Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Driving Miss Elsa: 'Altyd ’n titsel hartseer'

Wie is die man wat so ’n groot indruk op die skrywer Elsa Joubert gemaak het dat sy vir hom geld in haar testament wil nalaat? Murray La Vita het gaan ondersoek instel.

Dawid Kleyn voor die Berghof-ouetehuis in Kaapstad.Foto: Murray La Vita

Die man wat na my toe aangestap kom waar ek op ’n bankie voor die ouetehuis Berghof teen die hang van Tafelberg sit, herken ek dadelik as Dawid Kleyn (63).

Ek het van hom te wete gekom in Elsa Joubert (95), inwoner van Berghof, se boek Spertyd wat pas die lig gesien het.

Elsa Joubert skryf in Spertyd oor Dawid Kleyn.

Sy skryf: “Ek gaan vir Dawid Kleyn geld in my testament nalaat. Namens al die ou mense wat hy help. En in hysbakke sit met hulle pakkies en die knoppie druk en hulle boontoe stuur . . . Dawid Kleyn ry my al lank waar ek wil wees. ’n Kort, dikkerige man met rooi hare en ’n gespikkelde vel, altyd in kortbroek en kortmouhemp. ’n Groot stem en ewe tuis in ons voorportaal as by die Labia-bioskoop, by die dokterskamers of die haarkapster. Hy maak die deur vir my oop, vou my blou kussinkies oop: ‘Wat doen ons vandag? Die hare of die marbles?’ Hy neem my na ’n dokter wat my kop manipuleer, die dae wat my marbles so verstoor is en my kop so dronk is dat ek nie kan staan of loop nie.

“Hy parkeer in die stad net langs die randsteen en ongeag wie toet of skree, hy klim uit, loop om die kar, kom maak my deur oop en neem my aan die hand, oor die randsteen, op die sypaadjie, by die gebou in en help my die hysbak in.”

Dawid lyk soos wat Elsa hom beskryf. Ek kan dalk net byvoeg dat hy gereeld heerlik en bulderend lag, dat hy plakkies dra en ’n onsentimentele mens is. Sy taxi is ’n turkooiskleurige Mazda Etude waarin daar op die dag van ons onderhoud ’n piesang en twee rooi pakkies LD-sigarette lê.

Dawid Kleyn by sy huurmotor.Foto: Murray La Vita

Ons stap by Berghof in waar almal hom klaarblyklik ken – daar word vriendelik gegroet en oor en weer geskerts. Die onderhoud doen ons by ’n tafel in die biblioteek, ’n vertrek aangrensend tot die eetkamer.

Wanneer ek Dawid vra of hy al Elsa se boek onder oë gehad het, sê hy:

“Ek is nie ’n boekleser nie; ek is nie ’n boekliefhebber nie. Audrey Blignault het altyd vir my gesê sy wil vir my van haar boeke gee om te lees, dan sê ek: ‘Mevrou gaan baie teleurgesteld wees want ek gaan nie die boeke lees nie. Dit gaan êrens in die kas opvrot.’”

Hy lag uitbundig en vertel dan van sy lewe as huurmotorbestuurder wat veral vroue ouer as tagtig rondry; ’n lewe wat ’n mens sterk herinner aan die rolprent Driving Miss Daisy.

“Ek is al van 1980 af in die taxibedryf. Ek het eers vir ’n maatskappy gewerk, Marine Taxi’s, maar meestal binne in hulle kantoor en dan het ek al die VIP jobs gedoen. Hulle het daai jare die kontrak gehad met die Amerikaanse en die Britse ambassade en ek was altyd ge-assign om daai soort werke te doen.

“Op ’n stadium het ek vir mev. Nickel, vrou van die Amerikaanse ambassadeur Herman Nickel, rondgery vir ’n paar weke. En ek was op ’n stadium vir twee weke oom Piet se vrou, mevrou Koornhof, se bestuurder toe hy die minister van samewerking en ontwikkeling was.

Elsa Joubert, Audrey Blignault en Hennie Aucamp tel onder Dawid Kleyn se literêre kliënte. Foto: Argief

“Ek het al die groot jobs vir Marine gedoen, ou Chester Crocker-hulle en Henry Kissinger-hulle toe hulle hier gekom het.

“In 1985 het ek toe vir Marine Taxi’s gelos en eers vir iemand anders gaan ry en toe in 1987 het ek my eie permit gekry en van toe af werk ek maar basies vir myself. Daai jare wat ek nog nie baie met die jong dametjies rondgery nie; ek was toe nog betrokke met toere van die Mount Nelson en die ou President-hotel in Seepunt.

“Maar toe met die sanksies en alles het ek binne die plaaslike gemeenskap begin adverteer. So het ek betrokke geraak by die ou Disa Place langs die Mount Nelson Hotel en toe was dit Audrey Blignault en deur haar Elsa Joubert en Sheila Cussons en Hennie Aucamp. En nou op die oomblik het ek plus-minus 130 oumense wat ek rondry.”

Lekker grappe

Audrey was jare lank ’n kliënt van hom.

“Ek het haar rondgery toe hulle nog in Kampsbaai gebly het. En daar het ek en sy in die Sarie saam bymekaar uitgekom. Iemand het ’n storie gedoen oor haar en ander bekendes wat nog nooit bestuur het in hulle lewe nie. Dit sit ’n mens ’n bietjie in die oë want daarna as ek in Adderleystraat rondbeweeg, dan sê almal: ‘Dáárs die ou wat saam met Audrey Blignault afgeneem is!’”

Die mense wat Audrey Blignault geken het of haar gepubliseerde korrespondensie gelees het, sal weet sy het ’n heerlike sin vir humor gehad en het ’n goeie (soms skunnige) grap geniet.

“Sy het vir my ’n paar lekker grappies vertel. Laat ek jou maar sê. Daar het ook maar goed uit haar mond gekom . . . ‘Meneer Kleyn, ek hoop nie ek embarrass jou nie!’ ‘Haai mevrou, ek sal maar niks sê nie.’ ”

Ek is nie soos die ander taxi’s wat staan en mense soek en hotelle-werk doen en sulke dinge nie, ek het net met die plaaslike gemeenskap te doene.

Hy lag weer uit sy maag en bly dan vir ’n oomblik stil.

“Maar sy’t ook maar op die einde gekom waar sy nie meer alleen kon uitgegaan het nie. Ek meen, sy’t ook op ’n stadium vir my gesê: ‘Meneer Kleyn, gaan haal die papiertjie by die bank . . .’ wat sy nou vir my die reg moet gee om haar tjekboek te gaan haal of om haar geld te trek. Ek het nou nie gehou daarvan nie, maar ek het dit met ’n hele paar kliënte gedoen. Jy weet dat hulle hulle bankkaarte vir my gee om mee te koop, pinnommers.

“Audrey het vir my jare gelede gesê die een ding waarvoor sy bang is, is om haar verstand te verloor en dit het toe aan die einde op ’n manier . . .”

Dawid in die portaal van Berghof waar almal hom ken.Foto: Murray La Vita

Dawid werk net volgens afspraak.

“Ek is nie soos die ander taxi’s wat staan en mense soek en hotelle-werk doen en sulke dinge nie, ek het net met die plaaslike gemeenskap te doene – 95% ou dames en dan het ek so vyf ou mannetjies wat ek rondry. Ek het nou net een gevat van hier af Tuine-sentrum toe en vanoggend een gaan haal in Rondebosch en stad toe gebring wat ek nou weer drie-uur vanmiddag moet terugvat.”

Hy beskryf sy ritte so: “Dokters, tandartse, haarkappers toe, voetdokters toe, inkopies . . . Dis maar basies die gewone goed wat hulle nie kan doen nie omdat hulle nou te oud is om self te bestuur. Soos die een in Rondebosch is nou ’n nuwe kliënt. Sy kinders het nou die kar afgevat, want iemand het in sy kar vasgery. Maar hy is ook al amper 90.”

Hy is ’n baie belangrike mens in sy kliënte se lewe; ’n steunpilaar, sou ’n mens kon sê.

“Kyk, ek sê altyd niemand is onmisbaar op die aarde nie, maar ek moet sê, party van dié tannies, ek weet nie wat hulle gaan doen as ek doodgaan nie of as ek ophou werk nie. Hulle sê sommer vir my ek kan nie aftree nie ek moet maar aangaan. Soos die een ou tannie . . . Ek het vir haar gesê: ‘Een van die dae is jy in ’n rolstoel, jong.’ Toe sê sy: ‘Ja, dan moet jy maar kom met jou threewheeler om vir my te stoot in my rolstoel.’

As ek dink hoe hy stap met die sak oor die skouer en die posstukke by elke huis in die gleufie stoot, ’n jong man met geen ander toekoms nie, is my oë weer vol trane.

“Ek is ook nou al amper ’n pensioenaris, soos hulle sê. Ek woon in Strandfontein by my seun; ek het ’n woonstelletjie agter sy huis gebou.”

Hy dink nog nie daaraan om af te tree nie.

“Dis ’n interessante werk . . . Hulle maak natuurlik so nou en dan jou kop deurmekaar, maar . . . My dogter sê: ‘Pa is besimpeld, ek sal daai ou tannie sommer die eerste dag uit die kar uit smyt.’

“Jy moet baie geduld hê; báie, báie geduld hê . . . En ek het ’n hele klompie kliënte wat in rolstoele is en met die threewheelers en die fourwheelers – ek noem dit altyd four by fours. Ek sit dit in die kar, ek doen basies maar alles. Die ander taxi’s wil nie dit doen nie.”

Dawid het in Retreat grootgeword. Hy vertel hy was vir agt-en-’n-half of nege jaar ’n posbesteller.

Hieroor skryf Elsa in Spertyd:

“Ek vra vir Dawid Kleyn: ‘Hoe ken jy al die kleinste ou straatjies so goed?’ ‘Ek het possak gedra, mevrou. Die hele Tamboerskloof. Tuine, Oranjezicht platgeloop. Dit was my eerste werk.’

“Ek sê mos ek kan nie meer emosies hanteer nie. As ek dink hoe hy stap met die sak oor die skouer en die posstukke by elke huis in die gleufie stoot, ’n jong man met geen ander toekoms nie, is my oë weer vol trane.”

’n Titseltjie hartseer

Baie van sy kliënte het al gesterf.

“O, ja! Báie, báie. Kyk, die mense wat nou vir my bel, is klaar 80, 85. Daar is maar altyd ’n titseltjie hartseer. (Hy plaas sy hand op sy bors.) Vernaam as jy nou ’n kliënt gehad het soos Audrey Blignault want sy’t omtrent 20 jaar saam met my gery en sy het gereeld gery. Maar jy raak gewoon daaraan.

Dawid Kleyn het al as Audrey Blignault se huurmotorbestuurder begin optree toe sy nog in Kampsbaai gewoon het.Foto: Argief

“Dis nou amper soos in my eie lewe want ek is nou . . . Hier kan jy sien ek is opgebandage (hy wys na sy been) want hulle het nou weer drie goed hier uitgesny. Hulle kyk maar of dit kanker is, want ek het die velprobleem van sonbrand oor die jare.

“En nou kry jy mense soos my dogter wat sê: ‘Pa gaan kanker kry!’ Ek sê: ‘Cindy, ek is al so gewoond met die ou mense met wie ek werk, dat as my dokter nou vir my sê: ‘Jy’t maagkanker’, dan sê ek: ‘O, maar tough luck.’ Wat kan ek daaraan doen? Behalwe die bietjie behandeling kan ek niks daaraan doen nie; ons gaan maar almal eendag dood van iets, so sulke dinge bodder nou nie meer vir my nie, jy weet. Ek is al deur so baie dinge.”

Hy “geniet die ou tannies”.

Almal is ou mense – eighty years and older. Op die oomblik het ek níks jonger nie.

“Ek sê altyd vir my dogter dit is elke dag vir my ’n uitdaging. En as ek ’n ou tannie kan help met iets . . . As hier nou een bel en sê: ‘Dawid, daar’s ’n pakkie vir my by Millstraat’, dan sê ek: ‘Nou los die papiertjie onder by Elizabeth.’ Jy weet, hier by ontvangs. En dan kom haal ek nou die slippie met die ID-boek en dan’s dit poskantoor toe en dan kom laai ek dit maar weer af.

“Al sulke goed doen ek vir hulle. Ek doen inkopies vir hulle as hulle nie lus is om uit te gaan nie. My dogter raak berserk! Sy sê: ‘Pa is ’n bleddie taxi driver en dan gaan doen pa shopping vir die mense en al die goed!’ Ek sê: ‘Ag, Cindy, wat de hel . . .’”

Net oumense

Wanneer ek vir Dawid vra hoe die res van sy dag gaan verloop, haal hy ’n gevoude papier uit die bosak van sy effens verbleikte wynrooi kortmouhemp.

“Vanmiddag 12:45 het ek een Kampsbaai toe. Sy gaan nou, wat noem jy die goed? Kaarte speel, bridge speel. En dan’t ek een halftwee wat ek van hier af moet afvat Langstraat toe na die hare toe en weer gaan haal. En dan moet ek die een van Rondebosch weer hier onder in Queen Victoria optel by die South African Library en terugvat Rondebosch toe, en dan moet ek kwart voor vyf weer die een in Kampsbaai gaan haal by die bridge . . .”

Sy kliënte is van oral in die stad.

“Ek het hier by Berghof kliënte; ek het by die Ladies Christian Home kliënte; ek het by die Joodse tehuis daar bo, Highlands House, kliënte – basies by al die ouetehuise.

“Almal is ou mense – eighty years and older. Op die oomblik het ek níks jonger nie.”

Hy beskryf die digter wyle Sheila Cussons as ’n “baie nice persoon”.

Die digter Sheila Cussons was ook een van Dawid se kliënte.Foto: Amanda Botha

“Maar ek dink sy was maar baie embarrassed oor die brandwonde. Vir haar het ek maar meesal gery (van haar woonstel in St. Martini Gardens af) na die Mount Nelson toe, na die haarkapster toe – Linda of London. En toe’t Sheila gedisappear en toe’t iemand vir my gesê sy is in ’n ouetehuis en dis waar sy afgesterf het.”

Ook die legendariese lewensgenieter Madeleine van Biljon het Dawid se pad gekruis. Sy het hom dikwels aangepor om saam met haar ’n drankie te maak.

“Sy was daar in Parliament Towers. Dan sê sy vir my: ‘Kom meneer Kleyn, vandág gaan jy saam met my ’n dop drink!’ Toe het sy eendag vir my gesê sy gaan ouetehuis toe en sy dink nie sy gaan my weer sien nie; wil ek nie maar ’n dop saam met haar drink nie? Ek sê toe ek kan nie, want dan kan ek nie my kar ry nie.”

Ek is ’n sielkundige, ek is ’n dokter, ek is ’n seun, ek is ’n kleinseun, ek is . . . partykeer is dit asof ek getroud is ook met hulle.

Sy kliënte bespreek dikwels persoonlike sake met hom.

“Hulle praat baie dinge met my. Soos die een ou tannie se dogter vir my gesê het: ‘I think you know more about my mother’s business than what I know. Because when I ask her whether there are problems, she says to me: ‘There are no problems, my dear, I have a very good taxi driver. Don’t let it worry you.

“Maar dan hoor ek nou weer alles. Ek moet nou weer hoor dié seun het nou weer dít en dié dogter stel nie belang nie . . . Dít kan partykeer ’n hartseerding word, as die kinders nie omgee vir hulle ouers nie. Jy kry dit baie; ek het dít al baie ervaar.

“Ek is ’n sielkundige, ek is ’n dokter, ek is ’n seun, ek is ’n kleinseun, ek is . . . partykeer is dit asof ek getroud is ook met hulle,” sê hy laggend. “Ek is alles. ’n All rounder.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Elsa Joubert  |  Kaapstad  |  Taxi  |  Skrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.