Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Dít is dodelikste misdaad in nuwe SA’

Die kriminoloog en skrywer dr. Mark Shaw praat met Murray La Vita oor die enkele dodelikste misdaad wat in postapartheid-Suid-Afrika gepleeg is – ’n misdaad wat tot die dood van meer as ’n duisend mense gelei het.

Dr. Mark Shaw, kriminoloog en skrywer van 'Give Us More Guns'. Foto: Verskaf

Die misdaad waarna Shaw in sy jongste boek, Give Us More Guns: How South Africa’s Gangs Were Armed, verwys, is die verkoop van wapens aan misdadigers deur oudkolonel Christiaan Lodewyk Prinsloo, wat in beheer was van die polisie se afdeling in Vereeniging waar vuurwapens gehou is wat verbeurd verklaar is en vernietig moes word. Hy was ook die polisie se voorste vuurwapenkenner; die SAPD se wapenghoeroe, as’t ware.

“Konserwatief geskat, en gegrond op die beskikbare ballistiese getuienis, word die vuurwapens wat Prinsloo verkoop het in plaas daarvan om dit vernietig, verbind met 1 066 moorde en 1 403 pogings tot moord net in die tydperk tussen 2010 en 2016. Dié aantal moorde beteken Prinsloo se werk is ongetwyfeld die enkele dodelikste misdaad wat in postapartheid-Suid-Afrika gepleeg is,” skryf Shaw.

Hy het in sy navorsing vasgestel dat dít bloot ’n fraksie is van Prinsloo se misdade. Die oudpolisieman het van die middel 2000’s tot net voor sy inhegtenisneming in 2015 na alle waarskynlikheid meer as 9 000 polisiewapens deur ’n tussenganger aan bendes en ander misdadige organisasies verkoop. Dit het intussen na plekke ver buite die bendegeteisterde Wes-Kaap versprei – onder meer ook na KwaZulu-Natal, waar dit tot die taxigeweld bygedra het.

Prinsloo is in 2016 tot 18 jaar tronkstraf gevonnis en is op parool vrygelaat en in ’n getuiebeskermingsprogram geplaas nadat hy slegs drie jaar en tien maande van sy vonnis uitgedien het.

Volgens Shaw was Prinsloo nie die enigste bron van vuurwapens aan die onderwêreld nie. Die vuurwapens het ook hul weg na die hande van misdadigers gevind uit wapenstore by polisiekantore, van individuele polisielede af, uit metropolitaanse en provinsiale polisie-afdelings, en uit ander regeringsafdelings soos die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag.

Vuurwapens en mag

‘En tóg het die staat, wat veronderstel is om georganiseerde misdaad te beveg, vuurwapens aan misdadigers verskaf en georganiseerde misdaad sodoende bevorder.’ Foto: Verskaf

Die onderhoud met Shaw vind per Zoom plaas. Hy is in ’n kantoor in Genève, Switserland, waar hy direkteur is van die Global Initiative against Transnational Crime. Hy was voorheen direkteur van die Sentrum vir Kriminologie aan die Universiteit van Kaapstad en was onder meer ook betrokke by die Instituut vir Sekerheidstudies en UNODC, die Verenigde Nasies se afdeling gemoeid met misdaad en dwelms.

Sy werk as direkteur van die Global Initiative behels die bestuur van globale navorsings- en ander projekte. Dit sluit in die ontleding van onwettige markte en georganiseerde misdaad oor die wêreld heen.

“Die verband tussen vuurwapenbeheer en die beheer oor onwettige markte, en die impak wat dit op gewone mense het wat dikwels in die spervuur van die voortspruitende geweld beland, is jammer genoeg ’n gemene deler.

“Deur hierdie impakte openbaar te maak en die politieke ekonomie van georganiseerde misdaad te verstaan ten einde op die gepaste reaksies te fokus, is die kern van die Global Initiative se werk,” sê hy.

In die ontluikende Suid-Afrikaanse misdaadekonomie is vuurwapens absoluut sentraal.

“Dit is ’n bron van mag vir die bendes en in die taxibedryf, so beheer oor vuurwapens is die sleutel tot beheer oor georganiseerde misdaad.

“En tóg het die staat, wat veronderstel is om georganiseerde misdaad te beveg, vuurwapens aan misdadigers verskaf en georganiseerde misdaad sodoende bevorder. Om alles te kroon, het die staat nog nie behoorlik erken dat dít gebeur het en steeds gebeur nie.”

Hy vind die ironie hiervan verbysterend.

“Die ekonomie rondom onwettige vuurwapens, nie net in die Wes-Kaap nie, maar veral in die Wes-Kaap, is gekoppel aan die dwelm-ekonomie. Dit is ’n globale verskynsel.

Die ou wapenopslagplekke het in die 1980’s en 1990’s opgedroog.

“Binne georganiseerde misdaad is die logika daarvan om groot hoeveelhede wapens op ’n slag in die hande te kry voor die hand liggend.

“Die ou wapenopslagplekke het in die 1980’s en 1990’s opgedroog. Wat word toe die bron van groot hoeveelhede vuurwapens? Die staat.

“So, my boek vertel die verhaal van hierdie individu – Prinsloo – wat van dié mark bewus geword het en groot getalle wapens begin verkoop het. Die bron van dié wapens is eerstens die polisie se wapens wat aan gebruik onttrek is.”

‘Zulu is ’n statussimbool’

Z88-pistole wat aan die polisie behoort, lê in die motor van ’n bendelid van die Kaapse Vlakte. Die reeksnommers is professioneel verwyder. Foto: Verskaf

Een van die gunsteling-vuurwapens is die Z88, ’n 9 mm-pistool. Bendelede beskou dié wapen, wat hulle die “Zulu” noem, as ’n statussimbool.

“Daar is hierdie vréémde sielkunde . . . Hulle hou daarvan omdat dit ’n polisiewapen is! Vir my het dít te doen met legitimiteit; hulle wil ’n wapen hê wat die polisie ook gebruik, want dit gee aan hulle ’n soort plaaslike legitimiteit. Ek dink dít sê baie oor die sielkunde van ontmagtiging en beheer.”

Nog ’n bron van vuurwapens is die vuurwapens wat lede van die publiek as deel van vuurwapen-amnesties by die polisie ingehandig het.

“Prinsloo was die polisie se woordvoerder hieroor – hy het mense aangemoedig om vuurwapens in te handig. Die derde bron is wapens uit die store waar bewysstukke by polisiekantore bewaar word.

“Van die wapens is wél verwoes, maar die stelsel het in duie gestort en Prinsloo het daarin geslaag om wapens aan bendes te verkoop. Die bendes het mettertyd al hoe meer vuurwapens begin eis en só het die hele onwettige-vuurwapen-ekonomie verander.

“Dit was vir my duidelik dat dit ’n uiters belangrike storie is om te vertel. Hoewel dit die verhaal van Prinsloo [en onder andere sy beweerde tussenganger Irshaad ‘Hunter’ Laheer, wie se verhoor voortduur] is, vertel ek ook die verhaal vanuit ’n bendeperspektief.”

‘Daar word wild geskiet’

Die sowat 200 onderhoude wat Shaw vir die boek gedoen het, sluit benewens onderhoude met polisielede en kenners, onderhoude met bendelede in.

Nóú is daar só baie vuurwapens . . . Z88’s, en daar word wild geskiet en kinders beland in die spervuur.

“Wat het hierdie vuurwapens aan daardie gemeenskappe gedoen? Dit het die bendelandskap verander, want nou het so te sê élke bendelid ’n vuurwapen gehad. Voorheen was dit nie só nie. Ouens het by herhaling vir my gesê die bendebaas sou die wapens toesluit en dit uitreik en as jy dit nie teruggebring het nie, was jy in gróót moeilikheid.

“Nóú is daar só baie vuurwapens . . . Z88’s, en daar word wild geskiet en kinders beland in die spervuur. Dit is uiters gemarginaliseerde gemeenskappe, plekke soos dele van Hanover Park, wat heeltemal afgesonder is van die middelklas. Die verliese is báie, báie groot.”

Weerstand teen ondersoekers

Genl.maj. Jeremy Vearey Foto: Deon Raath

Shaw beskryf hoe die senior Kaapse polisiemanne Peter Jacobs en Jeremy Vearey – tans onderskeidelik luitenant-generaal en generaal-majoor – in 2013 saam met “’n klein groepie polisielede” die verlore polisiewapens begin ondersoek het. Wat ver van gerusstellend is, is dat hul ondersoek en hul “individuele heroïsme” met weerstand begroet is en dat hulle uiteindelik van die ondersoek verwyder is.

Volgens hom is die reaksie van die polisie ’n aanduiding van hoe wetstoepassing tydens die presidentskap van Jacob Zuma verpolitiseer en uiteindelik in duie gestort het. Die verhaal van hoe duisende polisiewapens in die hande van misdadigers beland het, behoort gesien te word as ’n aspek van die staatskapingskandaal.

“Dis belangrik om eerstens op te merk dat Prinsloo die mens ’n baie siniese karakter is. Die polisie sal graag wil sê hy is ’n vrot appel, maar hy is inderwaarheid die simptoom van ’n gebroke stelsel.

Die degenerasie vind in verskeie dele van die polisie plaas, maar misdaadintelligensie staan sentraal daarin.

“En die polisie se reaksie op die misdade moet gesien word teen die agtergrond van hierdie stelsel van fragmenterende mededingende wetstoepassing – mededinging tussen individuele lede; misdaadintelligensie wat diep ingebed is in politiek, en so meer.

“Jy kan nie sê Prinsloo was ’n funksionaris van Zuma nie, maar die algemene omgewing wat sy dade moontlik gemaak het, is deel van hierdie algehele agteruitgang van die polisie. Daaroor het ek geen twyfel nie.

“Die degenerasie vind in verskeie dele van die polisie plaas, maar misdaadintelligensie staan sentraal daarin. Ek beskryf in my boek hoe die mense wat die wapensaak ondersoek nie polisiestelsels gebruik nie omdat hulle hulle nie vertrou nie – hulle weet nie wie betrokke is nie; watter generaals betrokke is nie.

“Ons het dit alles weer gesien in die Kinnear-saak.”

Polisie ‘te reaktief’

Lt.kol. Charl Kinnear was ’n Kaapse speurder wat verlede jaar voor sy huis doodgeskiet is. Hy was onder meer besig met ’n ondersoek na hoe vermeende bendeleiers op ’n korrupte wyse wapenlisensies kry.

“Dat daar gevra word wie kan jy vertrou, is ’n aanklag teen ’n korrupte en geïnfiltreerde polisieagentskap . . . Daar is ’n kontinuum tussen die verlore wapens – die Prinsloo-saak – en die moord op Kinnear, juis omdat dieselfde stel drywers aanwesig is: korrupsie, die sentrale vuurwapenregister wat in duie stort, en so meer.

Sluipmoordenaars is self ook vervangbaar; hulle is instrumente in die hande van bendebase.

“En tog is die beheer oor vuurwapens van kardinale belang in die bekamping van georganiseerde misdaad en die land se moordstatistieke.

“Daar is die indruk dat die polisie te reaktief is, terwyl die beheer oor onwettige vuurwapenmarkte een van die mees proaktiewe dinge is wat jy kan doen om geweldsmisdaad te verminder. Maar ons het daarin misluk en die polisie word in wese nie daarvoor verantwoordelik gehou nie.”

‘Geweld is nodig’

Mark Shaw se jongste boek het pas by Jonathan Ball Uitgewers verskyn.

Shaw skryf in Give Us More Guns hy probeer al lank verstaan waarom bendebase doelbewus geweld sal aanblaas en laat voortduur as in ag geneem word dat dít hul sakebedrywighede – hoofsaaklik dwelmverkope – ontwrig. Ek pols hom hieroor.

“Ek het baie hieroor gedink, want dit is iets wat ’n mens nogal tot neerslagtigheid stem. Wat baie interessant is, is dat bendebase mekaar ken en dikwels met mekaar kontak maak.

“Vir hulle is geweld soos om ’n draak te ry. Hulle het geweld nodig om jong mans betrokke te hou; hulle het dit nodig om respek af te dwing en die kohesie in bendes in stand te hou, maar dit is ook vir hulle nodig om daardie geweld te beheer sodat dit nie op hulle losgelaat word nie."

En wat van groot belang is in hierdie ekonomie, is om jou dwelm-"turf" te beheer.

“Dít is die komplekse ekonomie waarin hulle opereer. Ek het ook daaroor geskryf in my boek Hitmen for Hire: Exposing South Africa’s Underworld – sluipmoordenaars is self ook vervangbaar; hulle is instrumente in die hande van bendebase en as hulle te veel te wete kom, word daar ook van húlle ontslae geraak.”

Wapenwedloop

Oudkol. Christiaan Prinsloo tydens ’n verskyning in die landdroshof in Bellville. Foto: Jonathan Lestrade

Vuurwapens is goud vir die Kaapse bendes, wat volgens Shaw ’n geskatte 100 000 lede het.

“Jong mans sluit dikwels by bendes aan omdat hulle ’n vuurwapen kan kry. Ek het reeds verwys na die vreemde verhouding met die Z88 en die simboliese belang daarvan.

“Wat met die Prinsloo-wapens gebeur het, is dat ’n wedloop na wapens ontstaan het. Soos wat een bende toegang tot wapens gekry het, wou ander bendes dit ook hê. Jy kon nie net een bende hê wat skielik honderde vuurwapens kry nie. Dit is dan ook waar die titel van die boek vandaan kom: Give Us More Guns.

Bendebase het wapens herverkoop en groot winste gemaak.

“Prinsloo en sy medewerkers het die vuurwapens wat hulle by die staat gesteel het vir redelik goedkoop verkoop en sodoende het ’n vuurwapenekonomie in die onderwêreld ontstaan. Bendebase het wapens herverkoop en groot winste gemaak. Alles dui daarop dat hulle ook vuurwapens opgegaar het om later te verkoop.

“Die gevolge hiervan gaan ons nog beleef . . . Tensy ons op daardie wapens beslag kan lê, gaan ons dit voel.”

Oplossings en hoop

Irshaad Laher, die beweerde tussenganger tussen Christiaan Prinsloo en Kaapse bendes. Foto: Gallo Images

Die boodskap wat Shaw die graagste deur sy boek wil oordra, is dat ons ons strategie met betrekking tot misdaad en sekuriteit in Suid-Afrika moet hérbedink; dit in oënskou moet neem en met nuwe benaderings vorendag moet kom.

“Dit is ’n debat wat uiters noodsaaklik is. Die polisie het in ’n sin baie meer onverantwoordbaar geword. Die etos van dienslewering het tot ’n mate verlore geraak.

Ons weet wat die probleem is. Nou is ’n duidelike strategie en goeie leierskap nodig.

“Ek dink nie daar is maklike oplossings nie. Tóg wil ek hê mense moet ’n mate van hoop hê wanneer hulle hierdie boek klaar gelees het.

“Ons weet wat die probleem is. Nou is ’n duidelike strategie en goeie leierskap nodig. Dit is belangrik om nie te veel te probeer doen nie – geen strategie moet probeer om álles te doen nie; dit was dan ook die probleem van die nasionale misdaadvoorkomingstrategie.

“’n Fokus op onwettige vuurwapens is vir my van ábsoluut sentrale belang. Daar moet opnuut ’n konsensus wees oor hoe vuurwapens gereguleer word; korrupsie moet uitgeroei word by die Sentrale Vuurwapenregister . . . Maar as jy kyk na die opkomende sake van twee [beweerde] prominente figure in die onderwêreld van wie ek in die boek melding maak [Nafiz Modack en Ralph Stanfield], is dit duidelik dat daar ’n mate van vordering is.

Nafiz Modack (voor in die middel met die sonbril) omring deur sy lyfwagte buite die landdroshof in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

“Miskien lê die oplossing in hierdie individuele vuurwapensake – die simboliek van die staat wat reageer. In ’n sin behoort dít die boodskap van hoop te wees. Daar is ’n duidelike stel vervolgingstappe wat gedoen kan word in verhouding tot vuurwapens. Daar is ’n duidelike stel stappe wat gedoen kan word om vuurwapens te reguleer – ek self meen die Sentrale Vuurwapenregister moet deur ’n onafhanklike liggaam bestuur word.

“Die aantal lisensies wat toegeken word, moet verminder word; daar moet byvoorbeeld gekyk word na die gebruik van vuurwapens deur private sekerheidsmaatskappye, daardie milisiestyl-magte wat rondom die taxibedryf ontstaan het.

“Dit is ook nodig dat daar opnuut ’n mate van konsensus gebou word (oor hoe vuurwapenveiligheid gereguleer moet word) tussen groepe wat ten gunste van en dié wat gekant is teen die gebruik en besit van vuurwapens.”

As jy met mense op die Kaapse Vlakte praat . . . Mense is kwaad; hulle het báie gely.

Die parlementêre komitee gemoeid met vuurwapenwetgewing het ook ’n kritieke rol te speel. So ook die media – dit is belangrik om oor hierdie kwessies verslag te doen, veral ook omdat korrupsie so dikwels ter sprake is.

“Daar is nie een silwerkoeël waarmee al die probleme opgelos kan word nie, maar daar is ’n aantal stappe wat ons kan doen – indien ons toegewyd is – wat mettertyd ’n groot verskil kan maak.”

Dit is belangrik dat die polisie sy rol in al hierdie verskriklike dinge moet erken.

“As jy met mense op die Kaapse Vlakte praat . . . Mense is kwaad; hulle het báie gely. Die narratief is: Dis bendegeweld en die polisie slaan daarop toe. Maar ek weet nie of dit ooit gaan gebeur nie dat die polisie erken ’n deel van die probleem is die staat se wapens wat in bendes se hande beland het.”

Meer oor:  Jeremy Vearey  |  Peter Jacobs  |  Mark Shaw  |  Kaapse Vlakte  |  Polisie  |  Onwettige Wapens  |  Bendegeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.