Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die sagte charisma van Nico Panagio

Nico Panagio praat met Murray La Vita oor roem, oorlewing, sy liefde vir avontuur, vermiste kinders en sy rol in Netwerk24 se blitssepie Die Testament.

“Wanneer jy die skurk of die antiheld speel, is die moontlikhede soveel groter; jy kan interessante plekke verken wat jy nie gewoonlik besoek nie.” Foto: Misha Jordaan

Die lang aantreklike man in swart wat hier sit met die Simonstadse hawe en die see agter hom uitgestrek, is die toonbeeld van ’n silwerdoek-hartebreker.

Benewens sy voorkoms, is daar by Nico Panagio nog iets – ’n uitstraling wat mense van hom laat kennis neem. Persoonlik het ek dit beleef toe ek hom een oggend in ’n winkel in die Kaapse Waterfront gesien het. Aangesien ek nie ’n gereelde televisiekyker is nie, het ek hom nie geëien as ’n karakter uit 7de Laan of die aanbieder van Top Billing of Survivor nie. Sy gedempte charisma het my aandag getrek. Wat ek veral onthou, is dat hy sag gepraat het. En hoe hoflik hy met die personeel was.

Nico, wat pas 46 geword het, het vooraf gereël dat ons by ’n afgesonderde tafel kan sit. Hy en sy gesin woon aan die suidelike Skiereiland en besoek soms dié restaurant.

Die gesprek begin by roem.

“Dis ’n groot ding vir my en ook vir my vrou, veral as jy ’n sepie soos 7de Laan doen [hy en Christi was albei in dié sepie] waarin mense jou daagliks sien; so hulle begin naderhand voel hulle kén jou en hulle besít ook ’n deel van jou.

“En dit was   ’n groot skok vir ons; ’n mens is nie daarop voorbereid nie. In die begin was dit nogal interessant en dis ’n nuwe ervaring en ’n mens dink dít is waaroor dinge gaan, maar dan kom jy vinnig agter dit is ’n kléin, kléin deel van wat dit is om akteur te wees.

“Om anoniem te wees is ’n gawe wat ons almal het. Dis hoekom ons besluit het om ons dogters uit die openbare oog uit te hou totdat hulle eendag self besluit om hul anonimiteit prys te gee.

Ons is nie die soort mense wat sê: ‘Ek wil nie hê my kind moet ’n aktrise of ’n danser word nie. So as hulle dit wil doen, gaan ons hulle ondersteun. Maar tot hulle daardie besluit neem, gaan ons hulle daarteen beskerm.

“Dit is vir seker nie iets wat ’n mens wil hê iemand ánders van jou moet wegneem nie en ek dink hulle gaan dit eendag waardeer dat ons dit nie aan hulle gedoen het nie. As hulle ooit in die openbare oog wil wees, dan neem dit ’n paar maande en dan is jy daar. Ons is nie die soort mense wat sê: ‘Ek wil nie hê my kind moet ’n aktrise of ’n danser word nie. So as hulle dit wil doen, gaan ons hulle ondersteun. Maar tot hulle daardie besluit neem, gaan ons hulle daarteen beskerm.

“Hulle is nou amper 7 en 9 jaar oud en hulle verstaan reeds hoekom ons dit nié wil hê nie. En hulle verstaan ook as ons iewers heen gaan en mense wil foto’s neem en hulle wil met jou praat . . . Hulle verstaan goed en hulle sién wat ons bedoel deur te sê: ‘You see, you will not be able to sit here quietly anymore, so that is what mommy and daddy are protecting you against until one day you decide.’

“Maar ondanks wat ek nou sê . . . ’n Mens dink dit is baie erg, maar in Suid-Afrika is dit nie so erg soos wat ’n mens sien hoe bekendes dit oorsee ervaar nie. Ons het genoeg daarvan geproe in ons land om te besef dat ons nooit so wil leef nie. Dit is ’n groot prys om te betaal en ek dink wanneer jy ’n openbare figuur word, besef jy nie aanvanklik hóé groot daardie prys is nie. Jy weet nie hoe erg dit kan raak nie. En ek dink daar is baie mense wat wens hulle kan dit omkeer, maar jy kán natuurlik nie. You can never unfame yourself,” sê hy glimlaggend.

Stories en avontuur

Nico was van jongs af mal oor toneelspel.

“Ek was in die laerskool in elke toneelstuk en in standerd een het ek in die Staatsteater in Pretoria deelgeneem aan Truk se groot produksie van The King and I en toe het ek ’n voorsmakie gekry van die verhoog.

“Ek dink ek het dit maar net geniet om stories te vertel; ek was baie lief vir stories. Ek het van jongs af boeke gelees. En ek sien nou by my kinders – hulle is ook baie lief vir lees.

Ek het soort van anders gevoel, maar ek moet sê die Afrikaanse bedryf het my met ope arms verwelkom toe ek bekend geword het.

“Ek dink mense hou van nature van stories en van avontuur. Ek was nog altyd lief vir avontuur. Elke movie, elke Survivor-seisoen, elke teaterstuk, elke reeks, waarin ek nog gespeel het, was avontuurlik.

“Ek is ook fisiek ’n avontuurlustige mens; ek hou daarvan om die berge in te vaar; ek hou van die oseaan; ek hou van reis. So vir my is my werk as akteur of aanbieder elke keer ’n avontuur.”

‘Té werklik’

Hy is al sedert 2009 die aanbieder van die werklikheidsreeks Survivor South Africa.

Survivor is baie werklik; om die waarheid te sê, dit is té werklik; ons kan nie vir kykers alles wys wat daar gebeur nie. Neem byvoorbeeld die hoeveelheid gewig wat mense oor daardie 39 dae verloor, en ook net die dinge wat mense doen, die emosies wat hulle openbaar.

“Die rede waarom dit ‘die grootste sosiale eksperiment op TV’ genoem word, is omdat dit presiés dit is. Dit is ’n eksperiment waarin jy mense uit uiteenlopende agtergronde saamgooi in ’n intieme situasie en hulle dan dwing om saam te werk om ’n gemeenskaplike doel te bereik, naamlik oorlewing in harde natuurlike omstandighede. Daarby kom hulle teen mekaar te staan en ook teen watter uitdagings ons deur die spel aan hulle stel.

Nico in Samoa gedurende die verfilming van die jongste reeks van Survivor SA. Foto: M-Net

“So, mense kom voor al hierdie uitdagings te staan en hulle moet leer om, ondanks hul verskille en afkeur in mekaar, saam te werk om ’n gemeenskaplike doel te bereik.

“As jy mooi daaraan dink, is dit baie soos ’n dag op kantoor waar jy gedwing word om met mense te werk van wie jy dalk nie hou nie, wat ander wêreldbeskouings en benaderings tot werk het as jy. Jy moet leer om die verskille te oorbrug om ’n gemeenskaplike doel te bereik, en as jy dit nié doen nie, gaan jy uiteindelik jou werk verloor of jou doeltreffendheid gaan belemmer word.

“Jy móét dus daardie uitdagings die hoof bied. Deur dít te doen, bereik jy jou hoër self, ’n hoër begrip vir ander, en word jy gedwíng om die goeie in mense raak te sien.”

Hy meen dit is veral in Suid-Afrika belangrik.

“Dit is so ’n diverse plek waar ons gedwing word om verby verskille te kyk na wat ons gemeen het sodat ons saam vorentoe kan beweeg – as stam [tribe]. En waarvan ek baie van Survivor hou, is dat dit hierdie stamelemente het en ’n mikrokosmos van die regte wêreld word. Jy sien hierdie baie basiese stamreëls wat nog in die werklike lewe geld.”

‘Hoe kan hulle?’

Nico word soms gevra hoe kan mense aan ’n spel deelneem wat so bedrieglik en slinks is en waar hulle mekaar in die rug steek.

“Dan sê ek dit is soos die regte wêreld; ons leef in ’n wêreld wat wesenlik uit misleiding bestaan, al is dit nou onkwaadwillige misleiding – ons gebruik ’n sekere aksent, ons dra sekere klere wat aan ons ’n sekere voorkoms gee, ons bestuur spesifieke voertuie . . . Ons stel onsself op ’n sekere manier voor wat nie altyd eg is nie, maar wat ons bemagtig. In ’n sin is dit leuens.

“Dan is daar sosiale media en die advertensiewese – ons word die hele tyd mislei en bedrieg: Hierdie motor sal jou beter maak, hierdie ding sal jou sterker maak.

Nico Panagio in Houtbaai op die stel van Die Testament. Foto: Misha Jordaan

“Nou moet ons onsself stuur deur ’n wêreld vol misleiding, en die enigste manier waarop ons dít kan doen, is om alliansies aan te gaan met mense wat ons kan vertrou – jou vriende, jou familie, die mense wat na aan jou is. En dan moet jy daardie alliansies beskerm met alles wat jy in jou het, want as jy die alliansies breek, verloor jy dit wat jou sterk maak.”

Nico het in Pretoria grootgeword met die naam Nicolaos Panagiotopoulos as die seun van ’n Griekse pa en ’n Afrikaanse ma. Is hy ooit soos ’n buitestander behandel?

“Ek het soort van anders gevoel, maar ek moet sê die Afrikaanse bedryf het my met ope arms verwelkom toe ek bekend geword het. En ek dink Griekse boertjies is deesdae redelik algemeen. So, ek het nie enige diskriminasie beleef nie. Maar ek het wel anders gevoel omdat ek anders lýk as ander mense – ek lyk meer Mediterreens as Boer.”

Vermiste kinders

Ek vra Nico uit oor sy rol as voorsitter van Missing Children SA.

“Ons help die owerhede wanneer ’n kind – en ook volwassenes – vermis raak. Ons het ’n reuse- teenwoordigheid op sosiale media waardeur ons vermistes se foto’s versprei. Dít is geweldig suksesvol.

“Ek het daarby betrokke geraak voordat ek self kinders gehad het. Die organisasie is in Maart 2007 gestig ná die ontvoering van en die moord op die sewejarige Sheldean Human van Pretoria en die 12-jarige Anestacia Wiese van Mitchells Plain . . . die doel was om die geliefdes van kinders wat hulself in soortgelyke omstandighede bevind, by te staan.

“Dit het my regtig ontroer en my hart gebreek . . . Ek dink dit is die ergste ding wat met ’n mens kan gebeur . . . Ek dink nie daar kan met jou as ouer iets ergers gebeur as dat jou kind verdwyn nie.

Nico en Roderick Jaftha, wat die rol van die Weyers-gesin se lojale prokureur in Die Testament speel. Foto: Verskaf

“As ons almal saamwerk, kan ons dit verhoed. Maar mensehandel is so ’n verskriklike misdaad wat wêreldwyd toeneem. Slawerny is een van die grootste bedrywe ter wêreld – van die seksuele uitbuiting van kinders tot gedwonge handearbeid. Dit is skókkend. Mense verdwyn . . .

“Ons sê altyd daardie eerste 24 uur nadat iemand verdwyn het, is van kardinale belang, daardie vensterperiode. Mense dink altyd hulle moet 24 uur wag voordat hulle iemand as vermis aanmeld, maar dit is belangrik dat hulle besef jy hoef nie ’n enkele minuut te wag nie. As jy dink jou kind is vermis, kan jy die polisie onmíddellik in kennis stel. Hoe gouer jy optree, hoe beter is die kanse van opsporing.”

Hoe raak sy betrokkenheid by Missing Children SA hom persoonlik?

“Dis eintlik vreeslik . . . Die dinge wat ek weet en wat ek nie vir mense kan vertel nie omdat dit net te aaklig is en mense dit nie hoef te weet nie. Dit het my en my vrou paranoïes gemaak, ons probeer ons paranoia in toom hou, want jy kan nie so leef nie; jy kan nie in vrees leef nie.”

‘Die Testament’

Ons praat oor Netwerk24 se blitssepie Die Testament, waarin hy die rol van Bastian Weyers speel.

“Ek het vir die skrywer [Alex Burger] gesê die karakters is héérlik; jy wil smúl aan hulle; jy wil elke deel van hulle proe en jouself net daarin verlustig, want dit is so lekker geskryf en jy kan in soveel plekke ingaan.

“Ek speel ’n antiheld, ’n soort skurk. Ek is gewoond daaraan om die held of die romantiese hoofrol te speel. Dit is lekker, maar die omvang van sulke karakters is nie so groot nie. Wanneer jy die skurk of die antiheld speel, is die moontlikhede soveel groter; jy kan interessante plekke verken wat jy nie gewoonlik besoek nie.

Die hoofkarakters in Die Testament is van links Andahr Cotton as Jacques, Amrain Ismail-Essop as Sandra, Nico as Bastian en Rolanda Marais as Annchen. Foto: Misha Jordaan

“So, ek hou baie van die karakter Bastian Weyers. Aanvanklik lyk hy na ’n baie together sakeman, maar vinnig kom jy agter daar is soveel konflik en onrus onder die oppervlak. Dinge begin disintegreer en ten einde dít te voorkom, begin hy ekstreem op te tree. Dít verander hom as karakter.”

Die akteur se uitdaging is om die karakter te vínd.

“Dít is hoekom dit ’n avontuur is, want jy gaan sóék hierdie karakter . . . Jy bou die karakter in jou kop soos wat jy aangaan; emosioneel wórd jy die karakter.

“En daardie emosies verlaat jou nie wanneer ’n toneel verby is nie, so dit is moeilik, dis baie moeilik om intense drama uit te leef. Maar aan die einde voel jy of jy van jou eie, regte stres en frustrasie ontslae geraak het.”

* 'Die Testament' word deur Via en Netwerk24 vervaardig en word sedert 2 September op Netwerk24 vertoon. Netwerk24-intekenare kan elke weekdag na ’n 5-minute-episode van 'Die Testament' kyk.

Meer oor:  Missing Children Sa  |  Alex Burger  |  Nico Panagio  |  Suid-Afrika  |  Vermaak  |  Die Testament
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.