemeente, se foto van die Harvard op Beeld se voorblad wat my by hul voordeur in Hazelpark gebring het.

Ons wou weet wie die man is wat ook gereeld die mooi foto’s van goggas, blomme en treffende natuurtonele stuur vir die koerant se My wêreld-lesersfotoprojek.

Die Harvard in die sagte kleure, wat gereed staan asof om na nuwe wêrelde te vertrek, het goed te pas gekom op die voorblad van die koerant waarin Beeld se nuwe slagspreuk – My wêreld – Vrydag bekend gestel is.

Dat die foto aandag getrek het, was duidelik uit lesers se reaksie die afgelope week. Sommige mense, ook redaksielede, het gedink dat dit ’n foto van ’n skildery is.

Johan sê nee, dis regtig ’n vliegtuig.

Mense sê vir my my foto’s slaag omdat ek by die basiese beginsels hou. Ek het nooit ’n kursus gedoen nie.
Johan Ayres

Altyd op soek na iets om af te neem, het hy een middag in April die Harvard by die Randse Lughawe gesien, vertel hy.

“Dit was in die middel van die dag en, in fotografiese taal, was die lig baie hard as gevolg van die son wat helder geskyn het. My kennis van redigering van foto’s is baie beperk. Ek het toe net die normale en minimum redigering aan die foto gedoen, en op die een of ander manier het ek iets reg gedoen, want ewe skielik lyk dit toe regtig soos ’n skildery!”

Dié kranige fotonemery het sewe jaar gelede begin. Sy eerste kamera het hy gekoop met die geld van sy “toorstelle”.

“Ek het destyds as ’n stokperdjie kulkunsies gedoen. ’n Mens kan die stelle deur die pos bestel. Die lekkerste was altyd die gesigsuitdrukkings van die mense. Anders as wat mense dikwels dink, het kulkunstenaars nie magiese ver­moëns nie. Al die toertjies kan logies verklaar word. Maar dit bly maar dieselfde toertjies oor en oor en omdat ek as dominee ook heeldag met mense te doen het, was fotografie, wat ’n mens ’n bietjie wegneem van mense, ’n aantreklike opsie as stokperdjie.”

Dit was Georgene met haar kunstenaarsoog wat Johan aangemoedig en op die fyner dinge begin wys het. Die eerste was ’n spinnerak tydens ’n vakansie in Hartenbos.

“Die kameralens ontsluit as’t ware ’n onsigbare wêreld wat jy nie met jou blote oog kan sien nie. So beleef ek iets van die grootsheid van God.”

Fotografie en teologie het vir Johan, wat sy meestergraad in die Nuwe Testament verwerf het, belangrike ooreenkomste.

“Mense sê vir my my foto’s slaag omdat ek by die basiese beginsels hou. Ek het nooit ’n kursus gedoen nie. Alles wat ek weet het ek uit boeke geleer en deur te eksperimenteer. Aan die begin het ek nie eens geweet waar om die kamera se batterye in te sit nie. Die volgende dag het ek gaan oefen. Oefen, oefen, oefen.

“Met kerkwees en preek is dit dieselfde. As jou basis reg is en jou teologie gesond, dan het jy geslaag.

Vir Johan bly die lewe ’n groot ontdekkingsreis, of dit ’n nuwe ontdekking agter die kameralens is of ’n nuwe ontdekking in sy geloof, want 'in die Bybel is daar elke dag iets nuuts'.

“Daar is ’n sêding: Verkondig die Evangelie, en as dit nodig is, gebruik woorde. Dit gaan daaroor om jou geloof op ’n praktiese manier uit te leef. Dit gaan nie oor dogma of politiek nie. Ek glo ons moet Christus preek en niks meer of minder nie.

“Al wat mense wil hê is ’n boodskap van troos en ’n boodskap van hoop.”

Die egpaar is dit eens dat dit finansieel toenemend moeiliker met gemeentes gaan. Maar mense lewer hul bydrae – selfs al is dit ’n bordjie Marie-beskuitjies wanneer daar ’n bordjie eetgoed gebring moet word, vertel Georgene.

Vir Johan, wat in Turffontein in die suide van Johannesburg grootgeword het, was daar nooit iets anders as die bediening nie.

“Ek wou áltyd ’n dominee geword het.

“Ek kan so goed onthou toe ek in st. 8 was het ’n dominee soos gewoonlik die skoolopening kom doen. Hy het so ’n Bybeltjie met ’n leeromslag en ’n ritssluiter gehad. Ek het daardie dag vir myself gesê ek wil ’n dominee wees wat skole open.”

Vir Johan bly die lewe ’n groot ontdekkingsreis, of dit ’n nuwe ontdekking agter die kameralens is of ’n nuwe ontdekking in sy geloof, want “in die Bybel is daar elke dag iets nuuts”.

En as die egpaar gaan vakansie hou is daar deesdae sommer twéé kamerasakke agter in die Polo se kattebak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.