Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Ek doen dit in Afrikaans’

Op 70 is die Bloemfonteinse letterkundige prof. Hennie van Coller nog superproduktief. Eersdaags word hy vir die soveelste keer in sy lang loopbaan vir sy werk vereer.

Prof. Hennie van Coller in sy studeerkamer.Foto: Dirk Kok

In die eerste helfte van vanjaar het die letterkundige en skrywer prof. Hennie van Coller sy 70ste verjaardag gevier. Én ’n driekuns gevoeg by sy lang CV en omvangryke akademiese en kreatiewe oeuvre.

Van Coller, vir 26 jaar hoof van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se departement Afrikaans, Nederlands, Duits en Frans en deesdae ’n navorsingsgenoot van die UV en buitengewone professor aan die Noordwes-Universiteit (NWU), het op 29 Maart 70 geword.

D.F. Malan-medalje

Hy het onlangs gehoor hy word met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se D.F. Malan-medalje vereer vir sy uitstaande werk ter bevordering van Afrikaans: ’n Lewenstaak wat in 1970 as akademiese assistent onder leiding van N.P. van Wyk Louw by die Universiteit van die Witwatersrand afgeskop het.

Vars van die drukkers af

En op Van Coller se lessenaar lê eksemplare van sy en medewerkers se jongste bydraes tot die letterkunde, vars van die drukkers af: ’n lywige geskiedenis in twee dele van die Nederlandse letterkunde in Afrikaans, asook ’n bloemlesing van Afrikaanse gedigte met Engelse vertalings.

Van Coller was hoofredakteur van die nuwe Verbintenis en venster: Die Nederlandstalige letterkunde van aanvang tot hede – ’n literatuurgeskiedenis in Afrikaans (Van Schaik) en skrywer van die eerste deel, oor die Nederlandstalige letterkunde vanaf die Middeleeue tot nou.

Die tweede deel het hy saam met proff. Dirk de Geest, van die Katholieke Universiteit Leuven, in België, en Heilna du Plooy, van die NWU, saamgestel. Dit beslaan 46 hoofstukke oor die belangrikste Nederlandse skrywers van die 1980’s af, geskryf deur 40 internasionale kenners.

Verbintenis en venster is die eerste nuwe Afrikaanse literatuurgeskiedenis van die Nederlandstalige letterkunde in 30 jaar. Dit word aanstaande maand op die Vrystaat Kunstefees bekend gestel.

Vir Van Coller was dit vyf jaar van harde werk. Hy is tevrede en tog – soos alle skrywers maar – benoud oor wat die kritici gaan sê.

Kom ek sê jou, die letterkunde is een van die heel gevaarlikste terreine om in te lewe. Daar’s naywer, dramatiese persoonlike verskille, polemieke en gevegte.

“Die idee kom van Perspektief en Profiel af (die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde wat hy ná die dood van P.J. Nienaber as nuwe redakteur uitgebou en vernuwe het).

“Ek het gedink ná 30 jaar is dit hoog tyd vir ’n nuwe Afrikaanse geskiedenis van die Nederlandstalige literatuur. In 2013 het ek as ’n senior genoot van die European Institutes for Advanced Study vir die jaar lank in Brussel hieraan begin werk.

“Ek moes baie navorsing doen vir die skryf van die oorsig, want dit is nie my primêre spesialisasieveld nie. “Die moeilikste was die stuk oor die tydperk van 2000 tot 2015, want daaroor was niks geskryf nie. Dit is eintlik ’n helse waagstuk.

“En noudat die werk klaar is, is dit ook ’n vreeslike angswekkende ding, want jy wag vir die reaksies. Kom ek sê jou, die letterkunde is een van die heel gevaarlikste terreine om in te lewe. Daar’s naywer, dramatiese persoonlike verskille, polemieke en gevegte. Dit is mense met groot ego’s. Enige literatuurgeskiedenis kan gekap word. Maar ek het met erns gewerk en voel ek het my bes gedoen.

“Vir die tweede deel het ons mense wat na ons mening die beste kennis oor die skrywers het, gevra om te skryf: Nederlanders, Belge, Pole en Britte. Ek en Heilna het die stukke uit Nederlands en Engels vertaal. “Dit was ’n enorme taak, maar ek dink dit is fantasties. Dit bestaan nie in enige ander taal dat jy 40 mense kry wat vir jou die beste moontlike samevattings oor skrywers lewer nie.”

Nuwe perspektief

Van Coller hoop dié literatuurgeskiedenis maak die deure van kennis oor die verwantskap van die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde wyer oop.

“Ek dink die Nederlandistiek in Suid-Afrika word besonder lukraak bedryf. Ek hoop so dié boek bring meer sistematiek sodat mense weer besef die belangrikste tyd in die Nederlandse letterkunde is eintlik die Middeleeue en 17de eeu en dat dít die geskiedenis van ons taal is. Dit is so dat Afrikaans as spreektaal in Suid-Afrika ontwikkel het deur verskillende sprekers, maar die skryftaal is Nederlands en die verwysing en kultuurverwysing is Nederlands. 70% van alle Afrikaanse woorde is Nederlands.

“En ons belangrikste skrywers in Afrikaans het die Nederlandse letterkunde baie goed geken. D.J. Opperman het talle kere in sy werk daarna verwys en ook Nederlandse literatuur uit die Middeleeue herskryf. Van Wyk Louw was intiem betrokke by Nederlands. Hy het agt jaar daar gedoseer, dit geken en daarna verwys.

“Hierdie nuwe literatuurgeskiedenis kyk uit ’n Afrikaanse perspektief na die Nederlandse letterkunde en sê watter stukke is vir ons belangrik en watter ooreenkomste bestaan tussen skrywers, onder meer tussen die Middeleeuse skrywers en iemand soos Etienne Leroux.

“Leroux vat daardie oerpatroon van die Middeleeue en sit dit in die moderne tyd. Nou hel, as jy dit eers begryp, is die boek mos heeltemal anders. Dit gee diepte.

“Vat ook ’n belangrike vorm soos die uitvaartspoësie of doods-poësie van die 17de eeu. As jy nie die opvattings daaroor verstaan nie, verstaan jy dikwels nie moderne gedigte soos dié van Joan Hambidge oor haar pa of Jaap Steyn oor die ramp (“Spooroorwegramp by Henley-on-Klip”) nie. Hulle gebruik die tegnieke van ouds. Sodra jy dit verstaan, eggo hierdie gedigte baie sterk en kry jy die gevoel.”

Langs die kraakvars literatuurgeskiedenis op sy lessenaar lê die nuwe, bygewerkte Afrikaans Poems with English Translations (Protea) wat hy onlangs met die hulp van Helize van Vuuren en Louise Viljoen saamgestel het. Dit word oor die wêreld heen versprei.

Steeds aan die arbei

Op 70 werk hy voort: artikels en bydraes vir boeke oor die skrywers P.G. du Plessis, Van Wyk Louw en Elsa Joubert; ’n biografie saam met die dramaturg-akademikus Nico Luwes oor die teaterman Pieter Fourie en nog vertalings van die digbundels van Luuk Gruwez uit die Nederlands.

As hy nie werk nie, maak hy saam met vriende wyn, kook hy lekker kos of reis en kampeer hy en sy vrou, Elsa, met hul tweemantentjie.

En soos die plakker in sy studeerkamer sê: Hy doen dit in Afrikaans.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.