Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Diplomaat vir Afrikaans
Sy gaan Afrikaans bevorder deur dit aan te hou praat, sê Bridgitte Mathews, nuwe direksievoorsitter van die ATKV. Foto: Zukhanye Mtebele

Haar grootste uitdaging gaan wees om mense se denkwyse en siening oor die ATKV te verander sonder om die Afrikaanse identiteit daarvan in gedrang te bring, het Bridgitte Mathews, dié organisasie se nuwe direksievoorsitter, aan Gert van der Westhuizen gesê.

Sedert sy net meer as twee weke gelede as die ATKV se direksievoorsitter aangewys is, moes Bridgitte Mathews gedurig hoor dat sy die eerste swart persoon en ook die eerste vrou is wat dié posisie in meer as agt dekades beklee.

Dit voel amper asof mense net dié twee aspekte raaksien en hulle min aan enigiets anders steur. Pla dit haar nie? wil ek by Mathews weet waar ons, heel gepas dalk, in ’n raadsaal in die Johannesburgse Buiteklub gesels.

“Ek raak nou al gewoond daaraan, want dis maar elke keer so. By Redefine toe ek daar as die ondervoorsitter aangestel is, toe was dit ook: ‘O, die eerste vrou.’

Oukei, die ATKV se eerste vroue- en eerste swart voorsitter, ja, maar toe daar amper elke dag ’n berig in die media is, toe besef ek dit is eintlik nogal ’n big deal.

“Ek was ook die eerste vrou en eerste swart persoon by Suidwes Landbou (waar sy voorsitter van die ouditkomitee is). Dit gaan ’n paar weke of so aan, dan bly mense maar stil.

“Ek moet sê, ek het aanvanklik gedog: ‘Oukei, die ATKV se eerste vroue- en eerste swart voorsitter, ja, maar toe daar amper elke dag ’n berig in die media is, toe besef ek dit is eintlik nogal ’n big deal,” sê Mathews en lag te lekker oor haar gebruik van dié Engelse uitdrukking.

Sy is eintlik in haar noppies met die tydsberekening van haar aanstelling so kort voor Vrouemaand, vervolg sy ’n bietjie ernstiger, “ons maand”.

Sy hoop meer vroue sal in die toekoms in topposte in die land aangestel word.

“Hopelik sal dit nie meer ’n skok vir almal wees as ’n vrou oor 20 jaar in ’n leierskapsposisie by enige instansie is nie. Maar ons sal dit stadig maar seker verander.”

Een persepsie wat Mathews vinnig verander, is dié van droë direksievoorsitters wat sukkel om ’n gesprek te laat vlot.

Mathews soek selde na woorde, sy glimlag gereeld breed en is vrien-delik en bedagsaam teenoor almal rondom haar – ook die kelner wat koffie en water aandra.

Kom kyk self en besluit dan

Daar is nog iets wat dié diplomaat vir Afrikaans graag wil verander: mense se persepsies van die ATKV.

Sy hou glad nie daarvan as mense na die ATKV verwys as ’n organisasie wat nie juis as verlig beskryf kan word nie. Sy wens sulke mense wil kom kyk wat by die ATKV aangaan, sê Mathews. Sy het by dié organisasie betrokke geraak juis omdat hy almal help.

Sy was onlangs by die AbbAsorg-tak in Cloetesville buite Stellenbosch en het net weer besef watter goeie werk die ATKV doen, ook om te help om mense se waardigheid aan hulle terug te gee.

“So, die ATKV is nie soos wat almal dink nie. Ek het aan iemand genoem dat ek dink dit die grootste uitdaging gaan wees om mense se denkwyse en siening oor die ATKV te verander sonder om ’n kompromie oor die woord ‘Afrikaans’ in die naam aan te gaan.

“Dit hang mos nou af met wie jy praat. Mense sal sê: ‘Net die feit dat daar ’n A in die naam is, o jy weet Afrikaans en rassisties’. Dan raak die mense sommer stil en wil niks verder hoor of betrokke raak nie.

“Maar ek moet sê die woord Afrikaans in die organisasie se naam is ononderhandelbaar. Dit gaan nooit verander nie.”

Nóg 88 jaar vir die ATKV

Mathews sê die ATKV moet voortgaan met sy werk op die gebied van onder meer onderwys en kultuur.

“Die ATKV word in Augustus 88 jaar oud en ek is oortuig daarvan hy sal nog 88 jaar bly voortbestaan. Die organisasie is al deur moeilike tye as jy dink wat die afgelope 88 jaar gebeur het – en hy het oorleef.

“Ons moet aanhou met die projekte, maar ek dink net ons moet ’n bietjie meer spog oor wat ons gedoen kry.

“As die nee-broers van ons projekte bywoon, sal hulle sien dat die ATKV dit reggekry het om grense af te breek.”

’n Mens sal ver moet gaan soek na ’n beter voorbeeld as Mathews van iemand wat grense afbreek.

Sy praat vyf tale en het al in haar eerste jaar op skool besluit om, haar Xhosa- en Zoeloe-afkoms ten spyt, eerder Afrikaanse klasse by te woon omdat dié van die Engelssprekende kinders te “vervelig” was.

Afrikaans was tóé al vir haar ’n mooi taal en is dit steeds. Die verskillende dialekte van Afrikaans maak die taal vir Mathews nog mooier. Sy het onlangs gehoor daar is selfs iets soos Cradock-Afrikaans, sê sy.

Vir haar is die bevordering van Afrikaanse redelik maklik.

“Jy hou aan om jou taal te praat en om jou taal tróts uit te leef,” sê sy. “Ek praat Afrikaans sonder skaamte, want dis my taal, ek hoef my nie daarvoor te skaam nie.”

Maklik om na ander uit te reik

Sy weet dat kinders soms niks met Afrikaans te doen wil hê nie omdat hulle dit nie as cool beskou nie.

“Maar as hulle besef hoe mooi die taal is, wil hulle dit later leer.”

Mathews praat uit ondervinding. Sy het neefs en niggies wat op laerskool nie veel van Afrikaans wou weet nie, maar nou kwaad is omdat sy nie daarop aangedring het dat hulle dit behoorlik leer nie, “want kyk hoe mooi is die taal!”

Dit sal verder help as mense wat Afrikaans praat, na ander uitreik. Ook dit is maklik, sê Mathews.

“Oudpres. Nelson Mandela het altyd gesê as jy met iemand in sy taal praat, dan praat jy met sy hart.

“Groet net iemand in sy taal en daarna sê jy ek het jou mooi gegroet, maar ek ken nie die res van die woorde nie . . . dan breek jy dadelik die ys.

“Solank mense daardie wedersydse respek vir mekaar het, sal dit baie beter in die land gaan.”

Sy besef wel Afrikaans dra nog swaar aan die bagasie van sy apartheidsverlede, hoewel die meerderheid van die Afrikaanssprekendes nie meer wit is nie.

Daar is baie mense wat baie seer het in ons land, ons kan nie die verlede ontken nie en ons kan dit ook nie minag nie.

“Daar is baie mense wat baie seer het in ons land, ons kan nie die verlede ontken nie en ons kan dit ook nie minag nie.

“Dis steeds belangrik dat ons aanhou praat van die seer van die verlede, want die kinders wil aanbeweeg. Hulle weet nie waarvan ons praat nie as jy sê iemand het my ’n naam genoem nie.

“Dan sê hulle, prrrrr, wat maak dit saak? So hulle wil nie daarvan weet nie, maar ons moet hulle herinner waar die land vandaan kom sodat ons weet wat ons nie weer moet doen nie.

“Maar ons moet ook luister na hulle, want hulle wil vorentoe beweeg. Hulle het sulke slim planne vir die toekoms, so dis nogal ’n bietjie van ’n fyn balans, maar . . . ”

Balanseertoertjies soos dié sal Mathews nie laat terugdeins nie. Allermins.

Sy antwoord sonder om te huiwer op die vraag of Afrikaans ’n toekoms in die land het.

“Beslis ja.”

Die antwoord op die “waarom?” daarna kom ook dadelik.

“Wel ek gaan dit nie ophou praat nie. Jy gaan dit nie ophou praat nie. Die ATKV gaan nie ophou om dit te bevorder nie.”

Van der Westhuizen is die artikelredakteur van Netwerk24.

Meer oor:  Atkv  |  Bridgitte Mathews  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.