Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Esmaré Weideman: ‘Jy moet vreesloos wees oor verandering’
07 September 2018

Elke keer wat ’n besigheid of publikasie moes sluit, het haar hart in ’n duisend stukke gebreek, sê Esmaré Weideman, Media24 se uitvoerende hoof, aan die vooraand van haar uittrede aan Murray La Vita.

Die foto’s in Weideman se kantoor spreek van die spesiale verhouding wat sy as joernalis met Nelson Mandela opgebou het. Toe sy hom per geleentheid vra oor sy vergewensgesindheid, was sy antwoord: “Dis nie dat ons nie seer het nie; dis net dat daar so baie werk is wat gedoen moet word.”Foto: Adrian de Kock

Wanneer ’n mens Media24 se kantore op die 21ste vloer van die Media24-sentrum in Kaapstad betree, sien jy Weideman (56) met die intrapslag in haar glaskantoor. Daar sit sy – sigbaar en sentraal.

Die gesprek met haar begin by die vraag: Hoe het sy die oorgang van joernalis en tydskrifredakteur na uitvoerende hoof van die groot mediamaatskappy Media24 beleef?

“Die begin was vir my ontsettend moeilik, hoewel ek darem nou ook moet sê redakteurs moes al van lankal af baie kommersieel dink. En ek dink ek word beskou as ’n baie kommersiële redakteur, so dit het gehelp. Maar ek het darem ’n B.Com-graad gehad, so dit het ook gehelp.

“Ek was destyds in 2010 vir drie maande op sabbatsverlof en toe ek teruggekom, was my drie redakteurs [van Huisgenoot, You en Drum, van wie sy die hoofredakteur was] só reg; hulle was reg om oor te neem. Toe die geleentheid [om uitvoerende hoof van Media24 te word] kom, het ek gedink there is justice in that. Hulle het my eintlik op ’n manier uit die nes geskop!”

Hierdie is my hond, Deadline.

Sy voeg by dat sy haar nou weer in so ’n situasie bevind met Ishmet Davidson, tans hoof van Media24 Drukmedia, wat absoluut toegerus en gereed is om by haar oor te neem.

“Media24 se DNS is die joernalistiek en dit sal altyd wees. En soos almal weet, is die joernalistiek ’n verskriklike groot liefde van my en ek het gedink ek kon kommersieel ’n bydrae lewer deur Media24 só te bestuur dat kollegas voel daar is iemand op die 21ste vloer wat weet wat hulle doen.”

Sy gaan haal ’n hond (waarvan die pels uit gedraaide koerantpapier bestaan) van sy staanplek in die portaal van die kantoor en kom sit hom neer op die tafel tussen ons.

“Hierdie is my hond, Deadline. Dit is hoe ek my liefde vir die joernalistiek na die korporatiewe vloer van Media24 gebring het,” sê sy met ’n glimlag. Sy het die koeranthond in ’n galery in San Francisco gekoop en dit Media24 se maskot gemaak.

‘Jy vra vrae’

Die eerste ding wat Weideman gedoen het nadat sy Media24 se hoof geword het, was om te kyk “wat is alles binne” die maatskappy.

“Daar was ’n klomp besighede waarmee ek nooit tevore te doen gehad het nie. Ek het my toe ingegrawe in die sakeplan en toe begin vrae vra. Ek dink nuwe oë is altyd goed. Jy vra net vrae: Hoekom doen ons dit só? Hoekom het ons twee boekuitgewers en nie een boekuitgewer nie? En dan leer jy maar.”

Ja, ek het dit as redakteur al beleef. Dit kán baie eensaam wees.

Is dit ’n eensame rol, dié van leier?

“Ja, ek het dit as redakteur al beleef. Dit kán baie eensaam wees. Hoe ek dit vir myself uitgemaak het in my lewe is dat . . . Jy kán nie onseker lyk nie, nommer een. You can’t vent down en dikwels kan jy ook nie na bo uiting gee aan jou gevoelens of frustrasies nie. So dít maak dit nogal eensaam.

“Maar ek het veral een mens, my heel beste vriendin, met wie ek kan praat. Jy hét iemand nodig met wie jy kan praat; nie wat vir jou raad gee nie, maar wat net kan luister na die stories. Sy is ’n boervrou en my hele loopbaan al, vandat ek ’n jong joernalis was, was sy die een wat altyd daar was. As ek sê: ‘Ek dink nie ek kan dit doen nie’ dan sê sy: ‘Ja, jy kán.’”

Sy sê haar bestuurstyl is baie deelnemend en beklemtoon welke goeie bestuurspan Media24 het.

“Ek dink net vyf koppe dink beter as een. So, jy sit om ’n tafel en vra: ‘Ouens, wat dink julle?’ En dan luister jy. En as jy hulle die vryheid gee om te praat, het iemand partykeer ’n beter idee as wat jy het. So, dis daardie kombinasie van deelnemende bestuur en om dan bereid te wees om die tawwe besluite te neem – op jou eie, as dit moet.”

Weideman en haar hond Deadline in die portaal van Media24 se kantore. Foto: Adrian de Kock

‘Omarm verandering’

Ons praat oor verandering en hoe die inligtingstegnologie- en die mediabedryf veral daardeur gekenmerk word: vinnige en gereelde verandering.

“Ek dink ’n mens moet verandering absoluut omarm; dit moet jou vriend wees. As jy bang is vir verandering, gaan jy sukkel, in énige rol deesdae. Jy móét bereid wees om vinnig te verander en jy kan nie bang wees daarvoor nie. Jy moet vréésloos wees. So ek is een vir verandering; dit is nie vir my moeilik nie.

“Dit kom maar net weer terug na daardie passie. As dit jou passie is om die joernalistiek te laat oorleef en jy kan sien wat in die wêreld aangaan en jy kan leer by die bestes in die wêreld en dan goed inbring en implementeer wat die joernalistiek gaan laat oorleef, dan is dit iets wat jy omarm.”

Die moeilike ding is om vir mense te verduidelik: Ons is verknog aan ons drukmedia, maar dit gáán nie vir ewig aanhou nie.

Weideman, die langsdienende uitvoerende hoof van Media24, se grootste nalatenskap is hoe die maatskappy onder haar leierskap ontwikkel het van ’n uitgewer van gedrukte koerante en tydskrifte tot ’n gediversifiseerde mediamaatskappy met ’n groot verskeidenheid digitale nuusportale en e-handelwebwerwe.

“Die moeilike ding is om vir mense te verduidelik: Ons is verknog aan ons drukmedia, maar dit gáán nie vir ewig aanhou nie. En die manier hoe ’n mens daarna moet kyk, is om absoluut vry te wees van ontkenning – you’ve got to be free of denial – want dit gaan vir jou die moed gee om goed te doen wat jy moet doen.”

“Media24 se DNS is die joernalistiek en dit sal altyd wees.” Foto: Adrian de Kock

Saam oor die bruggie

Sy verwys na die groei van News24 en die opkoms en sukses van Netwerk24.

“Ek dink ons het baie ver gevorder. ’n Mens se rol in ’n pos soos hierdie is om nie net jou publiek nie, maar ook jou personeel saam met jou oor daardie bruggie te laat loop.

“As jy tien jaar terug geweet het oor vyftig jaar gaan niemand meer op ’n stuk papier lees nie, beteken dit nie jy kon tien jaar gelede elke drukmediapublikasie toemaak nie. Jy moet daai stappies neem wat jou lesers én jou adverteerders en jou personeel saam met jou vat.”

Die goed kom met pyn. Om ’n deel van jou gesag en outonomiteit as ’n koerantredakteur prys te gee vir ’n groter doel, is nie maklik nie.

Dit was vir haar belangrik om redakteurs deel te maak van die proses en die visie aan hulle te verkoop.

“Die manier waarop ons Afrikaanse publikasies hande gevat het op Netwerk24 is vir my een van die mooiste dinge wat ek in my hele loopbaan gesien het . . . Die goed kom met pyn. Om ’n deel van jou gesag en outonomiteit as ’n koerantredakteur prys te gee vir ’n groter doel, is nie maklik nie.”

Jy het die regte mense op die regte sitplekke van jou bus nodig.

“En partykeer beteken dit dat sekere mense van daardie bus moet afklim, want anders gaan daardie bus nie uitkom waar hy moet uitkom nie.”

Media24 se toetrede tot e-handel deur die elektroniese modewinkel Spree (wat nou met die susterwinkel Superbalist saamgesmelt het in ’n nuwe onderneming waarin Media24 die meerderheidsaandeelhouer is) was ook ’n uiters belangrike ontwikkeling in die diversifisering van die maatskappy. Dit is ’n strategiese besluit waardeur Media24 hom minder afhanklik van advertensie-inkomste gemaak het.

“Dit was ’n natuurlike ontwikkeling. Ons moedermaatskappy Naspers het e-handel begin bedryf oor die res van die wêreld, so ons kon baie daar leer. Ons het al die jare, vir ’n honderd jaar, vir mense gesê watter skoen pas by watter lengte romp. En om dan die skoen en die romp aan hulle te begin verkoop, is eintlik ’n betreklike natuurlike oorgang.

“Ek het dit nog altyd só gestel: Hoe meer rokke ons verkoop, hoe meer joernaliste kan ons in diens hou,” sê sy laggend.

Esmaré Weideman tydens ’n onderhoud in haar kantoor in die Media24-sentrum in Kaapstad.Foto: Adrian de Kock

‘Jou hart breek’

Elke keer wat ’n besigheid of ’n publikasie moes sluit omdat dit nie finansieel haalbaar was nie, het haar hart “in ’n duisend stukke gebreek”.

“Om in media te wees in ’n tyd wat daai modelle wat vir ’n 100 jaar baie goed gewerk het so ongelooflik ontwrig word, is ontséttend moeilik.

“ ’n Mens kan nie help om ’n klein bietjie te rou oor wat met drukmedia gebeur nie. Maar jy moet maar vinnig oor die roufase kom en dan moet jy die positiewe sien. En daar ís natuurlik ongelooflik baie positiewe goed aan die digitale media.

“Dit is absoluut fantásties om so vinnig te kan publiseer en te kan terugvoering kry van wat mense dink van wat jy skryf. En om jou inhoud te kan verryk met video en met fotogalerye. Dis wónderlik hoe dit alles verander het, maar dit is swaar om ’n publikasie toe te maak.”

Sy beklemtoon egter dat Media24 se drukondernemings “góéd winsgewend” is.

’n Vrou het gesê sy lees Die Burger sodat sy weet vir wie sy daardie dag moet bid.

“Die feit dat ons nou nuwe drukkontrakte kon beding vir hierdie jaar vorentoe, maak ’n gewéldige verskil aan die lewensvatbaarheid van ons drukmediaprodukte. So ons drukmedia is op ’n baie goeie plek en dit is wonderlik om te sien hoe goed die kleinhandelmaatskappye steeds die drukmedia ondersteun met advertensies.

“Maar waar publikasies nie meer winsgewend is nie, móét jy harde besluite neem. Dit was vir my baie swaar byvoorbeeld toe ons nou [die gedrukte weergawe van] Die Burger in die Oos-Kaap na ’n Vrydag-uitgawe moes verander.

“Ek het al dikwels gesê: Hierdie is nie ’n maatskappy wat baked beans vervaardig nie. Ons werk met mense se emosies; ons voed mense op; ons lig mense in; ons speel so ’n ongelooflike rol in hul lewe.

Die Burger se mense en Netwerk24 se mense, die redakteurs en die sakebestuurders, het na daardie Oos-Kaapse dorpies toe gegaan om vir die mense te gaan verduidelik hoekom ons Die Burger in die Oos-Kaap nie meer elke dag kan uitgee nie. Een man het by die redakteur gaan sit en gesê: ‘Maar jy verstáán nie . . . In die oggende staan ek op en dan gaan haal ek my koerant en teen die tyd dat ek aan die einde van bladsy twee kom, dan gaan ek stort. En hoe gaan ek nou weet wanneer om te gaan stort?’

“ ’n Vrou het gesê sy lees Die Burger sodat sy weet vir wie sy daardie dag moet bid.”

’n Afskeidsgeleentheid is onlangs in die Media24-sentrum vir Weideman gehou. Hier is sy saam met (van links) prof. Rachel Jafta, voorsitter van die Media24-direksie, Ishmet Davidson, haar opvolger, en Koos Bekker, voorsitter van die Naspers-direksie. Foto: Jaco Marais

Spesiale plek en mense

Wanneer sy terugkyk op haar amper agt jaar as uitvoerende hoof van Media24, is een van die hoogtepunte die feit dat die meeste drukmedia steeds winsgewend is.

“Die grootste hoogtepunt vir my is hoe die mense in Media24 almal hande vat en saam oor daardie brug [van verandering en diversifisering] stap. Hierdie is ’n baie spesiale maatskappy met baie spesiale mense en ek gaan dit verskriklik mis om hulle elke dag te sien.”

Sy het aan die begin van haar loopbaan gesê sy het ’n joernalis geword omdat sy die wêreld wil verander.

“En dít is wat ons op ’n daaglikse basis doen!”

Weideman gaan ná haar uittrede as uitvoerende hoof aan die einde van September, by die maatskappy betrokke bly in ’n raadgewende hoedanigheid en as mentor.

“Ek beskou die eerste jaar ná my korporatiewe loopbaan as ’n sabbatsjaar. Ek wil eerstens my huis regpak en reis en lees en tyd deurbring saam met die baie mense wat oor ’n lang tyd in my lewe afgeskeep is . . . En ek mag dalk leer om vis te vang . . . Miskien hou ek daarvan; miskien nie. Die tyd sal leer.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Esmaré Weideman  |  Netwerk24  |  Media24  |  News24  |  Koerante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.