Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die ware verhaal van Blokkies Joubert

Hy het voor die onderhoud geweet David Kramer gaan ’n ander mens wees as die een wat oor die dekades heen in sy gedagtes geskets is, maar Stephen Nell is onkant betrap deur die ware verhaal van Blokkies Joubert.

Die omslag van Die Verhaal van Blokkies Joubert. Foto: Adele Lee Nell

Ons almal met ’n paar myle op die klok het hulle: Vergete helde.

Iewers in bokse wag daar dalk boeke oor hulle vir wanneer ons eendag aftree of gedwing word om af te tree.

As ’n liedjie oor ’n vergete rugbyheld boonop saamval met ’n Springbok-toer na Nieu-Seeland, het die betrokke musikant ’n wenresep.

'Hak Hom Blokkies' het Kramer, wat ’n kultusgevolg gehad het ná die verbanning van Bakgat! deur die SAUK, skielik onder Jan en Alleman gewild gemaak.

“Hak Hom Blokkies” was egter meer as dít. David Kramer het nie net ’n liedjie geskep waarop ons lekker kan saamsing nie, maar met die album Die Verhaal van Blokkies Joubert is ons deur ’n fiktiewe karakter aan die hartsnare beetgekry. Daar was ook die manne van die Royal Hotel en Piet Bedien, wat dalk ’n beter rugbyspeler as Blokkies sou gewees het as Kramer meer tyd gehad het om aan die album te werk.

Die eindpunt was iets tussen wat hy oorspronklik in die vooruitsig gestel het en die invloed van kommersialisme deur ’n platemaatskappy wat raakgesien het dat hy “Hak Hom Blokkies” kan vrystel om saam te val met die Bokke se emosiebelaaide toer na Nieu-Seeland in 1981.

Blokkies was eintlik ’n metafoor vir wat met my pa en oom gebeur het. Hulle was helde van die Tweede Wêreldoorlog wat teen die Nazi’s baklei het en teruggekeer het net om deur Nazi’s in die vorm van die Nasionale Party regeer te word ná 1948.

En “Hak Hom Blokkies” het Kramer, wat ’n kultusgevolg gehad het ná die verbanning van Bakgat! deur die SAUK, skielik onder Jan en Alleman gewild gemaak.

“Die tema was: ‘Wat gebeur met helde?’ Blokkies was eintlik ’n metafoor vir wat met my pa en oom gebeur het. Hulle was helde van die Tweede Wêreldoorlog wat teen die Nazi’s baklei het en teruggekeer het net om deur Nazi’s in die vorm van die Nasionale Party regeer te word ná 1948.

“My familie se politieke belange was by die Verenigde Party. So, hulle het die oorlog oorsee gaan wen, maar plaaslik verloor.”

Sport met politiek verweef

David Kramer (heel regs) ontvang in 1982 sy dubbele goue plaat vir die verkope van Die Verhaal van Blokkies Joubert. Langs hom is Wynand Claassen, kaptein van die Springbok-toerspan van 1981 in Nieu-Seeland en Amerika.

Kramer se ikoniese reël in “Hak Hom Blokkies”: “But it’s all been spoiled by politics, it’s never going to be the same”, was dus oor baie meer as die politiek wat hand aan hand stap met Suid-Afrikaanse rugby – in die dae van Blokkies se bekendstelling as sportisolasie en in die moderne era as raskwotas.

“Dis ’n reël met ’n dubbele betekenis,” sê Kramer.

“Politiek en sport was in daardie tye verweef. Jy sou ondersteuners van die Nasionale Party hê wat sê, ‘ja, als is deur die politiek bederf’, en mense sou saamgestem het, maar die ironie was dat ek éintlik besig was om iets anders te sê.

Die wonde wat sy pa saam met hom teruggebring het uit Egipte – fisiek en sielkundig – was ook ’n groot invloed.

“In ‘Blokkies’ was ander politiek ter sprake. Jy verander van kante, maar die kwessies bly dieselfde. So, die tema was oor iemand wat nostalgies word oor die dae toe hy en sy vriende helde was. Die Bokke het toe uitgeworpenes geword.

“Dít was eintlik wat ek besig was om te ontdek deur die skryf van die liedjie: hoe mense iets vir ander mense verteenwoordig, maar die mense wat jou verafgod begryp nie regtig wie jy is nie.”

Die wonde wat sy pa saam met hom teruggebring het uit Egipte – fisiek en sielkundig – was ook ’n groot invloed.

“Ek worstel met die tema ‘om vergeet te word’ en die tema van vergete helde. Dit kom waarskynlik van wat met my pa gebeur het. Hy is in Egipte gewond en dit het die res van sy lewe beïnvloed.

Om te kyk hoe my pa en oom nooit word wie hulle moes gewees het nie en die stories te hoor van wat hulle eendag gaan doen . . .

“Hy was byna ’n jaar lank in ’n hospitaal in Kaïro. Met sy terugkeer was hy ’n man sonder selfvertroue en hy het uiteindelik in ’n meubelwinkel as ’n verkoopsman gewerk sonder om ooit sy ware potensiaal te bereik.

“Om te kyk hoe my pa en oom nooit word wie hulle moes gewees het nie en die stories te hoor van wat hulle eendag gaan doen . . . As tiener het ek besluit dit gaan nie my verhaal wees nie.”

En dan besef ’n mens waar dié lirieke vandaan kom:

Man, it’s hard to believe this is Blokkies Joubert

A hooker in the Springbok scrum

Because he’s old and grey and he sits in his chair

In the slanting winter sun

But he made his name with that wonderful game

That he played in nineteen thirty-one

Kommersialisme laat Piet Bedien sneuwel

David Kramer met ’n paar van sy bekende rooi velskoene. Foto: Mary-Ann Palmer

Só kan Kramer jou deur die album neem, wat op ’n melancholiese noot begin met ’n ballade oor Blokkies Joubert. Dan stap Kramer die pad met jou deur die Royal Hotel na nog 'n melancholiese lied in "My Hands Are Shaking". Die keerkant van die album begin met "Piet Bedien" en die tempo versnel met “Montagu”. Daarna volg 'n hunkerende lied in “Friends of Mine” voordat dit afgesluit word met die ikoniese lied “Hak Hom Blokkies”.

Die laaste karakter in die liedjie is ’n ou wat bankrot is, sy plaas verloor het en sy sorge wegdrink in die Royal Hotel, maar nie daaroor wil dink nie.

“ ‘Royal Hotel’ is ’n metafoor van wit Suid-Afrika daardie tyd. Die laaste karakter in die liedjie is ’n ou wat bankrot is, sy plaas verloor het en sy sorge wegdrink in die Royal Hotel, maar nie daaroor wil dink nie.”

Maar dis lekker, dis lekker, dis tog te lekker hier

Musiek op die draadloos en skuim op my bier

Luister ou vriend, daar agter die bar

Hoe lyk dit met nog so ’n doppie daar?

Kramer sê daaroor: “Kom ons drink nog ’n dop en klap mekaar op die rug en sê hier is ons. Dit gebeur omdat jy nie vir jouself in die spieël wil kyk en jou situasie in oënskou wil neem nie. Hier is ons saam in die sinkende skip.

David Kramer in aksie op die verhoog. Foto: Argief

“Die karakters in die liedjie is ’n bietjie simpel voordat jy by die hartseer ou man kom. Dit het by almal geresoneer.

“Wat vir my interessant is, is dat ek ’n wit kroeg in gedagte gehad het, maar die liedjie het oor kleurgrense heen geresoneer omdat mense dit verstaan het en op hul eie manier daarmee geïdentifiseer het. Dit was my eerste treffer by ’n bruin gehoor.”

Die druk wat ’n platemaatskappy op Kramer gesit het om “Hak Hom Blokkies” vinnig in ’n album te verwerk, het ’n idee oor die karakter van Piet Bedien laat sneuwel.

Ek sou uitgebrei het op sy (Blokkies) skuldgevoel dat hy deur wit bevoorregting ’n Springbok geword het en Piet geëindig het as ’n kelner in die hotel.

“Piet Bedien sou ’n karakter gewees het wat in die Royal Hotel werk. Daar was ’n idee dat hulle saam op die plaas sou gespeel het en dat Piet eintlik ’n beter rugbyspeler was. Ek sou uitgebrei het op sy (Blokkies) skuldgevoel dat hy deur wit bevoorregting ’n Springbok geword het en Piet geëindig het as ’n kelner in die hotel,” sê Kramer.

“Dit was ’n idee wat die moeite werd sou gewees het om te verken, maar ek het nie tyd gehad nie.”

Tussen ’n satiriese gedig, die deuntjie van ’n liedjie oor Bloemfontein wat nooit vrygestel is nie en die herinnering van Kramer se pa, is egter ’n idee en karakter gebore wat vir lank in die heldesaal van Suid-Afrikaanse musiek – en rugby – staanplek sal hê.

* Nell is ’n spesialis-rugbyskrywer by Netwerk24.

Meer oor:  Stephen Nell  |  David Kramer  |  Politiek  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.