Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die tweede lewe van ’n engel

Die rommel wat “’n engel” oor die laaste jare op ’n Oos-Kaapse strand opgetel het, het mettertyd kuns geword. Sassa van Zyl vertel Murray La Vita van haar klein en kleurryke pogings om die planeet te help red.

Sassa van Zyl op die strand waar sy rommel optel. Foto: Verskaf

Iets aan die vrou en haar hondjie wat soggens op die strand in Astonbaai stap, is anders. Haar oë is neergeslaan, gerig op die wit sand voor haar. En elke nou en dan gaan staan sy en buk om iets op te tel.

Sassa is ’n skaam vrou; sy is verleë wanneer sy uitgevra word oor wat sy en Nina soggens op die strand doen. Haar trotse dogter, Betsi, beskryf só op Facebook haar ma se bedrywighede:

O nee, hierdie engel se hoofdoel is om die strand skoon te maak.

“Die afgelope paar jaar stap my ma op ’n stuk strand in Astonbaai, ’n dorpie wat aan Jeffreysbaai grens. Haar daaglikse staptogte saam met haar lojale metgesel, Nina, wat hoofsaaklik seemeeue jaag, is nie net ’n wonderlike manier om in voeling met die natuur te kom en oefening te kry nie. O nee, hierdie engel se hoofdoel is om die strand skoon te maak.”

Sassa vertel: “Dis seker nou al drie jaar dat ek aktief optel. Dit het begin met stap met die hondjie en ’n mens vat maar ’n sakkie saam. Ek het toe agtergekom daar is vreeslik baie sigaretstompies wat uitspoel of wat mense neergooi. Toe het ek begin om dít op te tel.

’n Hand vol van die plastiek wat Sassa daagliks optel. Foto: Verskaf

“Later het ek gesien daar is baie stukkies plastiek ook en bottels en allerhande goed soos vislyn en so aan. Toe begin ek nou nóg sakkies saamdra en later het ek sulke spesiale sakkies gemaak van ’n materiaal met gaatjies in so dit is soos siffies en dan kan ek die sand sommer uitskud.

“Ek gooi die plastieksakkies in een sak, dan het ek ’n ander een vir die sigaretstompies en ’n ander een waarin ek nou die groter goed soos plastiekbottels sit.”

Die kleure bymekaar

Sy het nie geweet wat om daarmee te maak nie.

“Want as jy dit in die drom gooi, gaan dit nou weer in die siklus in en beland iewers – hoop ’n mens – op ’n vullishoop. Toe het ek plankies en rame gekry by my suster se seun, wat ’n kunstenaar is, wat hy nie gebruik nie. En toe begin ek om dit daarop te plak; sommerso half net die kleure bymekaar.

“Ek bring die optelgoed huis toe en dan maak ek dit skoon en sorteer dit volgens kleure. Dít het so half organies gebeur. Ek het toe foto’s daarvan op Instagram begin plaas – daar noem ek myself mos @Threebaglady.

“Ek het mettertyd bewus geraak van die Zero Waste-movement en daai hele idee van reduce, re-use, recycle. So, die prentjiesmaak was maar net ’n manier om iets te dóén met die plastiek, eerder as om dit weer in ’n drom te gooi.”

Sassa se ‘Second Life’ op die vloer van die Jan Rupert-kunssentrum met Michèle Nigrini se ‘Kleursimfonie’ op die agtergrond. Foto: Verskaf

Sy het bokse vol gesorteerde plastiek.

“Verskillende kleure, klein, groot . . . Ek weet nie of jy weet wat is ’n nurdle nie? Dit is die klein ronde goedjies wat hulle uit plastiek maak en wat gebruik word om groter plastiek-objekte mee te vervaardig.

“’n Jaar of twee gelede het daar in Durban iets soos 40 ton van dié goed in ’n storm van ’n skip afgeval en dit het tot hier by ons uitgespoel. So, daarvan tel ek ook soms nog op. Dis kléin; dis so groot soos ’n lensie.”

Een groot prent

Die kunstenaar Michèle Nigrini het die foto’s van haar kunswerke op Instagram en Facebook gesien en gesê dis baie mooi en sy moet dit vir die groepuitstalling Conversation with Colour Symphony inskryf.

Sassa in die Jan Rupert-kunssentrum voor Michèle Nigrini se ‘Kleursimfonie’. Foto: Verskaf


Die Rupert-museum in Stellenbosch het vroeër vanjaar Michèle se “monumentale” kunswerk Kleursimfonie na die Jan Rupert-kunssentrum geskuif. Wyle dr. Anton Rupert het dié werk, wat sy in 1993 as deel van haar meestersgraad aan die Universiteit van Pretoria voltooi het, en al die ander beskikbare werk in haar eerste solo-uitstalling, gekoop.

Die museum het toe ’n uitnodiging gerig aan ander kunstenaars om kunswerke voor te lê wat met Kleursimfonie in gesprek tree. Hieruit is werke gekies wat nou deel vorm van die groepuitstalling Conversation with Colour Symphony.

“Ek het toe begin om van die kleiner goedjies bymekaar te sit om een groot prent te maak. Dit was nie so beplan nie, maar dit het so half vanself gebeur dat dit ook so half ’n kleurwiel is. Dit bestaan uit vyf panele wat saam ’n paneel van om en by vierkante meter vorm.”

Haar kunswerk heet Second Life.

‘Dieselfde roomyslepeltjie’

Sassa en haar suster, Christine Frauenstein, het die opening van die uitstalling bygewoon.

“Toe ons instap, toe lê my prent daar in die middel by Michèle se groot installasie . . . Hulle het my beskeie plastiekgoedjies daar in die middel gesit en toe het ek nogal gevlei gevoel. Hulle het gesê dis die enigste een wat spesifiek ook nou die kleurwiel het, want Michèle se Kleursimfonie bevat in ’n groot mate die kleure van die kleurwiel.

So, as dit net één mens kan laat dink ‘ek moenie sommer net weggooi nie’, is dit vir my ’n goeie ding.

“’n Ouer dame vra toe vir my: ‘Is dit jóú werk hierdie?’ Ek sê toe nou so ewe: ja. Sy sê toe: ‘Haai, en ons het nou net roomys geëet toe sien ek daar is dieselfde roomyslepeltjie in jou werk!’

“Sy besef toe ’n mens gooi dit so maklik weg. Dis dan wat uiteindelik die doel is van die werk – dat jy kan sién wat mense alles op die strand weggooi, van ’n soldaatjie of ander kinderspeelgoed tot dit wat hulle gebruik om sandkastele te bou vergeet hulle net daar . . . klere en die kaartjies wat aan klere is; visvanggoed, daardie tolletjies waarvan mense die rekgare gebruik – dis ’n baie spesifieke rooi tolletjie waarmee hulle die aas aan die lyn vasmaak. Mense gooi dit net daar neer.

“So, as dit net één mens kan laat dink ‘ek moenie sommer net weggooi nie’, is dit vir my ’n goeie ding.”

Bekommernisse

Sy praat oor “een van haar ander bekommernisse.

“Ek tel nou goed op en dan hou ek die klein stukkies plastiek, maar die ander groter stukke – plastiek of bottels – gooi ek in die drom. Dan bekommer ek my daaroor dat dit nou maar weer na ’n vullishoop toe gaan . . . En nou weet ek nie eintlik wat daarvan word nie.

‘Second Life’ bestaan uit klein stukkies plastiek. Foto: Verskaf

“Maar ek kan nie eintlik meer nog plastiek vergaar nie; dit raak ’n praktiese en logistieke probleem, want waar gaan jy met al dié goed heen?

“Daar is herwinningsplekke hier, maar hulle vat gewoonlik nie die slap plastiek nie. Hulle is baie spesifiek oor wat jy daar kan weggooi, goed soos bottels en rekenaar-paraphernalia. So, die goed wat op die strand uitspoel, is nie eintlik geskik om hergebruik te word nie.”

Blokhuisies

Benewens die kunswerke uit plastiekafval, maak Sassa al jare kleurryke “blokhuisies” wat ’n gewilde dekoritem geword het en deur mense landwyd gekoop word.

Sassa by ’n paar van haar blokkieshuisies. Foto: Verskaf

“Ek noem dit blokhuisies, want dit word gemaak van die blokke wat jy in die houtkratte kry wat mense gebruik om goed in te vervoer. Hulle maak dit uitmekaar en dan gebruik hulle die planke om meubels van te maak. Ek gebruik die blokke tussen daardie planke waarvoor die meeste mense nie ’n nut het nie.

“Ek het verskillende mense hier in Jeffreysbaai wat dit vir my saag dat dit die vorm van ’n huisie het. Ek gaan na die tweedehandswinkels hier op die dorp en kry daar skroewe en die boute en die moere. Dít word die skoorstene of die deure of die venstertjies – die goed wat ek aan die huisies sit.

“Dit is ook in ’n mate ’n hergebruik van iets wat weggegooi sou word. Die huisies is maar meer versiering, maar ek geniet dit om dit te maak. My suster was ’n kwilter en in die kwilttydskrifte van Amerika het ’n mens dikwels van hierdie primitiewe soort kuns gesien en toe het my pa oorspronklik vir haar ’n paar huisies gemaak. Hy was [ná sy aftrede as skoolhoof] ook so ’n bietjie van ’n houtwerker.

“Dit was altyd vir my mooi. Ons het eers net met aartappeldruk die deure en die vensters gemaak, maar nou het ek so ’n bietjie meer detail begin insit. Ek volg ook [op Instagram] ander mense in Engeland en Nederland wat dit ook doen, en kry maar idees by hulle.”

‘Nie net superhelde nie’

Ons praat oor die skrywer Robert Walser wat hom dikwels met “klein dingetjies” bemoei het en die mooiste prosa geskryf het oor skynbaar onbenullige objekte soos ’n potloodjie, as, ’n vuurhoutjie, ’n naald, of selfs ’n skaduwee.

Dit is nie meer net superhelde wat die planeet gaan red nie – elke mens in die wêreld kan dit doen.

In haar voorlegging het Sassa as volg oor Second Life geskryf:

Second Life is ’n collage van die klein stukkies plastiek wat ek bymekaargemaak het. As jy van naby daarna kyk, sal jy van die objekte herken, maar dit bestaan hoofsaaklik uit stukkies plastiekrommel wat al opgebreek het tot stukkies wat groot genoeg is vir visse om in te sluk.

“Dit is nie meer net superhelde wat die planeet gaan red nie – elke mens in die wêreld kan dit doen. Al wat jy nodig het, is ’n waterbottel en ’n sakkie.”

In Conversation with Colour Symphony sowel as Michèle se solo-uitstalling Outside In in die Imibala-galery op Graaff-Reinet kan ook op die webblad rupertmuseum.org besigtig word. Dit duur tot 5 September vanjaar.

Meer oor:  Murray La Vita
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.