Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Dís waar Anita die wortels grawe
Anita Browne is Agri SA Gauteng se Jongboer van die Jaar. Foto’s: Carla Lewis

Een vraag van die paneel van Agri SA Gauteng se Jongboer van die Jaar het nog vir nagte ná haar beoordeling by Anita Browne (28) gespook. Wat dink sy is tans die grootste risiko vir Greenway Farms, die plaas in Tarlton wat sy help bestuur?

Om te boer in Suid-Afrika blyk ’n risiko op sigself te wees. Daar is droogtes wat voedselsekerheid bedreig... Die vlaag misdaad in die platteland laat tweede- en derdegenerasieboere ander beroepskeuses oorweeg. En die dubbelpratery oor grondonteiening sonder vergoeding hang soos dreigende haelwolke oor die landbousektor se kop.

“Toe ek mooi oor die vraag dink, besef ek: Die grootste risiko vir ons plaas is onvolhoubare boermetodes,” vertel die jong wortelboer in haar kantoor in die weste van Gauteng. Sy is, sover bekend, die eerste vroulike provinsiale wenner sedert die eerste nasionale kompetisie in 2004 aangebied is.

As Brown nie volhoubaar boer nie, gaan daar nie ’n plaas vir haar nageslag oor wees nie. Die plaas gaan nie werk kan skep vir die omliggende gemeenskap nie en die plaaswerkers sal nie regverdige en goeie salarisse verdien nie.

Dink sy daar is ’n toekoms vir jong boere soos sy in Suid-Afrika, met al die landbousektor se uitdagings? Selfs al boer sy volhoubaar, gaan daar ’n plaas wees om aan haar nageslag oor te dra?

“Ek glo daar is geen probleem wat nie ’n oplossing het nie. Ja, die lewe gaan uitdagings oor jou pad stuur, maar jy moet aan oplossings vir die probleme dink.

Weet jy wat? Ek dink eintlik vroue is beter boere.

Een daarvan was om ’n vrou te wees wat diep spore in ’n tradisioneel manlike bedryf wou trap.

“Daar was uitdagings, maar ek het my kop reggekry.

Haar stem word sagter en ’n stoute glimlag trek-trek om haar mondhoeke. “Weet jy wat? Ek dink eintlik vroue is beter boere.”

Die Gauteng se Jongboer van die Jaar-kompetisie het haar ook aangenaam verras. Sy was veral beïndruk deur haar mede- jong boere se dryfkrag en nuwe idees.

“Daar is soveel jong boere wat dapper en moedig is, wat die landboubedryf vorentoe wil neem. By Greenway Farms is ons geneig om net op ons werk, die plaas en die besigheid te fokus en ons nie aan die doemprofete van buite se praatjies te steur nie. Want daar is hierdie narratief dat dit net hel en pes in die landboubedryf is, dat daar nie hoop is nie.

“Ek laat sak gewoonlik net my ken en doen my werk. Ek het finaliste ontmoet wat ook die storie van hel en pes uitdaag en mense se denke oor die bedryf wil verander.

“Ek het jong mense ontmoet wat die sektor se uitdagings trompop loop, wat leer om te innoveer en verandering aangryp. Mense wat positief is oor die toekoms.

“Ek hoop dis so ’n bietjie soos ’n verkoue, die positiwiteit, dat dit aansteeklik is. As daar net een of twee mense is wat hoop en visie saam met hulle kan dra, sal ander mense ook hopelik by hulle aansteek. Dit hang maar af van hoe graag jy die omgewing rondom jou wil beïnvloed.”

Tussen die wortels op die plaas.

Beheer wat jy kan

“Ons moet faktore soos ons sosiale verantwoordelikheid binne ons gemeenskap en die ekonomiese en omgewingsuitdagings in ag neem,” beklemtoon sy.

Kyk nou maar na die onsekerheid rondom die gronddebat.

“Natuurlik wil ons die besigheid laat groei, maar dit beteken nie ons moet nog grond aankoop nie. Ons moet leer om wat ons het meer effektief aan te wend. Dit is hoe ons sukses gaan bereik.”

Pleks daarvan om nog grond in die onsekere tye te koop het Greenway Farms ’n gaping in die mark gesien wat deur die gesondheidsrevolusie geskep is. Hulle het ’n groenteversappingsaanleg op die plaas gebou wat vars groentesap, sonder enige preserveermiddels of suiker, aan ’n gesondheidsbewuste mark voorsien.

“Ons het besluit om vertikaal eerder as horisontaal te groei sodat daar nie soveel druk op die besigheid se landbouafdeling is nie.

“Daar sal altyd uitdagings wees; ekonomies, van die omgewing.

Jy kan nie die uitdagings beheer nie, maar jy kan wel jou keuses en jou reaksie daarop beheer.

“Jy kan nie die uitdagings beheer nie, maar jy kan wel jou keuses en jou reaksie daarop beheer.

“Ons het gekies om nie na die doemprofete se praatjies te luister nie. Ons sien hoop. Die afgelope vyf jaar was daar uitdagings, soos prysskommelings en druk op die landbousektor. Dinge wat ’n mens negatief kan maak.”

Pleks van negatief raak, het hulle meer doeltreffend begin boer.

“Ons produksiekostes het dieselfde gebly, maar die afgelope paar jaar het die plaas se omset, produksie en opbrengste gestyg. Ons kon dit regkry sonder om ons uitgawes te verhoog. So hoe kry jy so iets reg, in tye van ekonomiese onsekerheid? Jy begin van binne.”

Jag die klein jakkalsies

“Ons het gefokus op Greenway Farms se interne strukture en die kleinere details van die besigheid en boerdery met ’n fynkam deurgegaan. Ek glo altyd dis die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, daarom moet jy aandag gee aan die detail. As jy ’n probleem kan meet, kan jy dit regmaak. Dis my bestuursfilosofie.”

Een van die groot twispunte in die landbousektor – plaaslik én wêreldwyd – is meganisasie wat menslike arbeid vervang en werksekerheid bedreig. “Ek dink een van die dinge wat ons boerdery die beste doen, is om mens en masjien in harmonie saam te laat werk.

“Daar bestaan hierdie wanopvatting dat jy geld gaan spaar en jou winsgrense gaan vergroot as jy suinig is met jou arbeidsmag. Ons glo om jou arbeidsmag kleiner te maak, gaan nie sorg vir meer wins nie. Ons vra: Hoe kan Greenway Farms werkers meer doeltreffend benut, hulle toerus met nog vaardighede en so ons produksie verhoog? Hoe bemagtig ons werkers, sodat ons hulle nog beter salarisse kan betaal? Salarisse wat báie beter is as die regering se voorgeskrewe minimum lone.

“Waar dit by my arbeidsmag kom, glo ek in Richard Branson se siening: ‘Lei jou mense so goed op dat hulle enige tyd kan loop wanneer ’n beter geleentheid oor hul pad kom. Maar behandel hulle ook so goed dat hulle nie sal wil nie.’”

Om jou vinger op die pols te hou van Afrika se grootste wortelboerdery is nie kinderspeletjies nie. Greenway Farms produseer 40% van Suider-Afrika se wortels, ’n allemintige 250 ton wortels per dag.

Browne is van die begin tot die einde betrokke. Sy maak seker die grond is perfek bewerk vir die Nantes-wortels waarmee hulle boer en oorsien die oes, waarna die wortels na supermarkte regoor die land versprei word.

Sy is ’n tweedegenerasie-boer op Greenway Farms.

“My pa, Vincent Sequeira, is een van Greenway Farms se stigterslede. Hy en sy Italiaanse vennoot Vito Rugani het in 1988 in Tarlton begin boer.

Ek bedoel, daar het ’n denkrigting bestaan dat vroue en landbou nie hand aan hand loop nie.

Sy het op die plaas grootgeword en is deel van ’n groot familie – vyf dogters en een seun. “Tog het ek nie regtig gedink dat ek ooit die landboubedryf sal betree nie. Ek bedoel, daar het ’n denkrigting bestaan dat vroue en landbou nie hand aan hand loop nie.”

Alhoewel sy Engels grootgeword het en haar pa Portugees is, het sy haar matriek by die Hoërskool Monument in Krugersdorp voltooi en ’n BSc-graad in plantkunde en ekologie by Kovsies studeer. “Tydens my studies het die boerdery begin groei. My pa het my ook aan vroue in die landboubedryf bekend gestel.”

Een van die keerpunte was ’n internskap by proff. Lindsey du Toit, ’n Suid-Afrikaanse plantpatoloog by Washington State University in Amerika. “Ek was gelukkig genoeg om blootstelling en ervaring by ’n vrou op te doen met wie ek kon identifiseer. Ek het gesien vroue het beslis ’n rol in die bedryf.”

Sy het nie net by die familieplaas ingestap nie, maar moes van onder af begin. “Ek het vyf jaar gelede begin werk die plaas se tegniese ondersteuning-afdeling. Vandag is ek betrokke by die plaas se bestuur. Ek kyk na die werk en take wat gedoen moet word, neem monsters van die grond, bemesting en gewasse en oorsien enigiets wat met die beskerming van die gewasse te doen het. Ek identifiseer watter sade waar geplant moet word, en op hoeveel hektaar.”

As jy wil leer, moet jy jou stewels kan vuil maak, glo Browne.

Eerder grond as glans

Dit word gou duidelik Browne hou nie van die kollig nie. Sy werk veel eerder agter die skerms om alles klopdisselboom te laat verloop. Een van haar verskaffers het haar vir Agri SA se kompetisie benoem en haar man moes haar moed inpraat om deel te neem. “Ek was nog nooit een vir die kollig nie. Wanneer al die aandag op my gefokus is, raak ek ongemaklik.

Voor foto’s geneem word, wys sy ’n geleentheid vir ’n neuspoeier amper half ongeduldig van die hand. “Neem my so af. Wat jy hier sien, is wat jy kry.”

Om in die voetspore van ’n landboureus soos Vincent Sequeira te volg, is ’n tweesnydende swaard... Mense het ook maar vooroordele oor kinders wat met die silwer lepel in die mond gebore word.

“Dis ’n uitdaging om ’n tweedegenerasie-boer te wees. Almal wou steeds direk met my pa sake doen – hulle ken en respekteer hom. Ek moes hul siening verander.

“Ek het sy verantwoordelikhede oorgeneem, maar die respek van die bedryf se rolspelers, dit moes ek verdien. Dit het nie oornag gebeur nie. Dis ’n vyfjaar reis, en dit duur nog voort. Solank jy bereid is om die geleenthede op jou pad aan te gryp, maar ook verantwoordelikheid vir dit en jou besluite neem, respekteer mense jou.”

My pa het help bou aan ’n stewige grondslag vir ons plaas se erfenis. Dis asof hy my op sy skouers getel het en my dra.

Haar pa het haar nooit gedwing om in sy voetspore in die landerye te volg nie, maar het ’n stille invloed op haar lewensbesluite gehad. “Hy het vir ons deure opgesluit, maar dit was ons besluit of ons dit gaan opmaak en die geleenthede daaragter aangryp.

“My pa het help bou aan ’n stewige grondslag vir ons plaas se erfenis. Dis asof hy my op sy skouers getel het en my dra.

“Nou is dit my verantwoordelikheid om die erfenis vorentoe te neem, sodat ek eendag ons nageslag op my skouers kan tel en die plaas aan ’n jong boer in my familie kan oorhandig.”

Die kandidate vir Agri Gauteng se Jongboer van die Jaar-kompetisie word jaarliks deur verskeie boere-organisasies en koöperasies benoem.

Die kriteria wat die beoordelaars vir finaliste oorweeg, is onder meer watter tipe boerdery hulle bedryf en waarvandaan dié boerdery kom.

Die beoordelaars kyk hoe die boerdery ontstaan het en hoe die jong boere tot die boerdery bydra om dit suksesvol te maak.

Die beoordelaars kyk ook na die kandidate se finansiële bestuursvermoë om te sien of die boere die grond tot sy beste potensiaal benut.

Die boere se betrokkenheid by die plaas se gemeenskap speel ’n groot rol.

Daar word gekyk hoe hulle by die plaas se gemeenskap inskakel en watter bydrae hulle daartoe lewer.

By Greenway boer hulle met Nantes-wortels
Ons dink omdat ons vroue is, moet daar hierdie sogenaamde hindernisse wees wat ons kniehalter.

Die belangrikste maatstawwe vir beoordeling hou verband met die bestuursfilosofie van die boer, sowel as die tegniese vaardigheid waarmee daardie filosofie in die praktyk toegepas word.

Browne dring as ’n finalis deur na Agri SA en Toyota SA se nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie.

Wat is die grootste uitdaging wat Browne as ’n vrou in die landboubedryf moes trotseer?

“Dat ek ’n vrou in die landboubedryf is. En om te vergeet dat ek ’n vrou in die bedryf is. Somtyds stel ons vroue vir onsself hierdie grense. Ons dink omdat ons vroue is, moet daar hierdie sogenaamde hindernisse wees wat ons kniehalter.

“Ek moes al my eie vooropgestelde idees oor vroue en boerdery laat vaar. Daar is ’n persepsie dat die bedryf hoofsaaklik vir mans bestem is; dat jy fisies sterk en meganies aangelê moet wees; plaasgereedskap moet kan regtimmer.

“Toe ek op die plaas begin werk het, het ek seker gemaak ek is elke dag op die landerye. Ek het my stewels vuilgemaak. Maar ek het ook uit die rykdom van kennis en ervaring om my getap en op die ondersteuningstrukture om my staatgemaak, sodat ek die werk gedoen kon kry. Ek het soveel as moontlik probeer leer.

“Ek is byvoorbeeld nie meganies aangelê nie, maar dan maak ek staat op die kennis en kundigheid waarmee ek myself omring”.

Lewis is ’n senior joernalis van Beeld.

Meer oor:  Jongboer Van Die Jaar  |  Anita Browne  |  Boer  |  Plaas. Boerdery  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.