Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Ek is verlief op Muhammad Ali’

Ivan Vladislavic praat met Murray La Vita oor sy jongste boek waarin ’n Pretoriase seun op die legendariese bokser Muhammad Ali verlief raak.

Ivan Vladislavic sê daar is baie van sy eie kindertyd in sy roman The Distance. Foto: Joanne Olivier

Hy het as kind koerantknipsels oor Muhammad Ali versamel. Oor die jare het hy hierdie Ali-argief bestaande uit plakboeke saam met hom rondgekarwei en altyd gedink hy sal iets daaroor skryf, sê Vladislavic.

Die internasionaal gevierde Johannesburgse skrywer sit in sy kantoor by die Universiteit van die Witwatersrand waar hy nagraadse studente begelei in kreatiewe skryfwerk. Vandaar gesels hy telefonies met my wat in Kaapstad is.

Hy sê daar is baie van sy eie kindertyd in die roman The Distance. Soos Vladislavic worstel die karakter Joe Blahavic in die roman met plakboeke vol koerantknipsels oor Ali.

The Distance het onlangs by Umuzi verskyn.

“Ek het aanvanklik ’n soort van ’n essay daaroor probeer skryf, want ek het die bokstaal en wat verslaggewing oor Ali in daardie jare oor breër kwessies openbaar het, werklik interessant gevind. Dit was omtrent 20 jaar gelede. Oor die jare het ek aan en af daaraan gewerk – daaraan geskryf en dit weer laat vaar en dan weer daarna teruggekeer.”

Uiteindelik het hy besef dit sal beter werk indien dit “binne ’n werk van fiksie gestalte kry”.

“Naas van hierdie essayistiese stemme wat ek behou het, het ek die Branko-karakter [Joe se ouer broer] geskep. Dit was die sleutel wat ek nodig gehad het. Toe ek eers die twee karakters gehad het, die twee broers, was dit moontlik om ook ’n hedendaagse dimensie aan die boek te verleen.

“Indien ek net met die knipsels oor Ali se loopbaan in die sewentigs en met kinderherinneringe gewerk het, sou dit ’n boek net oor die verlede gewees het en ek wou ’n boek skryf wat tegelykertyd oor die verlede en die hede handel.”

Die roman begin met wat Michiel Heyns in sy resensie “die afwisselende relaas” noem van die broers wat terugkyk op hul kinderjare in die Pretoria van die jare sewentig.

Later is daar die interaksie tussen die volwasse Joe, wat ’n skrywer geword het en die behoefte het om sy Ali-argief in ’n boek te gebruik, en Branko, ’n rolprentredigeerder. Joe vra Branko om sy eie herinneringe van hul jeug vir die doeleindes van die boek op skrif te stel.

Klein en groot stories

Vladislavic is bekend daarom dat hy in sy werk die alledaagse en skynbaar onbenullige dinge ondersoek – dit wat klein en periferaal is.

In ’n onderhoud in 1996 met Shaun de Waal sê hy: “ . . . die wêreld is reeds so oorlaai met groot stories en belangrike inligting dat dit wat klein en periferaal is vir my iets geword het wat ’n positiewe waarde het”.

Daar word bewustelik na ’n groot storie gekyk deur ’n klein sleutelgat.

Sou hy ’n storie waarin Muhammad Ali sentraal staan as klein en periferaal beskou?

“Nee. Ek dink wat die boek beliggaam of dramatiseer, is die konflik tussen die groot en die klein storie. So die Muhammad Ali-storie is omtrent so groot as wat jy sal kry, maar wat ek in die roman doen, is om die groot storie as ’n soort agterdoek te hê met die klein storie wat voor dit afspeel.

“Wat ek dan ook probeer doen, is om die groot storie te omvorm of anders te raam. Om net nog ’n storie oor Muhammad Ali te skryf sou ’n nuttelose oefening gewees het, want daar is al so baie oor hom geskryf.

“Ek hoop wat die storie interessant maak, is dat dit afgestem is op wat uit hierdie knipsels na vore kom. So, daar word bewustelik na ’n groot storie gekyk deur ’n klein sleutelgat.”

Die taal van boks

Is daar ’n spanning tussen die klein storie en die groot een?

“Ek hoop so. In die sin dat die groot storie ’n bekende een is en dat almal dink hulle ken die Muhammad Ali-storie. Ek het gehoop deur terug te gaan na hierdie betreklik naïewe en beperkte argief van knipsels sou ek daarin dinge vind wat nuut is en dan ook nuwe perspektiewe op dinge vind. Dus: om nie net na die boks te kyk nie – waarvan ek allermins ’n kenner is – maar om na die taal te kyk; om te kyk na hóé die storie vertel is eerder as die storie self.”

Baie van my belangstelling in die figuur Ali het gespruit uit die wyse waarop daar oor hom berig is.

In The Distance sê die volwasse Joe dan ook: “Without the boxing writers, my love for Muhammad Ali would not have bloomed. You could say I fell in love with the writing rather than the boxing.” (p. 73)

“Ja, baie van my belangstelling in die figuur Ali het gespruit uit die wyse waarop daar oor hom berig is. Dit wás ’n groot storie; daar is so baie oor hom geskryf in die koerante.

“Maar daar was eintlik baie min foto’s of filmbeelde van hom, so hy was nie in daardie opsig aanwesig nie. In ’n sin het amper alles dus via die nuusberigte gekom.”

Clay vs. Ali

’n Jong Cassius Clay voordat hy sy naam na Muhammad Ali verander het. Foto: Bettman-argief

Wat kan ons leer uit die wyse waarop daar oor Ali geskryf is?

“Ek kan nie onthou wat my as ’n kind gefassineer het nie buiten dat dit ’n redelike lewendige soort taal was wat die sportskrywers gebruik het; dit was nie die stemmige taal wat in die res van die koerant gebruik is nie. Ek dink dít het my aangetrek.

“As ek nou na daardie berigte kyk, sien ek fassinerende magstryde daar rondom wat Ali wil wees en wat die pers hom toelaat om te wees.

“In die roman skryf ek byvoorbeeld oor sy naam. Dit is werklik merkwaardig hoedat sewe of agt jaar nadat hy sy naam verander het, baie van die hoofstroom koerante nog Cassius Clay gebruik het.

“Dít is ’n aanduiding van hoe kwessies rondom ras in die media uitgespeel het; hoe dit vir ’n joernalis moontlik was om te weier om te erken dat Ali sy naam verander het; dat hy daardie mag gehad het om dit te doen. Jy kan sien hoe mense hom daardie ruimte en vryheid ontsê het; hom op sy plek wou sit.

“Daar is ook bewonderenswaardige dinge. Dit tref my altyd hoe báie hierdie joernaliste geskryf het en hoe vinnig hulle moes skryf omdat hulle inligting moes oordra, ’n rol wat ons deesdae aanneem deur televisie of die internet vervul sal word; ons verwag dit nie meer van koerante nie.

“Hulle moes oor ’n hele boksgeveg verslag doen soos wat dit gebeur het en binne ure was dit in die koerante. Dít is indrukwekkend, veral vir iemand soos ek wat jare neem om enigiets te skryf,” sê hy laggend.

“En van die berigte bied aan jou ’n onmiddellikheid en laat jou voel of jy daar was.

“Die besinning oor die media is vir my ’n sentrale tema in die boek – hoe daardie skuif van die geskrewe na die visuele wêreld gebeur het en hoe baie dit ons beskouing van die wêreld verander het.”

’n Wêreld in een foto

“Ek vind dat ek deesdae dikwels na die verlede terugkeer veral aangesien die afstand tussen my en die herinneringe uit my kinderdae al groter raak.” Foto: Joanne Olivier

Hy het op “merkwaardige brokkies” afgekom toe hy deur sy plakboeke gegaan het.

“Daar sou byvoorbeeld kleurfoto’s van ’n boksgeveg wees wat ’n week ná die tyd op die voorblad van ’n koerant as scoops aangebied word.

“Dit is verbysterend om te dink dat nuus in ons leeftyd teen daardie tempo oorgedra is as ’n mens dit vergelyk met die hedendaagse onmiddellike kykweer- wêreldwye dekking van groot gebeurtenisse.”

Het hierdie skuif moontlik tot ’n vervlakking van inhoud gelei?

“Ek dink ons het daarby baat gevind maar wel ook iets ingeboet want een van die dinge wat my byvoorbeeld opgeval het terwyl ek na die foto’s gekyk het, is dat een of twee foto’s emblematies geword het van ’n hele gebeurtenis, nie net ’n sportgebeurtenis nie, maar ook nuusgebeure. Daar sou een foto wees wat ’n hele wêreld van dinge verteenwoordig.

“Deesdae is daar soveel visuele dekking van alles – selfs dinge waarvan ons nie eens bewus is dat hulle gedokumenteer word nie, word deur sekerheidskameras dopgehou. So jy het ’n baie groter verskeidenheid van visuele inligting. Maar soms laat daardie enkele beelde jou meer besin want jy gaan op ’n stadiger en dieper wyse met hulle om. Dit is ironies dat hoe meer visuele inligting ons mee gebombardeer word, hoe minder ag slaan ons op enige daarvan."

Wat hom ook interesseer, is herhaling.

“Hoe herhaling ons sin van die belang van dinge afgestomp het. Die 24-uur-nuussiklus en die beelde wat jy oor en oor sien; hulle verloor redelik vinnig hul trefkrag. Die gedrukte medium het net anders gewerk – die beeld was een keer daar en dan was dit verby. Daarom het dinge op ’n vreemde manier meer betekenis gehad weens die gebrek aan inligting.”

Jeugherinneringe

“Om net nog ’n storie oor Muhammad Ali te skryf sou ’n nuttelose oefening gewees het, want daar is al so baie oor hom geskryf.” Foto: Joanne Olivier

Ons praat oor die skrywer Robert Walser, wie se werk my om voorspelbare redes aan dié van Vladislavic herinner.

“Ja, sy skryfwerk is die soort werk wat tot my spreek weens die beskeidenheid en idiosinkratiese aard daarvan. Dit is so ’n intieme stem en die aandag aan detail en klein dingetjies is baie aantreklik. Dit is skryfwerk wat nie groot aansprake maak nie. Ek vind dit absoluut innemend . . . Hy het ’n waardering vir dit wat misterieus is in die alledaagse.

Ek vra hom uit oor die rol van herinnering en geheue in sy werk.

“Ek vind dat ek deesdae dikwels na die verlede terugkeer veral aangesien die afstand tussen my en die herinneringe uit my kinderdae al groter raak.

"Ek dink nie die herinneringe is besig om weg te dryf nie, maar ek het net die afgelope ruk daarvan bewus geraak dat die herinneringe aan wat met my gebeur het toe ek ’n jong kind was nie meer so inténs is nie.

“Dit het my aangemoedig om aan dinge te dink want ek dink geheue is ook ’n vermoë, wat sterker raak indien jy dit oefen. So, dis waaraan ek ook gedink het: die herwinning van geheue; wat is moontlik en wat nie.”

Meer oor:  Muhammad Ali  |  Cassius Clay  |  Ivan Vladislavic  |  Geheue  |  Herinneringe  |  Boks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.