Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die taalreus gaan nou rus

Hy mag dalk nou afgetree het, maar die akademikus, taalkundige, woordwoekeraar, skrywer, taalstryder en ambassadeur vir Afrikaans Wannie Carstens gaan beslis nie stilsit op sy “oudag” nie, skryf Susan Cilliers.Dat hy nog leef, is ’n wonder, skerts prof. Wannie Carstens.

Dié woordwoekeraar is aan die pak in sy kantoor op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus. Carstens tree einde vandeesmaand af ná 26 jaar hier as taalprofessor en 16 jaar as direkteur van die Skool vir Tale.

Hy het ook groot dinge gedoen in tientalle liggame en komitees, onder meer as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en die Afrikaanse Taalraad.

“Ek het tussen 14 en 15 uur per dag gewerk, dikwels ook Saterdae en Sondae. Ek moes gereeld na Pretoria pendel vir Akademie-vergaderings,” vertel hy.

“Ek was twee keer so moeg dat ek van die pad gery het. Dat ek leef, is ’n wonder.”

Op ’n keer wou ’n vriend weet of hy huweliksprobleme het, want Carstens se vrou, Wilma, sit Sondae alleen in die kerk.

Carstens moes verduidelik dis omdat hy Sondae 07:00 al op kantoor is om administrasie in te haal of aan sy boek (een van ses) te skryf. “Ek het die vriend darem na die boekbekendstelling genooi.”

Ja, opofferings was daar baie, erken die 65-jarige Carstens. Maar hy verruil niks vir die voorreg wat hy gehad het om sy visie vir tale uit te leef en “ ’n paar vakterreine in Afrikaans te kon oopskryf nie”.

“Die daaglikse eise was enorm, maar dit was my keuse. Ek is diep dankbaar teenoor Wilma en die universiteit wat my die ruimte gegee het om my passie na te jaag.

“Met my boekskrywery was ek soms tot drie maande per jaar in Antwerpen (België). Maar my huis was nog altyd ’n veilige hawe waarheen ek kon terugkeer.”

Grenslose liefde vir taal

Carstens is ver van die Mooirivier gebore. Voordat dié formidabele akademikus ’n wêreldambassadeur vir Afrikaans geword het, was hy ’n Suidwester wat in Windhoek gematrikuleer het.

Toe steek hy sy eerste grens oor en gaan studeer BA aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Die jong akademikus het by Maties en daarna die Universiteit van Kaapstad gedoseer, voordat hy in 1991 as medeprofessor in taalkunde by die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys aangestel is.

Dié pa van drie spruite – Ihan, Rikus en Annari – het gou diep spore begin trap. Mettertyd is hy tot professor bevorder en in 2001 het hy direkteur van die Skool vir Tale geword.

En toe is Carstens in sy element. “Destyds in 2001 was ons vakaanbod betreklik klein. Dit was Afrikaans, Engels, Tswana, ’n bietjie Frans en Duits, en vertaalkunde.

“Daar was so 23 personeellede. Toe ek in 2016 uitgetree het as direkteur, was ons byna 60 en daar het soveel dinge bygekom. Ons bied Duits en Frans in samewerking met die Universiteit van Pretoria op honneursvlak aan.

“Ons bied Suid-Afrikaanse gebaretaal en skryfkuns aan, en ons program vir vertaal- en tolkstudie, asook taaltegnologie het enorm uitgebrei. Die skool se akademiese geletterdheidsentrum neem landwyd die voortou.”

Hoewel Afrikaanse taalkunde sy vakgebied is, is sy liefde vir tale grensloos, soos sy betrokkenheid by liggame van PanSAT getuig.

Toekennings was daar tientalle – van die universiteit vir voortreflike onderrig én van die wyer taalgemeenskap.

In 2003 was daar die CJ-Langenhoven-medalje vir sy werk aan die Afrikaanse woordelys en spelreëls, in 2006 die ATKV-Woordwyser-toekenning vir sy boek Norme vir Afrikaans en in 2015 ’n Kokerboom-toekenning van die Afrikaanse Taalraad vir sy werk ter bevordering van Afrikaans.

In België en Nederland het Carstens diep spore getrap as ambassadeur vir Afrikaans, onder meer as gasprofessor aan die Universiteit van Antwerpen en besoekende navorser by die Universiteit van Leiden. Ook as inisieerder van talle samewerkingsooreenkomste rakende Afrikaans met universiteite en instansies in die Lae Lande.

Hier in Suid-Afrika het hy egter diamanthelder in die hoed van Afrikaans bly skitter.

‘Afrikaans nié veilig by Maties’

Die lys van komitees, rade, vakverenigings en tydskrif- en boekredaksies waarop Carstens dien of ge­dien het, is lank en indrukwekkend. Vir hom was ’n hoogtepunt toe hy vir drie jaar voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns was.

“Dis die hoogste posisie in die Afrikaanse akademiese wêreld,” sê Carstens. “Skielik het jy gesag en statuur en kan jy dinge laat gebeur. Ek glo ek het in my termyn daarin geslaag om die beeld van die wit man as gesig van die Akademie te verander, en die organisasie te help internasionaliseer.

“In 2012 het ons die Hertzogprys aan Adam Small toegeken. Dit was ’n daad van versoening.”

Carstens wou toenemend ’n versoenende rol tussen Afrikaanssprekendes van alle kleure speel. As medestigter (en eerste voorsitter) van die Afrikaanse Taalraad kon hy help om ’n proses van “houdingsverandering en versoening” te bewerkstellig. “Wit en bruin mense het sáám agter die skerms gewerk,” sê Carstens.

Terselfdertyd veg Carstens steeds vir Afrikaans se regmatige staanplek saam met ander tale. In sy sewe jaar as lid van die US se universiteitsraad kon hy nie die “uitrangering van Afrikaans” keer nie.

“Die geskiedenis sal wys Afrikaans is nié veilig op Stellenbosch soos nou beweer word nie. Stellenbosch het die geleentheid gemis om Afrikaans as ’n erkende, gerespekteerde medium te behou op ’n plek waar Afrikaanssprekendes kan gaan studeer.

“Dis ’n stadige uitfasering van Afrikaans by ’n universiteit wat uit Afrikaanse geledere tot stand gekom het.”

Hy is egter nie blind vir die skade wat wit Afrikaanssprekendes in die verlede aan nie-wit Afrikaanssprekendes gedoen het nie.

Dit was veral duidelik met die saamstel van Ons kom van vêr (2016) saam met prof. Michael le Cordeur, oor veral die rol wat bruin Afrikaanssprekendes in die ontwikkeling van Afrikaans gespeel het.

“Dit het my aan die hart geruk. Ek het soms gehuil terwyl ons aan die boek gewerk het, toe ek opnuut besef wat ons aan ander Afrikaanssprekendes gedoen het. Ons wou seker maak bruin mense se stories word gehoor, om te versoen en brûe te bou.”

Deel een van Carstens en prof. Edith Raidt se nuwe boek, Die storie van Afrikaans, verskyn later vandeesmaand en die tweede deel teen middel volgende jaar.

“ ’n Mens gaan sit nie sommer en skryf ’n boek nie,” sê Carstens. “Dit is geweldig tydrowend. Jy word ryp daarvoor.”

Die terugploeg van kennis

Hoe pak ’n mens jou loopbaan op ’n dag in ’n boks? Carstens doen dit nie, hy verskuif net sy fokus.

Ja, hy skaal af – hy en Wilma trek na ’n kleiner huis in Potchefstroom.

Hy sien baie uit om meer tyd saam met haar, hul drie volwasse kinders, skoonkinders en ses kleinkinders deur te bring, en ook te reis. “Ons wil in Namibië en in Suid-Afrika reis.”

Werkreise is daar egter ook:
Carstens gaan in 2018 ses maande in Antwerpen en Leiden klas gee. Wilma gaan saam en dan wil hulle sommer reis ook, vertel hy.

Intussen is hy besig met afrondingswerk aan die tweede deel van Die storie van Afrikaans.

“Ek sal ook nog as koördineerder of redakteur vir ander boeke wil optree. Daar is reeds ’n paar wat beplan word, oor toegepaste taalkunde en om ’n historiese korpus van Afrikaans saam te stel.”

Carstens wil sy akademiese loopbaan afrond deur sy kundigheid terug te ploeg daar waar dit nodig is. “Ek wil ook meer aktief by versoeningsinisiatiewe betrokke raak.”

Dat hierdie taalman nog leef en woeker, is dalk ’n wonder, maar beslis ’n aanwins.

Cilliers is ’n joernalis by Netwerk24.

Meer oor:  Wannie Carstens  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.