Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Elegante Eloise Wessels: Van lugwaardin tot boekebaas

As lugwaardin het sy die wêreld vol gereis en wonderlike avonture ervaar, maar waar sy eintlik gehoort het, was in die uitgewersbedryf, sê Eloise Wessels aan Murray La Vita.

Eloise Wessels, besturende direkteur van Media24-Boeke, in haar kantoor in Kaapstad. Foto: Jacques Stander

Vir die vrou wat aan die stuur staan van Media24-Boeke, ’n reuse-uitgewery wat 100 jaar gelede tot stand gekom het, was dit soos om terug te sak in ’n warm bad toe sy dié bedryf betree.

“J.M. Coetzee skryf in Youth hoe hy in Engeland by sy niggie in die hospitaal gaan kuier het. Dan sê hy hulle het gesit en gesels en uiteindelik het hy in ’n stadium toegegee ‘and switche[d] to the language of the family, to Afrikaans’. En dit was vir hom soos om in ’n warm bad water te ontspan.

“Dít is hoe my tuiskoms in die uitgewersbedryf vir my gevoel het. Nie in die sin dat ons nie hard werk nie, maar in die sin van dís waar ek hoort; dis wat ek altyd moes gedoen het,” sê Wessels

Sy het poste beklee by onder meer Oxford University Press, McDonnell-Douglas in Kanada, en as uitvoerende hoof van Van Schaik-Uitgewers in Pretoria, voordat sy in 2004 uitvoerende hoof van NB-Uitgewers in Kaapstad geword het. Sy is sedert 2011 besturende direkteur van Media24-Boeke.

Die gesprek met Wessels vind plaas teen die agtergrond van Naspers se 100-jarige viering vanjaar van die amptelike stigting van ’n boekuitgewersafdeling.

Sy ontvang my in haar kantoor in Kaapstad, waar sy tee saam met varsgebakte skons, Franse konfyt en room voorsit. Sy is ’n besonder elegante vrou wat vanoggend in ’n liggroen Issey Miyake-uitrusting geklee is.

’n Mens kan jou voorstel hoe goed sy destyds die rol van ’n diplomaat se vrou vertolk het toe sy en haar man, prof. Andries Wessels, hoogleraar in Engels aan die Universiteit van Pretoria, twee jaar in Parys gewoon het toe hy aan die Suid-Afrikaanse ambassade verbonde was.

In ’n wêreldkonteks is Afrikaans klein en dit moet gekoester word

Wessels tel ’n artikel op wat in November 1986 in Naspersnuus verskyn het. Die opskrif is “Nasionale Boekhandel Beperk: sy ontstaan en ontplooiing”.

“Kyk hier, dit het my nogal geamuseer; hier praat hulle van die begin van Naspers: Die klomp menere het daar in Stellenbosch gesit, en die een ding wat hulle almal voor oë gehad het, was om ’n koerant te stig, maar toe het hulle gedink om die inkomste aan te vul deur boeke uit te gee en dat hulle die koerantpersoneel sou gebruik om te help met die administrasie en van die masjinerie sou gebruik vir die druk daarvan . . . Ek kan my net voorstel hoe hierdie arme mense oor koerante en boeke heen moes werk en dan begin hulle nou inderdaad met die hele ding om boeke uit te gee; twee jaar later sê dit in ’n direksieverslag Nationale Pers hét toe ’n uitgewersdepartement en ’n boekhandel geopen.

“En wat toe gebeur het, soos wat dit ook maar in die res van die wêreld gaan, word onafhanklike uitgewerye óf gekonsolideer óf opgekoop deur groot korporasies. En dít is wat tot ’n groot mate hier gebeur het. Nasionale Boekhandel het sy eie boeke uitgegee, maar mettertyd het hulle maatskappye oorgekoop.”

Vandag sluit dit in die sake-eenhede Via Afrika, Van Schaik-Uitgewers en NB-Uitgewers; laasgenoemde met drukname soos Tafelberg, Human & Rousseau, Kwela Boeke, Queillerie, Best Books, Lux Verbi en Pharos.

Hy was uiteraard in besigheidsklas, en toe hy so opkom met die trappe, het ek gedink ek is seker dit is André Brink

“Die verkryging van Tafelberg, Human & Rousseau en Van Schaik-Uitgewers het daartoe bygedra dat ons teen 1980 al die groot Afrikaanse skrywers in ons stal gehad het.

“Ek dink dit is goed want in ’n wêreldkonteks is Afrikaans klein en dit moet gekoester word, en dís wat ons by NB doen; ons pas ál ons skrywers goed op, maar omdat 80% van ons omset van Afrikaanse boekverkope kom, het ons ’n span mense wat ’n passie het vir Afrikaanse boeke, wat die Afrikaanse leefwêreld ken, én Afrikaanse skrywers van die vroeë dae tot nóú toe. Ons het ’n geskiedenis en ’n fondslys gebou binne die een maatskappy met mense wat daarna omsien as ’n waardevolle kultuurskat en na die skrywers omsien met groot toewyding en entoesiasme. Ek wil amper sê met liefde! As dit verspreid en versplinterd was, dink ek sou dit baie minder suksesvol gewees het.

“Vir my is die fokus van die viering hierdie jaar op Afrikaans en op die algemene boekuitgewerye . . . dit wat ons met Tafelberg gedoen het en met Human & Rousseau en met die woordeboeke.”

Ontmoeting met Brink op ’n vliegtuig

Wat is dit van die uitgewersbedryf wat haar so bekoor?

“Dis seker maar ’n cliché, maar dis mense wat dieselfde belangstelling en passie deel; mense wat hou van ánder mense . . . mense wat hou van bóéke . . . My ouma was die bibliotekaresse in die dorpsbiblioteek in Sterkstroom in die Oos-Kaap. Ek het altyd saam met haar gegaan en daar tussen die boekrakke rondbeweeg, so dít is baie vroeë herinneringe wat baie positief is.Toe ek my BA gedoen het, het tannie Elize (prof. Botha, haar tante) vir my Afrikaans gegee en dit was háár wêreld hierdie. Sy was vir my altyd ’n rolmodel . . .

Eloise Wessels. Foto: Jacques Stander

“Dit was alles vir my ontsettend gelukkige herinneringe en ervarings as ’n kind en as ’n jong mens, en ek het net gedink maar hier kom dit alles bymekaar. Hier gaan ek werk saam met die skrywers wie se boeke ek gelees en bestudeer het. Dit was nogal ’n verleentheid om André Brink weer te sien. Ons vorige ontmoeting was op ’n vliegtuig toe ek ’n lugwaardin was.

“Ek het nou nog die boek wat ek besig was om te lees en wat hy vir my geteken het die aand op die vliegtuig – Don Quijote, sy verwerking en vertaling.

“Hy was uiteraard in besigheidsklas, en toe hy so opkom met die trappe, het ek gedink ek is seker dit is André Brink, maar om seker te maak, het ek dit op die passasierslys nagegaan, en dit wás toe hy. Ek het hom bedien, en voordat ons die aand die ligte afgesit het, het hy vir my ’n glas lemoensap gevra. Ek het vergeet om dit vir hom te vat en het in die galley gesit en Don Quijote gelees. Die volgende oggend toe ek sy ontbyt bedien, toe onthou ek: Hierdie man het vir my lemoensap gevra en ek het dit nooit vir hom gevat nie. Ek het verskríklik om verskoning gevra en vir hom gesê my verskoning is dat my aandag afgelei was – ek was besig om sy boek te lees en sal hy dit vir my teken?

“En dan is daar al die wonderlike assosiasies met boeke wat ’n mens as kind present gekry het: Saartjie, Maasdorp, Alba Bouwer se boeke . . . En hier wás dit alles,” sê sy en wys na die groot boekrak oorkant ons. “Ek kon nie glo that it came my way nie.”

Dol op misdaadfiksie

Ek pols haar oor haar leesvoorkeure.

“Ek sou vreeslik graag vir jou wou sê ek lees al die boeke wat ons uitgee, maar dit sou nie waar wees nie. Ek sê altyd anekdoties ons publiseer ’n boek ’n dag; ons publiseer tussen 250 en 350 boeke per jaar net by NB-Uitgewers.

Ek is ook besonder trots daarop dat ons nog soveel uitstekende poësie kan uitgee

“Ek lees wél baie meer Afrikaans vandat ek hier werk as wat ek gelees het voordat ek hier gekom het, en dit verskaf my enorme plesier want daar is al hoe meer Afrikaans wat verskríklik lekker is om te lees. Ek is ’n misdaadfiksievraat. Ek lees ál ons misdaadfiksie met groot genot en dit is beslis van internasionale gehalte. Dis vir my heerlik om te sien hoe mense soos Chris Karsten, Rudie van Rensburg en Irma Venter en dié ouens se boeke meer populêr word en die verkope toeneem, en hoe hulle hul vaardighede as skrywers van een boek tot die volgende verfyn; hoe hulle spanningslyne beter word.”

Die misdaadfiksie wat sy geniet, het “driedimensionele karakters”.

“Dis een van Deon Meyer se baie sterkpunte, dat hy óngelooflike interessante en volronde karakters skep. Dis vir my heerlik om hul boeke te lees, dit voel glad nie soos werk nie. Ek is buitendien nie die uitgewer of redakteur van die boeke nie. Party van ons boeke lees ek op bladsyproef-stadium, maar ek lees dit glad nie met ’n redakteursoog nie, dít sal die plesier vir my in ’n groot mate wegneem.”

’n Groot Schoeman-‘fan’

Hoewel sy honneursgrade in Engels en Afrikaans het, meen sy sy is nie “genoeg van ’n redakteur” om self aan manuskripte te werk nie.

“Ek lees baie graag ál ons ander groot fiksieskrywers se werk. Marlene van Niekerk is formidabel . . . ek was ’n groot Karel Schoeman-fan lank voordat ek hier begin werk het. My tannie Elize het sy werk vir ons op universiteit aangebied en ek was begeester daardeur . . . Ek is ook besonder trots daarop dat ons nog soveel uitstekende poësie kan uitgee, Breyten, Antjie, Johann de Lange en al die ander, en natuurlik die jonger digters soos Danie, Loftus, Bibi, Ronelda en Nathan. Ons gee ook uitstaande niefiksieskrywers uit . . . Hermann Giliomee se bydrae as geskiedskrywer is onmeetbaar, en dan is daar natuurlik ons wonderlike kinderboekskrywers. Daar is soveel om op trots te wees.”

’n Mens kan jou vaskyk in die donker sy en wanhopig raak, of jy kan iets daaraan probeer doen

Sy meen Afrikaanse mense is oor die algemeen groot lesers; hulle lees nie net Afrikaans nie, hulle lees trouens dikwels baie meer Engels as wat hulle Afrikaans lees “want daar ís baie meer Engels om te lees as Afrikaans”.

Wat die land in sy geheel betref, is die prentjie egter neerdrukkend.

“Een van ons grootse probleme in Suid-Afrika is dat baie mense nie geletterd is nie en dat ons opvoedkundige stelsel met die verloop van tyd meer as een keer gefaal het en stééds skandelik faal.

“Maar, daar is gelukkig nog genoeg mense wat kán lees en kan bekostig om boeke te koop om winkels soos Exclusive Books, Bargain Books, onafhanklike winkels soos The Book Lounge, Graffiti en al ons ander wonderlike boekwinkels aan die gang te hou. Ons kan nog ’n goeie bestaan maak.

Ek onthou ek het die aand in die bad gesit en my ma het die radio aangehad toe die berig uitgesaai is dat Enid Blyton dood is.

“ ’n Mens kan jou vaskyk in die donker sy en wanhopig raak, of jy kan iets daaraan probeer doen. As ek kyk na die mense by ons skoolboekuitgewery, Via Afrika, en die ongelooflike druk en onsekerheid waaronder hulle werk, is ek verstom oor hul toegewydheid en hartstog om kinders op die regte manier op te voed. Die odds waarteen hulle werk, is net ongelooflik, dis nie maklik nie, en hulle hou net vól, omdat hulle in die saak glo én ’n kommersiële besigheid aan die gang hou wat geld maak.”

Wie se boeke sou sy graag wou uitgee?

“Enid Blyton. Ek het as kind al haar boeke gelees. . . Toe ek nege jaar oud was, het ons ’n tyd lank in Ierland gewoon. Ek het daar vir Enid Blyton ’n brief geskryf . . . Ek onthou ek het die aand in die bad gesit en my ma het die radio aangehad toe die berig uitgesaai is dat Enid Blyton dood is. Ek was vreeslik teleurgesteld dat sy nooit my brief sou kry nie en dat sy nie meer boeke sou skryf nie.”

Meer oor:  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.