Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Dis hoog tyd vir nuwe tye
2012: Bob Dylan tree in Los Angeles op.Foto: AP

The times, they are a-changin’, het Bob Dylan in 1964 gesing. Nou, in 2016, met die toekenning van die Nobelprys vir letterkunde aan die einste Dylan, kan ’n mens inderdaad saamsing dat die tye aan’t verander is, skryf Jurie Wessels.

1998: By die Doctor Music Festival in Spanje.Foto: Reuters

En die groot verandering waaroor in letterkunde-kringe kommentaar gelewer word, is die idee dat een van die wêreld se belangrikste letterkundepryse aan ’n liedjieskrywer toegeken is.

Is liedjielirieke digkuns?

Eintlik is die erkenning wat Bob Dylan met hierdie prys kry, iets waarvoor die tyd ryp is. Dit beskryf hoe kultuur omvorm en groei.

Populêre kultuur word deel van die hoofstroom-, highbrow- kultuur wanneer kunstenaars die aanvaarde beperkinge van die popkunsvorm breek en ernstig kommunikeer met ’n ingeligte gehoor.

Die voorste en bekendste universiteite in die wêreld het filmskole, want daar was regisseurs en draaiboekskrywers wat gewys het dat jy in rolprente tot anderkant vermaak kan reik, en ook betekenisvolle kuns kan maak, ’n gehoor diep roer en laat nadink. ’n Mens kan ’n graad doen in jazzmusiek, want daar was musici wat aan die ­populêre vorm inhoud kon gee en dit kon verfyn.

En dit is wat Dylan gedoen het. In ’n era toe die lirieke van populêre liedjies eintlik maar net ’n oppervlakkige, ritmiese en rymende geneul was oor gefrustreerde verliefdheid, het hy vroeëre, tradisionele lied- en digvorme gebruik, lirieke met ryk, digterlike beeldspraak geskryf en sake wat die gehoor van die tyd geroer het, aangespreek – menswees, spiritualiteit en sosiale kritiek.

Toe hy digterlikheid by populêre liedjies voeg, het Dylan nie net ’n gehoor geskep vir digter-sangers soos Paul Simon en ­Leonard Cohen wat op sy hakke sou volg nie, en ’n gehoor vir storievertellers soos Bruce Springsteen en Tom Waits nie, hy het ook ’n lyn teruggetrek na die oorsprong van moderne digkuns; ’n sirkel voltooi. Mense verwys graag na Griekse teater as die oorsprong van digkuns. Dit klink intellektueel. Klassieke patrone het wel ’n invloed gehad op die ontwikkeling van verskillende digvorme, maar in werklikheid was die reisende troebadoer van die Middeleeue ’n meer direkte oorsprong van moderne digkuns.

En dit is wat Dylan is: ’n hedendaagse weergawe van die reisende troebadoer, ’n oerdigter.

Salman Rushdie het dit mooi saamgevat toe hy binne minute ná die aankondiging dat Dylan die prys gewen het, via Twitter sê: “From Orpheus to Faiz, song & poetry have been closely ­linked. Dylan is the brilliant ­inheritor of the bardic tradition.

Great choice.”

Bob Dylan is op 24 Mei 1941 gebore met die naam Robert ­Allen Zimmerman. Hy het in die dorpie Hibbing in Minnesota grootgeword.

Hy het later sy naam amptelik van Zimmerman na Dylan verander.

Dylan is vroeg in sy loopbaan dikwels in onderhoude gevra of hy homself na die digter Dylan Thomas vernoem het. Hy het dit ontken en gesê sy ma het ’n oom gehad wat Dillon geheet het. Geen stamboom van die Zimmermans bevat verwysing na so ’n aangetroude familielid nie.

Mens moet dalk in gedagte hou dat Dylan destyds ruim oor sy eie verlede gelieg het en dat hy die skuilnaam Milkwood Thomas gebruik het toe hy bekfluitjie gespeel het op vriende se plaat, wat by ’n mededinger van Columbia uitgereik is en waarop Dylan volgens kontrak nie mag gespeel het nie.

Dit was nie Bob Dylan se bekfluitjiespel of sangtalent wat aandag getrek het nie; dit was die liedjies.

Dit was die lirieke.

Die Amerikaanse jeug van die 1960’s was rusteloos, ontevrede, en die menseregtebeweging het momentum gekry. Die konserwatiewe status quo was onder druk. Met sy politieke liedjies het Dylan stem gegee aan die jeug wat verandering teweeg wou bring.

“How many roads must a man walk down / Before you call him a man?” het Dylan gesing: “Yes, ’n’ how many seas must a white dove sail / Before she sleeps in the sand? / Yes, ’n’ how many ­times must the cannonballs fly / Before they’re for­ever banned? / The answer, my friend, is blow­in’ in the wind / The answer is blowin’ in the wind,” – en hy was ’n superster.

Liedjies soos “Blowing in the Wind”, “Masters of War”, “The Times They Are a-Changin’ ” en “Chimes of Freedom” het die klankbaan geword waarmee die winde van verandering aangeblaas is.

En dit was nie net dat hy die politieke gevoel van die dag geartikuleer het wat hom gewild gemaak het nie. Sy duidelike en sterk beelde en ekonomiese gebruik van beeldspraak was in skerp kontras met die nonsens wat die standaardliriek van die populêre sangers van die dag: “In the city’s melted fur­nace, unexpectedly we watched / With faces hidden while the walls

were tightening / As the echo of the wedding bells before the

blowin’ rain / Dissolved into the bells of the lightning / Tolling for the rebel, tolling for the rake / Tolling for the luckless, the abandoned an’ forsaked / Tolling for the outcast, burnin’ constantly at stake / An’ we gazed upon the chimes of freedom flashing”.

Mense het hom ’n singende digter begin noem. Benewens sy naamkeuse het Dylan self nie die idee dat hy ’n digter is, gepromoveer nie.

2004: In die Wiltern-teater in Los Angeles.Foto: Reuters

As joernaliste in onderhoude of op mediakonferensies só na hom verwys het, was Dylan se standaardantwoord dat hy bloot ’n “song and dance man” is.

Sy roem het vir hom ’n probleem geword. Dylan se gehoor wou nie net sy liedjies geniet nie. Hulle wou politieke leiding hê van hom, het van hom verwag om hulle van besonderse ­insigte te voorsien.

Die verwagting dat hy liedjies binne die eng raamwerk van ­politieke bewustheid moet skryf en nie énige aspek van die lewenservaring, soos hy wou, in sy kuns kon aanspreek nie, het hom frustreer.

Sy reaksie was om sy rug te keer op folk (die verkose vorm van die protesbeweging), ’n rock ’n roll-orkes met elektroniese klankversterkers te kry en sy ­tema-palet grensloos te verruim.

1963: ’n Jong Dylan.Foto: Getty Images

Hy het ingesien dat ’n protesbeweging vinnig ’n nuwe konserwatisme word, met sy eie ­establishment en gedragsreëls, en hy het daarteen gerebelleer.

En tog is Dylan in sy hart ’n tradisionalis, ten minste wat sy kuns betref. Regdeur sy loopbaan het hy na ouer dig- en veral liedvorme teruggekeer en daaruit geput.

Hy het albums gemaak wat eintlik maar countryplate was, blues gesing, weer folk, soms liedjies in ou, Britse en Ierse folk­idioom en standaardrock. Sy mees onlangse twee plate is Frank Sinatra-geïnspireerde hervertolkings van liedjies uit die American Songbook.

Dis nie ’n lawwe opportunis aan wie die Sweedse Akademie die Nobelprys vir letterkunde toegeken het nie, en ook nie bloot ’n song and dance man nie.

Dis ’n ernstige woordkunstenaar wat gewilde vermaak tot kunsvorm verhef het – die rare kunstenaar wat dit reggekry het om die medium waarin hy werk te beïnvloed en te verander en wat selfs op die breë maatskaplike omgewing ’n invloed had.

’n Mens het lof vir die Akademie wat hieraan erkenning gee in die aangesig van voortsle­pende vooroordeel teen toon­setbare gedigte.

Die toekenning van die letterkundeprys aan Dylan was waarskynlik ook binne die Akademie omstrede.

Gewoonlik word die wenners van die verskillende Nobelpryse op opeenvolgende dae aangekondig, maar vanjaar was daar ’n vertraging van meer as ’n week tussen die wetenskappryse en die letterkundeprys. Dit het mense laat bespiegel dat die wenner omstrede sal wees.

In die verlede was daar ver­tragings wanneer die 18 lede van die Akademie skerp verdeel is oor die meerderheidsbesluit.

En hoe het Dylan Donderdag die aankondiging gevier?

Hy kon dit nie vier nie; hy het daardie aand ’ngig in Las Vegas gespeel.

  • Wessels is ’n oudjoernalis wat op Robertson woon.
1979: In San Francisco op ’n konsert. Foto: Getty Images
Dylan se Nobelprys belediging vir Amerikaanse letterkunde

Skryf Louis Esterhuizen:

Vanjaar se toekenning van die Nobelprys vir letterkunde aan Bob Dylan is myns insiens bedoel as belediging vir die Amerikaanse lettere.

Sedert 2007 voer die Amerikaanse literêre establishment ’n stryd met die Sweedse Akademie rondom die toekenning van die Nobelprys vir letterkunde, omrede die laaste Amerikaanse skrywer wat met die grootste literêre verering ter wêreld bekroon is, Toni Morrison was. In 1993.

In 2008 reageer Horace Engdahl, destydse sekretaris van die Sweedse Akademie, soos volg op die aantygings: “The American literary culture (is) too isolated, too insular. They don’t translate enough and don’t really participate in the big dialogue of literature.” Hy het ’n punt beet gehad. Volgens statistieke is slegs 3% van die publikasies in die VSA vertaalde werke, teenoor Frankryk (27%), Spanje (28%), Turkye (40%) en Slowenië (70%).

Gerugte wil dit hê dat vanjaar se wenner Adonis (die Siriese digter wat al vir etlike jare in Parys woon) moes gewees het.

Maar net soos dit die geval was met Orhan Pamuk (Turkse skrywer) in 2005, toe hy volgens gerugte die meerderheid stemme verwerf het, het die Sweedse Akademie teruggedeins van die politieke implikasies en dit buite verwagting aan Harold Pinter, Britse dramaturg, toegeken. Die volgende jaar is Pamuk wel bekroon. Net so het die Sweedse Akademie die politiese rotsstorting van ’n bekroning aan ’n Siriese digter vanjaar gesystap en twee kroontande behaal: ’n Eerste Amerikaanse bekroning ná 23 jaar, maar terselfdertyd die grootste belediging denkbaar vir die Amerikaanse letterkunde.

Ek is gek na Bob Dylan se musiek. Maar hoekom?

Vir fiksie? Dan’s daar Philip Roth, Cormac McCarthy en andere. Digkuns? Dan’s daar Billy Collins, Tony Hoagland, Wallace Stevens, en andere.

Lirieke? Dan’s daar Bruce Springsteen, Paul Simon, Patti Smith en andere. Maar Bob Dylan is ’n kultusfiguur. Vandaar my stelling dat hierdie toekenning ’n belediging vir die Amerikaanse letterkunde is. Wat van Joan Baez?! Nietemin, indien jy geld beskikbaar het, wed dit volgende jaar op Adonis.

Mits hy nog in die lewe is, is hy gewis volgende jaar se wenner.

Mits dit een van die vele skrywers is vir wie ek vanaand jammer voel: Breyten Breytenbach, Peter Nádas, Javier Marías, Haruki Murakami, Anne Carson, en soveel ander.) 

Esterhuizen is ’n digter en bestuurder van Protea Boekwinkel op Stellenbosch.

Meer oor:  Bob Dylan  |  Liedjieskrywer  |  Gedigte  |  Digkuns  |  Nobelprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.