Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die skoolhoof met die grondstrepe

Wat laat ’n onderwyser met ’n goeie pos by een van die land se bekendste seunskole sy gemaksone verlaat om ’n nuwe seunskool vir lae-inkomstegemeenskappe te begin in ’n tyd waar baie goeie onderwysers eerder die onderwys wil verlaat? Gerda de Wet het gaan uitvind.

Dumisani Madondile, sokkerafrigter, en Werner Cloete, hoof, by die sokkerspan van Calling Academy: Vlaeberg. Twee dae ’n week is daar ’n sportperiode in skooltyd. Dan kan die leerlinge kies tussen sokker, tennis, skaak en drama. Almal moet aan een van die vier aktiwiteite deelneem. Foto: Gerda de Wet

Dis ’n winderige Donderdagoggend in Julie toe ek met die modderige grondpad aankruie na die nuwe seunskool net buite Stellenbosch – Calling Academy: Vlaeberg. Die tekens van die groot reëns die afgelope tyd blyk duidelik uit die slote wat in die pad uitgery is.

Ek is nuuskierig om te sien hoe lyk ’n nuwe seunskool wat gerig is op hoëgehalte-onderrig vir die lae-inkomstegemeenskap. Ek is ook opgewonde om die man te ontmoet wat kans sien vir so ’n ontsaglike taak – Werner Cloete.

Werner Cloete

Prudence, die ontvangsdame, ontvang my vriendelik en verduidelik dat Cloete nog klasgee en dat die klok oor ’n paar minute gaan lui.

Ek kan nie help om te dink dat Prudence beslis haar naam baie nodig het met 60 seuns wat in en uit haar kantoor vloei nie. Ek wag solank in Cloete se kantoor – dis tegelyk ’n kantoor sowel as personeelkamer en pakkamer.

Geen leerbanke of lugreëling nie. Net ’n miernes van kom-en-gaan deur kinders en personeel wat iets bring of kom haal. Cloete kom ingewaai, boeke in die hand, en vra om verskoning dat hy ’n paar minute laat is. Ons besluit om buite te sit omdat sy kantoor te besig is, en ook dat ek die terrein ’n bietjie kan bekyk.

“Verskoon dat dinge so ’n bietjie deurmekaar is,” begin hy en wys na die parkeerterrein wat onder die reën deurgeloop het. “Ons begin stadigaan dinge regkry, soos hierdie pyp hier onderdeur die pad. Jy sal nie glo hoe dit gelyk het van die water en modder voor hierdie pyp hier was nie.” Ek glo hom heelhartig, te oordeel na die grondstrepe op sy skoene.

Ons het skaars gaan sit om te gesels, toe Dumisani Madondile, die skool se sokkerafrigter, met sy bromponie stilhou. Cloete staan gou op om te gaan groet en kom sit weer. Dit is duidelik dat hy nie ’n skoolhoof is wat net uit sy kantoor bestuur nie. Hy is betrokke by alles wat hier gebeur, en weens die klein personeel moet hy nog oral hand bysit.

Ek kan nie help om te dink dat Prudence beslis haar naam baie nodig het met 60 seuns wat in en uit haar kantoor vloei nie.

Ek kry uiteindelik die kans om die vraag te vra wat nou al weke lank in my brand: Wie is Werner Cloete en waar het alles begin?

“Ek is in Stellenbosch gebore en het hier grootgeword,” antwoord hy geesdriftig. “Ek was hier in die laerskool, toe in Paul Roos Gimnasium en het ná skool aan die Universiteit Stellenbosch (US) gestudeer. My hele lewe is eintlik hier op Stellenbosch.”

Hierdie oudhoofseun en een van die top- akademiese leerlinge aan Paul Roos het toe in matriek besluit om onderwys aan die US te gaan studeer. Met ’n beurs van Paul Roos vir toekomstige onderwysers in natuur- en skeikunde het hy hom in 2000 ingeskryf vir die kursus BScEd.

“Ek was gelukkig om dit (die beurs) te kry. Die US het ook ’n deel geborg, so dit het baie gehelp. Ná my studies is ek vir twee jaar Engeland toe om te gaan onderwys gee. Ek het by drie baie goeie skole gewerk, maar ná twee jaar moes ek terugkom om my beursverpligtinge by Paul Roos na te kom.

“Ek was van middel 2005 tot einde 2015 by Paul Roos. In 2016 het ek nog deeltyds by Paul Roos klasgegee om die pot aan die kook te hou, en sedert 2017 het ek my voltyds op Calling Education toegespits.”

Leerlinge besig met hul tablette. Die skool se leerplan bestaan uit drie modules wat behels dat leerlinge toegerus word met tablette om die modules te voltooi. Foto: Deziré Kriel

Hoe het Calling Education ontstaan?

“Calling Education is die naam van ons maatskappy sonder winsbejag. Die skole wat uit die maatskappy ontstaan, is byvoorbeeld Calling Academy: Vlaeberg, soos hierdie skool, of ’n volgende skool sal argumentshalwe Calling Academy: en die dorp se naam wees.

“In die middel van 2015 het een van my vriende, dr. Philip Geldenhuys, my gekontak. Hy is die stigter van Community Keepers, wat sosiale en maatskaplike dienste aan die skole in en om Stellenbosch lewer. Hy ken die prentjie in die skole baie goed en weet dat sommige van die skole totaal oorbevolk is.

“Philip sê toe ons moet iets doen. Daar is groot nood in terme van hoëgehalte-onderrig wat toeganklik is vir die lae-inkomstegemeenskap. Dit is eintlik een van Suid-Afrika se sentrale vrae: Hoe gaan ons hoëgehalte-onderrig gee wat op ’n finansiële vlak toeganklik is vir die lae-inkomstegemeenskap? Veral wat seuns betref.

“Daar is weens verskeie redes ’n groot behoefte aan ’n skool op Stellenbosch wat veral Engelssprekende seuns akkommodeer. Ons besef toe ons tackle nou eintlik een van Suid-Afrika se probleme hier op ’n plaaslike vlak. Ek het so drie maande lank gedink, gebid en met mentors gepraat oor Philip se woorde.”

As pa van twee kleuters, met ’n vrou wat ook voltyds in die onderwys is, was dit geen maklike besluit nie.

Toe sy beste vriend vir hom sê hy is in die wieg gelê vir hierdie taak, was dit die finale bevestiging wat Cloete nodig gehad het dat hy hierdie grootse onder­neming moes aanpak: Begin ’n nuwe seunskool. Maar dit was nie maklik nie – veral as jy ’n gevestigde pos en skoolomgewing moet verlaat vir die onbekende, en jou vrou is swanger met jul tweede kind en jy moet jou vaste inkomste prysgee! In 2016 het hy baie navorsing gedoen deur te lees, met kenners en belanghebbendes te gesels, konferensies by te woon en skole met soortgelyke modelle in die land te besoek, waaronder die African Leadership Academy in Johannesburg en Prestige College in Pretoria.

’n Groot struikelblok was om ’n terrein te kry met die regte sonering. As die sonering nie reg is nie, neem dit baie lank om dit te kry.

“ ’n Groot struikelblok was om ’n terrein te kry met die regte sonering. As die sonering nie reg is nie, neem dit baie lank om dit te kry. Ons het die huidige terrein ter elfder ure gekry. Dit word deur die Vlaeberg-tennisklub sowel as ’n paar boere van die omgewing bestuur. Hulle is ons baie goedgesind.

“In 2017 het ek voltyds aan die skool begin werk. Ek het die laerskole in die omgewing besoek om seuns vir gr. 8 te werf. Die ouers het eintlik saam met my op hierdie geloofsreis gegaan, want ek kon nog nie vir seker vir hulle sê dat al ons papierwerk in orde gaan wees om 2018 te begin nie. Die ouers het geglo in die saak en wel hulle kinders begin inskryf, soveel so dat ons vanjaar 60 kinders in gr. 8 het vanaf 13 laerskole in die omgewing.”

Cloete is duidelik ’n man vol entoesiasme vir wie geen struikelblok te groot is nie. Die opgewondenheid waarmee hy gesels, is aansteeklik en ek kan nie help om hom te bewonder vir sy moed en deursettingsvermoë nie. Om die onsienlike te sien.

Jy weet, ons is baie goed deur die breër Stellenbosse gemeenskap ontvang – die munisipaliteit, WKOD, laerskole en ouers.

Is hoëgehalte-onderrig vir lae­inkomstegemeenskappe nie ’n oksimoron nie?

“Al is ons ’n privaat skool, moet ons nog steeds by die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) registreer. As jy met die lae-inkomstegemeenskappe werk, kan jy as privaat skool wel ’n subsidie van die staat kry. Ons het dus ons skoolfonds só gekies dat ons die maksimum subsidie van die staat kan kry.

Dit beteken ons hoop op ’n redelike bedrag per kind per jaar van die staat af, alhoewel jy dit nie in jou eerste jaar al kry nie, hopelik van ons tweede jaar af.

“Van die ouers word verwag om R6 000 skoolfonds te betaal en ons het donateurs wat ’n verdere R9 000 per kind borg. Ons hoop tans op ’n totale inkomste per kind per jaar van R23 000 – afhangend van hoeveel die staat gaan bydra.

“Ons moes wel vir ons eerste jaar (2018) ’n totale bedrag van R2 miljoen bymekaarmaak omdat daar nog min kinders is en die staat nog nie in die eerste jaar subsidie gee nie. Ons het gelukkig R400 000 en R480 000 van twee instellings onderskeidelik gekry, wat vir ons ’n goeie hupstoot gegee het.

“Baie van die donateurs is van Stellenbosch en omliggende dorpe. Dis belangrik dat die plaaslike gemeenskap in die model glo. Dit help nie om vir mense oorsee te gaan geld vra as niemand plaaslik daarin glo nie. Ons filosofie is dit: In plaas van ’n klein aantal kinders te borg vir ’n groot bedrag, kom ons borg ’n groot aantal kinders vir ’n klein bedrag.

“Jy weet, ons is baie goed deur die breër Stellenbosse gemeenskap ontvang – die munisipaliteit, WKOD, laerskole en ouers. Hulle wou almal die visie ondersteun.” Eerste pouse breek aan en die seuns storm opgewonde na buite. Hulle kry Futurelife-pap as ’n voedsame happie, en tweede pouse is dit ’n toebroodjie en ’n appel. My oë dwaal oor die opgewonde klomp seuns in hul nuwe uniforms. Dit is duidelik dat “Sir” baie geliefd is, en ’n klompie seuns staan nader om die een of ander vraag te vra of net sy oog te vang.

Cloete tref gou reëlings met van die seuns oor hul wetenskapuitstappie na die US wanneer die skool uitkom, en intussen moet hy ook nog ’n onderonsie tussen twee stampende seuns uitsorteer.

Rieyaad Abrahams, skaakafrigter, leer leerlinge meer van dié spel. Foto: Gerda de Wet
Hoe lyk die skool se demo­grafie?

“Ons is 60% swart, 35% bruin en 5% wit. Die skool het ’n Christelike etos hoewel daar ses Moslemleerders is.” Hy praat verder terwyl hy rondom hom kyk na die kinders wat hardloop en speel. “Almal is welkom hier.

Niks word op iemand afgedwing nie.

“Ons het twee permanente onderwyseresse en ekself wat klasgee. Dan is daar Prudence, ons ontvangsdame en sekretaresse.

Ons is ook gelukkig om ’n paar proefstudente te hê hierdie kwartaal, wat die las ’n bietjie ligter maak. Volgende jaar sal nog personeel bykom vir gr. 9, en dan daarna vir gr. 10 totdat ons ’n matriekklas het.

Ons wil ons dissipline ook meer deur hierdie groepe kanaliseer sodat dit nie net ’n straf­element het nie, maar ook ’n verhoudingselement.

“Dinsdae en Donderdae het ons ’n sportperiode in skooltyd. Dan kan die leerders kies tussen sokker, tennis, skaak en drama. Almal moet aan een van die vier aktiwiteite deelneem. Ons kry afrigters van buite wat dan ook as mentors optree. Direk ná die sportperiode het ons Connect-groepe, waar die mentors ’n bietjie met die kinders ‘connect’ en verhoudings bou.

“Ons wil ons dissipline ook meer deur hierdie groepe kanaliseer sodat dit nie net ’n straf­element het nie, maar ook ’n verhoudingselement.”

Wat die kurrikulum betref, volg die skool die kurrikulum-en-assesseringsbeleidsverklaring (Caps). “Ek glo in Caps, maar Caps alleen is nie voldoende vir ons behoeftes nie. Kom ons noem dit iets soos Caps Plus, met ander woorde Caps plus nog iets. En dit is dan buiten vir die gewone leerplan se drie modules, naamlik Future Fathers, waarin ons hulle toerus vir die toekoms, kodering, wat ons met ons tablette doen, en entrepreneurskap.”

Hoe werk die dissiplinêre stelsel?

Hy lag. “Man, dis mos maar nêrens maklik nie. Wat vir een kind werk, werk nie noodwendig vir ’n ander nie. Rekordhouding is belangrik. Ons straf klein oortredings met klein strawwe, maar erge oortredings is al in die geval van een leerder met ’n tydelike skorsing gestraf.

Dan is daar Saterdag-detensie, en ons kontak ook die ouers. Maar ja, dit bly maar moeilik en word voortdurend aangepas soos maar in ander skole ook.”

Die seunskool Calling Academy: Vlaeberg het begin vanjaar sy deure oopgemaak. Foto: Gerda de Wet

En is jy tevrede met die Junie-eksamenuitslae?

“Nee, glad nie,” sê hy sonder om te aarsel. “Ons het ’n paar baie sterk akademiese kinders, maar ons groot uitdaging is die verskille in leerkultuur waar die kinders vandaan kom. Ons moet ’n nuwe leerkultuur vestig, en dit gaan maar ’n tydjie neem.”

Is hier ’n beheerraad of die een of ander vorm van oorsig?

“Ja, ons het ’n direksie wat verantwoordelik is vir Calling Education, en waarvan die lede Philip Geldenhuys, ons medestigter, Willem Meyer en ek is. Dan het ons ook twee beskermhere, dr. John Volmink en ds. Cassie Carstens. Ons het ook ’n klompie konsultante wat nie daagliks betrokke is nie, maar op ’n konsultasiebasis, waaronder prof. Jonathan Jansen en dr. Sonja Stry­dom. Ons het ook ’n beheerraad van ouers wat deur die ouers self verkies is.”

Ons het ook ’n beheerraad van ouers wat deur die ouers self verkies is.

Wat wil jy graag regkry met hierdie skool?

Hy dink lank en soek na die regte woorde.

“Vir my gaan alles oor jou roeping. As ’n mens ’n roepings­besef het, dan pak jy die lewe met baie meer passie en toewyding aan. “As ons die leerlinge kan help om hulle roeping te ontdek, sal ek baie gelukkig wees. Ons volg ’n holistiese benadering. Dit gaan nie net oor die akademie nie, maar oor die kwaliteit mens wat jy word terwyl jy op skool is.”

Ek kyk weer na Cloete se skoene met die grondstrepe daarop en sien Prudence wat die papbakkies ná pouse opstapel. Dís wat ons land nodig het – ’n hart om jou hande (en skoene) vuil te maak.

Meer oor:  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.