Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die Wit Zoeloe: ’n merkwaardige loopbaan

Johnny Clegg is Dinsdagmiddag op 66-jarige ouderdom aan kanker van die pankreas dood. Hy het in April 2013 in dié onderhoud met Murray La Vita, aan die vooraand van sy 60ste verjaardag, teruggekyk op ’n merkwaardige musiekloopbaan.

Johnny Clegg tydens ’n vertoning in 2010. Hy was nie net musikant nie, maar ook dosent in antropolgie by Wits. Foto: Argief

“Impi! wo ‘nans’ impi iyeza. Obani bengathinta amabhubesi?”

Ons kon dit nie oor die radio gehoor het nie, want dit was verbied. Tog het dit gelyk asof die menigte mense in die Goeie Hoop-sentrum die woorde van “Impi” ken. ’n Wit man, geklee soos ’n Zoeloe-kryger, was saam met Zoeloes op die verhoog. Hulle het gedans. Hy het voorgesing. En die skare het saamgesing.

Dit was 1985. Die Wit Zoeloe en Juluka was in Kaapstad.

En nou, vanoggend, hoor ek weer daardie stem. Johnny Clegg is pas terug uit Londen, waar hy in die Royal Albert Hall opgetree het. En waar ook “Impi” opgeklink het – ’n lied oor die Zoeloes se oorwinning oor die Britte in die Slag van Isandlwana.

Ons was besig om ’n nuwe musiek te skep, ons het gewéét ons was met iets nuuts besig.

In hierdie optrede, wat heet A South African Story, vertel Clegg deur musiek, dans en stories die verhaal van sy lewe.

Dié aand, in ’n vol Royal Albert Hall, kon die man wat die Franse die Wit Zoeloe gedoop het, vir die eerste keer in ’n lang ruk weer dans nadat hy verlede jaar ’n operasie aan sy lies en aan sy knie ondergaan het.

“Ek was onder groot sielkundige druk; ek het net gehoop ek skeur nie weer iets nie.

“Voor die tyd het ek opgewarm en strekoefeninge gedoen. En in die eerste deel het ek toe soos ’n demoon gedans. In die pouse het ek weer gestrek. En in die tweede helfte, toe ek die Zoeloedanse moes doen, het dit seepglad verloop. Ek het fantasties gevoel.

“Maar die opvoering was ’n bietjie van ’n fisieke en sielkundige uitdaging vir my.”

Herhaaldelik deur polisie geteister

Sielkundige en fisieke druk is aan hom bekend. Hy ken dit uit sy jong dae, toe hy herhaaldelik deur die polisie geteister en in hegtenis geneem is.

“Ons moes die Wet op Afsonderlike Geriewe probeer pypkan. Ook die Groepsgebiedewet. Ons het in kerksale, skoolsale en universiteitsale gespeel. Dit was baie senutergend, maar ons was jonk en ons was besig om ’n nuwe musiek te skep, ons het gewéét ons was met iets nuuts besig; en as ons daarmee opgehou het, sou iemand anders dit gegryp het en daarmee gehardloop het. Ons het dus aangegaan, en Juluka het ’n nasionale band geword deurdat ons net aanhou toer het.

“Ek sou sê die polisie het elke jaar tussen 20 en 30% van ons optredes opgebreek . . . in die townships. Daar was die een in Duduza by Nigel waar die polisie die mense toegelaat het om in die saal in te gaan, maar toe ons met die derde nommer begin, het hulle die verhoog bestyg met honde en haelgewere. Hulle het dit opgebreek; traanrook afgevuur. Daar was pandemonium.”

Die klanke van straatmusiek

Johnny Clegg: op 16-jarige ouderdom wou hy ’n Zoeloe wees. Foto: Argief

Alpha Court 156, Mullerstraat, Yeoville. Dít is waar Johnny Clegg se musiekloopbaan begin het.

“Daar naby was ’n klein winkelsentrum waarnatoe my ma my soms gestuur het om brood en melk te koop. Ek was so 14 jaar oud toe ek eendag by die kafee ’n man sien wat teen een van daardie ou rooi telefoonhokkies leun terwyl hy kitaar speel. Dit was ’n blikkitaar. Ek was in daardie stadium besig om klassieke Spaanse kitaar te leer.

“Ek het na hom gestaan en luister. Dit was ’n heeltemal vreemde toon, en sy manier van snare pluk, was ook aan my onbekend. Ek het vir hom geglimlag en hy het vir my my geglimlag. Toe sê ek vir hom: ‘Jeez, dis ongelooflik! Kan jy my leer speel?’

“Hy het gesê: ‘Nee, ek dink nie jy sal dit kan doen nie.’ Ek het vir hom gesê ek dink ek sal kan, want ek is reeds besig om te leer klassieke kitaar speel.”

Die man se naam was Charlie Mzila.

Jy het in Suid-Afrika grootgeword . . . dit was hard . . . niemand het regtig kennis geneem van ’n ou wat in die straat afstap met ’n konsertina nie. Dit was net ’n snaakse geluid op die agtergrond. Maar nou het ek skielik gesién; ek het skielik gehóór! Ek het wakker geword en skielik gesien daar is ’n ander wêreld daar buite van ongelooflike kultuur en dans.

“Hy het gesê hy werk oorkant die straat in die oggende as skoonmaker in ’n woonstelblok; ek kan in die middag soontoe kom. Hy was ’n Zoeloe en het in gebroke Engels met my gepraat.

“Die volgende dag . . . ek kon nie wag nie, ek het my van die skool af huis toe gehaas en my Spaanse kitaar gaan haal en na sy woonstelblok gegaan. Daar het ek hom in een van die gange aangetref – hande viervoet besig om die vloer te poleer met sy skoonmakeruitrusting aan en lappe om sy knieë.

“Hy het vir my gesê ek moet na die bokant van die gebou gaan, na die bediendekwartiere. Hy het my gevolg. Ons het in sy kamer gaan sit en hy het begin speel. Ek het gevra: ‘Kan ek asseblief na jou kitaar kyk?’ Ek het myne toe soos syne ingestel en vir hom gevra om vir my één stuk te leer.

“Daar was so ’n lekker stil hoekie op die dak en ek het úre daar gesit en probeer om hierdie blerrie ingewikkelde ritmes te speel wat jy met jou duim en voorvinger pluk. Uiteindelik het ek dit reggekry. En hy het my aan sy gemeenskap bekend gestel. Hy was van Mfinga in KwaZulu-Natal. Hy het my ook aan ander musikante bekend gestel.

“Ek het skielik hierdie gróót straatmusiek-tradisie ontdek. Ek het dit skielik gesien.” Clegg praat met stygende opwinding, asof hy dit wat hy beskryf vir die eerste keer beleef.

“Jy het in Suid-Afrika grootgeword . . . dit was hard . . . niemand het regtig kennis geneem van ’n ou wat in die straat afstap met ’n konsertina nie. Dit was net ’n snaakse geluid op die agtergrond. Maar nou het ek skielik gesién; ek het skielik gehóór! Ek het wakker geword en skielik gesien daar is ’n ander wêreld daar buite van ongelooflike kultuur en dans.

“Ek was so opgewonde! Kan jy jou ’n seun van 14 of 15 voorstel wat die geheime lewe van die trekarbeider betree? Dit was net ongelooflik.”

Hy het sy klassieke kitaar laat vaar.

“Ek het vir my ma gesê: ‘Weet Ma wat? Hierdie kitaar is verkeerd; dit het dermsnare (gut strings). Wat ek nodig het, is ’n goedkoop Bellini-kitaar wat jy in Pinetown in die fietswinkel sou kry.’ ” Hy lag. “En dit is presies van waar ek my eerste Bellini gekry het.”

Op 16 wou hy ’n Zoeloe wees

Johnny Clegg stel sy danspassies ten toon in ’n vertoning in Amerika. Foto: Getty Images

Ook het hy die boek Learn Zulu gekoop. Hy het die taal vlot leer praat.

“Teen die tyd dat ek 16 was, wou ek ’n Zoeloe wees. My ma was bekommerd, want ek het nie saam met wit vriende uitgegaan nie. Al my tyd het ek aan dans bestee. Elke naweek was ek in die hostelle (waar die trekarbeiders gewoon het). Ek was besig om te leer. Ek is aan stokgevegte blootgestel; verskillende dansvorme; geskiedenis. Ek was verbyster. Hierdie mense het hul kultuur uit die landelike gebiede direk na die hostels toe oorgedra.

“Ek sou Maandae by die skool vir my buddies sê: ‘Julle sal nie glo wat julle sien as julle na die Jeppe-hostel gaan nie; na Denver . . . Dis uitbundig! Die sypaadjie is vol van mense wat skildvelle verkoop, spiese, velle vir trouseremonies . . .’ Vir my was dit soos ’n magiese plek onder in die tuin waarvan niemand weet nie.”

Hy onthou ’n keer toe hy as tiener in ’n hostel was en die polisie ’n klopjag uitgevoer het. Van die mans het gedans terwyl ander op die vloer gesit en hande geklap en gesing het.

“Hulle het gedink ek is ontvoer. Die een konstabel, hy was seker nie ouer as 19 nie, kon nie sy oë glo nie. Hy wou weet: ‘Wat maak jy hier?’ Ek sê toe: ‘Ek is besig om te dans.’ ” Clegg lag. “Toe sê hy: ‘Dis oukei, jy hoef nie dit te sê nie, jy is nou veilig.’ ”

Dosent in antropologie op Wits

Johnny Clegg is Dinsdagmiddag op 66-jarige ouderdom aan kanker van die pankreas dood. Foto: Argief

In hierdie ontdekkingstog was reeds die saadjie van sy latere studie in antropologie aanwesig.

“Ja, ek was eintlik al op 15 met antropologie besig. Ek het later op Wits baie goed gevaar met sosiale antropologie en was vier jaar ’n dosent daar.

“Maar ek het met my musiek aangehou, en in 1983 het ons (Juluka) in Engeland ’n top-50-treffer gehad met “Scatterlings of Africa”.

“Ek het toe bedank as dosent.”

Toe die kultuurboikot in die vroeë jare negentig opgehef is, was daar ’n hele generasie jong swart mense wat geen blootstelling aan die globale jeugkultuur gehad het nie.

“En hulle was honger daarvoor. Tussen 1994 en 2004 was daar ’n algehele transformasie van die musiek- en vermaakbedryf. Kwaito, hip-hop, house- en dansmusiek . . . daar was al hierdie nuwe vorme van musiek.

“En hulle was nie meer lus om ons kultuur te vier nie. Hulle wou wys hulle is deel van ’n internasionale generasie jong mense.

“Wat toe gebeur het, is dat die musiek wat ek maak en wat tradisionele musikante maak, is nie meer genoeg op die radio gespeel ten einde te oorleef nie. Baie musikante het dit nie oorleef nie. Ek het oorleef omdat ek ’n baie visuele vertoning het waarin ’n storie vertel word.”

Ons is in ’n digitale kultuur.

“Daar is nou ’n rapper wat my ‘Scatterlings of Africa’ deel gemaak het van een van sy goed. My musiek is nou eintlik maar net agtergrondmusiek vir wat hy rap.”

Meer oor:  Juluka  |  Johnny Clegg  |  Kultuur  |  Apartheid  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.