Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die vrou wat vir huiswerkers waardigheid gebring het

Aisha Pandor het nie net op dieselfde dag ’n doktorsgraad in menslike genetika en ’n sakediploma gekry nie. Dié dogter van dr. Naledi Pandor en grootbaas van die “Uber vir huiswerkers” het bewys dat swart vroue kan deurdring na ’n eksklusiewe domein wat tevore net tot wit bleeksiele beperk was, skryf Willemien Brümmer.

Dr. Aisha Pandor, die medestigter en uitvoerende hoof van SweepSouth, in haar kantoor in Zonnebloem. Agter is prentjies en foto’s van haar kinders. Foto: Adrian de Kock

“Dis baie wit, dis baie manlik en dis baie eksklusief,” sê Aisha Pandor waar sy in die industriële hoofkantoor van Suid-Afrika se “Uber vir huiswerkers”, SweepSouth, sit.

Sy praat oor die wêreld van tegnologiese aanvangsondernemings – oor “lang, wit” bleeksiele wat nie hul jeans optrek nie en wat aanvanklik gedink het sy en haar man, Alen Ribic, ’n sagteware-ingenieur, het bloot ’n skoonmaakmaatskappy begin.

Sy rol daardie doelgerigte bruin oë. Dié klein en fyn dogter van die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, dr. Naledi Pandor, met haar staalpuntstewels en haar bloubloed-afkoms.

Op 34 is sy ’n ma van drie en een van slegs 'n handjievol swart vroue wat sedert 2009 meer as ’n miljoen dollar met waagkapitaal ingesamel het. Sy was ook al die tydskrif Glamour se vrou van die jaar in die sakekategorie en sy verower die een prys ná die ander.

Tog is sy verbasend plat op die aarde waar sy in haar kantoor sonder tierlantyntjies met die ongeraamde tekeninge van haar oudste dogter, Aijla (10), teen die muur sit. Sy wys na een en lag. “Dis ek waar ek werk toe ry met my skootrekenaar en my slimfoon en my aktetas. So jy kan sien hoe my kinders my sien.”

Aisha was die eerste student van die Universiteit van Kaapstad wat op dieselfde dag ’n doktorsgraad in menslike genetika sowel as ’n diploma aan dié universiteit se sakeskool gekry het. Haar oudste dogter was toe drie jaar oud. Foto: Adrian de Kock

’n Dooie eekhoring

Die feit dat haar ma ’n vooraanstaande politikus is, sê sy, het weinig te make met die feit dat sy binne vyf jaar ’n onderneming opgebou het wat honderde miljoene rande werd is. “Dis iets wat mense sê wat niks van SweepSouth weet of nog nie oor my gaan oplees het nie,” sê sy heel gemaklik met wie sy is en wat sy bereik het.

As agterkleindogter van ZK Matthews, indertyd dalk Afrika se mees uitgelese swart intellektueel en een van die vroeë ANC-leiers, en kleindogter van die aktivis en politikus Joe Matthews, was ’n “gewone lewe” haar nie beskore nie. Haar oupagrootjie en oupa was saam beskuldigdes in die hoogverraadverhoor, haar pa, Sharif Joseph Pandor, was in MK en die intellektueel en politikus Sol Plaatje was een van haar voorvaders.

“Ek dink daar was selfopgelegde druk om nie die opofferings wat my familie gemaak het te mors nie,” sê dié tweede oudste dogter van die Pandors.

“Daar was ’n sterk gemeenskapsin en die opvatting dat jy nie net kan doen wat ook al jy wil nie, en dat jy nie ’n eiland is nie.”

Dit het gevoel asof die meeste mense wat hierdie godsdiens praktiseer, rassisties is en dit het my laat voel ek hoort nie daar nie.

Toe sy en haar gesin in 1989 uit Botswana, waar haar ouers in bannelingskap was, teruggekeer het na Suid-Afrika, was die lewe aanvanklik moeilik. “Ons het eers in Rondebosch-Oos gewoon en dit was nog ’n baie wit buurt en ek onthou daar was een keer ’n dooie eekhoring op ons drumpel en mense sou bakstene deur ons vensters gooi, so dit was nogal erg,” onthou sy.

“Ons was dalk onder die eerste swart kinders wat na Golden Grove (’n spogskool in Claremont) gegaan het. Die onderwysers het nie geweet wat om met ons te doen nie. Ons het nie by die stereotipes ingepas nie.”

Die feit dat sy in die Islam-geloof grootgemaak is, het dit ook moeilik gemaak om in die Kaap aan te pas.

“Een van die ergste dinge wat apartheid gedoen het in Kaapstad, was om ’n skeiding te skep tussen swart en bruin Suid-Afrikaners en ek het regtig met die Moslem-gemeenskap hier gesukkel. Dit het gevoel asof die meeste mense wat hierdie godsdiens praktiseer, rassisties is en dit het my laat voel ek hoort nie daar nie.”

Aisha sê die feit dat haar ma, dr. Naledi Pandor, ’n minister is, het weinig te make met die feit dat sy binne vyf jaar ’n snypunt-onderneming opgebou het wat honderde miljoene rande werd is. Foto: Adrian de Kock

Geheime van die menslike genetika

Aanvanklik wou sy regte studeer het soos haar oupa en oupagrootjie en die meeste van haar ooms en tannies aan moederskant – maar toe kies sy wetenskap en die geheime van die mens se genetika.

Haar doktorale proefskrif handel oor geenterapie vir oorerflike blindheid by pasiënte met retinitis pigmentosa. “Ek dink die hele gedagte dat iemand wat blind word, skielik weer kan sien, is ongelooflik! Dit moet so skrikwekkend wees as jy weet wanneer jy in jou tienerjare kom, gaan jy jou sig begin verloor, en dan gaan dit erger word en dan gaan alles eendag heeltemal swart word. Indien jy iemand kan help wat hieraan ly, is dit ongelooflik kragtig.”

Maar dié haastige jong vrou wou vinniger resultate hê en die gedagte daaraan dat sy ’n halwe leeftyd moet wag voordat haar navorsing mense kan genees, was skielik nie meer so aantreklik nie.

“Ek dink die grootste uitdagings in Suid-Afrika is werkloosheid en ongelykheid en ’n gebrek aan ekonomiese groei, en ek dink dis iets wat eerder deur sakeondernemings en deur mense wat Suid-Afrikaans gebore ondernemings begin, bygelê kan word,” sê sy.

In 2012 word sy dus die eerste student aan die Universiteit van Kaapstad wat op dieselfde dag ’n diploma kry aan dié universiteit se sakeskool en toe later die middag haar doktorsgraad in menslike genetika.

Sy is 27 en die ma van die driejarige Ajla. Haar man, Alen, het saam met sy ouers, ’n Bosniese Moslem en ’n Serwiese Christen, hul land van herkoms tydens die Bosniese oorlog verlaat.

Aisha (tweede van regs) saam met haar entrepreneur-pa, Sharif Joseph Pandor, haar ma, dr. Naledi Pandor, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, en haar man, dr. Alen Ribic, op die dag toe sy ’n diploma gekry het aan die Universiteit van Kaapstad se sakeskool sowel as ’n doktorsgraad in menslike genetika. Foto: Universiteit van Kaapstad

’n Uber vir huiswerkers

Sy begin die korporatiewe leer klim as bestuurskonsultant maar sy en Alen besef algaande hulle geniet dit nie om agter lessenaars te sit en ’n salaris te trek nie.

“Ons het albei net tot op ’n punt gekom waar ons ongelukkig was en ons nie ons ware potensiaal uitgeleef het nie. Ons het gevoel ons moet iets doen wat meer riskant is, meer opwindend en met ’n groter invloed, en toe besluit ons om saam ’n onderneming met ’n fokus op tegnologie te begin. Ons het nie ’n benul gehad wat dit sou wees nie, maar tog het ons albei bedank en op ons spaargeld oorleef.”

Die konsep vir SweepSouth is gebore toe hulle in die Desember-vakansie in 2013 by haar ouers in Rondebosch gekuier het. “Ons ouers was nie gelukkig toe ons by ons onderskeie werke bedank het nie. Hulle het gesien wat ek bereik het met my navorsing en toe los ek dit en word ’n bestuurskonsultant, en vaar weer eens baie goed en toe los ek dit óók. Toe vra hulle: ‘Gaan jy net die heel tyd van beroep verander? Julle moet nou vastigheid kry, want julle het ’n kind en verantwoordelikhede.’ ”

En toe kondig die minister se huishulp aan dat sy met vakansie weggaan en hulle soek iemand wat haar in dié tyd kan vervang. Ná onderhoude met verskeie kandidate sê Aisha: “Wat as ons ’n Uber vir huiswerkers bou?”

Die saadjie is toe vir ’n revolusie in die huiswerkersbedryf geplant. Die gedagte aan tegnologie in dié bedryf, is in dié stadium nog heeltemal uitheems.

“Voor SweepSouth het huiswerkers ’n voldag of ’n halfdag gewerk en dis dit. Daar was geen gedagte dat jy die buigsaamheid sou kon hê om te sê ek wil drie uur per dag werk en dan ander verantwoordelikhede ook nakom nie.”

Iemand sou R10 000 per maand betaal, nog iemand R1 800 per maand en nog iemand R3 000 vir ’n maand se werk.

Dit het ook gelei tot beter lone sonder dat die bedryf onbekostigbaar geword het.

“Toe ons SweepSouth begin het, het ons navorsing gedoen oor wat ’n gewone loon sou wees vir ’n huiswerker en ons kon nie daai inligting kry nie. Iemand sou R10 000 per maand betaal, nog iemand R1 800 per maand en nog iemand R3 000 vir ’n maand se werk. Dan begin jy agentskappe bel en binne een agentskap met verskillende franchises kon hulle nie eens op ’n vaste bedrag ooreenkom nie. Ons het uitgevind daar is ’n gebrek aan deursigtigheid en geen akkurate inligting oor wat mense betaal word nie.”

Hulle het begin om hul eie studies oor huiswerkers te publiseer en volgens Aisha word die gemiddelde huiswerker in Suid-Afrika nou sowat R3 000 per maand betaal.

Anders as by ’n agentskap kan die gemiddelde SweepStar (hul woord vir huiswerkers) sowat 80% van die geld wat hulle verdien huis toe neem. Namate hulle meer ondervinding opdoen, kan dit soveel as 96% wees.

Die gedagte is ook om aan die SweepStars waardigheid te gee en ’n ekostelsel te bou wat die SweepStars in verskeie dele van hul lewens ondersteun.

Aisha verduidelik dat dit ’n tegnologieplatform is wat heeltemal anders werk as agentskappe omdat jy soos Uber onafhanklikheid aanmoedig.

“As jy die platform gebruik, is jy amper soos ’n entrepreneur – iemand wat uitgaan en ’n diens verskaf en hoe beter jy vaar, hoe meer kliënte het jy en indien jy iemand ontmoet wat ’n potensiële langtermynwerkgewer is, is dit wonderlik en jy’s welkom om ’n verhouding met hulle buite die platform te hê.”

Die beginsel is eenvoudig vir die kliënt: Jy laai die app op jou foon af, dui aan hoe lank en waarvoor jy ’n huiswerker sal nodig hê en môre is sy op jou voorstoep, klaar betaal.

Dié onderneming het nou al meer as 13 000 SweepStars wat op die platform werk en meer as 50 000 mense wat bestellings plaas. Die maatskappy het verlede jaar vir die eerste keer die R100 miljoen-inkomstekerf verbygesteek.

Aisha en Alen, die stigters van SweepSouth. Alen is ’n sagteware ingenieur, wat saam met sy ouers, ’n Bosniese Moslem en ’n Serwiese Christen, hul land van herkoms tydens die Bosniese oorlog verlaat het. Foto: SweepSouth

’n Huishouding bestuur deur tegnologie

Sy en Alen het pas ’n app waarmee jy nutsmanne en loodgieters en elektrisiëns kan bestel, begin. Die plan is om te bly uitbrei. “As daar reeds iemand is wat na jou huis omsien, hoekom nie ook iemand wat na jou kinders kyk, na jou bejaarde ouers omsien en jou inkopies doen en daardie dinge nie? Ons wil ’n platform wees wat met algemene dienste tuis en tuisprodukte help. Ons het ook pas ’n winkel begin wat skoonmaakprodukte verkoop, maar dis nog baie nuut en daar is nog nie baie produkte nie.”

Hulle wil ook na markte buite Suid-Afrika uitbrei.

“Die maatskappye wat ek bewonder met betrekking tot hoe hulle opgebou is, is maatskappye soos Discovery wat op eie bodem ontstaan het, maar internasionaal geword het – hulle is groot handelsname, hulle is relevant en kon mededingend bly.”

Die mikpunt is ’n huishouding wat deur tegnologie bestuur word, maar waarin mense steeds sentraal bly.

“Dis baie wit, dis baie manlik en dis baie eksklusief,” sê Aisha oor die wêreld van tegnologiese aanvangsondernemings. Met SweepSouth het sy egter gewys selfs huiswerkers kan deur die tegnologie bemagtig word. Foto: Adrian de Kock

‘Ver van stinkryk’

Veral aan die begin was dit egter bloedsweet. Selfs nadat hulle einde 2014 hul eerste beleggers gekry het, het Aisha nog gereeld gehelp om huise skoon te maak.

“Dit was dol! Ek het dit een keer selfs reggekry om my uit ’n kliënt se huis uit te sluit en toe moes ek ’n slotmaker kry voordat sy tuiskom.

“Daarna het ons ons kar en ons huis in Johannesburg verkoop met alles daarin en ons het tot die begin van hierdie jaar by my ouers in Rondebosch gewoon. Dis nóú eers – ná alles wat ons in die onderneming belê het – dat ons daarin geslaag het om weer op ons voete te land.”

Toe my jongste, Daniyal, ses maande gelede op die Donderdag gebore is, het ek weer die Maandag kantoor toe gekom.

Sy glimlag met byna perfekte tande. “En ons is nog ver van stinkryk!”

In die eerste paar jaar van die maatskappy se bestaan slaap sy en Alen vier uur per nag en werk sewe dae per week sonder siekteverlof of vakansies. “Toe my kinders klein was, het hulle saam met my kantoor toe gekom. Toe my jongste, Daniyal, ses maande gelede op die Donderdag gebore is, het ek weer die Maandag kantoor toe gekom.”

Sy skud haar kop. “Dis nie maklik nie. Dit klink asof ek onverskillig is daaroor, maar Ajla het baie daarmee gesukkel, want die realiteit is dat werk vir jou ouers hul prioriteit word.”

Sy glimlag. “Aan die begin voel dit asof jy nael en net probeer om kop bo water te hou, en dan kom jy by ’n punt waar jy besef dit is iets wat jy op lang termyn gaan doen. Dan besef jy as individue moet julle ook gesond probeer leef en soms tyd afvat.”

Haar nagte is steeds onderbroke omdat sy Daniyal borsvoed, maar minstens gaan slaap sy nou net voor middernag in plaas van 02:00.

Maar om die soort sukses te behaal wat sy en Alen met SweepSouth behaal het, beteken steeds hope opofferings.

“Ek het nie ’n sosiale lewe nie en ek moet baie familietyd inboet. Ek en my man gaan nie alleen uit nie en ons praat baie oor werk.”

Sy praat effe sagter, asof sy skuldig voel. “Ek het al twee familietroues gemis hierdie jaar en ek het nie na die begrafnisse van my oupa en ouma aan vaderskant gegaan nie. Ek was naby aan hulle maar ek kon net nie. So ek is nie die beste familielid wanneer dit by die uitgebreide familie kom nie.”

Maar een ding is seker. Haar sukses is nie danksy nepotisme nie. “Toe ek die eerste keer in my honneursjaar ’n navorsingsartikel skryf, het my professor gesê: ‘Dis regtig indrukwekkend, is jy seker jou ma het dit nie geskryf nie?’

“Ek het gesê: ‘Dink jy die minister van onderwys (dit was toe Pandor se posisie) het die tyd om ’n navorsingsartikel oor genetika te skryf? Komaan!’

Sy staan op, seker van haarself en van die koers wat sy ingeslaan het. “Ek verstaan hoekom mense daardie aanname maak, maar dis irriterend, want ek werk regtig hard.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.