Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Ekonoom: ‘Dit gaan beter met ons as ooit tevore’

Selfs al is die wêreld in die greep van ’n pandemie, was daar nog nooit ’n beter tyd om gebore te word as nóú nie, sê die ekonomiese geskiedkundige prof. Johan Fourie aan Murray La Vita.

Prof. Johan Fourie in sy kantoor voor die kaart Mapamundi 1375. Foto: Jaco Marais

Ekonomiese geskiedenis vertel ’n “uiters optimistiese” verhaal, sê Fourie, hoogleraar in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch (US) en skrywer van die boek Our Long Walk to Economic Freedom: Lessons from 100 000 Years of Human History, wat pas die lig gesien het.

“Die kursus globale ekonomiese geskiedenis, waaruit dié boek vloei, bied ek nou al tien jaar lank aan. Ek vind dat studente, veral studente uit die sosiale wetenskappe, ’n duidelik negatiewe beskouing van die wêreld het.

“Hulle dink dinge gaan net slegter en slegter. Dit is ’n beeld wat in sommige vakgebiede gewild is, wat vir my altyd vreemd is, want as jy eenvoudig net kyk na énige maatstaf van menslike welvaart of lewenstandaarde, lyk dit in elke opsig nou beter as wat dit 200 of 100 of selfs 20 jaar gelede gelyk het.

“Die wêreld is ’n baie beter plek. Daar was nog nooit ’n beter tyd om gebore te word as nou nie. Selfs mét ’n pandemie is dit ongelooflik watter tegnologie tot ons beskikking is en hoe baie mense daartoe toegang het.

Mense leef langer en hulle het toegang tot onderwys, behuising, gesondheidsdienste.

“Die wêreldbevolking is baie groter, maar daardie mense is ook beter daaraan toe. Mense leef langer en hulle het toegang tot onderwys, behuising, gesondheidsdienste. Al hierdie goed was tipies tot ’n klein elite beperk. As jy kyk na die wêreldgeskiedenis vóór die nywerheidsomwenteling, was dit ’n wêreld waar ’n klein aantal mense toegang het tot die soort goed wat ons vandag as algemeen aanvaar.

“Ons moet dus baie meer optimisties wees en daar is baie meer lesse uit die verlede te leer oor hoe ons mense ryker gemaak het as wat ons dink. Ons dink alles wat in die verlede gebeur het, is bloot uitbuiting. Daar was natuurlik geweldig baie daarvan gewees, maar goed soos slawerny bestaan eintlik nie meer nie. Dan is daar goed soos menseregte, demokratiese stemreg, toegang tot die regstelsel, eiendomsreg vir enige mens. Dít is goed wat vir die grootste deel van ons geskiedenis nie bestaan het nie.”

Lesse van die verlede

In die boeiende Our Long Walk to Economic Freedom bekyk Fourie aspekte van die mens se ekonomiese geskiedenis wat strek van die menslike migrasie uit Afrika tot die hede.

Our Long Walk to Economic Freedom word deur Tafelberg uitgegee.

Hy ondersoek onder meer wat 70 000 jaar gelede by Blombos gebeur het; wat die pas ontslape koning Goodwill Zwelithini en keiser Karel die Grote (Charlemagne) gemeen het; hoe Einstein Eskom “help skep het”, en hoe ’n katastrofiese ekonomiese besluit in China een van die grootste menslike tragedies in die geskiedenis veroorsaak het.

Fourie, wat buiten hoogleraar in ekonomie ook die stigterslid van die African Economic History Network, president van die Economic History Society of Southern Africa, en gereelde rubriekskrywer vir plaaslike publikasies is, sê hy wou ’n joernalis word, maar toe het hy skielik op ekonomie “verlief geraak” .

“Ek dink die vraag oor hoe mense meer welvarend geraak het en hoe hul lewensomstandighede verbeter het, is ’n vraag waaroor ons, vreemd genoeg, nie baie dink nie terwyl dit myns insiens een van die belangrikste vrae van ons tyd is.

“Daar is geweldige ongelykhede en armoede in die samelewing en ons het almal ons idees oor hoekom dit só is, maar daar is natuurlik ’n hele vakgebied daaroor. Dít is in wese die vraag van die ekonomie: Hoe kan jy meer met minder doen? Hoe kan jy nie net welvaart skep nie, maar dit ook meer regverdig verdeel?

“Die lekker ding van ekonomiese geskiedenis is dus om die lesse van die verlede te gebruik om daardie vrae te beantwoord. Mense hou van stories, so die geskiedenis help ons om te verstaan hoe het dit gebeur dat sommige mense en lande en streke beter daaraan toe was as ander.”

Nuwe vrae

Fourie sê hy en ’n span van ’n bietjie meer as 20 studente in die US se departemente ekonomie en geskiedenis gebruik data om navorsing te doen oor ekonomiese en sosiale geskiedenis.

“Ons vra nuwe vrae en kom soms met nuwe antwoorde vorendag. Dis nogal opwindend. Ek dink historici word dikwels deur ’n baie spesifieke bril gesien en hier wys ons dit kan ook sexy wees. Dis nie net mense wat in argiewe sit en dan skryf oor lank vergete dooie mense nie . . . Dít is natuurlik ’n stereotipe van historici, want dit is nie al wat hulle doen nie.

“Suid-Afrika is steeds ’n plek met uitnemende tersiêre onderrig en waar ’n mens makliker sake kan doen.” Foto: Jaco Marais

“Hier doen ons navorsing wat daarop gerig is om nie net die verlede beter te verstaan nie, maar ook ons huidige konteks. As ’n mens die verlede beter verstaan, byvoorbeeld Afrika se welvaart in die verlede, dan verander dit ook hoe jy dink oor geleenthede vandag en dalk oor jou eie identiteit. En jy het ook veral ten tyde van ’n krisis ’n manier om te besin oor waar jy nou staan.

“So, toe Covid-19 uitbreek, was die eerste ding wat mense gevra het: Wat het gebeur tydens die Spaanse Griep? Ons kon toe hierdie duisende sterfterekords ontleed om iets te sê oor wat destyds gebeur het en te kyk hoe dit dalk relevant kan wees vir vandag.

“Hierdie boek is eintlik maar ’n manier om ’n beknopte oorsig te gee van wat baie van die voorste ekonomiese historici oor die afgelope twee dekades geskryf het.

“Maar ek gebruik ook die jongste navorsing om ’n storie oor die geskiedenis te vertel. Dit is nie net ’n hérvertelling van goed wat ons reeds weet nie.”

Rykste mens van alle tye

Fourie is tydens ons zoom-onderhoud in sy kantoor op die kampus van die US. Teen die muur agter hom is ’n legkaart van ’n kaart wat heet Mapamundi 1375.

“Maar ek gebruik ook die jongste navorsing om ’n storie oor die geskiedenis te vertel.” Foto: Jaco Marais

“Dit is ’n wêreldkaart uit 1375 deur Abraham Cresques – nege panele. Ek en my vrou [Helanya Fourie, ook ’n ekonoom en verbonde aan die Buro vir Ekonomiese Ondersoek] het dit gebou; dit is ons eerste legkaart wat ons saam gehou het. Sy het sewe van die panele voltooi en ek twee . . . Daar is maar orals ongelykhede,” sê hy met ’n vonkel in die oog.

“Mansa Musa is op die kaart. Hy is die 14de eeuse heerser van die Mali-ryk in Wes-Afrika, wat die rykste man in die geskiedenis van die wêreld was. Dit is een van die enigste tekeninge wat ons van hom het.”

In die hoofstuk “Who was the richest man in history? The spread of Islam in Africa and the Crusades” skryf Fourie oor Musa en hoe hy nie net tevrede was om die rykdom te geniet wat sy koninkryk veral aan goud en sout te danke gehad het nie, maar dat hy ook reuse-konstruksieprojekte aangepak het en moskees, skole, biblioteke en universiteite tot stand gebring het.

Afrika se toekoms

The Economist het in Mei 2000 ’n artikel geplaas met die opskrif “The hopeless continent” waarin hy aangekondig het daar is min hoop vir die toekoms van Afrika.

Fourie ontleed dié beskouing en dui aan welke groot mistasting dit was en wat ná 2000 in Afrika gebeur het.

Wat die toekoms betref, meen hy die kontinent moet sigself voortaan op die dienstebedryf toespits.

“Ek probeer die argument maak dat ons gaan sukkel as ons die fase van industrialisasie as die volgende noodwendige stap in ons ekonomiese ontwikkeling beskou.

“Afrika se ligging en die feit dat Engels redelik algemeen gepraat word, maak van ons ’n kontinent waar dienste – alles van inbelsentrums tot toerisme tot sokkerspelers tot argitekdienste, ontwerpdienste en skryfdienste – op die kontinent verskaf en uitgevoer kan word.

“Ek probeer die argument maak dat ons gaan sukkel as ons die fase van industrialisasie as die volgende noodwendige stap in ons ekonomiese ontwikkeling beskou. Miskien is daar ’n ander pad, veral gegewe die grootskaalse tegnologiese vooruitgang van ons tyd.”

Armer en korter

In die hoofstuk “What did Sol Plaatje find on his journey through South Africa?” neem Fourie die impak van die Wet op Naturellegrond van 1913 in oënskou waardeur swart mense se grond in Suid-Afrika onteien is.

Hy skryf hoe die joernalis en skrywer Plaatje deur die land gereis het om die uitwerking van dié wet op swart mense te probeer peil. Plaatje het onder andere met ’n wit polisieman gepraat wat aan hom gesê het swart mense het ’n redelik gemaklike lewe gelei. Hulle het hul eie vee besit “living in many instances just like the Dutchmen”.

“Ons dink alles wat in die verlede gebeur het, is bloot uitbuiting.” Foto: Verskaf

Maar, het hy bygevoeg: “Many of these black farmers are now being forced to leave their homes. Cycling along this road you will meet several of them in search of new homes, and if ever there is a fool’s errand, it is that of a black man trying to find a new home for his stock and his family right now.”

Fourie en die ekonomiese historici Bokang Mpeta en Kris Inwood het toe antropometriese geskiedenis – die vergelyking van mense se lengte – gebruik om vas te stel hoe swart mense se lewensgehalte deur dié grondonteiening beïnvloed is.

“Ons het nie genoeg inligting oor die lewenstandaarde van swart Suid-Afrikaners in daardie tydperk nie, en daarom het ons dié metode gebruik. Selfs dít is gebrekkig, want daar is beperkte steekproewe beskikbaar.

“Maar ons navorsing het beaam wat Plaatje gesê het: Die lewenstandaarde van swart mense het in die eerste drie dekades van die 20ste eeu aansienlik gedaal. Dit was eers in die 1930’s toe mynbou noemenswaardig uitgebrei het en daar meer werkgeleenthede vir swart mans was, dat babas beter gevoed is en daardie babas, toe hulle volwassenes was, se lengte begin toeneem het.”

Die pad byster

In een van die laaste hoofstukke van Our Long Walk to Economic Freedom kom Fourie tot dié gevolgtrekking oor Suid-Afrika se laaste dekade: “Nelson Mandela’s long walk to economic freedom went down a wrong path. Let’s hope we can find our way back.”

Hy sê een van die interessante dinge van Suid-Afrika is dat, buiten vir “hierdie uitskieter Covid-jaar”, is ons nie eintlik ’n land met geweldige fluktuasies in ons bruto binnelandse produk (BBP) nie.

“Ek dink ons fokus só baie op die politiek – en daar is redes daarvoor, so dit is verstaanbaar – maar ons mis dan die storie van die gewone mens op straat. Dis een van die goed wat ek ook frustrerend vind wanneer ek met studente praat.

“Maar ons moet onthou, hulle is in 2002 gebore, so hulle leefwêreld vandat hulle sewe jaar oud was totdat hulle nou by die universiteit aangekom het, was basies Jacob Zuma. Hulle kén net ’n negatiewe storie.

Daar was baie goed wat ’n mens positief gestem het oor die toekoms, sowel uit die makro-ekonomiese gebied as die mikro-ekonomie.

“Maar die storie van die 2000’s is gewéldig positief. Ons het armoede beduidend begin uitwis. Mense het werk gehad; hoewel nie so baie soos wat ons wou gehad het nie. Ons het ’n begrotingsurplus gehad. Ons het ’n elektriese motor gebou. Daar was baie goed wat ’n mens positief gestem het oor die toekoms, sowel uit die makro-ekonomiese gebied as die mikro-ekonomie.

“Ons het egter ongelukkig die pad byster geraak met Zuma en wat in die 2010’s gebeur het – staatskaping en alles wat daarmee saamgaan.”

Wat in ons guns tel

Maar die goeie nuus is dat ons nie nét daardie een storie ken nie. Ons wéét dit kan beter gaan. Ons wéét wat ons eintlik moet doen. Dis moeilik om dit te doen en dit is hoekom dit nou so frustrerend stadig gaan.

“In die boek is daar ’n hoofstuk oor Argentinië, een van die rykste lande aan die begin van die 20ste eeu wat nou niks meer as middel-inkomste is nie. Hulle kon verlede jaar weer nie hul skuld betaal nie.

“Dít is wat populisme doen. Ek hoop dat ons nie soos die Argentyne val van een populistiese leier na ’n volgende een nie.

“Maar ek dink nie ons is al dáár nie. Ek hoop die Zuma-ervaring het ons ’n bietjie nugter gemaak vir die gevare van die goed wat ons verkeerd gedoen het.

“Ons president en minister sê en doen tans die regte goed.” Foto: Verskaf

“Ons president en minister van finansies sê en doen tans die regte goed. Ek is versigtig optimisties; net soos met die Ever Given in die Suez-kanaal gaan ons die skip stadig maar seker moet omswaai.

“Ek dink die ander groot ding wat in ons guns tel, is dat ons op ’n kontinent is waar die mark geweldig gaan groei binne die volgende dekade of drie. Ons het ’n nuwe vryehandelsooreenkoms. Infrastruktuur wat handel aanmoedig, verbeter – nuwe paaie en brûe en optieseveselnetwerk, maar ook meer doeltreffende grensposte wat red tape verminder.

“Kombineer dít met nuwe tegnologie en daar is enorme geleenthede vir die wakker entrepreneur. Én ons gaan mense kry wat hiernatoe kom om te studeer en dan maatskappye hier te stig, want Suid-Afrika is steeds ’n plek met uitnemende tersiêre onderrig en waar ’n mens makliker sake kan doen.”

Die toekoms

In sy laaste hoofstuk doen Fourie iets waarteen hy waarsku: Hy probeer die toekoms voorspel.

“Natuurlik weet niemand wat gaan gebeur nie; as iemand met oortuiging die aandelemark of die wisselkoers of die Springbokrugbytelling voorspel, vra vir hulle waarom hulle nie ryk is nie.”

Nogtans waag hy dit om breë tendense uit te wys.

“Ons raak al hoe beter om ons bates te benut. Dink maar aan Airbnb wat nie ’n enkele eiendom besit nie. Tegnologie laat ons toe om ongebruikte bates soos ’n leë kamer te omskep in ’n inkomstegenererende bate. Wat anders is ongebruikte bates wat nuttig aangewend kan word? Die feit dat Covid-19 ons forseer het om van die huis af te werk het natuurlik geweldig baie nuwe moontlikhede oopgemaak.”

“Die fundamentele rede hoekom ons ryker as ons voorgeslagte is, is omdat die mensdom twee goed besef het: Eerstens, ons kan ons kennis van die natuur gebruik om ons lewenstandaard te verbeter. Dit het ons gehelp om baie meer produktief te wees.

“Maar ons het ook ’n tweede belangrike ontdekking gemaak: Dat hierdie verbetering in lewenstandaard nie net beperk moet wees tot ’n klein elite met politieke mag nie. Almal kan voordeel daaruit trek, mits hulle die vryhede gegun word om dit te doen.

“Al sien ons dit nie altyd in die nuus nie, het ons nou meer vryhede as ooit vantevore. En daarom kan ons optimisties wees,” sê hy.

Meer oor:  Johan Fourie  |  Jacob Zuma  |  Demokrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.