Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Ek wil Akademia se dosente en studente sien floreer'

Prof. Danie Goosen is pas aangewys as akademiese hoof van Akademia, ’n private Afrikaanse, Christelike gemeenskapsuniversiteit. Johanna van Eeden het met hom gesels.

Prof. Danie Goosen, wat vanjaar by Akademia aansluit as akademiese hoof. Foto: Lisa Hnatowicz

Op 65 beplan die meeste mense om stadiger te leef, selfs af te skaal. Nie prof. Danie Goosen nie. Hy rits straataf in sy blinkswart motortjie in Muckleneuk, Pretoria, wuif in die verbygaan, trek die motor in die kuipe en maak oomblikke later verskoning vir die stof in die huis weens bouwerk.

Goosen se droom vir sy studente en dosente is eenvoudig. “Ek wil sien dat hulle floreer.” Foto: Lisa Hnatowicz

Vir die gesprek het hy ’n paar aantekeninge byderhand – ’n roetekaart waarmee hy vrae navigeer. Die oorspronklike kunswerke teen die mure verklap iets van die ánder professor in dié huis. Goosen se vrou, Amanda, doseer kuns by die Universiteit van Pretoria.

Hul seun, Daniël (20), studeer tale by Tuks.

Wanneer Goosen oor Akademia – en universiteite in die algemeen – gesels, hoor jy die diep brul van ’n Ferrari waarvan die toeretelling hoër klim in afwagting op die wegspring. Hy is van Februarie af amptelik in dié pos, maar het van die beginjare gehelp om dié universiteit te bedink.

Akademia, wat uit die Solidariteit-stal gegroei het, het op die oog af ontstaan as alternatief vir kampusse waar Afrikaans onder druk is.

Goosen sê die agteruitgang van Afrikaans en die feit dat die taal – buiten op Stellenbosch en die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit – “vir alle praktiese doeleindes verdwyn het”, was ’n geweldige verlies en een van die eerste impulse vir die stigting van Akademia.

“Maar ons is eintlik al verby die kwessie van Afrikaans.” Dit gaan oor die universiteit in sy diepste wese.

Hy kyk af en toe na sy padkaart, maar uit sy gesels hoor jy hy kan dié roete amper toe-oë ry. Want Goosen is ’n akademikus en filosoof in murg en been. Met ’n “dit gaan dalk nou bietjie kontroversieel klink”, skuif hy die gesprek elke nou en dan naatloos oor na ’n hoër rat. Net een keer – op die vraag hoe Akademia gefinansier word – glip hy elegant in ’n systroom. “Nee, ek is nie die regte mens om dit te beantwoord nie . . .” Met ’n vriendelike verwysing na die administratiewe personeel.

Nie dat Goosen, ’n professor in godsdienswetenskap, tot onlangs verbonde aan Unisa, rigtingloos is wanneer dit by geldsake kom nie. “Ek het ná skool nie ’n idee gehad wat ek wou doen nie. Toe skryf ek in vir BCom, maar in die proses het ek besef dis glad nie wat ek wil doen nie, maar ek het die graad klaargemaak.”

Daarna het hy besluit om teologie te studeer en tale soos Grieks, Hebreeus en Latyn. “Maar toe besef ek dis ook nie vir my nie, maar ek het klaar­gemaak.” Immer die oog op die geruite vlag . . .

Goosen. Foto: Lisa Hnatowicz

“Ek het verskriklik rondgeval, maar in die godsdiensfilosofie gevoel dat ek tot my reg kom.” By die kruispad tussen antropologie, sosiologie en sielkunde.

Gebruik hy nog die BCom? “Ek het absoluut alles daarvan vergeet. Ek onthou vaagweg iets van balansstate!” As direksielid van die FAK, AfriForum en die Solidariteit-trust word daar dikwels by vergaderings geldsake gepraat. “Die organisasies is suksesvol, so ek lei af die state klop!”

Waar die boeke nié klop nie, is in die akademiese wêreld. En, beklemtoon Goosen, die probleem is nie beperk tot Suid-Afrika nie. Universiteite wêreldwyd is op ’n “interessante breekpunt wat veroorsaak word deur interne spanning”. By Akademia is die droom daarom ook om “nuut te dink en die idee van ’n universiteit te herkonseptualiseer”.

Hy sigsag behendig tussen dié spanningslyne. Die eerste draai is die spanning wat veroorsaak word deur die “kriminalisering van standaarde omdat dit behoort tot die Westerse koloniale erfenis”. By Akademia is die strewe na die hoogste akademiese standaarde en onafhanklikheid van die “sensuur van die staat”. Daarom is Akademia ook los van staatsfinansiering.

Goosen se droom vir sy studente en dosente is eenvoudig: “Ek wil sien dat hulle floreer.” Foto: Lisa Hnatowicz

Nóg ’n tweestryd is die “fragmentering tussen dissiplines” en die voorkoms van “super­­- spesia­lisering . . . mense wat kenners word in sub-subdissiplines van die chemie”. Voeg daarby ’n skeut “politiek korrekte ideologie” en universiteite word “verstikkende instansies waar jy nie vry kan navors of doseer nie”. By Akademia moet studente verstaan waar hulle én hul studies inpas en ’n geheelbeeld van die wêreld kry.

Die balans tussen akademie en administrasie is ook skeef­getrek, sê hy. Administrasie is veronderstel om die akademiese proses te ondersteun. Soos die olie in ’n ratkas. Maar, sê Goosen, administrasies by universiteite het “buitensporig groot en voorskriftelik” geword. Die bestuurspan by Akademia is daarom klein en het ’n korporatiewe ingesteldheid.

En dan is daar die kwessie van die waarheid, wat by universiteite swig voor relativisme. Die strewe na die waarheid, sê Goosen, word prysgegee in hierdie tydgees van “anything goes” waarin die een wat die hardste skree gehoor – en geglo – word. By Akademia staan dit sentraal: die aanhoudende “soeke na die waarheid en sy goedheid, skoonheid en werklikheid” soos uitgebeeld in die klassieke model van universiteite.

Ten slotte: die spanning tussen opvoeding en opleiding. Die toerus van mense met kennis én wysheid “sodat jy nie met geleerde swape te doen het nie . . .”

Akademia het ’n verhalende benadering, met die verwagting dat alle studente blootgestel sal word aan die klassieke werke. Vandaar die leuse “Ad futurum per fontes” – na die toekoms deur die bronne.

Goosen. Foto: Lisa Hnatowicz

Die droom is om skeppende individue op te lewer van die kaliber van M.E.R. en N.P. van Wyk Louw.

Presies hóé al dié ideale bereik gaan word, is nie in klip gekap nie, want Akademia is nog ’n eksperiment. ’n Prototipe wat Goosen baie opgewonde het. Ander planne sluit in die versterking van bande met internasionale gemeenskapsuniversiteite en die uitbreiding van die 14 afstandsonderrigkampusse na ’n volwaardige kampus in Pretoria. Waar studente kan voel “dis ons plek, dis lekker en mooi en goed om hier te wees”.

Goosen. Foto: Lisa Hnatowicz
Goosen. Foto: Lisa Hnatowicz
Johanna van Eeden

Hy weet daar is ’n klagte onder wit mense dat daar weens regstellende aksie nie werk is nie, maar Goosen glo as jy behoorlik opgelei is en ekstra vaardighede het soos om oorspronklik te kan dink, sal dit jou meer aantreklik maak vir die arbeidsmark.

Akademia het ’n sterk fokus op navorsingsuitsette. Maar, sê Goosen, daar moet ’n balans wees tussen die teorie van navorsing en die praktyk van onderrig. Hy meen akademici moet tyd hê “om navorsing te doen, om te dink, om soms níks te doen nie en bloot te mymer . . .”

Wanneer hy nie werk nie, lees hy, luister na klassieke musiek en kyk kunsrolprente. “En ek het ’n bisarre liefde vir ou karre en veral Alfa Romeo.” Hy kyk graag na motorwedrenne. En, bieg die besadigde professor, hy is mal oor spoed en waag dit self op die renbaan.

“Soms moet ’n mens die stadige, besinnende lewe afwissel en die toekoms met spoed binnejaag,” sê hy. En daarmee klik hy onhoorbaar sag die sitplekgordel voordat hy agter sy nuwe stuurwiel inskuif.

  • Johanna van Eeden is ’n vryskutjoernalis.
Grootwordtyd

Goosen het in Florida, Johannesburg, grootgeword. Die gesin het later Pretoria toe verhuis, waar sy pa aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verbonde was.

Sy pa het egter besluit om – “stroomop met die Afrikaner-elite van destyds” – nié in Waterkloof of Menlopark te gaan bly nie. Die Goosens het ’n tuiste in die Moot gekry, in die huis wat eens behoort het aan die skrywer Mikro.

Goosen se ma was ook ’n onderwyser. Hy het aan die Hoërskool Hendrik Verwoerd gematrikuleer.

Hy is g'n rektor

Goosen gebruik deurgaans die term “akademiese hoof”.

’n Rektor, sê hy, klink na so ’n “uitsonderlike belangrike ou” en daar is nie veel gemeenskapsgerigtheid in die titel nie.

Sy droom vir sy studente en dosente is eenvoudig: “Ek wil sien dat hulle floreer.”

Meer oor:  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.