SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Profiele
Endley: ‘Ek was in die skadu van die galg’

Hy is ’n geharde Suid-Afrikaanse soldaat wat in gevegte, ontploffings en hinderlae regoor die wêreld was, maar tog wás hy bang en onseker toe hy ter dood veroordeel en in haglike omstandighede aangehou is, sê William Endley (57) aan Murray La Vita.

William Endley pas ná sy aankoms in Johannesburg op die OR Tambo-lughawe. Hy het van daar na Kaapstad gevlieg. Foto: Deon Raath

’n Nagmerrie wat twee jaar sou duur, het die aand van 18 Augustus 2016 in Juba, die hoofstad van Suid-Soedan, vir Endley begin.

Hy was besig om ’n bier te drink in die kroeg van die Hotel Shalom toe regeringsamptenare hom in hegtenis kom neem en na die gevreesde Blouhuistronk geneem het.

“Ek is nie gemartel nie, net ’n paar keer geklap, maar daar was wel dreigemente dat hulle my gaan doodmaak en so aan. Maar ek ken hulle; dít is hoe hulle werk. As ’n ou sag is met hulle dan is dit verby. Ek was nie sag met hulle nie. Ek het ook nie toegelaat dat hulle my intimideer nie.

“Ek het in ’n stadium erge malaria opgedoen. Ek was baie, baie ernstig siek. Die sogenaamde dokter het gesê dit is ‘complicated malaria’. Ek het ’n paar keer dit amper nie gemaak nie waar ek gedink het dit is nou verby.”

Ek kon nie eet nie en ek het vir dae op die vloer gelê waarvan ek nie veel kan onthou nie.

Hy het onder meer hallusinasies gehad.

“Ek het gedroom ek praat met my ou soldaatvriend Robbie Hartslief. Hy het homself geskiet. Ek het ook oor my pa en my oupa gedroom. [Hulle was ook militêre manne]”

Waaroor hy ook “gedroom” het, is die eerste Cowboy-pakkie wat hy as kind gekry het; sy eerste “kontak”; en die lyk van ’n baba wat hy as seuntjie gesien het toe hy saam met sy pa in Soweto was waar dié diens gedoen het.

“Ek kon nie eet nie en ek het vir dae op die vloer gelê waarvan ek nie veel kan onthou nie. Die dokter, wat ek in een van gedigte wat ek in daai tyd geskryf het Doctor Disgrace noem, het vir my gesê: ‘White man, sometimes pain is good.’”

Twee kamerade drink ’n bier

William Endley omhels Sondag sy ma, Myrtle Endley (77) op die Kaapstad-lughawe. Foto: Jaco Marais

Endley, wat ’n kolonel in die Suid-Afrikaanse leër was voordat hy veiligheidswerk in plekke soos Irak, Afganistan en uiteindelik Suid-Soedan gaan doen het, is gevange geneem terwyl hy veiligheidsraadgewer vir dr. Riek Machar, die land se opposisieleier, was. Vredesonderhandelinge het gelei tot sy en James Gatdet, ’n woordvoerder van Machar wat saam met hom aangehou is, se vrylating verlede week. Endley het Saterdag na Suid-Afrika teruggekeer.

Hy is tans by sy suster Charmaine Quinn (55) in Table View buite Kaapstad. Dit is hier waar ons met hom ’n onderhoud voer. Hy sit op ’n rusbank ’n bier en drink saam met ’n kameraad wat ’n kompanjiebevelvoerder van 32 Bataljon was.

Endley is ’n lenige man met wakker donker oë, kort grys hare en ’n snor. Die bruingebrande boarms wat hy sy kortmouhemp uitsteek, is sterk. Op sy een arm is ’n letsel waaroor hy nie wil praat nie. Dit lyk of dit die stigmata van ’n mes- of skrapnelwond kan wees.

In die skemer vertrek is daar teen die lengte van een hele muur glastenks. Ek dink aanvanklik dit is ’n akwarium totdat ek die lui kronkelbeweging van ’n lang gestreepte slang in die een tenk gewaar.

In die Blouhuistronk

Een van Endley se gedigte wat hy geskryf het terwyl hy in die tronk was. Foto: Deon Raath

Endley vertel Machar het landuit gevlug nadat pres. Salva Kiir hom daarvan beskuldig het dat hy ’n sluipmoordkomplot smee. Machar was vir ’n ruk in Suid-Afrika in “beskermingsaanhouding”.

Hy en Gatdet is vir 18 maande in die Blouhuistronk aangehou. Hy wat Endley is, was in eensame aanhouding.

“Ek het besef ek het twee keuses: Een om myself geestelik voor te berei en die mense te weerstaan, of om totaal oor te gee en my sinne te verloor. Ek het besluit dít gáán nie gebeur nie.

“Ek het myself daarop ingestel om dag vir dag te lewe. Die son kom; die son gaan. Jy sit net alleen daar. Ek is aanvanklik net toegelaat om ’n Bybel te lees . . . Ek het vir ’n week die Bybel gelees as ’n boek, maar dit is nie my groot belangstelling nie, om eerlik te wees. So ek het daar gesit en mind puzzles doen en gedigte in my kop geskryf wat ek later op papier gesit het. Maar ek het myself gedwing om ’n roetine van ’n aard te ontwikkel.”

In die tyd wat ek daar was, is drie mense tereggestel – een geskiet, twee gehang.

Op 27 Februarie is hulle ná ’n klug van ’n politieke verhoor weens hoogverraad en sameswering ter dood veroordeel en na Juba se sentrale gevangenis oorgeplaas.

“In die tyd wat ek daar was, is drie mense tereggestel – een geskiet, twee gehang. Ek het ’n gedig geskryf daaroor. Ek noem dit ‘Gallows Day’.

“My vonnis was ‘death by hanging’ . . . Ek het geweet die hof is ’n politieke instrument. Ek het die vonnis verwag, maar ek het myself afgevra: Gaan dit uitgevoer word of gaan dit nie uitgevoer word nie? Op ’n stadium, toe die politiek begin draai, het ek begin dink dit gaan nie gebeur nie.

“Maar wat my gepla het, is dat ek nie geweet het hoe lank die proses gaan duur nie; daar is mense wat al elf jaar daar sit nadat hulle appèl aangeteken het teen hul doodsvonisse . . .”

’n Moeder sug

Endley op die Kaapstad-lughawe met ’n kaart waarmee vriende en familielede hom verwelkom het. Foto: Jaco Marais

Machar is nou terug in Khartoem. Daar is vir eers weer vrede in Suid-Soedan en hy gaan dien as visepresident. Hy het vir Endley gevra om terug te keer na die land en weer vir hom te kom werk, onder meer om te help met die integrering van die verskillende veiligheidsmagte in die streek. Endley gaan dit doen.

“My werk daar is nog nie klaar nie. Inteendeel, dit begin nou eers,” sê hy.

Sy ma, Myrtle Endley (77), kom die vertrek binne met koffie. Ek vra haar hoe sy daaroor voel dat haar seun binnekort terugkeer na die land waar hy aangehou en ter dood veroordeel is. Sy kyk na Endley en sê: “Ek hou nie baie van die idee nie . . . Maar dit is sy keuse; ek dink op sy ouderdom weet hy wat hy wil doen en ek kan hom nie terughou nie. Ek kan maar net dink wat ek dink.

Buiten notas is daar ook 21 gedigte in die boekie.

“Ek het hom vir amper drie jaar nie gesien nie. En ek het gedink ek gaan hom nooit weer sien nie.”

Endley het Saterdag met slegs ’n sakkie vol notas en notaboeke in Suid-Afrika aangekom. Sy rekenaar en die res van sy besittings het in Augustus 2016 te midde van bloedige gevegte in die strate van Juba verdwyn, berig Erika Gibson.

Hy wys vir ons een van die notaboeke wat gevul is met sy netjiese handskrif. Buiten notas is daar ook 21 gedigte in die boekie. Onder meer gedigte getiteld “The Death Sentence”, “No Justice No Mercy” en “Political Prisoner”.

‘Dit kan jou lewe kos’

Endley se afskeidswoorde aan ons beaam weer dat hy ’n soldaat in murg en been is.

“Daar is baie Suid-Afrikaners betrokke in die ontmyningsbedryf en die sekuriteitsbedryf. En ons standaarde is reg oor die wêreld bekend as van die hoogste as dit kom by leierskap, bestuur, dapperheid, kennis en ervaring.

“Ons kan nie toelaat dat ons daardie standaarde laat verslap nie. Ons moet nog steeds die voorbeeld stel. En om dít te doen en die beginsels te beskerm, kan jou dalk jou lewe kos . . . In my geval het dit my my vryheid gekos, maar dít is die standaard waarna ons moet strewe en wat ons moet handhaaf.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.