Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die vrou wat ’n dolfyn wou wees

Maryke Musson vertel aan Murray La Vita hoe sy as kind daarvan gedroom het om ’n dolfyn te wees en uiteindelik hoof van die Twee Oseane Akwarium in Kaapstad geword het.

Maryke Musson in die Twee Oseane Akwarium in Kaapstad.Foto: Jaco Marais

“Ek het binnelands grootgeword [in plekke soos Bloemfontein en Pretoria] en van kleins af het ek saam met my gesin see toe gegaan vir vakansies,” sê Maryke Musson (44).

Ons sit by ’n tafel buite ’n restaurant wat aan die Twee Oseane Akwarium in die Kaapstadse Waterfront grens. Die see lê hier langs ons. Meeue swiep deur die wolklose hemel.

“Ek onthou so goed . . . Een van my eerste herinneringe was waar ons in die Transkei is, by die Keimond, en my ma het my aangepass na ’n nanny en ek was op die rug van hierdie beautiful Xhosavrou en ek het met haar krale gespeel.

So, ek was net mal oor dolfyne en oor die duiker Jacques Mayol. En natuurlik was Jacques Cousteau ook ’n groot invloed.

“So, deur die loop van my skooldae het ons gereeld see toe gegaan en my pa was mal oor visvang. Hy het gesê ek is sy gelukbringer; as ek by hom is dan vang hy groter visse.

“Aan die begin van my hoërskooldae het ek heeltemal besotted geraak met die see. Ek weet nie presies hoekom nie, maar ek het die ander dag gedink dit is dalk oor die fliek The Big Blue.

“So, ek was net mal oor dolfyne en oor die duiker Jacques Mayol. En natuurlik was Jacques Cousteau ook ’n groot invloed.

“As mense my gevra het wat ek ná skool wil wees, het ek gesê ek wil ’n dolfyn wees.”

‘Dolfyne gee om’

Maryke kyk na een van die skeurtandhaaie.Foto: Jaco Marais

Sy het heeltyd op haar Walkman na CD-opnames van dolfyn- en walvisgeluide geluister.

“Ook in die aand het ek daarna geluister. So, die idee was ek gaan ’n dolfyn wees.” Sy lag. “Ek was natuurlik slim genoeg om te weet dit is nie rêrig moontlik nie, maar al die eienskappe het my aangetrek: Dolfyne gee om; hulle kan hulle asem ophou vir ewig . . .

“Die ander dag vertel my suster vir iemand ek was nogal crazy; sy onthou hoe ek die heeldag op die bodem van die swembad gelê het en my asem opgehou het . . .

“ ’n Ander rigting waarin ek baie belang gestel het, was medies, so my ouers het nogal gedink ek gaan medies swot.

Die dag toe ek matriek klaar geskryf het toe trek ek af Kaapstad toe, want ek wou net by die see wees.

“My pa het toe gereël dat ek vir ’n vakansie by die ou Seaworld in Durban gaan werk. Ek het natuurlik toe die heeltyd saam met hulle bioloë tyd deurgebring en haaie oopgesny en met die dolfyne gespeel en daarna net gesê dit is 100% wat ek wil doen.

“Die dag toe ek matriek klaar geskryf het toe trek ek af Kaapstad toe, want ek wou net by die see wees. Toe is ek UCT toe.

“Terwyl ek swot toe loop ek vir Tony McEwan op die kampus raak. Hý was die ou wat hierdie akwarium beplan en aan die gang gekry het. Hy was ook die eerste bedryfsbestuurder.

“Hy het al hierdie rolle planne by hom gehad en hy sê vir my: ‘Swot klaar en dan kom werk jy by die akwarium.’

“Dit was in 1994 en die akwarium het einde 1995 oopgemaak. Die volgende jaar toe gaan klop ek aan die agterdeur van die akwarium – wat toe nog in aanbou was – en ek sê: ‘Ek ken vir Tony en ek kom nou hier werk.’ Ek het voortgegaan met my studies, maar ek was elke dag hier as ’n volunteer.”

Seeperdjies

“Dit maak nie saak waar jy bly nie – jóú natuurlike omgewing is op een of ander manier aan die oseaan gekoppel.”Foto: Jaco Marais

Net voordat die akwarium oopgemaak het, is sy as akwaris – ’n mariene bioloog – aangestel. Ná vier jaar is sy weg by die akwarium om navorsing te gaan doen.

“Ek private befondsing gekry en laboratoriums gehad by die ou Seevisserye se Seepunt-akwarium. Toe het ek begin navorsing doen oor seeperdjies wat baie interessante werk was, en dít het gelei na akwakultuur, so toe raak ek betrokke by propperse visboerdery. In daardie tyd het ek baie tyd bestee aan perlemoenplase en visplaasontwikkeling.

“Die akwariumwerk het vir my ’n baie goeie grondslag gegee van hoe om visse op te pas, want in ’n boerdery gaan dit tog oor die gehalte van jou diere.

“Ek het verskriklik lekker gewerk met internasionale besighede en tuis saam met die destydse departement van seevisserye om protokolle te ontwikkel om te kyk na die welsyn van die produkte.

“Ek was toe seker omtrent 17 jaar by awkakultuurontwikkeling betrokke, maar terselfdertyd ook van ’n afstand af baie by die akwarium betrokke. Ek het byvoorbeeld vir hulle seeperdjies geteel of van die personeel opgelei.”

Akwarium as galery

Biografie

Maryke Musson het verskeie grade, wat insluit ’n MSc. in igtiologie en visserywetenskap; ’n BSc. in mediese fisiologie, elektrofisiologie en sielkunde; en ’n BSc. in soölogie, mariene- en varswater biologie, en omgewings- en geografiese wetenskappe.

Sy het oor die wêreld heen navorsing gedoen en aanbiedings gelewer, of as konsultant opgetree vir ondernemings en instellings soos die Universiteit Stellenbosch as kundige op die gebied van akwakultuur en onderhoubaarheid.

Daarbenewens het sy ’n leidende bestuursrol gespeel in verskeie akwakultuur-ondernemings.

In 2015 het sy na die akwarium teruggekeer – as die kurator.

“Ek sê altyd die woord kurator is afgelei van die Latynse woord ‘curare’ – om om te gee. So, my rol was regtig om vir al hierdie biologiese bates – ons diere en ons mense – te kom omgee sodat ons die beste boodskap kan lewer aan mense wat ons kom besoek.

“Ek het ook gesê dis die beste werk ooit, want ek kan elke dag besluit wat gaan ek die meeste geniet en dan kan ek dít doen – om met ’n haai te swem of ’n skilpad te voer, of wat ook al.

“Ek is ook mal oor kuns en ek sien die akwarium amper as ’n galery met hierdie ongelooflike lewende kunswerke wat stories moet vertel. Uiteindelik gaan álles oor stories en watter stories ons kan deel wat ons besoekers, of enigiemand, gaan inspireer om rêrig te dink oor hulle verhouding met die natuur en wat ’n mens kan verander aan jou gedrag om seker te maak dat ons die planeet en die oseaan beskerm. So, die opvoedkunde-deel is baie belangrik.”

Nuwe stigting

Die akwarium vier in November sy 25ste verjaardag.

“In dié 25 jaar het ons verskriklik baie tyd en middele afgestaan aan opvoedkunde en ons het ’n ongelóóflike opvoedkundige afdeling en uitreikprojekte.

“Ons gaan byvoorbeeld na skole toe wat nie hierheen kan kom nie, met ’n van en diertjies en die hele lot. Toe ek in 2015 teruggekom het hierheen het ek agtergekom omdat die akwarium ’n kommersiële besigheid is, is dit baie moeilik om genoeg steun te kry om ons niewinsgewende bedrywighede te laat groei.

“Ons het toe besef ons moet ’n struktuur uitfigure waarin ons al daai bedrywighede in ’n entiteit sit waarvoor ons baie meer ondersteuning kan kry sodat ons kan groei.

“Ons het toe ’n nuwe trust gestig wat ’n aparte entiteit is. Dit is die Two Oceans Education Foundation waarin al ons niewinsgewende bedrywighede sit – opvoeding, bewaring, navorsing en veldtogte. Ek het nou die uitvoerende hoof van dié stigting geword.”

Kinders die mikpunt

’n Seekat kom uit sy skuilplek om Maryke te bekyk.Foto: Jaco Marais

Tinus Beukes het haar as kurator van die akwarium opgevolg.

“Die stigting is die ruimte waarin ons mense in verbinding wil bring met die natuurlike omgewing en aan die oseaan, en hulle inspireer om meer verantwoordelike besluite te neem. Ons mikpunt is kinders.

“In Kaapstad self is daar só baie kinders wat nog nooit die see gesien het nie. So, om húlle bloot te stel aan hierdie ongelooflike, magiese onderwaterwêreld is net fantasties.

“En om die konneksie te maak tussen water – ’n rivier, ’n stroom en die oseaan, is baie spesiaal, want dan skielik begin jy dink: ‘As ek my chippiepakkie daar gaan gooi, gaan dit in die oseaan opeindig en dalk gaan ’n skilpad of iets dit eet.’

“Ons het verlede jaar omtrent 65 000 kinders hier by die akwarium gehad en ons uitreikingsvoertuie het nóg 50 000 kinders gesien in die groter Kaapstad – die skole wat nie die middele het om akwarium toe te kom nie.

“Maar ons wil méér kinders sien. Net in die opvoedingstelsel in Suid-Afrika is daar 12 miljoen kinders. Hulle is die volgende generasie; hulle gaan besluitnemers wees . . . Hulle is denkers, innoveerders; hulle het invloed, en as hulle daardie omgewingsbewustheid het, gaan hulle baie beter besluite neem vir hulleself, maar ook oor die omgewing. En dít is wat die stigting dryf.”

Die akwarium se fokus is om die diere op te pas en die stigting s’n om die mense op te pas, sê sy.

“Ons wil hê dit moet normaal raak om die omgewing te sien as jou ruimte. Dit maak nie saak waar jy bly nie – jóú natuurlike omgewing is op een of ander manier aan die oseaan gekoppel. Ons wil vir almal wys ons is almal met mekaar verbind deur iets so wonderlik as die oseaan.

“Die oseaan is ’n massiewe bate, so al praat ons van bewaring moet ons nog steeds sien dit vervoer mense; dit verskaf werk; daar is skeepsbane; daar is olie . . . 70% van ons planeet bestaan uit water.”

Redding en vrylating

Een van die akwarium se grootste bewaringsprojekte is die seeskilpaaie. 

“Ons het ’n program wat toegespits is op redding, rehabilitasie en vrylating. Elke jaar . . . Ons weet nooit hoeveel seeskilpadjies ons gaan kry nie – van hulle is klein babatjies wat afspoel vanaf Noord-Natal, en van hulle is groter skilpaaie. Ons het verlede jaar byvoorbeeld oor die 200 skilpaaie gekry by ons rehabilitasiesentrum.

“Al sewe spesies seeskilpaaie is baie bedreig. En élke skilpadjie wat hier aankom, kom hier aan omdat iemand – ’n mens – omgee en dit hierheen bring. Ons lewe in ’n tydperk waarin álmal mense kritiseer: Mense is so sleg; mense is so walglik; blah blah blah blah.

“Maar wat ék ervaar, is hoe báie mense nog omgee. Met elke dier wat ons red, sê ek dankie aan ’n méns wat dit hiernatoe gebring het. Dít gee vir my so baie hoop. Ek is so totaal ooroptimisties oor die wêreld want ek sien die heeltyd die goeie werk van mense; mense van all walks of life. Ons kry mense van, ag jinne, Port Elizabeth tot in Yzerfontein, wat skilpadjies red en akwarium toe bring.

“Ons het ’n dame gehad wat ’n skilpad agter in haar Toyota Tazz gesit het en dit van Witsand af hierheen gebring het.”

‘Mense gee om’

Maryke in een van die akwarium se “klaskamers” waar leerlinge meer oor die see kom leer. Foto: Jaco Marais

Die akwarium het al meer as 600 seeskilpaaie gerehabiliteer en weer in die see vrygelaat.

“So, ek is net so absoluut entoesiasties oor die toekoms want ek sien net hoe baie mense eintlik omgee oor die planeet al sê ons: Oeg, its going to come to an end!

“En wat ek óók sien deur ons navorsing, is hierdie núwe generasie van diverse, jong wetenskaplikes; die ongelooflikste African wetenskaplikes wat histories niks met die see uit te waai het nie. Hulle almal sê hulle het grootgeword in ’n township en het niks van die oseaan geweet nie en toe word hulle deur hulle universiteit aan die see blootgestel en toe kom hulle agter ónder die water is daar seewoude, daar is kelpwoude, daar is koraaltuine, daar is . . . Hulle noem dit die fynbos van die see. Daar is ’n hele wêreld onder die see waaraan hulle nog nooit blootgestel is nie.

“Nou skielik het ons hierdie heroes wat kinders kan inspireer en sê: ‘Ek het ook uit ’n township of ’n area waar jy is, gekom en kyk wat het ek geleer. Ek wil dit met jou deel.

“So, mense maak my geweldig opgewonde en dit is ook hoekom ek so opgewonde is oor my rol om hierdie foundation te lei om net soveel meer invloed te hê en mense te inspireer sodat almal opgewonde kan raak oor hulle omgewing en uiteindelik die hele planeet.”

Hallo Bob

“Daar is ’n hele wêreld onder die see.”Foto: Jaco Marais

Wanneer ons later deur die akwarium stap, wys Maryke aan ons toweragtig gekleurde jellievisse; ons staan vir ’n hele rukkie stil by die tenk vol seeperdjies; sy wag totdat ’n seekat uit sy skuilplek na haar oop hand toe kom waar dit teen ’n glaswand rus. Ons sien reuse-kelpwoude en nuuskierige skeurtandhaaie; pikkewyne en vlindervisse.

Oral is kinders, ook ou mense en ’n vrou in ’n rolstoel wat in hierdie skemerwêreld rondbeweeg en hulle verkyk aan die wonders van die see.

Dan neem sy ons na bo die akwarium van waar die tenks deur duikers en personeel wat die diere voer bereik kan word. In een tenk kom die groot seeskilpad Bob nader geswem.

“Toe Bob hier aankom, het ons nie gedink hy gaan oorleef nie. Toe ons uiteindelik sy spysverteringstelsel aan die gang kry toe poo hy ballonne uit waaraan nog strikkies vasgeheg is, en plastieksakke.”

“So, Bob is nou ’n ambassadeur en kan vir mense, en veral vir kinders, sê: ‘O, jinne, ’n ballon is regtig nie ’n goeie idee nie.’ Skielik het die storie ’n individuele dier met ’n naam met wie mense kan identifiseer en dit is nie net nog ’n pamflet of ’n lesing nie.”

‘Yoshi swem net’

“Ek is ook mal oor kuns en ek sien die akwarium amper as ’n galery met hierdie ongelooflike lewende kunswerke wat stories moet vertel.”Foto: Jaco Marais

Die plan is om Bob later vanjaar in die see vry te laat.

“Ons het agtergekom die hoeveelheid steun wat ons kry wanneer ons ons vrylatingstories met mense deel, is baie groot.”

Sy vertel van die beseerde seeskilpad Yoshi wat in 1997 na die akwarium gebring is nadat sy vir ’n ruk op ’n Japanse vissersboot was waar sy deur die bemanning versorg is.

“Toe ek in 2015 terugkom akwarium toe, toe is Yoshi nog hier. Sy het 2 kg geweeg toe sy hier aangekom het, maar toe was sy reusagtig . . . Die koningin van die akwarium.

“Sy was toe 22 of 23 jaar oud en hulle leef tot 80 of ’n 100 jaar . . . Sy gaan my en almal hier by die akwarium oorleef. Ons besluit toe ons moet hierdie skilpad terugkry in die see en ons begin haar te train sodat sy reg is om vrygelaat te word – ons het haar laat lengtes swem elke dag.”

Dit is vir my die ongelooflikste storie – ’n storie van hoop, uithouvermoë, maar ook ’n storie van navigasie.

Sy is in Desember 2017 vrygelaat en gemerk sodat sy deur ’n satelliet gemonitor kan word.

“Sy het sedertdien al oor die 35 000 km geswem. Sy was op met die Weskus tot by Angola en het omgedraai en teruggekom; weer verby Kaapstad, en sy is nou besig om verby Australië te swem.

“Dit is vir my die ongelooflikste storie – ’n storie van hoop, uithouvermoë, maar ook ’n storie van navigasie; sy navigeer deur al hierdie gevare in die oseaan.

“Sy is ’n wêreldreisiger. Ek sien haar as ’n meisie wat nou net klaar is met matriek en deur die wêreld gaan reis. Die see is reusagtig groot. Toe ons haar terugsit toe dink ek dit is nou die eerste keer in 20 jaar wat sy in die see is. Daar is nie ’n einde nie. Yoshi swem net. Dit hou nooit op nie.”


Meer oor:  Maryke Musson  |  Kaapstad  |  See  |  Seeskilpaaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.