Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die wond van Henri van Breda

Henri van Breda is as kind al verwond en dít het waarskynlik daartoe gelei dat hy sy ouers en broer met ’n byl doodgekap en sy suster erg beseer het, het Julian Jansen aan Murray La Vita gesê.

Julian Jansen vandeesweek in Kaapstad tydens ’n onderhoud oor die Henri van Breda-saak en die boek wat hy daaroor geskryf het. Foto: Jaco Marais

“Die groot vraag wat oor hierdie tragedie hang, is: ‘Hóékom het Henri dit gedoen?’ Die hof het nie vir ’n motief gesoek nie. Maar mense wil tog weet voordat almal afsluiting kry oor die hele saak,” sê Julian Jansen.

Die gesprek met Julian vind plaas in ’n restaurant van die Media24-gebou in Kaapstad waar hy as senior verslaggewer by Rapport werk.

Julian het van die begin af verslag gedoen oor die bylmoord op Martin en Teresa van Breda en hul seun Rudi en die poging tot moord op hul dogter, Marli. Ook oor die hofsaak waarin Henri van Breda (23) Maandag skuldig bevind is aan hierdie misdade. Julian het ook ’n boek oor die tragedie geskryf – Die De Zalze-moorde.

So die staat het hierdie hele moordnag-ding suksesvol opgelos, máár die vraag is nog steeds: Hóékom het Henri dit gedoen?

“Ek dink ’n mens moet teruggaan na die verhouding tussen hom en sy ouers. Die staat het nie na dwelms gekyk nie of wat Henri se optredes was en wat het hy in Australië gedoen nie; hulle het gevoel die omstandigheidsgetuienis is sterk genoeg.

“So die staat het hierdie hele moordnag-ding suksesvol opgelos, máár die vraag is nog steeds: Hóékom het Henri dit gedoen? Ek glo sy pa het hom ’n groot wond geslaan. Dis hoekom ek die aanhaling van John Eldredge in my boek gebruik het.”

Die motto uit Die ongetemde hart, lui:

“Elke seun word êrens op sy reis na manwees gewond. Die wond kom altyd soos ’n pyl wat ons in die middel van ons hart, ons bron van krag, tref. Omdat daar selde oor die wond gepraat word, en dit nog meer selde genees, dra elke man ’n wond in hom saam. Dié wond is byna altyd deur sy pa toegedien.”

‘Wat hakkel jy so?!’

Die wond wat Henri se pa aan hom toegedien het, was een van vernedering, meen Julian.

“Dít is een van die pyle wat hom getref het . . . Woorde soos: ‘Praat reg! Wat hakkel jy so?!’ En daardie wond het nooit gesond geword nie en dit kon gemanifesteer het of bygedra het tot daardie nag van die 26ste Januarie 2015. Frustrasies het opgebou.

“Onthou, toe hy land hier in Augustus; wat het gebeur in Augustus 2014 tot die 26ste Januarie 2015? Hoe was die verhouding tussen hom en sy ouers? Hulle het gereeld uitgegaan; hulle het gaan haaie duik en klomp ander dinge ook gedoen as gesin, maar hy was die loner en was in konfrontasie met sy pa. Wat het daar gebeur? Sy ma het nog ’n dag of twee voor die voorval gesê: ‘Jy kry nie weer geld van my nie want ons weet jy gebruik dit vir die dwelms!’

Ek is seker daardie aand was dit weer Henri versus Martin en Martin versus Henri. Soveel so dat vier uur later stap Henri af en hy gaan haal 'n byl in die spens . . . en een ná die ander is doodgemaak.

“Stephanie Op’t Hof, een van die uitstekende getuies, het getuig daardie aand het sy ‘verhewe stemme’ gehoor van tienuur die aand tot middernag toe. Ek dink dit was een van die vele konfrontasies wat Henri gehad het met sy pa. Ek is seker daardie aand was dit weer Henri versus Martin en Martin versus Henri. Soveel so dat vier uur later stap Henri af en hy gaan haal ’n byl in die spens en hy stap op met die trappe en hy slaan sy broer meer as nége houe terwyl hy slaap en een ná die ander is die ander doodgemaak. En dít, sê die hof, was moord met voorbedagte rade. So die verwagting is dat hy lewenslank gaan kry.

“Ek sien uit daarna om te sien wat se versagtende omstandighede gaan die verdediging op 5 Junie voor regter Siraj Desai aanbied. Hulle vra nou hy moet in ’n hospitaal wees; hy het epilepsie en so aan, maar geen van die bronne met wie ek gepraat het en met wie ander media gepraat het, sê Henri het in die verlede epileptiese aanvalle gehad nie. Ek dink die verdediging het die epilepsie as ’n nagedagte gegryp om simpatie te wek en te sê: ‘Luister, hy kón drie uur bewusteloos gelê het op die trappe.’ Maar daardie poging was futiel en dit afgeskiet deur die hof.”

Aanklank

Het hy empatie met Henri?

“Toe ek in die hof was, was dit meer as net om ’n moordsaak te dek. Ek het hom soms gewéldig jammer gekry. As ek kon huil dan het ek seker ’n traan gestort. Ek is self ’n pa van twee seuns wat oor die twintig is en ek het . . . ’n mens het somtyds nogal aanklank gevind by Henri se omstandighede.

“Ek het self ’n pa gehad wat baie streng was en wat ook vir ons verwond het, vir my en die ander drie broers. Hy het ook in ons ’n wond geplaas wat ek vandag dink nooit genees het nie.

Jy staar jou blind teen hierdie man met hierdie seunsgesig en jy begin half geheg raak aan hom want hy maak die deure oop vir die dames en hy kom in en groet vir jou ordentlik en so aan.

“So nou sit jy daarso met jóú wonde en dan kyk jy na hierdie seun en jy weet van die verskriklike klagte teen hom, maar jy skuif dit eenkant weg en jy kyk na hom as méns. Ek het vandag vir iemand gesê dit is so ’n absolute tragedie dat hierdie seun tronk toe gaan; dit is so ’n verlies aan potensiaal. Hy was ’n skrander student; hy kon soveel gedoen het; hy kon soveel beteken het vir sy gesin, vir sy mense, vir sy toekomstige gesin. Dit is ’n absolute tragedie – die verlies van hom, maar ook die verlies van ’n ma en ’n pa en ’n broer.

“Soms het hy die babagesig gehad – skoongeskeer, hare mooi gekam, vet wangetjies en die ou bokogies; soveel so dat joernaliste wat saam met my gesit het in die hof en aanvanklik gesê het hy is ’n moordenaar, later handomkeer verander het en gesê het hulle glo nie hy het dit gedoen nie; hulle glo in sy onskuld. So hy was baie sjarmant en wat ook al; ek weet nie of hy ’n psigopaat is nie, want ons het nie ’n sielkundige profiel van hom nie. Dit is iets wat oorweeg moet word.

“Jy staar jou blind teen hierdie man met hierdie seunsgesig en jy begin half geheg raak aan hom want hy maak die deure oop vir die dames en hy kom in en groet vir jou ordentlik en so aan . . .

“Maar Maandag het sy voorkoms ’n rilling langs my rug afgestuur toe ek hom sien die eerste keer. Toe lyk hy vir my kompléét moordenaar: sy haarstyl met die punt hier voor en dan sy woeste halfbaard wat hy gehad het . . . ingesonke oë en hierdie groot frons op sy voorkop. Hy was ’n totaal ander Henri gewees as die een wat ons oor die afgelope 65 hofdae leer ken het. Sy oë was vir my léég gewees. Ek dink miskien het die regspan vir hom vooraf gesê: ‘Luister, dinge lyk nie goed nie.’

Henri van Breda word Maandag in die hooggeregshof in Kaapstad geboei en weggelei nadat hy skuldig bevind is aan die moord op sy gesin. Foto: Jaco Marais

“Toe daardie twee polisiemanne later agter hom kom stelling inneem toe kyk ons media vir mekaar . . . Hulle kom amper soos twee vultures afgesweef na hom toe. Dit was oomblikke voordat regter Desai gaan sê: Klag 1 – skuldig; klag 2 – skuldig, en so aan . . . Toe staan hulle al agter hom reg.

“Ek dink dit het almal in die hof geraak toe hulle sy hande agter sy rug boei en daar gaan hy. Sulke tonele vergeet jy nie maklik nie; dit sal vir ewig by jou bly. So Henri van Breda het ’n merk gemaak op die psige van enige joernalis of fotograaf wat daar was. Ons sal nooit sy storie vergeet nie.”

Tot in Henri se hart

Ons keer terug na die raakpunte tussen hom en Henri

“Sy verhouding met sy pa, en my verhouding met my pa . . . My pa is oorlede nadat hy aangerand is deur skollies hier in Woodstock êrens; uitgegooi is uit die tweede verdieping van ’n gebou. Hy het ons gelos een nag. Hy’t my ma gelos en ons ses kinders net so gelos en toe verdwyn hy net en twee jaar later vind ons hom in Conradie-hospitaal – hy’s ’n parapleeg; hierdie lang man met ’n geknakte rug in ’n rolstoel; hare spierwit; eelte op die vingers. Ons het hom vergewe. Die trane het gerol. Drie, vier maande later sterf hy in Huis Sonnekus.

“Hy het ons verwónd. So ek het eintlik vir Henri baie anders ervaar as die meeste joernaliste in die hof. Ek het verder gekyk. Ek dink ek het eintlik tot in sy hart gekyk en ek het tot in sy kop gekyk. Ek het probeer kyk wat het met hierdie jong man gebeur en watter impak het dit gemaak dat sy pa hom ’n wond toegedien het wat uiteindelik nooit gesond geword het nie.

Hy het drie mense uitgewis, maar hy, Henri van Breda, het eiehandig ook homself uitgewis. Ek gaan nie vir my, Julian Jansen, uitwis nie.

“Julian Jansen sit ook met ’n wond wat nog nie gesond geword het nie en nou sien jy vir Henri daarso en . . . Dit is hoekom ek sê die Here het vir my ’n storie gestuur wat my naam op het want al die bronne [verskeie was oudleerlinge van hom uit sy dae toe hy ’n onderwyser was] het vir my ’n voorraad inligting gegee om sterk stories te dra, maar Hy het my ook aan die ander kant ’n individu gegee wat verwond is deur sy pa.

“Die hof het nie daarna gekyk nie – hoe groot was die wond wat Martin van Breda in Henri geslaan het? Wat was daardie trefkrag gewees? Dit is iets waaroor nooit gepraat is nie. Henri, is ek seker, het nooit oor daardie wond in sy hart gepraat nie. Ons weet nie hoe sekúúr daardie pyl hom getref het nie en ook hoe ver daardie wond genees het nie. Hy gaan nou tronk toe; dit moet moer swaar vir hom wees.”

Enorme verlies

Julian se vrou, Charlene, het in Februarie weens komplikasies ná ’n operasie gesterf. Hy raak diep bedroef wanneer hy my daarvan vertel.

“Julian Jansen sit ook met ’n wond wat nog nie gesond geword het nie.” Foto: Jaco Marais

“Álmal van ons stap met ’n stukkie seer rond. Ek glo, soos die Bybel sê: Jy moet jou lig laat skyn. Daar is ander mense wat in my situasie is wat miskien swakker as ek is en wat staatmaak . . . wat kyk hoe hanteer Julian dié krisis, en wat miskien krag kan put daaruit.

“Ek lewe met 30 jaar se herinneringe . . . Sý was my eerste liefde gewees en my laaste. My pa was so streng, ek kon nooit in die bondel vry nie want hy het vir ons vásgehou by die huis. Ek was op universiteit dan kon ek nie eens ’n girlfriend hê nie; ek moes maar vir Charlene skelm ontmoet.

“So ons moet onse lig laat skyn. Ek het ’n verantwoordelikheid dat mense wat ook in my situasie is, sien jy kán iets doen aan jou situasie, ongeag die enorme verlies. En dieselfde ook met hierdie familie wat drie mense verloor het en waar ’n seun soos Henri op ’n pad van selfvernietiging was,” sê hy en rus vir ’n oomblik sy hand op sy boek en raak aan die blondekopman op die voorblad.

“Hy het drie mense uitgewis, maar hy, Henri van Breda, het eiehandig ook homself uitgewis. Ek gaan nie vir my, Julian Jansen, uitwis nie. Ek het ’n verantwoordelikheid.”

Julian het nog nooit met Henri gepraat nie.

“Kyk, ek is nie klaar met Henri van Breda nie; ek wil hierdie jong man nog gaan besoek in die tronk en met hom gesels – al is dit nie vir ’n berig nie; net om te connect met hom. Ek voel die storie is nog nie afgehandel nie. ’n Mens het ’n verantwoordelikheid teenoor álmal rondom jou, ongeag of hy nou ’n kerkmens is en of hy nou ’n moordenaar is. Die Bybel sê die Here het aan die kruis die moordenaar vergewe, so óns moenie vir Henri as mens vergeet nie.”

Meer oor:  Julian Jansen  |  Henri Van Breda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.