Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die pelgrimstog van John Scott

Die veteraan-joernalis en skrywer John Scott praat met Murray La Vita oor sy pelgrimstog waaroor hy pas ’n boek geskryf het, en sê hy meen Nelson Mandela behoort tot ’n heilige verklaar te word.

John Scott in sy studeerkamer. Foto: Jaco Marais

Scott het verlede jaar in die fase 5-inperking gedink sy tyd raak nou min en hy gaan dalk nie daarby uitkom om die “belangrikste boek van sy lewe” te skryf nie.

“Hierdie boek lê nog al die jare op my gewete sedert ek Indië vir die eerste keer besoek het. Ek was daarna nog twee keer in Indië, maar die belangrikste reis was daardie eerste een; dit was ’n pelgrimstog.”

Ons sit by ’n tafel in die ruim woonstel wat Scott met sy vrou, Delia, in die Kaapse voorstad Nuweland deel. Tussen ons lê die boek A Pilgrim in India.

“Ek het gedetailleerde notas en dagboeke van daardie reis gehou – al hierdie jare; amper 40 jaar lank. Vir my was daardie reis in verskeie opsigte ’n geloofsprong in my eie lewe. En ’n droom wat waar geword het.

“Ek is ’n skrýwer, en om die emmer te skop voordat ek kon skryf oor een van die sinvolste dinge wat ooit met my gebeur het . . . Ek sou daar op my sterfbed lê en groot berou hê daaroor dat ek nie daardie boek geskryf het nie.”

Hy lag.

“Ek is steeds op die ouderdom van 82 redelik gesond en ek voel baie geseënd dat ek wél die geleentheid gekry het om dié boek te skryf.”

‘Victor simboliseer iets’

As joernalis en die skrywer van “amuserende en satiriese” rubrieke was die naam John Scott al die jare sy “openbare persona”. Maar met hierdie boek het hy vir die eerste keer ook sy middelnaam, Victor, gebruik, skryf Scott in die voorwoord tot A Pilgrim in India.

Dit is my sewende boek. Al die ander is onder die naam John Scott gepubliseer en was hoofsaaklik versamelings van my rubrieke.

Victor is ’n simbool van sy private, spirituele self “wat ek nog nooit voorheen gewys het nie, maar nou bevry genoeg voel om wél te doen”, aldus Scott.

Wanneer ek hom daaroor pols, sê hy ’n mens moenie “te veel inlees” in dié besluit nie.

“Toe my naam jare gelede aanvanklik by my stories in die Cape Times begin verskyn het – ek was toe politieke beriggewer – het ek begin met John Victor Scott.

“Maar dit was ’n bietjie van ’n mond vol en almal het my geken as John Scott en John Scott rol maklik van die tong af, so ek het die Victor laat vaar.

“Dit is my sewende boek. Al die ander is onder die naam John Scott gepubliseer en was hoofsaaklik versamelings van my rubrieke.

“Ek het net gevoel dit is die eerste baie persoonlike boek oor my en my eie oortuigings en ek moet nou my volle naam gebruik.”

Die boek as brug

Eerw. Peter Fox sê in die voorwoord A Pilgrim to India lewer ’n kontemporêre bydrae – in die kontemplatiewe en mistieke tradisie – tot die “globale inter-spirituele dialoog”.

'A Pilgrim in India' het pas by Africana Publishers verskyn.

“Hy het ook aan my gesê hy sien die boek as ’n soort brug na mense wat nie regtig ’n groot belangstelling in spirituele kwessies het nie, maar wie se belangstelling geprikkel sal word deur die wyse waarop ek die alledaagse en die diepgaande vermeng,” sê Scott.

Van iewers hoor ons ’n geluid wat klink soos ’n ghong in ’n Oosterse tempel. Scott gaan stel ondersoek in en kom terug met die nuus dat dit die woelige jong staffie Zorba is wat besig is om te eet en in die proses sy metaalbakke teen mekaar stamp.

Fox verwys na die ondeunde humor wat soms in Scott se boek deurskemer. Dít kom heeltemal spontaan en natuurlik in al sy skryfwerk en doen en late na vore, sê Scott.

“Jare gelede het die Nuwe Nasionale Party ’n nuwe partyvlag onthul waarin onder meer ’n son was. Ek het toe vir FW de Klerk gevra: ‘Mister President, at the risk of being mischievous, isn’t this flag rather like the new Namibian flag?’

“Hy het na my gekyk en gesê: ‘Mister Scott, when are you not being mischievous?” Ek terg mense en trek hul been. Ek doen dit nou nog. Daar is die wonderlike Engelse beskrywing ‘to take the mickey out of people’.

“Baie mense het al opgemerk dat ek dit nie op ’n wrede manier doen nie. En dit ís nie veronderstel om wreed te wees nie. Dit is veronderstel om die aandag te vestig op skynheiligheid en die absurditeit van sekere menslike gedrag.

‘Om uit my werk te bedank en die politieke wildernis te betree was ook ’n geloofsprong.’ Foto: Jaco Marais

“Jy weet, ek het Ierse bloed in my are, so dit is vir my natuurlik om teen die regering te wees, wie ook al die regering van die dag is.

“Die huidige regering bied natuurlik aan 'n mens so baie geleenthede om dít te doen. Maar ’n mens wil nie die hele tyd op dieselfde onderwerp hamer nie, want indien jy dit wél doen, raak jou lesers se oë naderhand glaserig en hulle dink: Nie al weer dít nie.

“Ek het daardie rubriek PS in 1972 vir die Cape Times begin skryf, so ek doen dit nou al net minder as 50 jaar. Ek is baie dankbaar dat Die Burger dit oorgeneem het en dat ek steeds kan voortgaan om te doen wat ek nog al die jare doen.”

‘’n Helse skok’

Scott en ander rubriekskrywers van die Cape Times is in 2014 in ’n kort e-pos in kennis gestel dat hul dienste met onmiddellike ingang beëindig word. Dit was deel van dr. Iqbal Survé se “transformasie” nadat Independent News deur sy maatskappy Sekunjalo oorgeneem is.

“Dit was ’n helse skok . . . Ek het so ’n lang verbintenis met die Cape Times gehad, maar ek het wel begin wonder wat doen ek nog daar nadat die rigting van die koerant so radikaal verander is deur Iqbal Survé en sy maatskappy.  So, in ’n sin was dit ook ’n verligting om nie meer met die nuwe opset geassosieer te word nie. Dit was eens ’n eerbare koerant, maar in die huidige gedaante . . .”

Scott het groot agting vir Die Burger en vir Afrikaans. Hy sê sy Afrikaansonderwyser op hoërskool het by hom ’n selfvertroue laat posvat om Afrikaans te praat.

Op universiteit was Afrikaans-Nederlands een van my vakke, en as parlementêre beriggewer het ek verslag gedoen oor toesprake wat hoofsaaklik in Afrikaans was.

“En toe . . . Ek het drie jaar gewerk voordat ek universiteit toe is, en in twee van daardie jare het ek Afrikaans streeknuus vir die SAUK geskryf; ek het saam met Athol Fugard gewerk. Op universiteit was Afrikaans-Nederlands een van my vakke, en as parlementêre beriggewer het ek verslag gedoen oor toesprake wat hoofsaaklik in Afrikaans was.”

Die Heilige Moeder

Die ergste ding wat ooit met Scott gebeur het, is toe sy dogter, Heather, in 1968 aan komplikasies weens masels gesterf het kort voordat sy drie jaar oud geword het.

Hy beskryf in A Pilgrim in India hoe hy aan haar gedink en vir haar gebid het ná ’n baie spesiale ontmoeting met ’n vrou wat as die Heilige Moeder bekend staan.

‘Ek hoop ek het gegroei en volwassenheid bereik as ’n spirituele mens.' Foto: Jaco Marais

“Ek weet steeds nie wie sy was nie, maar sy het ’n aura aan haar gehad; die mees verbysterende teenwoordigheid. My ontmoeting met haar was baie kort, maar dit is nie die lengte van die tyd wat jy met iemand deurbring wat belangrik is nie, dit is wat jy daaruit kry.

“Dieselfde geld my vlugtige ontmoeting met moeder Teresa op Delhi-lughawe tydens ’n ander Indiese reis.”

Hy het haar in die verte gesien en na haar gehaas en gevra of hy haar hand mag skud. Sy het geglimlag en gesê: “Maar natuurlik. God seën jou.”

Sonder werk

Vyf jaar ná sy pelgrimstog na Indië het hy weer ’n geloofsprong geneem.

‘Ek het net gevoel dit is die eerste baie persoonlike boek oor my en my eie oortuigings en ek moet nou my volle naam gebruik.' Foto: Jaco Marais

“Dit was toe ek ná 21 jaar – ek was reeds senior-assistent-redakteur – by die Cape Times bedank het en besluit het ek wil iets vir die land doen; ’n verskil maak. Ek het toe as PFP-kandidaat in Simonstad gestaan.”

Hy het meer oor die politiek geleer in die drie maande van die verkiesingsveldtog as wat hy ooit as politieke beriggewer in die parlementêre persgalery geleer het.

“Ek het uiteindelik met 260 stemme verloor. Toe sit ek sonder werk. Ná twee jaar is ek deur Kosie Viviers, die redakteur van die Cape Times, genooi om na die koerant terug te keer.

“So, om uit my werk te bedank en die politieke wildernis te betree was ook ’n geloofsprong. Ek is daarvoor beloon deur weer na die koerant teruggenooi te word en tien jaar later redakteur te word.”

Die Berlynse Muur

In die jaar nadat hy weer by die Cape Times aangesluit het, is hy gestuur om vir dié koerant en die res van die groep verslag te doen oor die val van die Berlynse Muur.

“Ja, dit was ’n monumentale gebeurtenis en ek het baie bevoorreg gevoel om daar te wees,” sê hy en voeg dan met ’n ondeunde vonkel in die oog by: “Ek het een Vrydag ’n hamer gekoop en stukkies van die muur begin uitkap as aandenkings. Die Oos-Berlynse wagte het steeds die reg gehad om tot vyf meter binne die westerse deel te patrolleer. Ek het hulle nie sien kom nie en skielik het hulle my van agter gegryp en in hegtenis geneem.

“Hulle het my hamer gegryp en vir my gesê: ‘As jy jou hamer wil terughê, gaan haal dit!’, waarna hulle dit oor die muur gegooi het na die oostelike kant toe.

“Dít het ’n voorbladstorie opgelewer. Die Cape Times se plakkaat het iets gesê soos ‘John Scott grapples with East German guards’,” sê hy laggend.

Die Bergpredikasie

In Scott se studeerkamer is foto’s van Indiese heiliges, maar die grootste, sentrale afbeelding is een van Christus.

‘As ek ’n ghoeroe het, dan is dit Christus.’ Foto: Jaco Marais


“Ek hoop ek het gegroei en volwassenheid bereik as ’n spirituele mens. ’n Mens kan nie jouself beoordeel nie, maar jy probeer jou lewe leef volgens sekere filosofiese beginsels. Vir my is die belangrikste beginsels opgesluit in Christus se Bergpredikasie. Al die beginsels van die groot Oosterse filosowe word ook daarin uitgedruk.

“So, as ek ’n ghoeroe het, dan is dit Christus. Maar nie die Christus van teologie en dogma nie, net die persoon van Christus soos wat dit in die Bergpredikasie uitgedruk word.”

Scott meen oudpres. Nelson Mandela was ook ’n mens met enorme spirituele statuur.

Maar daar is nie so iets soos ’n volmaakte mens nie; ons is almal onvolmaak.

“Hy sou nooit kon doen wat hy gedoen het indien hy nie gedryf is deur daardie innerlike spirituele impuls nie. Hy is baie soos Gandhi. Gandhi was, nes Mandela, ’n baie slim politikus.

“Gandhi was ook ’n groot volgeling van Christus. Mense wat oor kom skryf, sê hy was meer van ’n Christen as die meeste Christene in sy pogings om die voorskrifte van Jesus Christus te volg – dit létterlik te volg.

“Hoewel nie Gandhi of Mandela Katolieke was nie, behoort hulle albei in die Katolieke kerk tot heiliges verklaar te word . . . Maar daar is nie so iets soos ’n volmaakte mens nie; ons is almal onvolmaak.”

‘’n Antiklimaks’

Die boeke van Paul Brunton oor Indië is wat ’n jong John se belangstelling in die mistieke Ooste geprikkel het. Waarin hy veral belang gestel het, was om die heilige berg Arunachala in die suide van die land uit te klim.

“Om daardie berg uit te klim was altyd waarna ek die meeste gehunker het; dít is wat ek die graagste in Indië wou doen.

“Uiteindelik was dit ’n antiklimaks. Ek was baie bly dat ek dit gedoen het, maar toe ek bo kom, het ek geen Damaskus-ervaring gehad nie.

“Dít is in baie opsigte ’n weerspieëling van die lewe as sulks. Die dinge wat jy as verskriklik belangrik beskou, is nié so belangrik nie en die dinge waarvan jy geneig is om nie kennis te neem nie, is uiteindelik veel meer betekenisvol as wat jy ooit gedink het,” sê hy.

• A Pilgrim in India kan by Africana Publishers bestel word (africanapublishers@mwebbiz.co.za) of by Scott self (johnvscott@mweb.co.za).

Meer oor:  Indië  |  John Scott
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.